BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 01 Maart 2017

DIE NG KERK IS BANKROT

- Waarom het die kerk nie meer geld nie?


‘n Kollega in die bediening stel dit nou die dag baie kru oor die telefoon : “Die NGK is bankrot!” Inderdaad blyk dit (altans in Namibië) nogal taamlik na aan die waarheid te wees. Met skok verneem mens : “Die Sinode van die NG Kerk Namibië het sy jaarlikse bydrae vir die 2016/2017 boekjaar van N$ 263 000 tot die Kunene vir Christus begroting vir die 2017/2018 boekjaar verminder tot N$ 12 310.” Kunene vir Christus werk onder andere onder die Oavahimba in die noordweste van ons land. Die sinodale hulp aan DEGNOS (wat betrokke is by die sending onder die Boesmans) is op soortgelyke radikale wyse gesny. Maerua Kinderhuis het nog erger deurgeloop. Die enigste afleiding wat mens kan maak as daar aan sulke belangrike werk besnoei word – die kerk se geld is op!

Die gewone redes wat aangevoer word vir hierdie benarde posisie is wel bekend : Dis moeilike ekonomiese tye wat druk, dit was ‘n groot droogte, daar is ‘n dramatiese ontvolking van die platteland, die NGK het ‘n duur bedieningsstruktuur, demografiese tendense soos veroudering en ‘n lae geboortesyfer...

Dis natuurlik nie heeltemal onwaar nie. Al hierdie faktore speel inderdaad ‘n rol. Dis egter nie die volledige prentjie nie. Miskien is dit nodig om eerlik na nog ‘n paar (ongemaklike) feite te kyk:

1.Die NGK het derduisende lidmate verloor. Punt. Die lidmate op die boeke en in die statistieke is net nie meer daar om kollektebordjies vol te maak nie. Miskien word daar gewerk met getalle wat nie bestaan nie? Die Jaarboeksyfers het meer met fiksie as feite in gemeen. Die redes is eenvoudig : in min gemeentes word daar nog deeglike huisbesoek en opnames deur kerkraadslede gedoen en dis al metode om betroubare statistiek in te samel. Neem ook in ag dat mense wat die kerk deesdae verlaat selde nog amptelik bedank. Hulle verdwyn maar net, terwyl die name op die registers bly staan… ‘n Mens wonder het ons dalk ‘n arfgiefkerk geword? Die verlies aan lidmate het veral op drie fronte geskied:

~Die NGK het die afgelope dekades die room van sy getroue lidmate verloor aan ander behoudende kerke. Die groot rede hiervoor is die teologiese koers van liberalisme wat deur die kerk ingeslaan is en die duidelikste op die teologiese fakulteite uitkristalliseer. So het die stief behandeling van Ferdie Mulder toe hy beswaar gemaak het teen die ontkenning van Jesus se liggaamlike opstanding deur dosente van Tukkies nie baie vriende vir die NG Kerk gewen nie… Die skade wat 2015 se AS besluite oor selfdegeslagverhoudings geneem het, het skokgolwe deur die geledere van Bybelgetroue gelowiges gestuur. Dat die besluite toe wel in 2016 (op ‘n manier) omgekeer is het min aan die persepsies oor die NGK verander, want die besluite was nog steeds nie ondubbelsinnig duidelik nie. (Dan praat ons nie eers van iets soos DIE KERKBODE gedrewe heksejag teen ds. Dirkie van der Spuy nie.) Toegewyde gelowige lidmate het hulle vertroue in die kerkleiding verloor en gay aktiviste met T-hempies by sinodes gaan nie juis iets doen om dié vertroue te herstel nie en nog minder om begrotings te laat klop. ‘n Kerk wat nie duidelike standpunte het nie en nog vis nog vlees is verloor op die ou end die ondersteuning van beide die vis en die vlees … ‘n Tipies resente voorbeeld van die kerk se verval in morele relativisme (en HUISGENOOT moraliteit) is die NG Gemeente Rasslouw se konferensie oor die huwelik waar ‘n sekere ds. Lizl-Louise Schoeman verklaar : “Die kerk moenie vir jongmense sê dat hulle nie seks voor die huwelik mag hê nie, maar ook nie dat hulle maar moet laat waai nie.” Nou toe nou... almal kan maar in die wildtuin gaan jag, moet net nie te veel jag nie... 

~‘n Groot klomp lidmate het ook koersgevat na charismatiese kerke en die reuse verskeidenheid van los groeperings beskikbaar in elke smaak en geur. Huiskerke en boskerke. Ook hier is dit nodig om hand in eie boesem te steek. Gebrekkige lering oor jare het mense vatbaar gemaak vir elke nuwe wind van lering en elke nuwe skyn van opwinding.

