BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 23 Junie 2014

“EK GLO IN MYSELF”

- het die evangelie iets te sê vir die selfgenoegsame en relatiwistiese post moderne mens? 

“Ek is my eie baas! Ek is ’n selfstandige mens, wat my eie besluite neem. Ek glo aan die slagspreuk - glo in jouself. Ek is die kaptein van my eie bestemming en toekoms! Ek het niks en niemand nodig nie. Die lewe word maar deur die noodlot bepaal en ek moet maar net die beste daarvan probeer maak. Ek bepaal my eie geluk...” Dis so ‘n algemene houding vandag... Maar wat sê mens vir sulkes? Kan ek die evangelie met hulle deel?

Of wat van mense wat sê : “Ons leef in ’n tyd waarin mense nie meer van sonde en oordeel moet hoor nie - wat nodig is, is ’n aangepaste Christelike boodskap... dalk iets soos - hoe om goed te voel oor jouself?” 

In Handelinge het ons kry ons verskeie voorbeelde van die krag van die lewende Jesus. (Kliek op WAAR IS JESUS?) Tog is daar ‘n vraag wat by ‘n mens opkom. Het die evangelie vandag nog krag? Ons weet ons leef in die post moderne tyd waar alles vaag en relatief is. Die denkraamwerk waarbinne die hedendaagse mens dink het nie plek vir vaste waardes en absolutes nie. Is dit wenslik en hoegenaamd sinvol om ‘n evangelie wat op vaste waardes en feite gebaseer is te verkondig? Is dit die moeite werd om aan vandag se besige mens met sy tegniek en wetenskap die boodskap van Jesus te bring? Is so ‘n evangelie nog relevant? 

In Handelinge kry ons voorbeelde van apostoliese prediking in ‘n verskeidenheid van kontekste en voor heeltemal verskillende gehore. Die evangelie is gebring aan die verbondsvolk Israel, die Samaritane en heidene. Daar is daar is gepreek by die tempel en in sinagoges, maar ook op markte, vir konserwatiewe Jode sowel as Griekse intellektueles. En orals was die evangelie relevant, inderdaad is dit uitgelag, maar dikwels is harte omgekeer tot eer van God!

Paulus preek ook in die stad Athene (Handelinge 17) - ‘n belangrike sentrum ten opsigte van godsdienstige, kulturele en intellektuele sake. Daar was ‘n ondersoekende gees wat gesmag het na al wat ‘n nuwigheid is,- nuuskierige ouens hierdie! “Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie.” (21) dit was ook ‘n godsdienstige stad soos die baie afgodsbeelde getuig het. “Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is.” (16) Natuurlik heidens godsdienstig. ‘n Eeu oue vesting van die verskillende afgode. Ten spyte van ‘n toewyding aan die gode was daar ook nuwe filosofiese strominge wat die ou waardes ondergrawe het. Twee leidende nuwe denkrigtings was die ‘n Epikuriërs en Stoïsyne: 

Die Epikuriërs (dis nou die jollers!) leer dat die gode waarskynlik wel bestaan, maar hulle is afsydig en onverskillig teenoor menslike kwessies. Die mens was dus op homself aangewese en daar was geen omvattende doel vir die wêreld nie. Daar is ook nie iets soos ‘n toekomstige lewe nie. Dit maak dus geen sin om die gode te probeer tevrede stel nie, nee, die mens moet daarop konsentreer om pyn te vermy en persoonlike vrede na te streef. Ons moet maar net lewe vir ons eie geluk, hier en nou! 

Die Stoïsyne (dis die tawwe ouens) beklemtoon selfbeheersing en onderdrukking van emosies. Die Stoïsyne moraal kan in drie woorde saamgevat word : onverskrokkenheid, onbewoënheid en selfgenoegsaamheid. Ek sal nie huil, ek kan vasbyt en vir myself sorg. "Korporaal, dit sit nie in ju broek om my te breek nie..." Dis hierdie onversteurbare ouens wat deur niks ontstel kan word nie en gelate alles aanvaar. Hulle het ook niemand nodig nie - ook nie God nie. Beide groepe dus krities teenoor die tradisionele afgodsdiens - meer ‘n siening dat die mens op homself aangewese is. 

(KLINK DIT BEKEND? - die oorblyfsels van hierdie denkrigtings is maar vandag nog steeds by ons.) 

