BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 29 Oktober 2016

BUITENGEWONE ALGEMENE SINODE

- die Ooste vra vir die herroeping van die 2015 besluit oor selfdegeslagverhoudings!

Die Algemene Sinode 2015 se onskriftuurlike, onnadenkende en inkonsekwente besluit oor selfdegeslagverhoudings het onmeetlike skade en verwarring in die kerk veroorsaak. Dit het onder andere gevra vir die toelating van praktiserende homoseksuele predikante. Verskeie streeksinodes (waaronder ook Namibië) het hierdie besluit verwerp. Nou is dit verblydend dat een van die groot streeksinodes, die Oostelike Sinode ook gevra het vir 'n herroeping van die 2015 besluit. (sien 5.3 van die beskrywingspunt hieronder) *

BESKRYWINGSPUNT AAN DIE BUITENGEWONE VERGADERING VAN DIE ALGEMENE SINODE,

GEHOU TE WORD 7 TOT 10 NOVEMBER 2016 TE PRETORIA


1.          EENHEID EN DIVERSITEIT

Die Oostelike Sinode loop reeds 'n lang pad met die saak van selfdegeslagverhoudings en ons is diep bewus van die diversiteit van beskouings binne ons Sinode. Ons lê die volgende aan u voor as getuienis en standpunte.

Op ons pad tot hier het ons daarin geslaag om ten spyte van ons verskille mekaar vas te hou en familie te bly wat vir mekaar omgee en ruimte skep. Ons vorige besluite in 2003 en 2005 het gespreek van hierdie gesindheid.

2.          Uittreksel uit die standpunte en besluite van 2003

2.1 Saambindende Uitgangspunte

2.1.1  Die Sinode het met deernis geluister na die verhale van lidmate van die Kerk wat hulleself beleef as homoseksueel georiënteer en tegelyk die begeerte het om hulle Christenskap binne die geloofsgemeenskap van die Kerk uit te leef.

2.1.2  Die Sinode erken met spyt dat daar dikwels in die verlede nie genoeg sensitiwiteit en begrip vir die situasie van persone met 'n homoseksuele oriëntasie binne kerklike geledere was nie.

2.1.3  Die Sinode onderskryf die saambindende uitgangspunte wat deur die Diensgroep vir Homoseksualiteit geformuleer is, naamlik:

dat alle mense, ongeag oriëntasie, geslag, ras en kulturele agtergrond met respek en medemenslike liefde bejeën en behandel moet word;

en
dat persone wat verskillende standpunte oor homoseksualiteit huldig, mekaar nie in die proses van besinning sal verloor nie;

en
dat homoseksualiteit 'n komplekse aangeleentheid is en dat mense dit verskillend beleef;

en
dat alle mense onderworpe is aan die gebrokenheid van hierdie sondige wêreld en 'n behoefte het aan verlossing in Christus.  Alle mense moet streef na die heelheid in Hom.
2.1.4  Die Sinode oordeel dat alle mense wat  glo, hulle Christenskap in die kerk behoort uit te leef, ongeag hulle seksuele oriëntasie.

2.2 Verskillende sienings

2.2.1  Die Sinode is nie eenstemmig oor die manier waarop 'n homoseksuele oriëntasie verstaan en hanteer behoort te word nie.  Dit blyk veral duidelik uit die twee teenstrydige verslae uit die geledere van die Diensgroep vir Homoseksualiteit.  Sommige meen dat die beoefening van homoseksualiteit sonde is en dat die enigste aanvaarbare opsie 'n lewe van seksuele onthouding (selibaat), of 'n verandering in oriëntasie is, terwyl ander oordeel dat dieselfde norme in 'n homoseksuele verhouding moet geld wat in 'n heteroseksuele huwelik geld.

2.3 Proses

Punt ses:  Die Sinode erken hiermee dat ons nie 'n eenstemmige antwoord kan gee op 'n hoogs ingewikkelde vraagstuk nie en oordeel dat die proses van besinning met die oog op uiteindelike besluitneming moet voortgaan.  Die klem moet egter verskuif na 'n ernstige poging om die teenoorstaande standpunte op 'n eerbare en verantwoordelike wyse nader aan mekaar te bring. Die uitgangspunte bly steeds 'n ernstige en afhanklike soeke na die wil van God en 'n onvoorwaardelike liefde vir die medemens.
(...)
Punt agt:  Die Sinode oordeel dat besinning oor die manier waarop 'n homoseksuele oriëntasie deur Christene hanteer behoort te word, nou doelgerig op alle vlakke van die kerklike gemeenskap en veral in gemeentes gevoer moet word.

