BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag, 25 November 2014

STEVE EN DIE STEM


- ‘n persoonlike perspektief. 

Die sing van die DIE STEM is die afgelope tyd ‘n gewilde onderwerp van debatvoering wat emosies nogal sterk opjaag. Behoort dit omstrede te wees? Die lied, wat ‘n pragtige gedig is, bevat ongetwyfeld opsigself geen rassisme of haatspraak nie. Natuurlik hou dit weens verstaanbare redes vir sommiges ‘n negatiewe klank en nasmaak in. Natuurlik is dit ‘n vraag of dit wys is om in die sensitiewe Suid-Afrikaanse situasie daarvan ‘n issue te maak. Steve Hofmeyr moet maar eers seker maak of hy die Afrikaner se saak regtig bevorder... Aan die ander kant is ‘n oorgevoelige gedienstigheid ter wille van politieke korrektheid ook seker ‘n pyn...

Ek persoonlik het egter ‘n heel ander rede hoekom ek bedenkinge (of ten minste huiwering) het oor die sing van DIE STEM.

Dit gaan ver terug tot in my kinderjare in die destydse Suidwes, toe niemand van ons hoegenaamd eers gedink het oor rassisme en politieke korrekte optrede nie. Spesifiek die woorde “ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika” het my op ‘n stadium gepla. Kon ek dit werklik bedoel? Mag ek dit sing as ek nie so seker voel of ek regtig bereid was om dit te doen nie? 

Vandag is ek nog meer skepties oor sulke woorde van “oorgawe en toewyding” aan ‘n land - enige land! As Christen respekteer ek my land (’n onafhanklike Namibië) en my regeerders, maar ek het geen blinde lojaliteit teenoor enige van hulle nie. Om dit reguit te stel, ek dink hoegenaamd nie dis regtig so sinvol om vir ‘n land te sterwe nie! Die Bybel leer my immers dat ek hier op aarde (maak nie saak waar nie) ‘n tydelike bywoner en vreemdeling is, op pad na my ewige vaderland en die stad met vaste fondamente wat deur God opgerig is. “want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is... en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is...want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige." (Hebreërs 11:10,14; 13:14) Ek dink nie die Here verwag van my om vir enige aardse koninkryk te sterf nie. (Die ou volk Israel was as teokratiese samelewing iets heel anders as ‘n moderne staat!) My ware burgerskap is elders. “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Filippense 3:20) Ja, as my vrou en kinders se lewens bedreig word, moet ek ‘n plan maak om hulle te beveilig. Daar is baie maniere om dit te doen soos vlug, onderhandeling ens. Ja, beslis sou ‘n situasie kon ontstaan waar mens hulle lewens met jou eie lewe sou moet verdedig, maar dis seker ‘n laaste uitweg. Ongetwyfeld kan ook ‘n volk vasgevang word in ‘n knyptang van gebeure waar die enigste opsie oorlog is, maar dan is dit nog steeds nie ‘n eerbare ideaal nie, maar ‘n allerlaaste tragiese noodoplossing. Weereens, ek is nie ‘n passifis wat dink dat alle oorlog noodwendig verkeerd is of dat ‘n soldaat nie ook ‘n oortuigde Christen kan wees nie!* Maar ek vra net dat ons bietjie meer versigtig en krities oor hierdie ”sterwe vir my land” kwessie sal dink. 