~Baie voormalige lidmate het bloot net weggeraak en in totale kerkloosheid verval. Toenemende sekularisme eis ‘n al groter tol. Ons kan die tydsgees hiervoor blameer en beslis is dit ‘n algemene verskynsel in die westerse wêreld, maar die kerk self is nie sonder meer vry te spreek nie. Ons het ons geloofwaardigheid verloor. Watter respek moet die wêreld vir ons hê as die kerk nie eers meer weet wat die definisie van ‘n huwelik is nie? Wie gaan nog na ons luister as ons self nie meer weet wat reg en verkeerd is nie? Hoekom moet die wêreld daarbuite ons ernstig opneem as ons nie ons eie belydenisskrifte ernstig opneem nie? Die kerk is klaarblyklik nou nie meer seker oor die opstanding van Jesus nie en ons weet nie of daar ‘n duiwel is of nie. Is ons nog hoegenaamd anders as die wêreld?

2.Wat die lidmate wat nog oor is betref moet ons ook eerlik wees dat die gehalte van betrokkenheid oor die algemeen sorteer onder dit wat Jesus in die Laodicea gemeente tipeer as louheid. (kliek op NAAR) Dis skokkend sigbaar in gebrekkige erediensbywoning, maar ook morele laksheid. Lidmate volhard lustig in openbare sondes sonder dat ‘n wenkbrou gelig word. Kerklike tug is net iets waarvan daar soms in (baie) ou kerkraadsnotules gelees word, want sien die kerk wil nie die risiko loop om nog van die paar oorblywende lidmate ook te verloor nie. Die materialisme van die groot gros onbekeerde nominale lidmate bevorder natuurlik ook nie offervaardigheid nie. En dis nie dat ons mense so min geld het nie - vir die waansinnige gejaag na skolesport, naweek vir naweek is daar oorgenoeg geld beskikbaar! Ons lidmate ry nog steeds met luukse voertuie, hou nog steeds TV skottels aan en speel nog steeds gholf...

DIE SKAT VAN DIE KERK

Die hartseerste van als – die kerk het nie net baie lidmate en geld verloor nie, maar dit lyk ook al hoe meer of ‘n groot deel van ons kerk die ware skat van die kerk naamlik die evangelie (volgens Luther)*, verloor het. Hoe so? Mens hoor van min bekerings en mens sien min entoesiasme om die evangelie aan verlorenes te verkondig (waar is die manne soos die destydse Dr. Willie Marais en ds. Dana Minnaar?) Natuurlik is daar heerlike uitsonderings, maar dis juis dit - uitsonderings. Ons teologiese fakulteite lei nie meer vurige evangeliedienaars op nie maar skeptici wat Jesus se plaasvervangende kruisdood, die liggaamlike opstanding, die werklikheid van hemel en hel en wie weet wat nog bevraagteken. Dit het vernietigende gevolge onder lidmate se moraal en toewyding en dit wys uiteindelik ook in syfers! Baie jong predikante wie se gemoed en denke deur Marcus Borg en Rob Bell vergiftig is, is dikwels gawe ouens wat die kerk as ‘n NGO beskou (sonder enige beleid), maar van ‘n kruisevangelie wat hoop bring aan verlore sondaars het hulle geen ervaring nie. As hulle iets verkondig is dit die versiersuiker afgod van die sogenaamde Progressive Christianity. Die evangelie, “die krag van God tot redding vir elkeen wat glo…,” het skaars geword op ons kansels. Immers as niks meer verkeerd is nie en niks is meer sonde nie, waarvan het die mens dan nodig om gered te word?

As ons sake wil regstel is dit hier waar ons moet begin. By die reddings boodskap, die kruisboodskap. Vergeet eers bietjie van die biltongfeeste, gholfdae, glansganse, gaskunstenaars en al die vindingryke basaarfoefies… Los eers die mens gefokusde luisterseisoene, labarintuitstappies of spanbousessies en luister weer na die Woord! Ontdek weer die evangelie! Verkondig die evangelie, leef dit! En weet beslis dat mense wie se harte aangeraak word deur die bevrydende boodskap van God se genade se harte en hande ook bevry word om te gee, want hulle juig nou oor die skat in die hemel!

Is ek sinies of hiperkrities? Ek is immers deel van die opset en staan self skuldig in vele opsigte. En ek wonder, verkondig ek die kruisevangelie duidelik genoeg deur die krag van die Heilige Gees? Klink ek wanhopig, fatalisties? Nee, die ergste afvallige gemeentes aan wie die briewe in Openbaring gerig word, word nie afgeskryf nie, maar opgeroep tot bekering. Mag ons dierbare NG Kerk op hierdie bekeringsuitnodiging reageer van Hom wat tussen die sewe kandelare beweeg. Dan sal ons ware rykdom bekom, maar ook genoeg aardse middele hê om die werk te voltooi wat ons Koning vir ons gee om te doen.

*Een van Luther se 95 stellings, stelling 62 lui soos volg : “Die ware skat van die kerk is die mees heilige evangelie van die heerlikheid en die genade van God.”


Die droogte hier by ons is gebreek, maar daar heers wyd en syd nog steeds 'n knellende geestelike droogte...