2.4 In 2003 het die sinode sy afgevaardigdes hieroor getoets en die uitslag hieroor was soos volg

2.4.1 Die Kerk het reg opgetree deur verskoning te vra vir gedrag in die verlede wat mense met homoseksuele oriëntasie seergemaak het.

2.4.2​ Die huwelik word gesien as ’n verbintenis tussen een man en een vrou en huweliksluiting tussen homoseksuele paartjies is glad nie aanvaarbaar nie.

2.4.3 ​Die interpretasie van die Skrifgegewens oor homoseksualiteit skep probleme.  Hieroor bestaan daar standpunte wat teenoorstaande pole verteenwoordig.

2.4.4 Die term “seksuele oriëntasie” wat in die gesprek oor homoseksualiteit gebruik word, vra verdere verheldering wat navorsing oor die oorsake vir homoseksuele gedrag, verhoudings en deelname aan die geloofsgemeenskap insluit.

3.          Uittreksel uit die standpunte en besluite van 2005

3.1 In 2005 is die volgende besluite geformuleer:

3.1.1 ​Die Sinode onderskryf die evangelie-boodskap dat die genade van die Here vir elkeen geld.

3.1.2​ Die Sinode bevestig dat lidmaatskap op grond van ’n persoon se geloofsverklaring berus.

3.1.3 ​Die Sinode bevestig dat die huwelik Skriftuurlik gesien word as ’n verbintenis tussen een man en een vrou.

3.1.4 ​Die Sinode verklaar dat huweliksluiting tussen homoseksuele paartjies glad nie Bybels aanvaarbaar is nie.

3.1.5 ​Die Sinode erken dat die Skrif-gegewens oor homoseksualiteit verskillend vertolk word.

3.1.6 ​Die Sinode verklaar dat dit die  Sinode se oorheersende standpunt is, dat die beoefening van homoseksualiteit teen die leer van die Bybel is.

3.1.7 ​Die Sinode versoek verdere opheldering oor die term “homoseksuele oriëntasie,” wat in die gesprek gebruik word.  Dit sluit ook navorsing oor die oorsake vir homoseksuele gedrag, en die aard van homoseksuele verhoudings in.

3.1.8 Die Sinode verseker homoseksuele persone van die NG Kerk se opregte pastorale bewoënheid en verklaar dat alle mense hartlik welkom in ons gemeentes is.

3.1.9 Die Sinode verklaar dat homoseksuele gedrag teen die leer van die Bybel is.

3.1.10 Die Sinode versoek dat vir enige voortgaande besinning ingevolge punte 3.1.5 en 3.1.7 homoseksuele mede-gelowiges wesenlik deel van die proses sal wees.


3.2 Die Sinode verklaar:

3.2.1 Ons is deel van die familie van Christus.  Ons verskil tans nog oor hoe om gelowig na te dink oor homoseksualiteit.  Ons stem wel saam dat alle mense in die Kerk welkom is.  Ons stem ook saam dat ons sag met mekaar moet wees en nie te vinnig moet oordeel nie.  Wat verkeerd is, kan egter nie goedgepraat word nie.

3.2.2 Ons verskil oor hoe om die Bybel te verstaan. Vir die meerderheid van ons afgevaardigdes, gemeentes en lidmate is die Skrifgegewens duidelik teen enige homoseksuele dade.  Hierdie lidmate glo dat ons die Bybelwoorde sal verswak en God se heiligheid oneer sal aandoen, as ons enigsins homoseksuele dade goedpraat.

3.2.3 Vir ’n minderheid van afgevaardigdes, lidmate en gemeentes is dit nie duidelik hoe die Skrifgegewens toegepas moet word nie. Hierdie lidmate wil graag langer nadink oor hoe ons die Bybeluitsprake oor sake soos hierdie in nuwe tye moet verstaan en toepas.

3.2.4 As familie wil ons aan mekaar vashou, want ons het mekaar nodig.  Die Gees is immers aan ons almal saam gegee.  Ons aanvaar mekaar se goeie trou in hierdie saak. Trouens, die hantering hiervan het ’n openbare toets van liefde geword. Ter wille van God se eer gaan ons hierin slaag.

