BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 16 Desember 2014

GELOFTE, BLOEDRIVIER EN VALSE SEKURITEIT

 - vormgodsdiens gee ‘n valse indruk dat God altyd aan ons kant is.

Daar is geen twyfel dat God op 16 Desember 1838 die ernstige smeekgebede van ‘n groepie Voortrekkers verhoor het nie… Wonderbaarlik gryp Hy in en gee uitkoms! En let wel, God het hulle gebede verhoor nie omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle Christene was…* (Kliek op BLOEDRIVIER)

God het ons voorouers uitgered, maar beteken dit dat Hy nou outomaties altyd aan ons kant gaan wees? Dit lyk asof sommige so redeneer…

Dis presies die tragiese fout wat die volk Israel in die tyd van die profeet Jeremia begaan het. Hulle was baie godsdienstig en vol vertroue dat dinge sal goed gaan. Die fokus van hulle godsdiens was die tempel en al die offers wat daar gebring is. Daar in Jerusalem het die groot imposante tempel gestaan, ‘n indrukwekkende gebou en dit het mense veilig laat voel. Hulle was heeltemal gerus. Hulle het geredeneer die Here is mos in sy tempel en daarom sal Hy die land beskerm. Hy sal mos nie toelaat dat sy tempel en sy stad Jerusalem iets oorkom nie. “God is mos aan ons kant, sy tempel staan dan hier!” Al die waarskuwings van Jeremia dat God sy volk gaan straf het dus op dowe ore geval. Sy oproepe tot bekering was tevergeefs!

Maar nou skielik kom die Here deur sy profeet en ruk die matjie onder hulle voete uit.  Ondubbelsinnig waarsku die profeet die geruste inwoners van Jerusalem : “Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: "Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!" (Jeremia 7:4) Met ander woorde, hulle vertrou tevergeefs op hulle godsdienstigheid, die onheil van God gaan hulle tref!

VORMGODSDIENS

Nou wat was fout met Israel se godsdiens? Waarom het hulle godsdiens valse hoop en sekuriteit gebied? Dit was :

~ ’n Godsdiens ter wille van hulleself.  Hulle het godsdiens beoefen om veilig te kan voel. In vandag se taal... hulle godsdiens was ‘n polis teen droogte, misdaad, siekte en die hel. In droogte tye bid ons, as daar siekte is bid ons, as daar eksamen is bid ons, as iemand sterwe - dan moet daar skielik gelees en gebid word, selfs al het die oorledene nooit die binnekant van ‘n kerk geken nie. Hierdie tipe godsdiens is suiwer mensgerig, dit gaan slegs oor die mens se belange en gerief.

~ ’n Vormgodsdiens. Godsdiens met die regte woorde en terminologie, maar nie die regte inhoud en fokus nie. Hulle het nog uiterlik die regte tradisies gevolg, hulle het by die poorte ingegaan om die Here te dien. Hulle het wel nog offers gebring, nog gebid. Die regte vorm en korrekte geluide! Maar dit was nie meer ’n godsdiens van toewyding aan God nie, nie meer ’n godsdiens van dankbaarheid vir God se groot verlossingsdade nie! Dit was nie ’n hartsgodsdiens nie. Hulle lippe was  nog betrokke, maar die harte was  ver van God. Ook Jesaja waarsku teen hierdie uiterlike godsdiens: “Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie.” (Jesaja 29:13)

~ ’n Godsdiens wat gerieflik was en almal gepaai  en gevlei het. ’n Goedvoel rugkrapper godsdiens. “...almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog. Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: "Alles is reg! Alles is reg!" Maar niks is reg nie.” (Jeremia 8:10,11) Die leiers het maar net gerusstellende  en mooi dingetjies gesê. Dit was ’n godsdiens wat niemand ontstel het nie, wat niemand laat nadink het nie, wat niemand tot bekering opgeroep het en niemand uitgedaag het  nie. Ook die Nuwe Testament waarsku teen hierdie tendens. “want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.”  (2 Timoteus 4:3) Kerk en godsdiens is oraait solank ons net kan hoor wat ons graag wil hoor. ’n Godsdiens sonder uitdagings, sonder selfverloëning - ’n gemaklike rusbankgodsdiens met mooi woordjies

~ ’n Godsdiens sonder heiligheid en sonder lewensverandering. Hierdie godsdiens het geen verskil aan hulle praktiese lewensstyl gemaak nie. Hulle het rustig voortgegaan met sonde... Jeremia noem die dinge by die naam :  “Julle vertrou op leuens wat julle niks gaan baat nie.  Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie, en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: "Ons is veilig" nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge!” (Jeremia 7:8-10) Dit was ’n teoretiese godsdiens maar sonder die krag om lewens te verander. Ook in die Nuwe Testament word ons teen hierdie godsdiens gewaarsku. Sien 2 Timoteus 3:1-5.  Ja, Jesus self waarsku ook teen hierdie soort godsdiens in  Matteus 7:21 (Kliek op SKOKWOORDE)

 Israel het  godsdiens sonder God beoefen.

Israel was besig met godsdiens, ja, maar nie met God nie. Dit was ’n mens gemaakte en mens gefokusde godsdiens slegs ingestel op hulle eie gerief en veiligheid. Daar was gebede, maar gebede wat nie meer by God uitgekom het nie. Daar was baie aktiwiteite, maar dit was aktiwiteite wat geen indruk op God gemaak het nie. Godsdiens sonder God. Sonder ’n liefde vir God, sonder gehoorsaamheid aan God, sonder die teenwoordigheid van God, sonder ‘n hart vir God! Wat ’n verskriklike ding. Nou sê God : Hierdie godsdiens gaan julle in die steek laat, die oordele gaan julle tref!  Ek sal hulle vrouens aan ander gee en hulle grond aan nuwe eienaars, want almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.”  (Jeremia 8:10)

Inderdaad het dit gebeur. Die tempel is verwoes en die volk is weggevoer. Laat ons raaksien : Uiterlike vormgodsdiens bied geen skuiling teen God se oordele nie. God se groot dade van verlossing in die verlede, waarborg nie dat Hy altyd aan ons kant is nie. Mense wat tevrede is met ’n uiterlik  aangeplakte Christenskap sal eendag hoor : “Ek het julle nooit geken nie.” Wat nodig is, is ware geloof in Jesus en bekering!


Ware godsdiens en ware aanbidding begin by ’n hartsverandering,  ‘n aanvaarding van God se genade in Jesus, by vergifnis wat net Jesus vir jou kan gee. Dis wat alle mense in hierdie land, ook die Afrikanervolk... Ja, vier die Gelofte, maar maak seker dat ons die God van die Gelofte nog as God en Verlosser eer en gehoorsaam!


SONDER NUWE HARTE MAAK DIE VIERING VAN GELOFTEDAG GEEN SIN NIE!


                [Voorstelling van die slag van Bloedrivier]

*Natuurlik kan dit nie ongekwalifiseerd van enige groep mense gesê word nie. Orals is meelopers en afvalliges, maar dat daar baie ware gelowiges onder ons voorouers was, ly geen twyfel nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.