BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 16 Maart 2017

HEELTEMAL VRY!

maar vrywillig diensbaar.



Een van Martin Luther se beroemdste geskrifte wat in 1520 verskyn het, heet : DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN. Hierin maak hy ‘n baie grondige, diepsinnige en heerlike stelling. 

Dis (tipies Luther) in die vorm van ‘n paradoks : 

"‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; ‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan." 

VRY ÉN DIENSBAAR! Natuurlik het Luther nie die stelling uit sy duim gesuig nie, dis ‘n samevatting van wat Paulus in 1 Korintiërs 9:19 sê : "Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.”

DIE CHRISTEN IS VRY. 

‘n Christen is heeltemal volkome vry. Hieroor bestaan soveel onkunde wat lei tot soveel vrees en onsekerheid. So baie mense dink Christenskap is een stuk vreeslik harde werk. Byna soos slawerny. Hulle voel die hele tyd : Ek moet myself beter maak, ek moet harder werk, ek moet my bes probeer om al die reëls te hou, dan sal God my aanvaar. 'n Vreesagtige gevoel van onsekerheid : "Jong, as ek nie in my spoor trap nie, gaan ek dit nie maak nie..."  (As jy hulle vra oor hulle Christenskap, is hulle antwoord altyd : “Ek probeer om een te wees.”) Wat ‘n groot misverstand! Kom ons maak seker vanuit die Woord. Wat verwag God van ons? Wat moet ons doen sodat ons kan weet Hy is tevrede met ons en het ons as sy kinders aanvaar? Gelukkig het Jesus self die antwoord op hierdie uiters belangrike vraag gegee. “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het." (Johannes 6:28,29) Geloof alleen! Dis die basis van Christelike vryheid en vrede. Om te weet God het my aanvaar omdat ek in Jesus glo. Daar is geen ekstra voorwaardes of fynskrif nie! Om te weet God het my aangeneem nie op grond van my prestasies nie, maar op grond van Jesus se prestasie en verdienste aan die kruis! 

Deur die geloof in Jesus kry ek deel aan ‘n heerlike uitruiling – Jesus vat my sondeskuld en onvolmaaktheid op Hom (en sterf daarvoor) en Hy skenk sy geregtigheid en sy volmaaktheid aan my! 

In God se oë is ek dus ‘n regverdige! Dis die basis van my vrede. (Rom 5:1) Niks kan my meer bangmaak of veroordeel nie. Ek is vry van die vrees vir die wet, sondeskuld, satan, dood en hel! Jesus se sterwe het hierdie vyande volledig en finaal uitgeskakel. Daarom kan Paulus uitdagend uitroep in Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Die implikasie is duidelik, ons is vry van alle oordeel nie weens ons goedheid of prestasies nie, maar vanweë Jesus se sterwe opstanding en voortdurende intrede vir ons!

DIE CHRISTEN IS DIENSBAAR. 

As praktiese voorbeeld van hoe vryheid en diensbaarheid saamgaan gebruik Luther die verhaal van Jesus en die tempelbelasting. Ons vind dit in Matteus 17:24-27. Elke meelewende Jood moes jaarliks ‘n bedrag betaal waarmee die offerdiens in stand gehou is. Dit lyk nou asof Petrus deur ‘n vraag of Jesus die belasting betaal in die verleentheid gestel is.* Jesus is vooraf bewus van Petrus se dilemma en wag hom in met ‘n ander vraag. (25) "Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?" Die antwoord binne die denke van destyds is baie duidelik. Konings belas mos nie hulle eie familie nie. Koningseuns is vrygestel van belasting. Dit geld ook van die groot hemelse Koning. Jesus se insinuasie is duidelik : As Hy nie tempelbelasting betaal nie, is dit nie uit suinigheid, slordigheid of gebrek aan belangstelling nie. Hy, Jesus is die Seun van God, Hy as Prins word tog nie aangeslaan vir die onderhoud van sy eie Vader se paleis nie! Hy is vry van tempelbelasting en skuld niks! 

Tog besluit Jesus om wel vrywilliglik die voorgeskrewe tempelbelasting vir Homself en Petrus te betaal. Sommer so uit ‘n vis** se bek. Die eerste die beste vis. Geen groot issue nie! Hy doen dit nie omdat Hy daartoe verplig is nie, maar om nie onnodig aanstoot te gee nie! Jesus is vry om dit nie te betaal nie, maar betaal dit vrywillig! Jesus doen dit sodat daar nie misverstand sou wees nie. As Hy nie die belasting sou betaal nie, sou mense dink dat Hy die tempel of die offerdiens minag. Jesus wil nie ‘n onnodige struikelblok daar stel wat dit vir mense moeiliker sal maak om sy boodskap te glo en gered te word nie. Jesus betaal belasting al is Hy as Seun van God vry van hierdie verpligting. Dis ‘n pragtige demonstrasie van Christelike vryheid. Ek is vry van alle wette, maar maak myself vrywillig diensbaar aan God en my naaste.