SLIM DIPLOMAAT

Nou is dit interessant - Paulus se boodskap voor die Areopagus het op sekere gebiede ooreengestem met die filosowe se kritiek op die afgodsaanbidding, maar terselfdertyd was sy boodskap ook ‘n aanval op hulle diepgewortelde idees. Paulus gebruik dus wyse diplomasie, maar hy skroom ook nie om die waarheid te praat en so op tone te trap nie. Hierdie paradoks - van aansluiting maar ook aanval op hulle denke is deurweef in hierdie gedeelte. Paulus maak dit duidelik dat die Atheners weet van die God wat hy verkondig, maar hulle ken Hom nie werklik nie. Hy wil dus vir hulle sê dat hy nie ‘n vreemde God aan hulle bring soos wat hulle gedink het nie. Paulus begin by die Atheners se eie erkenning dat hulle nie die ware God werklik ken nie deurdat hulle ‘n altaar vir die onbekende God opgerig het. “Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ‘n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ‘n onbekende god.’ "Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle.” (23)  Paulus sluit ook aan by hulle eie digters wat genoeg van God af geweet het om te besef dat afgode dwaasheid is. “God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ (28) 

BEGIN BY GOD!

Paulus begin sy boodskap by God. Let wel, nie by mens en sy behoeftes en geluk nie! (Dis juis die aanknopingspunt van die valse Prosperity Gospel. Hulle belowe aan die mens 'n verbeterde selfbeeld, gesondheid, welvaart en geluk en so word God maar net 'n kneg of gelukbringer in diens van die mens! ) Hierteenoor beskryf Paulus God as die God wat alles geskep het en wat alles beheer. “God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hy is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie."  (24) Paulus trap op die filosowe se tone as hy verklaar : God is nie die afsydige God nie, maar openbaar Hom aan die mens. Sy selfopenbaring het nou ‘n nuwe beslissende fase bereik. Voorheen het Hy die onkunde van mense oorgesien, maar nou roep Hy mense op tot bekering. Die eeue van onkunde is nou verby, niemand het meer ’n verskoning om ander gode te dien nie. Niemand kan en mag neutraal bly nie - bekeer julle tot die ware God! Die beslissende feit wat hierdie oproep ondersteun is dat God ‘n Man aangestel deur wie hy die wêreld gaan oordeel. God self het hierdie Man se gesag bo alle twyfel bevestig deur Hom uit die dood op te wek... Paulus daag die filosowe se idees uit. Volgens hulle was die skepping maar koersloos na niks op pad en bestaan die mens nie meer na sy dood nie. “Nee,” sê Paulus duidelik, “die skepping is op pad na ‘n spesifieke punt - die dag van oordeel en die mens staan verantwoordbaar voor God.” Dis presies wat die postmoderne mens moet hoor. Baie mense dink die skepping het spontaan begin en sal maar weer iewers spontaan eindig. Nee, ons stuur af op ‘n eindpunt, ‘n dag van afrekening deur God bepaal en die grootste bewys daarvan is die opstanding uit die dood van Jesus. "God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (30,31) Hierdie God wat alles en alles en almal beheer (26), Hy roep ook almal op om te bekeer. Almal, oral! Die God wat alle mense gemaak het, eis ook dat alle mense hulle tot Hom bekeer. Hierdie boodskap bly relevant... Dit kom ook na ons... vandag...

Daar is net een God, die Almagtige Skepper en onderhouer van die wêreld. Elkeen kan nie maar dus kies volgens sy kultuur of voorkeur nie. Daar is dus ’n reg en ’n verkeerd - daar is baie valse gode, maar net een ware God. Tot Hom moet jy jou betyds bekeer!

DAAROM LAAT ONS DIT WEER BEVESTIG...

Of die hedendaagse selfversekerde mens dit wil hoor of nie - daar kom ’n dag van afrekening, jy gaan verantwoordelik gehou word vir jou dade. Daar is ’n God, die enigste ware God met wie jy moet rekening hou of jy dit wil weet of nie. Jy kry nou kans om jou te bekeer voor die finale oordee!

Alle idees oor God wat voortkom uit menslike spekulasie is foutief en onvoldoende. Menslike denke kan nie by die waarheid uitkom nie. Ons is afhanklik van God se selfopenbaring deur Jesus Christus soos ons dit vind in die Heilige Skrif. Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood (Kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE) is die historiese bewys dat God juis deur Hom met ons gepraat het.

Is jy een van die wat vir hierdie boodskap lag of het jy jou al bekeer?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.