BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 07 Februarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (4)

- Die groot VRAAG en die heerlike ANTWOORD!

(Maak gerus oop by Openbaring hoofstuk 7)

Almal stem saam dat ons antwoorde moet soek in die Bybel. Maar wat is die kernvraag? Ons moet seker maak dat die vraag wat ons vra ook die belangrikste vraag is en dit ons nie ons eie vrae (wat God dalk nie as belangrik beskou) op die Bybel afdruk nie. Dis regtig nie God se bedoeling om ons nuuskierighede oor Iran se kernprogram, China se weermagsterkte of Amerika se nuutste helikopters te bevredig nie!

Die KERNVRAAG wat God se Woord stel is : Hoe kan die onheilige sondaar aanvaarding vind by die heilige God?* Die antwoord daarop is die EVANGELIE : Op grond van Jesus se sterwe en opstanding! Deur Jesus se kruisdood het Hy die straf gedra en die opstanding het bewys dat God die straf as genoegsaam aanvaar het...

Ongelukkig is die meeste mense bekommerd oor die vraag: Hoe kan ek nou ’n gemaklike lewe op aarde en eendag ’n gemaklike lewe in die hemel hê? Dis waar die baie valse interpretasies van die Bybel hulle oorsprong het. (Soos byvoorbeeld die welvaartsteologie/prosperity gospel)

Die evangelie as antwoord op hierdie KERNVRAAG is ook die kernboodskap van Openbaring!

Openbaring gaan oor die evangelie!

Openbaring 7:13,14 definieer vir ons hoe mense gered word. (evangelie)

LW - hulle kom uit die verdrukking. Ons het verlede keer gesien verdrukking was ’n basiese bestanddeel van egte Christenskap. Dit verwys dus nie net na ’n sekere groepie Christene in ’n tyd wat nog moet kom nie... Onthou die oorspronklike lesers (lidmate van die 7 gemeentes) het die verdrukking alreeds eerstehands ervaar.

Wat maak hulle anders? Hoe is hulle gered? Hulle klere is gewas in die bloed van die Lam! Dit beteken :

Hulle is vrygespreek (geregverdig) en aanvaar deur God op grond van Jesus se plaasvervangende sterwe aan die kruis!

Die ou waarheid van Jesaja 53:5,6 word herbevestig! Vgl. ook 1 Joh 1:7; Hebr 10:19,22. Geregverdig, beteken dat ons in Jesus net so aanvaarbaar is voor God as Jesus self toe die stem uit die hemel gesê het : "Dis my Geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het!" (Matt 3:7) Omdat Jesus die volle boete aan die kruis betaal het, staan elkeen wat in Hom glo, sonder skuld voor God!

Openbaring 7:1-8 gaan oor die verseëldes van God wat die wraak van God gaan vryspring. God se mense wat sy oordele gaan misloop en veilig gaan wees. Johannes sê nie dat God se kinders verdrukking gaan vryspring nie, maar dat God se kinders veilig gaan wees teen die finale “verdrukking” van God se oordele en wraak.

Belangrik : die twee groepe mense in Openbaring 7 is nie verskillende mense nie, maar dieselfde mense (God se kinders) vanuit verskillende hoeke gesien!

Die twee groepe is die 144 000 en die groot menigte

~ Die 144 000 (12x12x10x10x10) Dis baie duidelik ’n simboliese getal! Die 12 stamme van Israel m.a.w die gelowiges van die Ou Bedeling en die 12 Apostels as verteenwoordigers van God se volk in die Nuwe Testament maal 10 tot die mag drie. Tien is die volheidsgetal. Hierdie groep is nie etniese Israel nie, maar die volle getal van God se kinders wat veilig is teen die finale oordele en wraak van God! Nie een van God se kinders wat bedoel is vir die Koninkryk gaan kortkom nie! “The kingdom of God will not lack one member that belongs to its perfection” ** Elke plek wat Jesus gaan voorberei het (Joh 14) gaan gevul wees! God het sy uitverkore kinders se name reeds voor die skepping in die boek van die lewe geskryf! (Openb 13:8 vgl. Ef 1:4) Nie een van hulle sal kort nie!

~ Die groot menigte. Die tweede prentjie komplementeer die eerste. Die groot menigte lê die klem op die wydheid van die kerk uit alle volke en nasies! (Vers 9) Die kerk is universeel!

Die eerste prentjie lê die klem op die vaste getal, die feit dat nie een sal ontbreek nie! Die kerk word hier geteken as die strydende kerk op aarde. In stryd, maar veilig!

Die tweede prentjie - sê vir ons God se kinders bestaan uit ’n ryke verskeidenheid van mense! Die kerk word hier geteken as die seëvierende kerk in die hemel!

Die waarheid oor die ware kerk van Jesus moet ons troos en bly maak in alle omstandighede.

Ons is veilig. Ons gaan wel deur verdrukking, maar ons heerlike ewige bestemming staan vas. Ons is veilig teen die oordele van God. Ons ewige bestemming is oneindig seker en oneindig heerlik. Jesus se kruis en opstanding is die waarborg daarvan! Die bloed van die Lam maak die verskil! Volgende keer meer hieroor.

 

* Goldsworthy p191

** ibid p192



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.