BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 10 April 2014

VERKIESING 2014

na die verkiesing gaan Suid-Afrika steeds ‘n goddelose regering hê!

Dis nie nodig om ‘n profeet of politieke ontleder te wees nie – met sekerheid kan gesê word dat Suid-Afrika na die 2014 verkiesing nog steeds ‘n goddelose regering gaan hê... Die groot vraag is dus nie wie die land gaan regeer nie, maar hoe moet God se kinders binne ‘n goddelose staatsbestel  en onder ‘n heidense bewind optree?
Ons het reeds na hierdie kwessie vanuit breë beginsels gekyk (kliek op AGENDA), maar gaan nou in meer detail op die saak in vanuit Titus 3:1 en 2.

“Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.”

Wat moet Christene se agenda en werkswyse wees in ‘n goddelose heidense samelewing? Paulus se antwoord in kort is : Begin by julleself, kry julle lewens in orde sodat die mense rondom julle ook die evangelie sal glo.

Paulus gee dus raad aan Titus oor hoe Christene se lewenswyse moet lyk in kerk, huis en ook in die openbare lewe.  As ons wil hê die wêreld moet ons boodskap glo moet ons heilig leef in gemeente, in ons huise en in die openbare lewe. Daarom word al die spesifiek vereistes vir ampsdraers gegee in hoofstuk 1 - hulle moet onberispelik wees. Daarom al die opdragte aan lidmate in hulle huislike en private konteks - kyk 2 vers 5 (“Dan sal die woord van God nie in diskrediet kom nie.”), vers 8 (Dan sal elke teenstander in die verleentheid kom dat hy niks slegs van ons sal kan sê nie.), vers 10 (So sal hulle in alles wat hulle doen, die aansien van die leer van God ons Verlosser verhoog.”). Die  motief agter hierdie opdragte gaan alles daaroor dat ons lewens ons boodskap moet onderskryf en nie weerspreek nie. Dieselfde motief vind ons ook in 1 Petrus 2:12ev. Nie beveg die heidene waar julle kan nie, nee, hou julle lewenswandel skoon...


In Titus 3:1-2 gaan dit nou oor opdragte oor ons gedrag in die openbare lewe

Dit het betrekking op ons houding teenoor die  staat of owerheid (1), maar ook teenoor alle mense (2). Hoe moet ons optree teenoor ‘n heidense staat en al die goddelose mense rondom ons? Hoe moet ons optree teenoor al die mense en owerhede vir wie ons so kwaad raak oor hulle goddelose wette en optredes? Moet ons in opstand kom, moet ons hulle druk, moet ons ‘n oorlas van onsself maak met allerhande petisies, moet ons betoog, ons een kant onttrek en in bitterheid ons wonde lek, ‘n rewolusie beplan, selfs die wapen opneem?

JY WIL DALK NIE DIE ANTWOORD HOOR NIE...

Paulus sê vir ons baie duidelik, maar wees gewaarsku dis baie radikaal en dalk baie anders as wat ons verwag. In vers 1 & 2 noem hy spesifieke dinge. Dis eintlik dinge wat die Christene in Kreta reeds geweet het (“Herinner”) Dis ook waarskynlik dinge wat ons weet, maar tog so maklik vergeet...

Kom ons gaan stap vir stap deur die teks.

“aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees” (Onderdanig en gehoorsaam –OAV). Paulus beklemtoon dit, want in Kreta was daar waarskynlik ongelukkigheid met die owerheid. Hulle is in 67vC deur die Romeine onderwerp en was sedertdien onrustig onder hulle koloniale heersers. Wat moet ons houding wees teenoor ‘n regering waarvan ons nie hou nie of ons belastinggeld mors? Onderdanig. Paulus gaan dieper oor hierdie saak in Romeine 13. Ons moet alle landswette (ook belastingwette!) gehoorsaam behalwe waar dit direk van ons vereis om iets te doen wat teen God se Woord indruis. In so ‘n geval moet ons nie die strate invaar nie, maar bereid wees om tronk toe te gaan en selfs te sterf as dit nodig is. (soos ons die voorbeeld kry in Handelinge 4) Dis nie die kerk as kerk se taak om wette te maak en teen allerhande wette te baklei nie, ons moet gehoorsaam wees. Onthou Paulus sê dit van totaal heidense regerings!

Die Christen moet alle landswette gehoorsaam, ja ook belastingwette, diamantwette, jagwette...!

“om alles te doen wat goed is” Ons houding teenoor die owerhede gaan verder as maar ‘n dikbek, tande kners gehoorsaamheid. Ons moet daadwerklik positief wees. Nee, ons moet bereid wees, en inderdaad gretig om goed te doen waar ook ons al die geleentheid kry! Ons mag nie as ons ‘n positiewe bydra kan lewer, sê ja lekker julle wil mos so sleg regeer, kom nou self klaar, ek gaan nie ‘n vinger verroer om iets mee te help nie. ‘n Negatiewe houding, ‘n selfsugtige houding, ‘n een kant houding gaan niemand oortuig dat ons boodskap van Jesus as die een wat sondaars liefhet en verlos die waarheid is nie. Aan almal moet ons goed doen! (Galasiërs 6:10) Kinders van God moet bekend wees in die samelewing vir ons goedheid, ons positiewe gesindheid, vriendelikheid, behulpsaamheid .....

Al die bitterbek kommentaar op die Internet, pas nie by God se kinders nie!