Ek dien en gehoorsaam God nie om gered te word nie. Ek dien Hom omdat Hy my liefhet, my vryheid geskenk het en ek Hom wil dien. Ek kom kerk toe, ek bid, ek werk vir Hom vrywilliglik omdat Hy vir my alles reeds gegee het en ek wil dankie sê. Ek is vry, maar ek kies in vryheid om te dien. Ook om my medemens te dien tot hulle voordeel. Dis soos Paulus sy vryheid verstaan het. “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen." (1 Kor. 9:20) Hy besef hy is vry van die Joodse wette, maar hy onderwerp hom daaraan in soverre dit nodig is om die Jode na Christus te lei. Hy doen dus nie dinge wat die Jode onnodig aanstoot sal gee nie. Kom ons dink ons in aan die situasie van ‘n vroue sendeling in ‘n Moslem land. As Christen is sy vry om nie ‘n Hijab (haarbedekking) te dra nie, maar ter wille daarvan om nie ‘n aanstoot vir die mense onder wie sy werk te wees nie, sal sy dit vrywilliglik dra. Juis om die evangelie te bevorder. Dis presies wat Jesus doen met die tempelbelasting – uit liefde vir ander mense en sensitiwiteit vir hulle gevoelens gee Hy op hierdie punt sy vryheid prys en betaal! Laat ons veral hierdie beginsel onthou as dit kom by omstrede sake soos die gebruik van alkohol en tabak, kleredrag en grimering, ontspanning en vermaak... Ja, as Christen is ek vry, maar is my keuses in die beste belang van ander mense? Veroorsaak my keuses nie dalk ‘n struikelblok in die weg van die evangelie nie?

Deur geloof in Jesus is ons vrygemaak van ons skuld, vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel. Hierdie vryheid is nie ‘n selfsugtige vryheid, wat ek net tot my selfsugtige voordeel gebruik nie. Nee juis deur geloof in Christus is ons verlos en vry tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! 

Kortom : ons is vry sodat ons in vreugde (sonder vrees) en uit dankbaarheid God en ons naaste kan dien en liefhê. 

Die Christen is iemand wat nie in en vir homself leef nie, maar in Christus en in sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

*Volgens van Bruggen sou die vraag ook kon vertaal word met ‘n stellig. “Julle leraar betaal die didrachma nie!” Petrus se “Ja’ bevestig dan dat Jesus nie die tempelbelasting betaal het nie. 

**Net terloops. Wat is nou die betekenis van die geldstuk in die vis se bek? Die opvallende en besondere is nie dat ‘n vis ‘n geldstuk in die bek kan hê nie. (dit sou kon gebeur) Die opvallende is dat Jesus die mag het om so ‘n opdrag te gee en te kan weet dat die eerste vis wat gevang sou word so ‘n geldstuk in sy mond sou hê. Hierdeur bewys Hy dat Hy werklik die Prins is in die Vaderhuis, werklik die Seun van God, want dis net Goddelike Almag en Alwetenheid wat dit kan vermag.


2 opmerkings:

  1. Hallo. Jammer dat ek nou eers dit kon oopmaak, nog nie deur gelees nie. Baie interessant, gooi net my stuiwer in die arm man se beurs. Wel as 'n mens die stelling as 'n paradoks beskou dan le die eintlike paradoksie in die woord LIEFDE. Die Godgegewe liefde wat totaal en al ANDERS is as die liefde in die natuur van die mens. Hierdie Liefde is die krag agter dit alles, want dit is hierdie liefde wat Hy openbaar gemaak het. Die mees uitsonderlikste van alle gawes. Soos Paulus almal ook aanmoedig om te streef na hierdie gawe wat die uitnemendste is van alle gawes.Tog is dit so dat die mens nie regtig bereid is om die gawe aan te gryp en te om arm die. Die rede daarvoor is voor die hand liggend: Alhoewel hierdie LIEFDE totale vryheid bied, dryf die krag van hierdie liefde die mens tot in slawerny om in volle oorgawe onderdanig te wees aan alle mense en diensbaar te wees aan almal. Dit is hierin waarin die waarborg van totale vryheid gesetel is, want die Liefde het vryheid met bloed gekoop en betaal eens en vir altyd, sodat jy nie weer aan slawerny onderdanig moet wees nie, maar vry sal wees om net onderdanig te wees aan die vryheid wat hierdie liefde bied om te dien soos wat HY gedien het. Hy wat die kleinste is sal die grootste wees.
    Dit, neem ek aan, klink baie deur mekaar en dit is ook. Daarom kan die mens nie sin maak uit dit alles nie. Soos 'n sirkel van diensbaarheid; tot in alle ewigheid om Hom te dien, te loof en te prys, juis omdat HY die KLEINSTE van almal geword het.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.