BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 18 Junie 2014

SONEL of die SKRIF?

- ek glo eerder die Bybel

Wei daar 'n wit perd in die hemel? Op my rekenaar beland die volgende. (ek neem aan met baie goeie bedoelings) Ek plaas dit hieronder met spelfoute en al:



Sonel.

Sy was 6 jaar oud toe sy die eerste ervaring in die hemel gehad het.

Sederdien was sy al 'n paar keer 'n gas in die hemel. Sy vertel jou presies hoe lyk Jesus. Sy vertel hoe lyk die engele en dat verskilende engele verskillende opdragte en take het om te verrig. Sy vertel dat Gabriel en Michael van die twee vernaamste engele in die hemel is. Sy vertel jou hoe lyk die poorte wat ook baie ooreenstem met Openbaring.

Sy het geleer om te lees en skryf asook hoe om somme te doen. Sy vertel ons presies hoe lyk die troonkamer en die Leeu van Juda. Sy praat oor die bruilofstafels wat die engele besig is om te dek. Sy vertel van 2 perde wat sy gesien het en spesifiek die wit perd wat die engel Gabriel besig is om voor te berei vir iemand wat daarop moet ry. Daar is nog baie van haar ervarings wat ek nie nou wil oorvertel nie omdat daar te veel detail aan verbonde is. Ek hoop dat die opsomming van Sonel vir jou van hulp sal wees.

DIE SKRIF ALLEEN!

Ek is oortuig dat dit van groter hulp sal wees as mense maar net eerder die BYBEL, die onvervalste Woord van God sal glo, wat ons leer dat:

Jesus self die finale en genoegsame openbaring van God is! “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte” (Hebreërs 1:1) Ons het Jesus se boodskap en evangelie in die Bybel, wat soek ons meer?

Die opgestane Jesus nou met ons deur die Skrifte praat. “En Hy (Jesus) sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan." (Lukas 24:24-25) Interessant, Jesus verwys sy eie disippels na die Skrifte! (Bybel) Vandag nog open die verheerlikte Jesus deur Sy Heilige Gees ons verstand om Hom in die Woord te leer ken... Wat soek ons meer?


Juis omdat Jesus genoegsaam is, moet ons waak teen mense wat aanspraak maak op die sien van engele! “Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.” (Kolossense 2:18,19) Mense hou natuurlik van spektakulêre en opspraakwekkende dinge, maar dit vat die fokus so maklik van Jesus self af weg en dis die tragedie! Luister eerder na Jesus self, breek met sonde en dien god in heiligheid!


As mense hulle nie aan die Wet en Profete (m.a.w. die Heilige Skrif) steur nie, hulle nie sal luister nie al staan iemand ook uit die dode op! Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan." (Lukas 16:31) Wat is die nut van al hierdie gesigte?


Sola Scriptura!



Ons enigste normatiewe bron vir ware kennis van God is die Heilige Skrif! Ja, ek persoonlik glo dat daar egte nadoodse ervarings kan wees, maar dit voel my dat daar deesdae met reëlmaat melding gemaak word van sogenaamde "besoeke aan die hemel" wat ernstig onder verdenking behoort te staan veral weens die sensasionele en onskriftuurlike aard daarvan. In effek kom dit neer op "byvoeging" by die Woord van God of verdraaiing van die boodskap. Sonel se wit perd wat sy kwansuis gesien het, strook glad nie met die simbolies-metaforiese aard van Openbaring nie! (kliek op OPENBARING)

Ek wil graag almal se goeie bedoelings aanvaar, maar wonder nou maar net of hierdie nie maar een van die "godsdienstruuks" is wat vanuit Amerika na ons oorgewaai het nie...is daar nie nou al te veel seuntjies en dogtertjies met hemelse besoeke op hulle kerfstok nie? 

Ek verkies die Skrif! Die Skrif alleen...

3 opmerkings:

  1. Ek glo dat Christene van tyd tot tyd bonatuurlike ervarings kan/mag hê. Dit mag net nooit die basis van ons geloof wees/word nie.
    Sola Scriptura (Skrif alleen), Sola Fide (Geloof alleen) en Sola Gratia (Genade alleen)
    is die fondamente waarop ons redelike Godsdiens steun. Jan Grey.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie dr. Grey, ek stem een honderd persent saam dat God in sy soewereiniteit aan sy kinders bo-natuurlike ervarings en insigte kan gee.

      Die betrokke dogtertjie se aansprake oorskry m.i. die grense van die selfopenbaring van God in die Skrif. "Sy vertel jou presies hoe lyk Jesus" Hoe toets mens dit aan die Skrif en as ek dit nie aan die Skrif kan toets nie, watter nut het dit vir ons? In praktyk steur mense hulle ook meer aan sensasionele "openbarings" as aan die eenvoudige duidelike boodskap van die Skrif. Hoeveel mense trek sulke byeenkomste en hoeveel kom na 'n diepgaande Bybelstudie?

      Vrede vir julle daar in Oz!

      Vee uit
  2. Hierdie opmerking is deur die outeur verwyder.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.