Paulus gaan verder in vers 2. “Van niemand kwaadpraat nie” Dit beteken nie dat ons sonde sal goedpraat nie, maar ons as Christene mag ons ons nie wend tot beledigings, afkraking van mense se karakters en skinder nie. Maak nie saak wie dit is nie... nie onbekwame leiers nie, ook nie goddeloses nie. Daar is ‘n verskil om positief te getuig vir wat reg is (ook al behels dit om sonde aan te spreek) en voortdurende negatiewe beledigings van mense!

GALBRAAK OOR ZUMA OF ZILLE BEVORDER NIE DIE EVANGELIE NIE!

As ons leiers verkleineer en beledig, mense afkraak, hoe sal ons hulle oortuig van ons goeie bedoelings met die verkondiging van die evangelie?  Dis skrikwekkend as mens dink - hoeveel keer het ek al deur my gesindheid en opmerkings die evangelie in ‘n swak lig gestel.  Daar by die braaivleis vuur ... “hierdie een is ‘n vark, daardie een is ‘n idioot...”, mense hoor en wonder, is dit die gesindheid van Christene wat glo in die evangelie? Ja, verseker gaan ons met baie mense en regerings nie saamstem nie, maar ons moet onthou onbekeerde mense is mense wat verblind is deur die god van hierdie wêreld. (2 Korintiërs 4:4) Ons moet hulle nie beledig nie, ons moet vir hulle bid. (1 Timoteus 2 :1,2) Onthou weereens dis gesê in die konteks van ‘n heidense goddelose samelewing

‘n Volgende saak - “nie rusie soek nie”  (“nie strydlustig wees nie” – OAV)  Dis nie ons taak om met die regering of ander goddelose mense te baklei nie. Dis nie op God  se agenda vir ons nie. Dis nie ons styl nie. Dis nie ons werkswyse om aborsie klinieke te gaan afbrand of heiden tempels te sloop nie. Ons kan nie mense evangeliseer as ons hulle op enige manier teen ons antagoniseer nie. Ons moet met wysheid optree teenoor diegene wat buite die geloof is.  Natuurlik onreg, sonde, misdaad ontstel ons, die aantasting van God se eer kwel ons, maar ons beantwoord hierdie ding nie met geweld nie, maar met die evangelie. Deur strydlustige aksies maak ons mense net negatief en hulle sal juis nie ag slaan op die evangelie nie. Weet u dit sal baie help as ons besef ons behoort nie aan hierdie wêreld nie. Ons trek net tydelik hierdeur, hierdie land is in ‘n sekere sin nie ons land nie.

Laastens : “inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal”  (“vriendelik te wees en aan alle mense sagmoedigheid te bewys” -OAV)  Dit kom prakties daarop neer dat ons in alle omstandighede die gesindheid en die karakter van Jesus sal openbaar, want hierdie was Sy karaktertrekke. Teenoor alle mense en in alle omstandighede. Geen geraas, bitterheid, petisies of optogte  sal die evangelie bevorder nie, maar lewens wat die karakter van Jesus weerspieël. Ons moet alle mense goedgesind wees, aangenaam wees teenoor alle mense. As ek my bevind tussen onbekeerde familie of kollegas help dit nie om dikbek en onvriendelik daar sit en vir myself jammer kry oor ek tussen sulke slegte mense moet wees nie. Nee ek moet positiewe blydskap en vriendelikheid uitstraal.

ONTHOU BIETJIE...

Nou sal iemand vra, hoe gaan mens dit regkry, kyk watter slegte dinge doen die regering, kyk hoe morsig leef goddeloses? Ons kry ‘n leidraad in vers 3. “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad,...” Kinders van God onthou bietjie hoe was julle. Dis asof Paulus wil sê,  “ja, die heidene rondom ons is onverstandig, ongehoorsaam...haatlik, maar onthou bietjie ons was ook eens op ‘n tyd  so!  Luister bietjie voor julle so gal af gaan, voor julle kwaad word, voor julle strydlustig wil word en al die goddelose mense aan die hare wil gryp. Onthou ons almal was maar so voordat God ons in sy genade gered het. Het ons dan vergeet ons was net so?  En hoe het ons verander? Ons is verander deur die genade van God in Jesus, deur die vernuwende werk van die Heilige Gees. Onthou dit!

ONS AGENDA IS DIE EVANGELIE!

Dit bring ons weer terug wat ons aan die begin gesê het, ons agenda is die evangelie.  Ons agenda moet dus in ooreenstemming met God se agenda wees. God wil hê dat alle mense gered word. (Titus 2:11; 1 Tim 2:4)  Dit beteken dat ons ‘n evangelistiese visie vir hierdie wêreld moet hê. Mense moet gered word. Ons antwoord op die wêreld se nood en verdorwenheid is die evangelie wat die krag van God is vir elkeen wat glo!

3 opmerkings:

  1. Johannes, dankie, dit is die Here se weg en so moeilik as wat dit is om dit (die bostaande) te doen, is dit wat die Here van ons verg. Dankie vir jou moed en bereidwilligheid om dit te se - in my hart se ek, 'amen'. Dis voorwaar die evangelie wat die krag van God is tot redding! Die neerle van onsself is dit werd, want Christus het vir ons gesterf!

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie vir al die skrywes. Ons kry baie seen daaruit.

    Pieter en Karin Kelbrick
    Queenstown

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.