- kan ek nie meer vir myself leef nie!
Paulus het ‘n ontdekking gemaak wat ‘n ontsaglik radikale ommekeer in sy denke, motivering en loopbaan teweeg sou bring! Hy is gekonfronteer met die liefde van Christus, spesifiek die Goeie Vrydagliefde en hierdie insig het hom vir altyd verander. Hy skryf daaroor in 2 Korintiers 5:14,15 soos volg :
“Die liefde van Christus* dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.”
Om nie meer vir myself te leef nie. Sjoe! Dis ’n mondvol. Dis ’n uiters radikale stelling en besluit. Dit skreeu teen ons verstaan van menswees en ons innerlike oorlewingsdrang. Ons is mos van geboorte af ingestel om vir myself te leef..., vir my gerief, my belange, my besittings, my ideale. Selfsug en selfbelang is die natuurlike loopbaan van elke sondaarmens sedert Adam. Trouens, dis eintlik die essensie van sonde, dat ek mý begeertes en behoeftes verhef tot die absolute norm en daarom God en medemens ignoreer en vertrap. Wie die evangelie verstaan en in dankbaarheid daarop reageer, kan egter nie meer vir homself leef nie.
DIE ENIGSTE OPSIE
As ons die evangelie van die kruis en opstanding glo en aanvaar kan ons nie meer vir onsself leef nie, nee, ons moet leef vir Hom wat vir ons gesterf het. Dis die groot waarheid wat die apostel Paulus besef het en met ons deel. Hoe Paulus tot hierdie radikale konklusie gekom? Hy het insig gekry in die liefde van Christus. Hy het dit begryp en is daardeur aangegryp! Die liefde wat Christus deur sy kruisdood bewys het. Dit kom daarop neer - Hy het in my plek gesterf onder die toorn van God. Hy het my sonde op Homself gevat, Hy het my doodstraf ondergaan. Deur sy liefdesoffer het hy my weggeraap voor die bek van die gapende helse afgrond. In God se oë is dit asof ekself gesterf het en vir my sonde gestraf is. Die straf oor my is dus afgehandel. Dis die rede hoekom ek nou kan leef voor God. Die kruisdood van Jesus is al rede hoekom God se oordeel MY nie vermorsel nie, maar ek nog voor sy aangesig kan bestaan. Hy het gesterf sodat ek kan leef. Dieselfde gebeurtenis, die kruis wat Jesus afgetrek het na die dieptes van die dood, het my opgehys na die lewe. Ek het my lewe dus te danke aan Christus se sterwe. En wat bly nou vir my oor? Net een redelike opsie. Net een keuse wat ek in integriteit kan maak. En dis om nie meer vir myself te leef nie, maar vir Hom wat vir my gesterf het en uit die dood opgewek is.
JESUS HET DIE VOLLE BLAAM (EN GEPAARDGAANDE STRAF) VIR MY SONDE GEVAT, VRYWILLIG! DIS WARE LIEFDE!
Wie hierdie liefde verstaan, neem 'n besluit om nie meer vir homself te leef nie, maar vir Christus. Dis ’n vrywillige besluit in die lig van die evangelie, dis ’n daaglikse besluit...
Om te sterf aan jouself en te lewe vir Christus beteken o.a ten minste die volgende vier dinge (alhoewel dit nie waterdig geskei kan word nie):
~ ’n onverbiddelike keuse teen alle sonde en sondige begeertes. Dit beteken ’n beginsel besluit tot ’n verbete stryd teen alle sonde, selfs ten bloede toe. Sonde kan nie meer my vriend wees nie, want MY sonde het dan juis Jesus se dood gekos. Geen moeite en geen opoffering is te groot in my stryd teen sonde nie. As jou oog jou laat struikel, as jou hand.....raak ontslae daarvan. As jou geliefkoosde TV program, as jou beste vriend, as jou materiële welvaart, as jou druk lewensstyl jou laat struikel....raak ontslae daarvan. Roei uit wat jou wil wegrokkel van Christus af!
