BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 27 Februarie 2015

VERTROUE OP DIE WOORD

- SLUIT ‘N NUWE TOEKOMS OOP!

Die hele nag het hulle hard gewerk, maar nie een enkele vis gevang nie! ‘n Algehele mislukking. Onthou net Petrus en sy makkers was nie hengelaars wat vir ontspanning vis gevang het nie, dit was hulle brood en botter, hulle hele bestaan het van die sukses van hulle vangste afgehang. Petrus moes dus baie mismoedig gewees het,... maar toe maak hy ‘n keuse, ‘n keuse om Jesus op sy woord te vat. ‘n Keuse om Jesus se woord te glo al maak dit nie sin nie en al druis dit teen sy logika in... en toe verander als. Dit lei nie net tot ‘n wondervangs nie, maar ook tot ‘n wonderlike toekoms!

GOD PRAAT

God praat met mense. Hy hou Hom nie maar net stil eenkant en onbetrokke nie. Hy maak bemoeienis met mense. Hoe? Hy doen dit deur sy Woord. Sy beloftes. Wanneer ons God se Woord glo, gebeur daar heerlike en kragtige dinge. Die krag van God se Woord word besonderlik bewys in hierdie gebeurtenis. Die belangrikheid van God se woord en beloftes is ‘n deurlopende tema in hierdie verhaal wat ons vind in LUKAS 5:1-11. Reg aan die begin hoor ons dat die skare vorentoe beur om God se Woord te hoor. (1) Ja, Jesus bring die Woord aan almal wat maar wil luister. Maar dan kom God se Woord baie persoonlik na Petrus. (4) Hy kry ‘n duidelike bevel : “Vaar uit na die diep water...” Dit het nie vir Petrus na ‘n logiese opdrag gelyk nie. Hy was ‘n visser van beroep, hy het die water geken, hy het geweet daar’s niks... Jesus was nie ‘n visserman nie, hy het in ‘n timmermans besigheid grootgeword. 

Maar Petrus neem ‘n geloofsbesluit - "Meneer," antwoord Simon, "ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi." (5) – met ander woorde - “Ek sal gehoorsaam en vertrou al maak dit nie vir my sin nie! Net omdat U so gesê het sal ek dit doen! Dit klink nie vir my reg nie, dit lyk nie vir my reg nie, dit voel nie vir my reg nie, maar net omdat U so gesê het sal ek dit doen.”

Dis op hierdie punt (in ‘n sekere sin) waar Christenskap begin. Dis die draaipunt. Wanneer ek ‘n keuse maak om God op sy Woord te vat, maak nie saak wat die feite, vrese en omstandighede is nie. Ek moet doelbewus reageer op God se beloftes. As Petrus Jesus se opdrag gehoor het, maar vol verduidelikings, verskonings en ekskuse gebly het, sou hy ‘n wonderwerk gemis het.

Die wonderwerk wat Petrus beleef het was natuurlik baie meer as net ‘n groot vangs van visse. [God het 'n baie groter plan vir Petrus gehad as bloot materiële welvaart. Kyk, as Petrus hulle elke dag met elke vangs hulle skuite kon volmaak, sou hulle lekker kon leef en dalk luukse villas daar langs die see kon bou... maar nee, Jesus was besig om Homself aan Petrus te openbaar en hom vir 'n nuwe toekoms voor te berei, wat alles behalwe rykdom en gerief sou behels...] Daar gebeur ‘n groter wonder in Petrus hart as in die skuit. “Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: "Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens." (8) Hy besef sy eie sonde. Hy kom onder sonde oortuiging. Die belofte van Esegiël 36:31 word waar in sy lewe.* (Dis inderdaad ‘n groot wonderwerk en teken van God se genade as mens jou ware sonde toestand voor die Here besef, want van nature is ons mos baie oulik en goed in ons eie oë!) Petrus word bang toe hy sy sonde besef... Soos die profeet Jesaja in Jesaja 6...

Maar weer kom die Woord na Petrus (soos destyds ook na Jesaja). “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (10) Dis ‘n kosbare woord van uitnodiging, liefde, vergifnis, hoop en 'n nuwe toekoms van bruikbaarheid in God se diens. En wat maak Petrus? Hy kies weer om Jesus se woorde te glo en maak so ‘n keuse om Jesus te volg. 

Belofte. Geloof. Bekering.

God se Woord, God se Beloftes kom na jou toe. Sy beloftes van vergifnis, van kindskap, van die ewige lewe...

Wanneer ek hierdie beloftes glo en daarop reageer, kry ek vergifnis en sluit dit ‘n nuwe lewe en toekoms vir my oop. Ek moet hierdie beloftes glo ongeag my toestand van mislukking en sonde. Ja, dis waar ek het al hoeveel keer misluk, ja dis waar my sonde is baie se groot. Ja dis waar ek voel moedeloos en bang. Maar onthou, God se beloftes bly waar in alle omstandighede. God se beloftes tel meer as my gevoelens en die sigbare feite (Dink aan Abram se keuse om God se belofte te glo oor ‘n nageslag al was hy en Sara oud en oor die muur!).

Geliefde, hoor weer opnuut die beloftes van God... Wat gaan jy daarmee maak? Jy het vandag dit gehoor en jy het dit al baie keer gehoor, het jy gereageer?

Maak soos Petrus, kies om Jesus se Woorde te glo. Maak nie saak wat my sonde is nie, maak nie saak hoe baie my mislukkings is nie, maak nie saak wat ander mense gaan dink nie, maak nie saak wat die duiwel vir my fluister nie... “op U woord sal ek...” Onthou, as als misluk het, as als verkeerd gegaan het, as als donker lyk, dan is God se Woord, God se beloftes daar vir ons... En God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie...

GOD SE BELOFTES IS GROTER AS ONS MISLUKKINGS! 

* Dis deel van die uitwerking van die beloofde Nuwe Verbond - “Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal ‘n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.”





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.