BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag, 24 November 2016

MOENIE KANNIBALE WORD NIE!

- gebruik jou vryheid verantwoordelik in liefde.


’n Christen kannibaal - al van so iets gehoor? Dis eintlik ’n bietjie ondenkbaar - kannibalisme word meestal geassosieer met ruwe barbare wat in wilde ekstase om ‘n vuur dans in afwagting van ‘n grusame maaltyd van mensevlees, heidene wat nog nooit die evangelie gehoor het nie. Kannibalisme is egter ook ’n gevaar in die kerk van Jesus Christus. So lees ons in Galasiërs 5:15 – “Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.” Ja, en dit gebeur nogal dikwels - vra maar rond - hoeveel mense het juis seer gekry in die kerk, tussen God se kinders...

LEERSTELLINGS MOET LEI TOT ‘N NUWE LEEFSTYL

Vanaf Galasiërs 5:13 begin 'n nuwe afdeling van die hierdie brief van Paulus. Dis ‘n gevestigde patroon van Paulus in sy briewe dat hy eers die leerstellige basis behandel – naamlik redding deur geloof in Jesus en dan praktiese opdragte en vermanings oor hoe om hierdie redding uit te leef. In Galasiërs het Paulus weereens die redding deur die geloof in Jesus alleen beklemtoon teenoor die Judaïseerders wat geleer het dat die wet (spesifiek die besnydenis) ook nodig is vir redding. Paulus het beklemtoon - deur geloof in Jesus is julle volledig vrygespreek en vry van alle Mosaïese wetgewing van die Ou Verbond!

Maar nou moet hierdie leerstellige waarheid prakties neerslag vind in ons lewens. Leerstellings (waarhede) is nie ‘n doel opsigself nie, maar is die fondasie waarop die praktiese Christen lewenswyse gebou moet word. Dit wat jy regtig glo sal en moet 'n invloed hê op dit wat jy doen. 

Ons glo pragtige korrekte dinge, maar word dit gesien in ons lewens? 

Paulus praat nou direk met God se kinders.* Die vryheid van die gelowige is reeds duidelik deur Paulus verduidelik. “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.” (5:1) Dis Christus wat ons volledig vrygemaak het. Dis kosbaar! Moenie weer ‘n slaaf word nie...

VRYHEID IN VERANTWOORDELIKHEID

Die vryheid van God se kinders is 'n feit en 'n voorreg. Paulus herhaal weer die feit van die vryheid van God se kinders. “Want julle is tot vryheid geroep, broeders;” (5:13) Hierdie vryheid bring egter ook verantwoordelikheid mee. Die vraag ontstaan nou- hoe lyk hierdie vryheid, wat is die praktiese gevolge, hoe moet hierdie verantwoordelikheid uitgeoefen word? Die regte gebruik en aanwending van hierdie vryheid word negatief en positief gestel. 

Negatief -13b - “gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie,” (OAV) “Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie.” (NAV) “Die "vlees" –verwys na die sondige menslike natuur, verdorwe aard van die mens. (vgl. Ef 2:3) Die woord wat hier met "aanleiding/geleentheid/verskoning"* vertaal word, beteken in die militêre sin die basis waarvan operasies uitgevoer word. Die beeld is hier van die sondige natuur wat die posisie van 'n vyandige opponent gebruik as 'n basis, vir sy aktiwiteite. Dit gaan hier oor 'n waarskuwing om nie vryheid te misbruik as verskoning (pretext) of geleentheid om toe te gee aan die wense van ons sondige natuur nie. Ons sondige menslike natuur is maar 'n kansvatter, as hy hoor van die vryheid in Christus wil hy dit misbruik. Dit mag nie - onder geen omstandighede nie! Dis hoegenaamd nie in lyn met die Christen betekenis van vryheid nie! 

Positief - 13c“maar dien mekaar in liefde”. Liefde is hier die manier hoe hulle mekaar moet dien. Liefde is hier die liefde tussen Christene. Interessant Paulus gebruik die woord dien** (letterlik - slawe wees) binne die konteks waar hy juis die vryheid van Christene beklemtoon. Dit onderstreep die feit dat hoe vry die gelowiges ook al mag wees, hulle behoort nie aan hulleself nie - die doel van hulle vryheid is onderlinge diens deur liefde. Deur hierdie paradoks word die ware aard van Christelike vryheid uitgedruk - nie soos die Grieke dit verstaan het(en dikwels ons) as dat ek die meester van my eie besluite is nie, maar vryheid vind uitdrukking in die kapasiteit om andere deur liefde te dien. 

