BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 15 Julie 2013

VALS VERBONDSVERTROUE

- voer jou na die vuur!

Johannes die Doper was vreesloos en vurig! Geen people’s pleaser nie, maar ‘n ware onverskrokke profeet, wat mens onwillekeurig herinner aan die dapper Elia van ouds! Inderdaad was daar baie ooreenkomste tussen hierdie twee wat voorkoms én boodskap betref. Duidelik en suiwer het Johannes die waarheid aan sy tydgenote bekend gemaak net soos Elia eeue vantevore. Of hulle daarvan gehou het of nie. Aan alle soorte mense, selfs ook aan koning Herodus, toe hy hom aangespreek het omdat dié, Herodias sy broer se vrou gevat het. Dit het Johannes in die tronk laat beland en uiteindelik het sy kop op ‘n skinkbord geëindig!

Johannes het aan almal die waarheid gebring. Ons hoor in Lukas 3:7-9 hoe hy die mat van valse verbondsvertroue onder die godsdienstige Jode se voete uitruk! 

7) Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: "Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?
8) Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.
9) Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi."

Drie belangrike waarhede word in hierdie uitspraak onderstreep:

- Pasop vir ‘n valse vertroue. Hierdie Jode het gedink hulle saak met God is outomaties reg, want hulle was mos die nageslag van Abraham. Hulle was met ander woorde verbondskinders. Johannes sê : “Nee, nee, julle maak ‘n groot fout! Julle flous julleself!” Dit moet ons baie mooi verstaan : die regte afkoms, regte opvoeding of selfs regte Bybelse geluide is geen waarborg van redding nie. Ja, dis ‘n groot voorreg om groot te word met die verbondsbeloftes, maar ons moet reageer op die verbondseise, anders help dit niks. Die eis van die verbond is : bekeer jou! Enige kontrak (verbond) het voordele, maar ook eise en voorwaardes. As jy ‘n gesogte kontrak kry – sê nou maar om ‘n groot kompleks te bou is dit ‘n groot voorreg met baie voordele. Maar nou moet jy ook die kontrak se voorwaardes nakom, anders kry jy niks! Afstamming van Abraham (deelwees van die verbondsgemeenskap) is ‘n groot voorreg, maar nie ‘n verskoning of ‘n wegkruipplek nie. Dit stel die mens onder ‘n verpligting : BEKERING! Reeds in die Ou Testament was dit die dringende boodskap van die profete : “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (Jesaja 55:6,7) Sonder ware bekering is alle verbondsvertroue ‘n misplaaste illusie.

- Egte bekering het duidelik sigbare gevolge. Natuurlik, ons word nie gered deur selfverbeterings nie, maar deur geloof. Geloof in die Here Jesus. Maar onthou, geloof en bekering gaan saam. Bekering is ‘n “change of mind” (metanoia). My denke verander, ek besef wat ek doen is verkeerd, ek het berou, en daarom verander my doen en late. Bekering is prakties en duidelik sigbaar. Kyk na die voorbeelde in vers 10-14. Dit raak sensitiewe sake soos die houding teenoor geld en besittings! Ja, bekering maak ‘n verskil in jou eie konteks en omstandighede. Dit raak veral juis jou wortelsonde, daardie een ding of gesindheid wat so ‘n groot invloed in jou lewe het en ‘n skeidsmuur tussen jou en God vorm! Bekering is dringend noodsaaklik. Hoekom? Daar wag ‘n oordeel. (9) Hierdie dringende waarskuwing moet ons selfondersoek laat doen : is daar duidelike vrugte, bewyse dat ek ‘n bekeerde mens is? Bekeerde mense is duidelik herkenbaar – hulle leef nuwe lewens volgens God se Woord. Hulle kan wel val, maar kan nie meer soos voorheen gelukkig voortploeter in die vullis nie.

- God kan uit klippe ware kinders van Abraham maak. Wat sou Johannes bedoel met hierdie vreemde uitspraak? Dit vertel ons : As dit gaan oor kindskap van God is menslike afstamming of bevoorregting nie die deurslag nie, maar Goddelike ingryping. Dit laat mens terugdink aan die profesie van Esegiël, waar God beloof om die volk se klipharte uit te haal en harte van vleis te gee. Hierdie uitspraak van Johannes moes vir die godsdienstige mense van sy tyd ‘n vreeslike skok gewees het. Hulle was so trots op hulle afkoms en historiese verbintenis met die aartsvader Abraham en nou sê die kameelhaarprofeet, God kan sommer van hierdie klippe kinders van Abraham maak. Weet dit : God kan deur ‘n wonderwerk enige mens verander om sy kind te word. (Jood of nie-Jood, godsdienstig of nie-godsdienstig) Dit bring ons by die waarheid van die wedergeboorte, ‘n wonderwerk van God in die lewe van die sondaar. ‘n Herskeppingswonder! As Jesus in Johannes 3 met Nikodemus praat oor die wedergeboorte dan sluit Hy aan by Johannes die Doper se prediking. Sonder hierdie wonderwerk kan niemand deel hê aan die ewige koninkryk van God nie! Ons is volkome van God afhanklik. Ons elkeen het ‘n nood en behoefte aan God! Om kind van God te wees is nie sommer iets outomaties nie, dis nie vanselfsprekend nie, al word ek in ‘n goeie godsdienstige huis groot.

Om ‘n kind van God te wees, het ek ‘n genadewonderwerk in my lewe nodig en hierdie wonderwerk word sigbaar in ‘n hartgrondige bekering wat my lewenskoers verander!

Die waarheid van God wat instaat is om kinders uit klippe te maak, moet ‘n tweeledige effek op ons hê:

Dit bring ons by nederige afhanklikheid. Ons almal het mos maar klipharte en as God nie ‘n versagtings en herlewingswonder in ons binneste doen nie, sal ons vir ewig buite sy koninkryk bly.

Aan die anderkant wek hierdie stelling van Johannes ‘n heerlike hoop by ons : Geen klip is vir God te hard nie, niks is vir ons almagtige God onmoontlik nie. Hy kan aan die grooste sondaar bekering en vernuwing skenk.

Die God wat wonders doen, doen dit nog steeds! Die grootste wonderwerk is die wedergeboorte. As Hy dit reeds in jou gedoen het, dank Hom en gaan dra nog meer oorvloedige vrug! As jy onseker is, moenie rus nie, totdat jy rus gevind het in Jesus nie. Hy is nou die Redder wat ons met sy Heilige Gees doop en nuutmaak. Hy nooi jou uit! (Jesaja 1:18; Matteus 11:28) Maar maak gou, binnekort kom Hy as Regter om skeiding te maak tussen bekeerdes en onbekeerdes. “Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand." (Lukas 3:17) 

Is jy deel van die koring of dalk van die kaf?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.