5 opmerkings:

  1. Broeder Johannes!
    Mooi man! Looi die klomp slapers! Ek hoef niks te sê nie ... net dat ek 100% met jou diagnose mbt die NG Kerk saamstem!! Die oplossing is om die Evangelie van God se reddende genade; EENVOUDIG EN DUIDELIK TE VERKONDIG! Ook die gevolge van "OM SONDER REDDING TE STERF" moet beklemtoon word = Wakker word jy wat slaap en staan op uit die dood en Christus sal skyn oor jou lewe!
    Ek voel so lam want ek sit in Australië en SIEN wat in RSA gebeur. Vrede. Jan Grey.

    AntwoordVee uit
  2. As ek nou hier lees wat Jan Grey se en ek luister na die uitverkiesing soos deur die Gereformeerdes verkondig word, hoe kan n uitverkorene dan SONDER REDDING STERF? Hy of sy het dan geen se in hulle redding nie.

    Groete
    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Boeta, jammer maar jy is moedswillig. Waar het Jan gemeld van 'n uitverkorene wat sonder redding sterf? Kan jy lees Boeta? Jan maak dit duidelik dat ons aan mense moet verkondig wat die gevolge is om sonder redding te sterf. Dit is wat ek ook beslis doen. Dit bots hoegenaamd nie met die uitverkiesingsleer nie. As jy die Blog lees sal jy dit sien. Jy verstaan hoegenaamd nie die gereformeerde uitverkiesingsleer nie. Gereformeerdes leer baie duidelik dat die evangelie aan elke mens verkondig moet word en dat dit elke mens se verantwoordelikheid is om daarop te reageer.

      Lees 'n slag die preke van Charles Spurgeon, 'n vurige Calvinis en sien hoe hy dit op mense se hart druk om hulle tot Jesus te bekeer. (en jy hoef nie bang te wees nie, hy was nie 'n NG ou nie, maar 'n Baptis) Dan praat ons weer...

      vriendelike groete
      Johannes

      Vee uit
  3. Middag Johannes,
    Johannes jy is baie venynig en sarkasties om my moedswillig te noem en te vra of ek kan lees, miskien moet ek jou vra of jy kan lees. Lees wat ek daar skryf. Ek het nêrens gesê dat Jan melding maak van ʼn uitverkorene nie. Ek vra ʼn vraag na aanleiding van dit wat Jan sê (ek stem volkome met Jan saam dat ons aan alle mense moet verkondig sodat mense gered kan word en na aanleiding van dit het ek gedink wat die Dortse leerreëls se. “12. Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker.” Volgens hierdie stelling kan ek maar in sonde leef en wag op God se tyd, want ek weet nie of ek uitverkies is of nie.
    Dit is presies wat ek hier bo se, as jy geen se in jou redding het nie hoekom verkondig jy redding. Johannes jy weerspreek die lering van jou kerk., jy sê “Gereformeerdes leer baie duidelik dat die evangelie aan elke mens verkondig moet word en dat dit elke mens se verantwoordelikheid is om daarop te reageer”. Dit is nie wat die Dortse leerreëls sê nie.
    Dan kom jy en gooi Spurgeon voor my kop en noem hom ʼn vurige Calvinis. Ek ken Charles Spurgeon, maar hy was nie so ʼn vurige Calvinis nie. Hy het wel Calvinistiese uitsprake gemaak, maar ook baie van Calvyn verskil. Spurgeon was ook nie enigsins onderleg in Grieks nie en daarom het hy baie snaakse interpretasies van die Woord gehad. Ek het ongelukkig nie spasie om hierop uit te brei nie.Verder het hy graag whisky gedrink en sigaar gerook. Hy het sy studente so beinvloed dat die meeste van hulle sigaar of pyp berook het.
    1 JOHANNES 2 vers 2:
    “Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (nie net die uitverkorenis nie)
    Groete
    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Boeta, ek vra nederig om verskoning vir my "venyn en sarkasme". Ek wil en behoort my nooit daaraan skuldig te maak teenoor 'n broer in die geloof nie.

      Ek wil nie op als reageer nie, al sou ek kon... Tog wil ek jou net vriendelik daarop wys dat jy self dinge aan die DL toedig wat nie daar staan nie.

      Die DL is baie duidelik oor die mens se verantwoordelikheid tot geloof en bekering byv. Hfst 2/6. "Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld."

      Hier vind mens belangrike sake soos die roeping van die evangelie wat na alle mense kom, maar nie almal bekeer en glo nie en dis hulle eie skuld. Menslike verantwoordelikheid word duidelik geleer in die DL. Ons is immers nie "stokke en blokke" nie! Hoe kan jy beweer dat die DL leer dat ons maar in sonde kan sit en wag? Dis jou afleiding, maar jou afleiding is verkeerd!

      Hiermee, dink ek dis eers genoeg oor hierdie onderwerp. Bostaande post het immers hoegenaamd nie oor die DL of uitverkiesing gehandel nie.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.