BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 11 November 2016

PRINS TRUMP

- Sal uiteindelik ook geen heil bring nie.



Die wêreld is steeds in ‘n toestand van ontnugtering, skok en verbasing. “Dit kan tog nie wees nie...” Ek kan my probeer indink dis seker soos daardie gevoel wat ek jare terug in Pretoria-Wes gehad het, toe my bakkie bykans voor my oë gesteel is. "Is dit als net ‘n nare droom?" Die selfversekerde Clinton met haar liberale feministiese aanhangers en groot geld Wallstreet ondersteuners het hulle gereed gemaak vir ‘n juig partytjie (Newsweek tydskrif het reeds ‘n oorwinningsuitgawe gepubliseer gehad), maar word toe gekonfronteer met die ondenkbare werklikheid van ‘n loesing. Kort tevore het die Amerikaanse pers gespekuleer dat Bush waarskynlik die laaste Republikeinse president was, maar nou is daar ‘n Demokratiese dermuitrygery oor wat verkeerd geloop het... (“Ja, julle moes nie so vir arme Bernie Sanders bevark het nie, julle moes nie so baie op minderhede gefokus het terwyl julle die wit werkersklas vergeet het nie, die Clinton elite is uit voeling met wat werklik in Amerika aan die gang is...”) Meningspeilers loop (weer) met rooi gesigte... (soos na die uitslag van die Brexit referendum) Wys jou net weer die beperkings van menslike wysheid en insig...

Maar daar is natuurlik ook miljoene Amerikaners vir wie dit die aangenaamste verrassing in jare was. (Miljoene het immers entoesiasties vir hom gestem)  En 'n groot deel van hierdie opgewondes is Christene, ook soms Christene in ander lande...


Behoort Christene baie opgewonde te wees en hoe opgewonde?

Net enkele perspektiewe vanuit 'n Bybelse oogpunt :

Temper maar bietjie die vreugde. In baie evangeliese kringe is daar groot blydskap dat Trump vir Clinton en haar liberale gespuis ‘n loesing gegee het. Ek moet eerlik wees, dit gee my ook ‘n plesier om te sien hoe ‘n "underdog" ‘n geveg wen. En dis nog ‘n groter lekkerte as die verloorders die polities korrekte liberale elite is. Tog meen ek dat ons as Christene hierdie lekkerkry gevoel oor ‘n Clintonverloor maar moet temper met nugtere en realistiese Bybelse denke. 

Beslis kan Trump moontlik ‘n positiewe invloed hê op kernbelangrike besluite soos die vul van vakatures in die Amerikaanse hooggeregshof. Daaroor moet ons bly wees. Beslis kan ons versigtig hoop dat Trump (veral onder die positiewe invloed van Mike Pence) ‘n rigting kan inslaan wat meer Christen vriendelik sou kon wees as wat Hillary sou doen...

maar... Pasop vir ‘n misplaaste euforie. (Onthou ook sommer maar weer vir Animal Farm...) Die waarskuwing van Psalm 146 is nou meer van pas as ooit tevore.

“Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. 
Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan. 
Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God, 
wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid;" (Ps. 146:3-5)

Christene wie se vreugde nou geen perke ken nie, moet pasop vir dieselfde fout as wat die Obama ondersteuners ‘n klompie jare terug gemaak het. Hy was die kandidaat wat positiewe veranderings aan ‘n oorlogsmoeg Amerika beloof het... Hy het vroeg in sy termyn sommer al ‘n Nobelprys vir vrede ingepalm... Helaas, vandag is daar nog steeds geen vrede in die wêreld nie. Trump gaan onmoontlik nie al die probleme kan oplos en die veranderinge kan bewerkstellig wat hy beloof het nie. (Ek vermoed hyself weet dit reeds, trouens ek dink maar hy is bloot ‘n slim populis wat sy boodskap by sy gehoor aanpas om mag te verkry. Amerikaanse Zuma tipe as jy my vra...)

Trump se oorwinning onderstreep net die geestelike bankrotskap van die Amerikaanse samelewing. Die feit dat beide groot kandidate Trump en Hillary mense met bedenklike morele waardes is, laat jou wonder oor die stand van die Amerikaanse samelewing. Geld morele waardes glad nie meer as ‘n aanbeveling nie? Dit wys ook op die oppervlakkigheid van Amerikaanse Christenskap – beide partye se kandidate sou hulleself as Christene beskryf. Wat het geword van die begrip Christen? Dit laat mens ook wonder oor die onderskeidingsvermoë van baie sogenaamde “evangelicals” wat Trump opgehemel het. Om uit nood vir iemand te stem is een saak, maar om iemand met ‘n gruwelike morele rekord so aan te prys, grens aan ‘n die-keiser-se-klere tipe storie. Christene vir wie die waarheid saakmaak kan nie met entoesiasme daaraan deelneem nie.

Gelukkig het ons as Christene ons eie Prins!

Ons kan opnuut weer bevestig dat ons ons heil in Hom alleen vind en ons verwagting op Hom alleen stel. Hy maak nie leë beloftes nie, Hy het nie geraamtes in die kas nie, Hy soek nie die goedkoop eer van mense nie, maar doen die wil van sy Vader en dit tot ons ewige welsyn en voordeel! Oor Hom kan en moet ons onbeskaamd en onbeperk juig!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.