BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 20 April 2012

UITGEKIES VIR SUKSES


- die heerlike waarborg van Romeine 8:28-30.

Is ek  suksesvol?  Dis tog mos maar almal se begeerte om ‘n sukses van die lewe te maak! Daar is baie druk (ook op ons kinders) om sukses te behaal! Daar is baie resepte en kursusse wat sukses belowe, maar wat is sukses? Hieroor is daar verskillende opinies, maar eintlik is die saak baie eenvoudig. Die sukses van enigiets word tog gemeet aan die doel van daardie ding. Dit kan dus radikaal verskil van een ding tot ‘n ander ding. Kom ek verduidelik : ‘n Suksesvolle resiesperd is ‘n perd wat vinnig kan hardloop. Maar ‘n suksesvolle slagos is tog nie ‘n vinnige slagos nie, maar eerder ‘n vet slagos! 

Om te weet wat ‘n suksesvolle mens is (en dit te kan meet), moet ons dus eers probeer verstaan wat die doel van die mens is! Hieroor is die Skrif baie duidelik as ons  reeds in Genesis 1:27  lees : “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep....” Ons bestaan ter wille van God, om Hom te eer en aan die wêreld te wys hoe groot en heerlik Hy is! Ons bestaan maak net sin as ons in ‘n verhouding met Hom  staan waar ons Hom kan aanbid en bewonder. Een belydenisskrif stel dit so : “Man’s chief end is to glorify God and enjoy Him forever!” *

‘n Suksesvolle mens is iemand wat God verheerlik en sy teenwoordigheid geniet.

Hoe lyk so ‘n mens in praktyk? Hoe lyk ‘n mens  wat volmaak suksesvol is, met ander woorde wat aan die Goddelike doel beantwoord? Daar het net een so ‘n perfek suksesvolle  mens op aarde geleef, naamlik Jesus Christus! Hy het sy Vader volmaak gehoorsaam en geëer! Hy het suiwer net die wil van God gedoen. Net van Hom kon God sê : “ Dis my Geliefde Seun in wie ek ‘n welbehae het.”  Net Jesus  kon aan die einde van sy lewe uitroep: “Dis volbring!” Net Jesus, die Tweede Adam het anders as die eerste Adam volmaak in die doel van menswees geslaag!

Maar weet jy wat, God wil hê dat jy ook ‘n sukses moet wees! Ja, jy het reg gehoor! Maar suksesvol soos die Bybel dit definieer : om God te eer en sy teenwoordigheid te geniet! Anders gesê, God het een groot doelwit vir elkeen van sy kinders en dit is om ons te verander dat ons soos Jesus kan word! Om gelykvormig te word aan die beeld van sy Seun! (Rom 8:29) Om soos Jesus te begin leef in ons besondere omstandighede met die gawes en talente soos Hy besluit het elkeen van ons sou ontvang. (As jy Koos is, wil God jou dus 'n Jesusgelykvormige Koos maak en nie 'n Jesusgelykvormige Sarel of Johan nie!)

Indien jy Sy kind is, begeer God sukses vir jou. Hy het jou in genade uitgekies om suksesvol te wees! Maar pasop nou, dis nie noodwendig rykdom, gesondheid of gerief nie - dis wel baie beslis dat jy soos Jesus  sal begin leef!

Eers as mens hierdie doelwit van God verstaan, maak die bekende vers 28 sin. "En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is."  Die “ten goede” verwys na die doelwit van God om ons te verander om soos Jesus te wees. (om dus in die ware sin, suksesvol te wees) God gebruik dus  alles wat in sy kinders se lewe gebeur om hierdie doelwit te bereik! Ook die hartseer en slegte dinge! 

Julle ken die storietjie van die man wat met bewondering na ‘n beeldhouer gestap het wat besig was om ‘n perd uit ‘n stuk marmer te skep. “Hoe kry jy dit reg om uit hierdie soliede blok marmer ‘n grasieuse perd te vorm?”, vra hy. “Dis maklik”, antwoord die beeldhouer, “ek kap net alles af wat nie perd is nie!”  Dis soos God met ons ook werk. Hy gebruik natuurlik eerstens sy Woord, maar ook allerlei omstandighede soos mislukkings, hartsere, teleurstellings en beproewings om alles van ons af te kap wat nie Jesus is nie! En weet maar...dis ‘n lewenslange kapproses!

Kind van God, jy wat Jesus as Verlosser ken, weet beslis, God gaan ‘n sukses van jou maak! En onthou dit behels : Hy gaan jou Jesusgelykvormig maak! Hy is besig daarmee en Hy sal die proses voltooi. Die waarborg hiervan kry ons duidelik uitgespel in vers 30. (lees dit beslis) Dis een van die heerlikste en omvattendste stellings in die ganse Skrif! Dit beskryf die heerlike verlossingswerk van God in ons lewens. Dit beklemtoon dat als wat ons het en is, te danke is aan God se soewereine genade wat Hy uitdeel soos Hy wil!

Die klem val hier op wat God doen. Ons verlossing het begin by by God se ewige besluit en verkiesing, daarna roep Hy ons deur sy Woord en Gees, dit behels ook ons vryspraak (as God my van my sondeskuld vryspreek as ek my vertroue op Jesus stel) maar dis ook God wat my verlossing  finaal sal voltooi! Die finale stap is verheerliking. Dit vind eers volledig plaas by die wederkoms van Jesus, maar dis so ‘n seker saak, dat Paulus dit hier in die verlede tyd skryf! “het Hy ook verheerlik.” Ons kan dus eers volmaak suksesvol wees die dag van ons finale verlossing by die wederkoms, want eers dan sal ons volmaak soos Jesus wees!

Maar wat van nou? Is ek suksesvol? Ons kan dit meet in die mate waarin ons reeds al begin verander het om soos Jesus te word. Tree ek op soos Jesus? Maak ek soos Hy sou gemaak het? In ons private sowel as ons openbare lewens?  Hoe meer ek soos Jesus word, hoe meer suksesvol is ek in God se oë! (Ongeag wat mense mag dink) 

As ons verstaan wat God met sukses bedoel dan kyk ons heel anders na die lewe, na onsself en na ander mense. 

‘n Kwadrupleeg vasgekluister aan ‘n rystoel is dalk ‘n reuse sukses (as hy optree soos Jesus en God dank binne in sy moeilike omstandighede), terwyl ‘n blakend gesonde sportman wat by die Olimpiese spele uitblink, ‘n liederlike mislukking sou kon wees as hy nie God  eer nie! So het arm of ryk ook  niks met Godgegewe sukses te maak nie. ‘n Arm man is ‘n sukses as hy in sy omstandighede soos Jesus optree,  maar net so, ‘n baie ryk man kan ook ‘n sukses wees, as hy met alles wat God aan hom gegee het, optree soos Jesus en God eer en geniet!

Voel jy die druk om “suksesvol” in die oë van ander mense te wees? Verstaan wat die Woord ons oor sukses leer. Dis so bevrydend om Bybels oor  sukses te dink. Dit bevry ons van die druk om soos ander mense te probeer wees. Dit bevry ons van ‘n minderwaardigheidsgevoel as ons nie als  het wat andere het nie. Ek hoef nie noodwendig in SO ‘n huis  te bly of in SO ‘n kar te ry om suksesvol te wees nie. Nee, ek kan maar net daagliks my aan God se behandeling onderwerp om my al meer te verander na die beeld van Jesus.  God is getrou, Hy sal dit doen! Jou ware sukses lê Hom na aan die hart!

* Shorter Catechism van die Westminster Confession

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.