4.          die 2015 besluite oor selfdegeslag verhoudings

Na aanleiding van die 2015 besluite oor selfdegeslag verhoudings het die Sinodale Diensraad op verskillende maniere vir leraars, gemeentes en ringe terugvoer gevra oor die besluite. Daar is ook twee konsultasies met leraars gehou om hulle terugvoer te kry.

Die meeste kerkrade en ringe se terugvoer oor die besluite was negatief, maar daar was ook ’n aantal gemeentes en leraars wat positief was oor die besluite of nie ’n probleem daarmee gehad het nie. Dit is kenmerkend van die diversiteit wat ons weet in die Sinode bestaan.

5.          sinodesitting van 23 TOT 26 Oktober 2016

Tydens die sinodesitting van 23 tot 26 Oktober 2016 is die saak weer op die Sinode se tafel geneem. ’n Gespreksdokument het voor die Sinode gedien wat gebaseer is op bogenoemde terugvoer en ’n aantal beskrywingspunte wat van gemeentes gekom het. Tydens die sitting het ’n aantal individue ook voorstelle ingedien. Dit alles is gekonsolideer en het voor die Sinode gedien. Die volgende besluite is goedgekeur en word nou as ’n beskrywingspunt na die Algemene Sinode deurgestuur:

5.1 Die Oostelike Sinode stuur die onderstaande besluite aan die Buitengewone sitting van die Algemene Sinode deur met die bewustheid dat daar nie in die Sinode eenstemmigheid hieroor is nie. In ons familie is daar ook ander standpunte en die Sinode wil duidelik ons waardes van eenheid te midde van diversiteit onderstreep.

5.2 Die Sinode bevestig die uitgangspunte, verklarings en besluite van 2003 en 2005 rakende homoseksualiteit en stuur dit na die Algemene Sinode.

5.3 Die Sinode versoek die Algemene Sinode om die besluit oor selfdegeslagverhoudinge te herroep in die lig van die feit dat die vergadering nie getrou was aan 'n vorige besluit van 2004  [Algemene Sinode Besluiteregister 2004 p 428] om eers met gemeentes in gesprek te gaan voordat 'n sensitiewe besluit geneem word nie, en dat die besluite van 2007 en 2013 oor selfdegeslagverhoudings as die standpunt van die NG Kerk sal geld.

5.4 Die Sinode bevestig dat “slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word” (Algemene Sinode 2015) en dat “dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie” (Algemene Sinode 2013).

Die Sinode het besluit om die “verbintenis/verhouding” duideliker te omskryf as ’n huweliksverbintenis, soos in die volledige 2013 besluit verwoord: “Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie.”

5.5 Die Sinode versoek dat daar herbesin moet word oor seks binne en buite die huwelik. Daar blyk ’n dubbele standaard geskep te word tussen homo- en heteroseksuele predikante. Indien ’n burgerlike verbintenis nie ’n huwelik is nie (soos die 2015 besluit dit stel), val seks binne so ’n verbintenis of selfdegeslagverhouding buite die aanvaarbare grense wat die Sinode self gestel het op grond van Bybelse riglyne.

5.6 Die Sinode bevestig die oortuiging dat die Bybel hoër morele eise aan leiers stel (Jakobus 3:1) en soos wat dit neerslag vind in die Kerkorde. Daarom kan geen persoon wat in 'n saamwoon-verhouding of 'n "ander formele verbintenis / verhouding" (bv 'n burgerlike verbintenis) staan, as leraar dien of tot die bediening toegelaat word nie. Dieselfde seksueel-etiese vereistes wat aan ongetroude heteroseksuele predikante gestel word, word ook aan homoseksuele predikante gestel. 

5.7 Kerkrade besluit self oor die vereistes waaraan ander leiers in die gemeente moet voldoen en vervat dit in 'n beleidsdokument.


5.8 Die Algemene Sinode word versoek om beleidsbesluite oor pastorale kwessies in die hande van gemeentes te los en nie beleidsbesluite hieroor te neem sonder konsultasie nie. 

* My plasing van hierdie beskrywingspunt beteken nie noodwendig dat ek met alles daarin saamstem nie. Ek is wel bly oor die duidelike versoek tot herroeping van die 2015 besluit en die sterk pleidooi vir seksuele reinheid.

1 opmerking:

  1. Dankie vir hierdie inligting. Dit gee my hoop dat daar sinodes is wat bereid is om standpunt in te neem.
    Jan Louw

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.