Kom ek waag dit om ‘n klip in die bos te gooi. (En onthou ek is ‘n liefhebber van geskiedenis wat groot bewondering het vir dapper Boere generaals soos Koos de la Rey, Christiaan de Wet... Ek voel trots op die Boere se oorwinnings by Colenso, Spioenkop, Magersfontein, Sannaspos, Rooiwal...) Ek wonder in retrospek gesien of dit nie totaal roekeloos en dwaas was om die magtige Britse ryk met sy onbeperkte menslike en materiële hulpbronne aan te durf nie? (ek weet ook dat iemand soos Koos de la Rey self ernstige bedenkinge teen ‘n oorlog met Brittanje gehad het, maar natuurlik toe hy eers in die stryd was het sy dappere inbors gemaak dat hy die oorlog met hart en siel tot die einde baklei het.) Maar ons weet wat was die afgryslike gevolg van die uiterste toepassing van die “ons sal sterwe vir ons land” denkwyse tot die bitter einde. Dit het byna tot die uitwissing van die Afrikaner volk in die konsentrasiekampe gelei en demografiese gevolge gehad wat tot vandag nog ‘n negatiewe effek het en ons posisie as volk verswak! 

Dulce et decorum est pro patria mori?

Sterwe vir ‘n land? Is dit regtig so edel? Wilfred Owen het inderdaad ‘n punt beet gehad toe hy die frase “Dulce et decorum est pro patria mori”** (dis soet en gepas om vir die vaderland te sterf) as ‘n leuen ontbloot het! En veral dink ek dis juis die Christen wat nie vir so ‘n leuen moet val nie, want ons behoort van beter te weet. Mag God ons die genade en bereidwilligheid gee om vir ons geloof te sterf eerder as om Jesus te verloën, maar vir grond, volk en nasionale strewes voel ek nie is al die bloed en trane altyd die moeite werd nie. Daar is hoër ideale vir God se kinders om voor te lewe. (en te sterwe) In Markus 13 het Jesus immers self sy volgelinge aangeraai om te vlug vir die naderende konflik wat gewag het! Ek is dus baie huiwerig om sommer ‘n lied sing waarin ek my (ongekwalifiseerd) bereid verklaar om vir ‘n land te sterf... 'n Christelike ideaal is dit beslis nie!

*‘n Pragtige voorbeeld van ‘n Christen soldaat wat nie net onverskrokke getuig het nie, maar ook geveg het, was Generaal-Majoor Henry Havelock, ‘n befaamde Britse krygsman wat ‘n groot rol in Afghanistan en Indië gespeel het. Hy word veral onthou vir sy verowering van Lucknow tydens die Indiese Rebellie van 1857. Die feit van sy uitstaande Christenskap maak dit egter seker nie noodwendig reg dat Brittanje koloniale oorloë in Indië geveg het nie? 
**Dit kom oorspronklik uit die Romeinse digter Horatius se Odes. 



                             

[ Die samesmelting van kruis en swaard, Koninkryk en oorlog, kom nie vanuit die Woord nie, maar het gegroei uit die praktyk van staats- en volkskerke. ]


4 opmerkings:

  1. Beste Johannes

    Dankie vir hierdie stuk. Al is daar baie in "Die Stem" wat ek waardeer — veral die mooi poësie oor die natuurskoon en geskiedenis van ons land — het ek altyd 'n probleem gehad met die woorde "... ons sal offer wat jy vra, ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid Afrika". Die onbevraagtekende opoffering van jou lewe is iets wat jy net aan die Here kan belowe. Was hierdie stryd tussen die Here se roepstem en die volk/land se roepstem — en die verwarring van die twee — nie altyd 'n probleem onder (en vir) die Afrikanervolk nie?

    Vriendelike groete
    Bruce Button

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie Bruce vir jou raakvat kommentaar! (in goeie Afrikaans)
    Seën vir jou.
    Johannes

    AntwoordVee uit
  3. Dankie Johannes, jy vat dit wat my pla met die Stem goed vas! Hierdie frase staan tog direk in teenstelling met "vir my is die lewe Christus en die sterwe wins" Fil. 1: 21. Soos Bruce hierbo sê, "Die onbevraagtekende opoffering van jou lewe is iets wat jy net aan die Here kan belowe"!

    Seënwense
    Jimmy Meyer

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Jimmy. Volksliefde en trots is nie verkeerd nie, maar alles, alles is ondergeskik aan ons eerste lojaliteit, Jesus Christus!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.