BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 05 April 2012

VEILIG IN DIE VUUR VAN AANVEGTINGE

Die kind van God beleef dikwels geestelike stryd en worstelinge. Martin Luther het die woord aanvegtinge (Anfechtungen) hiervoor gebruik. Dit kom na ons in die vorm van :

Vertwyfelinge : Het God my regtig lief? Hoekom kry ek dan so swaar, soveel hartseer, hoekom beleef ek soveel moeilikheid of vervolging? Vertwyfelinge oor my eie geloof en bekering : Is my geloof nie heeltemal te klein nie, was my bekering ooit eg?

Ons beleef soms die direkte aanklagte van Satan : Kyk wat het jy nou weer gedoen! Dink jy nou regtig dat jy 'n kind van God is en dat Hy jou in sy Koninkryk sal toelaat?

Ons loop deur onder die beskuldigings van ons eie gewete : Onthou jy nog daardie tyd en daardie sonde? Wat van daardie skade wat jy aangerig het, wat van al die mislukkings? Kan ek hoegenaamd ’n kind van God wees, as sulke sonde en sulke versoekings my nog teister?

Waarheen vlug ons in hierdie vuur van aanvegtinge? Waar vind ons veiligheid en vastigheid? Hoe word ons vreugde herstel? Dis belangrik om te weet dat ons nie vastigheid binne ons self moet soek nie! Vat dit vir 'n feit:

Ons kan nooit vaste vertroosting in ons eie gevoelens en prestasies vind nie!

Hoekom nie?

Ons gevoelens wissel en is onbetroubaar. Vandag voel ek geestelik fris, maar môre weer vrot! Vandag voel ek fiks, maar môre flou!

Nog minder kan ons vastigheid in ons geestelike prestasies vind. Ons ken mos ons mislukkings, foute en sonde! Ons is pynlik bewus van ons geestelike vlekke en vratte! Die Satan ken dit ook en is ’n meester om ons daaraan te herinner en dit uit te wys! Hy is mos die aanklaer van God se kinders!

Waarheen moet ons dan vlug vir troos! Die antwoord wat hierdie oorwinningslied in Romeine 8:31-39 gee is duidelik:

Ons vind troos in die vaste feite en die onweerlegbare waarheid van dit wat God gedoen het deur Jesus Christus!

Lees bietjie saam met my deur hierdie gedeelte. (maak asseblief eers nou jou Bybel oop)

Vers 31 en 32. Paulus beweeg hier op die vlak van logika. Hy wil hê ons moet saam met hom tot ’n nugtere logiese konklusie kom vanuit al die heerlike voorafgaande waarhede wat hy reeds bespreek het. Dit sluit o.a. in : die vryspraak uit geloof alleen, die oorwig van die heerlikheid wat wag na ons huidige lyding, die onstuitbaarheid van God se verlossingswerk wat begin by Goddelike verkiesing en onkeerbaar afstuur op ons verheerliking! (Sien Rom 8:28-30 en vorige gedeeltes)

God self is vir ons (aan ons kant), wel dan maak dit nie saak wie teen ons probeer wees nie! God is die almagtige God van die heelal, die Regter en Regeerder. Hy en sy opinie is al wat saakmaak.

Maar hoe kan ek weet dat Hy vir my is? Let mooi op. Ek kyk nie vir bewyse hieroor na myself nie, maar na die feit van God se liefde wat reeds bewys is deurdat Hy sy Seun vir ons oorgelewer het! Kan daar ’n groter en vaster bewys wees van sy goedgesindheid teenoor ons as dit? Hierdie feit vat ook alle vrees vir die toekoms weg. Paulus redeneer van die groot na die klein: As God sy Seun, sy Kosbaarste reeds gegee het, dan hoef ons mos nie te twyfel dat God enige iets anders wat ons regtig nodig het van ons weg sal hou nie! As God duidelik bewys het dat Hy aan jou kant is, wat meer kan jy wil hê?

Vers 33. God self, wat die enigste en finale Regter is, het ons vrygespreek, regverdig verklaar! (Rom 3:23,24) As die Regter my vrygespreek het wie kan nog iets teen my inbring? Let op - die kinders van God word hier doelbewus "uitverkorenes" genoem! Dit laat weereens die klem val nie op ons eie geloof, bekering of volharding nie, maar op God wat ons uit genade eerste gekies het! Hy het die inisiatief in ons verlossing geneem en sal dit ook voltooi. (Fil 1:6)

Vers 34. "Wie kan ons veroordeel?" Hierdie is soos die ander vrae, ’n retoriese vraag. Die antwoord word veronderstel : "Niemand nie"  Ja, niemand kan ons meer veroordeel nie! Hoekom nie? Drie grondige onwankelbare redes word gegee. En weereens hierdie redes het niks met enige hoedanigheid of prestasie van myself te doen nie. Dit het buite myself gebeur. Die drie vaste redes hoekom niemand my kan oordeel nie is : Jesus het gesterf - Hy het dus my oordeel en straf namens my gevat. Daar is niks meer om te straf nie. Daar is niks om te oordeel nie. Hy is uit die dood opgewek. God het daarmee bevestig dat Hy die boete aanvaar het. Dit was volledig en genoegsaam. Hy sit aan die regterhand en pleit vir ons. Jesus is ons advokaat en stel ons saak op grond van sy kruisdood. Wie hoef nog oordeel te vrees as Jesus self my saak bepleit?

Die Skotse Godsman, Robert Murray M’Cheyne het gesê: "I ought to study Christ as an Intercessor. He prayed most for Peter who was to be most tempted. I am on his breastplate. If I could hear Christ praying for me in the next room, I would not fear a million of enemies. Yet the distance makes no difference; He is praying for me." Mag ek en jy ook volkome troos in hierdie feit vind!

Vers 35-39. Kyk na die lang lys van ellendes en moontlike vyande! Paulus wil ons laat verstaan : Daar is geen denkbare bedreiging wat die liefde van God wat Hy reeds in Jesus aan ons bewys het, ongedaan kan maak nie. God se liefde staan vas, al gebeur die ergste van ergste dinge met my. Ons gaan nie hierdie bedreiginge en teenstand vryspring nie, maar ons "hiperoorwin"* want die liefde van God staan onwankelbaar vas! Niks en niemand kan God se finale bedoeling met my dwarsboom nie!

Die kruis, opstanding en voortgaande pleitwerk van Jesus is voldoende waarborg vir my ewige veiligheid!

Dit wat Gód deur Jesus reeds gedoen het is die vaste bodem waarop ek staan in die grootste storm. Dit wat God gedoen het, nie wat ek doen en voel nie, is my veilige vesting teen die Satan se aanvegtinge.

Hierdie vastigheid vier ons met vreugde in die Nagmaal!

* Die Griekse woord vir oorwin is nikaoo. Hier egter word die woord hupernikaoo gebruik. Ons "hiperoorwin", ons is "meer as oorwinnaars!" Dis 'n triomfantelike waarheid!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.