~ leef die lewe van Christus. Kies teen jouself en jou opinies. Volg SY voetspore na, leef volgens SY voorbeeld. - juis wanneer jy verontreg en mishandel word! “Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.” (1 Petrus 2:21) Om vir Jesus te leef is nie een of ander emosionele “high” nie, maar ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God se wil. Mense wat die liefde van Jesus ontdek het, maak erns met God se wil. “Here, hoe wil U hê moet ek leef.” Jesus sê mos : “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” (Johannes 14:15)
~ ’n gehoorsaamheid aan my roeping as dienskneggetuie. ’n Dienskneg behoort nie meer aan homself nie, maar aan sy Heer. My tyd, kragte, eiendom, talente word nou nie meer aangewend vir my saak nie maar vir my Heer se saak. Die insig oor Jesus se liefde het Paulus vasberade gemaak om sy roepingswerk te voltooi, al sou dit sy lewe kon kos... “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:24) As ek self tot hierdie oortuiging gekom het van die betekenis van Jesus se dood, wil ek dit mos met ander deel! As kind van God het ek mos 'n roeping, al is ek nie noodwending 'n reisiger nie!
~ ’n lewe van diens aan die liggaam van Christus, naamlik my broers en susters in die geloof. Om te sterf aan myself en te leef vir Christus beteken dat ek radikaal vir sy liggaam (broers en susters) sal leef. “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was...” (Filippense 2:3-5.) Die standaard van leef vir die ander se behoeftes word in vers 5 gestel - dieselfd gesinindheid van selfprysgawe as wat in Jesus sigbaar was! Hierdie diens het geen grense nie- dit beteken dat ons mekaar se voete sal was - met ander woorde om dit wat selfs onaangenaam en vernederend is vir mekaar te doen, maar dit gaan ook verder, dit kan beteken dat ons selfs letterlik ons lewens vir mekaar moet aflê - dit sal ten minste behels dat ons nooit iemand van ons materieel sal laat ondergaan nie. (1 Johannes 3:16,17)
Om nie meer vir myself te lewe nie sal dus behels dat ek taamlik dikwels dinge moet doen waarvoor ek nie van nature lus voel nie of wat my iets gaan kos aan gewildheid, tyd, geld of gerief. Dis ’n lewe van militêre dissipline en ontbering (2 Timoteus 2:3), maar dis selfdissipline, en baie belangrik - dit word gedryf nie deur vrees en angs nie, maar deur die liefde, liefde vir Hom wat vir my uit liefde gesterf het.
Om nie meer vir myself te leef nie is nie ’n maklike pad nie. Dis daagliks ’n pad van keuses teen myself en teen natuurlike gevoelens en behoeftes. Maar dis beslis nie ’n uitsiglose doodloopstraat nie - dis ‘n poort na ‘n vol en vrugbare lewe op aarde en ’n ewige oorwinning hierna.** Dis inderdaad die enigste opsie in die lig van Jesus se sterwe ter wille van my!
REALISTIES?
Kom ons wees rou eerlik met onsself : Hierdie prysgawe van myself, hierdie besluit teen my ideale en belange klink na bisarre malligheid en is inderdaad onmoontlik, BEHALWE as ek ook tot die insig gekom het van wat Jesus se kruisliefde regtig beteken. Ek moet die skat van Goeie Vrydag vind! (Vers 14,15) Met ander woorde : om vir Jesus te leef maak net sin as ek eers die evangelie glo, nie as mooi teorie nie, maar as werklikheid. Nie van hoorsê nie, maar proefondervindelik! Anders gesê hoe meer ek die evangelie verstaan, die betekenis van die kruis en opstanding hoe meer sal vasbeslote raak om nie meer vir myself te leef nie, maar vir Hom wat...
Die teenpool is net so waar : Selfgerigte lewens verraai een groot feit – nog nooit het hulle waarlik die liefde van Christus, spesifiek die Goeie Vrydagliefde aan die kruis besef en aanvaar nie...
Mag hierdie vir jou 'n besonder Goeie Vrydag wees...
* Die frase “die liefde van Christus” is hier ‘n subjektiewe genitief (Christus se liefde vir ons) en nie ‘n objektiewe genitief (ons liefde vir Christus) nie. Natuurlik lei die een tot die ander. Dat dit hier eerstens oor Christus se liefde vir ons gaan is duidelik uit die feit dat Paulus voortgaan om te beskryf wat Hy vir ons gedoen het – vir ons gesterwe het!
** Probeer gerus ‘n biografie lees van Adoniram Judson, die pioniersendeling in Burma wie se lewe ‘n aangrypende voorbeeld was van opoffering omdat die liefde van Christus hom gedryf het.
Baie dankie, pragtige boodskap. Hudson Taylor van China Inland Mission en sy gesin se verhaal is net so aangrypend.
AntwoordVee uit