BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 01 November 2016

NEE DANKIE, NEELS!

Dis baie hartseer dat DIE KERKBODE, die eens gerespekteerde koerant van die NG Kerk nou ‘n mondstuk geword het vir die humanisties gedrewe LGBTQ agenda wat sy kloue binne in die hart van die kerk inslaan. Daar word geen moeite ontsien om aktief die LGBTQ saak ter wille te wees nie. So word prop. Hennie Pienaar ‘n self erkende homoseksueel spesiaal vir sy opinie gevra, en selfs ‘n pro gay video word op DIE KERKBODE se webblad gelaai. Die jong teoloë wat beweer dat selfs biseksualiteit ‘n gawe van God is se belydenis word geplaas! (Kliek BOSE BELYDENIS) Die oorheersende argument is – dit gaan oor mense! “Liewe Sinode dit gaan oor mense, regte mense!”* Die mens met sy behoeftes en begeertes staan voorop, wat die Skrif regtig leer is nie meer so belangrik nie. Wat die Bybel sonde noem is nie juis meer ter sake nie. (Dis verstaanbaar, want die Teologiese fakulteite leer mos dat die Bybel maar net nog ‘n menslike boek oor God is.) Die groot hartseer is natuurlik dat juis die grootste behoefte van die mens naamlik verlossing van ons sonde nou in gedrang kom, want Jesus kan ons net van sonde verlos as ons dit wat God se Woord sonde noem as sonde erken en bely!

In sy redaksionele kommentaar wek Neels Jackson die indruk dat als reg is solank mens maar net ‘n gedoopte lidmaat van die kerk is! Nee, Neels, terwyl jy vir Petrus** in jou argument inspan, wat dan van Petrus se woorde: “Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.”?  (1 Petrus 1:14)

In alle billikheid, Neels gee ruimte aan ander standpunte ook, soos byvoorbeeld die van Prof Jan van der Watt. Dit lyk egter of dit maar net vir die skyn is, want verdien die propagering van sonde hoegenaamd 'n plek in 'n publikasie soos DIE KERKBODE? Dis in elk geval duidelik waar die redakteur se sentimente fokus.

DIE KERKBODE se pro homo rigting hoef egter niemand te verbaas nie. Neels Jackson is ‘n uitgesproke voorstander van selfdegeslaghuwelike. Dit was reeds sy standpunt toe hy nog Beeld se kerksakeverslaggewer was. Hy het toe reeds geskryf:

Die NG Kerk praat deesdae graag oor menswaardigheid, maar solank kerkmense gays stereotipeer en byvoorbeeld die reg op ’n huwelik wil ontsê, sal dit hol woorde bly.

Maar ook wat dit betref, is die skip aan die draai.

Baie mense sal voel die groot draai van die skip gaan te stadig.

Vir ander is dit ontstellend vinnig. Maar vir almal is dit waarskynlik onomkeerbaar.

Nee dankie, Neels, ons is nie lus vir jou propaganda nie! DIE KERKBODE is ook nie meer welkom in ons gemeente nie! Ons kan tog nie hierdie breinspoeling van ons lidmate goedsmoeds aanvaar nie.

* Opskrif by prop. Hennie Pienaar se pleidooi.

** Die woorde van Petrus op die apostelvergadering in Jerusalem waarna hy verwys was : "Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word." Redding deur genade het egter nog nooit die opdrag tot heiligmaking en juis ook in 'n sedelike sin ongedaan gemaak nie! Dit beteken allermins dat sedelose gedrag soos sodomie goedgepraat is deur die apostels!



6 opmerkings:

  1. Johannes. Dankie vir jou moedige opmerkings. 'n Skip wat draai is sekerlik nie 'n probleem nie. Dit hang net af in watter koers dit draai. Vir die kerk kan die rigtingwyser vir alle leerstellige en eties-morele sake net die Woord alleen wees. Die pasfgelope Hervormingssondag wil ons opnuut weer hieraan herinner. Psalm 19:9 & Jer 23:22 bevestig hierdie uitgangspunt. Jesaja se oproep in 8:20 is in alle opsigte tydig vir ons tyd en omstandighede. Groete. Coen Sutton

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Coen, ek is bly om te hoor jy is nog op jou pas! Volhard!

      Vee uit
  2. Baie dankie vir u volgehoue pleitdooie vir die waarheid wat hierdie kwessie betref. Dit word opreg waardeer.

    AntwoordVee uit
  3. Is u bewus van hierdie berig in die Beeld (Jean Oosthuizen se weergawe van 'n gesprek tussen Neels Jackson en Dr Johann Ernst op Neels Jackson se Facebook-muur)? Indien u op FB is, dit is 'n publieke gesprek, u sal net moet afrol - dit was ongeveer 'n week gelede: http://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/ng-kerk-manne-slinger-beskuldigings-oor-gays-20161029

    AntwoordVee uit
  4. Johannes
    Prys die here dat julle nog vasstaan vir die waarheid. As jy weer eendag in Pretoria kom sal ek graag met jou wil gesels.

    AntwoordVee uit
  5. Dankie Alex. Ek wil net seker maak, is dit Alex wat lidmaat is by Antipas?

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.