BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 16 Junie 2014

KOOT in DIE KERKBODE - ONGELOOFSBELEWENIS?

[Ek is dankbaar vir die getuienis wat my broer, ds. Hector Jooste van Otjiwarongo lewer deur sy onderstaande brief aan die KERKBODE. Ek plaas dit hier omdat ek my met sy standpunt vereenselwig en omdat ek graag wil hê dat die wêreld daarbuite moet weet dat nie alle NG predikante met die ongeloofstrominge in ons geliefde kerk saamstem nie.]

Geagte Redakteur

As ek vir Koot Bosman reg verstaan (Kerkbode, 6 Junie 2014), glo hy nie in die maagdelike geboorte, opstanding en hemelvaart van Christus nie. Dan wil ek nou vra: Nou waarin glo jy dan? Dan is jou geloof net so onsinnig en niksseggend as die van die Saduseërs in Bybelse tye (1Kor. 15: 12 tot 34). Na watse “egte geloofsbelewing” verwys jy dan? Uit Koot se skrywe blyk dan eerder ‘n egte ongeloofsbelewing.

Ek meen dit raak nou hoogtyd dat mense wat sienings soos die van Koot handhaaf sal ophou om hulleself christene te noem. Die gebruik van die naam christen deur diesulkes is vals en niks anders as blatante huigelary nie. Dit rysmier die kerk in haar basiese kerkwees en die nakoming van haar Godgegewe opdrag in hierdie wêreld. Dit is hierdie tipe on-Bybelse en ongeloofs-sienings wat nou al vir jare in die NG Kerk geduld word, wat die kerk afbreek, haar geloofwaardigheid ondermyn en totaal kragteloos maak in haar getuienis. Dit is die vernaamste rede waarom lidmate in groot getalle die NG Kerk verlaat om elders ‘n geestelike heenkome te vind. Dit raak tyd dat die kerk in terme van die kerklike tug sal optree teen mense wat hierdie standpunte huldig. Dit is te sê as die NG Kerk nog waarlik ware kerk wil wees (NGb, art. 29).

Veral teen die agtergrond van 1Kor. 15: 33 “Slegte geselskap bederf goeie sedes” wil ek ook vra dat Kerkbode asseblief sal ophou om sulke “slegte geselskap”-briewe en artikels te publiseer. Dit dien beslis nie tot stigting van God se kinders nie, maar eerder tot die bederwing (verwarring/verwoesting) van Jesus se kerk.

En laastens vir diegene wat my nou van “oordeel” en “liefdeloosheid” wil beskuldig na aanleiding van my standpunte in hierdie brief: Vir hulle verwys ek na dit wat ons lees in Hand. 13: 6 tot 12. Dit is mense wat standpunte soos die van Koot huldig wat juis ‘n streep trek deur die liefde van God waarmee Hy sy Seun na hierdie wêreld gestuur het; en dit kan die kerk nie langer bekostig om toe te laat nie.

In die Naam van Jesus Christus, die opgestane Here wat letterlik opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God die Vader.



Hector Jooste (VDM)

1 opmerking:

  1. Baie dankie Ds Johannes en ook via u blog aan Ds Hector wat nie skroom om die valshede van mense soos Koot se geloofsleer uit te wys nie. Jesus self het in sy tyd op aarde mense soos die Skrifgeleerdes en Fariseërs sterk aangespreek en só vir ons 'n voorbeeld gestel.

    Koot wys dieselfde valse voorveronderstellings in gister ( 27 Junie) se BEELD:

    http://www.beeld.com/opinie/2014-06-27-eng-vertolking-laat-ruimdenkende-gelowige-al-hoe-meer-vervreemd-voel

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.