LUTHER SÊ DIT SO TREFFEND

Martin Luther was lank ‘n slaaf van twyfel, vrese, van Roomse leerstellings, reëls en rituele en daarom was die vryheid wat die eenvoudige evangelie vir hom deur die geloof in Jesus gebring het, baie kosbaar.

Een van Luther se beroemdste geskrifte is getiteld OOR DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN, wat in 1520 verskyn het. Hierin maak hy ‘n merkwaardige paradoksale stelling : 

‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; 
‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan. 

In die midde van die felle stryd teen Rome en al die gevaar daaraan verbonde, lewer Luther ‘n lofwaardige getuienis oor die vryheid van God se kinders. Vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel, vry van allerhande kerklike rituele en ondraaglike laste - maar juis deur geloof in Christus verlos tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! Daarom is die vrygemaakte kind van God iemand wat nie in homself leef nie, maar in Christus en sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

Ons hemelse Pa het ons ‘n persent gegee – verniet, want dis ‘n geskenk... ons is vry, ons skuld niks daarop nie en hoef nie daarvoor te werk nie, maar uit dankbaarheid deel ons die geskenk vrywillig met ander. Dankbaarheid vir sy vrye guns lei tot diensbaarheid in liefde!

DIE FOKUS EN ESSENSIE VAN DIE WET

Paulus gee nou die rede waarom hy kan sê dat onderlinge diens deur liefde die doel en fokus punt van gelowiges se vryheid is. “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat**: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." (5:14) Die “hele wet” verwys na die bedoeling van die wet as geheeleenheid wat vervul word in die een gebod. Hy verwys na Lev 19:18b wat sê : “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die bedoeling hier is nie dat ons eers onsself moet liefhê voor ons ander kan liefhê nie,maar primêr dat ons ander moet liefhê met dieselfde spontaniteit en intensiteit as wat ons onsself liefhet. In die konteks hier is die naaste primêr, die mede-Christen. Die wet word vervul deur die liefde. Paulus kondenseer die wet as geheel in die een enkele gebod van die liefde.*** (liefde vir God natuurlik is nie uitgesluit nie, dis vanselfsprekend). 

In vers 15 verwys Paulus na onenigheid onder die Galasiërs, moontlik aangevuur deur geskille wat ontstaan het a.g.v. die Judaïseerders se leringe. Hulle word gewaarsku dat die gevolge hiervan selfvernietiging is. 

LAAT ONS OPSOM :

1. As mense wat deur Christus deur die evangelie vrygemaak is moet ons pasop vir twee gevare : terugkeer na slawerny van die wet aan die een kant en misbruik van ons vryheid aan die anderkant.

2. Vryheid van die wet beteken nie en is geen goedkeuring vir wetteloosheid en losbandigheid nie. Vryheid bring sy eie verpligting naamlik die korrekte gebruik van daardie vryheid. Radikale vrywillige liefde!


NIE BYT NIE, MAAR DIEN!

Die enigste sinvolle reaksie op ons kosbare verlossing en die vryheid wat Jesus ons gebring het is liefdesdiens. As ons die bevryding en vrede waarvan die Kersboodskap getuig regtig ontvang het, sal ons mekaar nie byt nie, maar mekaar begin dien. AMEN

Notas :

* Deur die beklemtoonde gebruik van "julle" tref Paulus 'n duidelike onderskeid tussen sy lesers en die agitators (die Judaïseerders) .

**“vervul” OAV

*** Drie opmerkings is van belang : 

1)Deur Christus se verlossing is gelowiges vry van die wet en dus onder geen verpligting om sy statute te onderhou nie.

2) God se wet bly egter 'n uitdrukking van Sy wil, wat vereis dat ons ons naaste liefhet soos onsself. 

3) Hieruit volg dat dit wat die wet as geheel van ons verwag, vervul word, aan voldoen word wanneer ons as medegelowiges mekaar in liefde dien. Deur lief te hê voldoen ons aan die diepste vereistes en bedoeling van die wet. Die wonder van die Nuwe Verbond is dat God se wette nou in ons harte geskryf is, nie in die vorm van reëls nie, maar in die vorm van ‘n begeerte om vrywillig lief te hê! Hierdie liefde is natuurlik nie bloot ‘n sentimentele gevoel nie, maar het duidelike etiese implikasies. (Kliek op Mauritius)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.