BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 13 Februarie 2015

GESEËND SAAM MET ABRAM!

- nou hoe kry mens dit reg? 

Wil jy graag geseënd wees? God se gunsgenoot wees? Is jy seker dat jy ‘n geseënde van God is? Hoe weet mens dit, hoe gebeur dit? Dit moet wonderlik wees om te weet, ek is ‘n geseënde van God. Die Lewende God bedoel, belowe en gee inderdaad die beste vir my. As ons aan ‘n geseënde dink, gaan ons gedagtes terug na Abram...

“Die Here het vir Abram gesê: "Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.
Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees." (Genesis 12:1-3) 

Hoe raak hierdie seën vir jou en my?  Paulus sê ‘n wonderlike ding in Galasiërs 3:14. Mense wat aan Jesus behoort deur die geloof kry deel aan die seën wat God aan Abram beloof het. Dis so merkwaardig - ons kry dit al is ons nie Jode nie. Ons kry dit sonder om die wet (Tora) te onderhou. Hoe is dit moontlik? Verdien ons dan nie eerder oordeel en straf nie? Is ons nie almal sondaars nie? Hoe kan God ons dan seën? Die antwoord lê by die grootste sondaar van alle tye!

DIE GROOTSTE SONDAAR

Het jy al gewonder wie die grootste sondaar ooit was? Wie het die meeste sondes op sy rekening gehad? Miskien Adam? Deur sy ongehoorsaamheid het hy die hele menslike geslag in die allergrootste ellende gedompel. Of dalk was dit Dawid? Ten spyte daarvan dat hy die bevoorregte koning was, het hy die vreeslike sondes van owerspel en moord begaan. Petrus is ook ‘n moontlike kandidaat. Hy was immers ‘n dissipel van Jesus, een van die binneste kring, wat soveel wonders van Jesus gesien het en soveel preke uit sy mond gehoor het, en tog verloën hy Jesus. Dalk Paulus, ‘n ywerige vervolger van Christene? Of moet ons iemand anders nader aan ons tyd soek....Hitler, Stalin, miskien Mugabe of Zuma?

Martin Luther, die groot Hervormer, gee vir ons ‘n verrassende perspektief op hierdie vraag in sy bespreking van Galasiërs 3:13. Hy sê die grootste sondaar van alle tye is: Jesus Christus! Sjoe, dit klink erg! Skrikwekkend! Kom ons probeer dit mooi verstaan.

“Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: "Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is." Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.” (Galasiërs 3:13,14)

Paulus sê hier in vers 13 dat Christus ons losgekoop het van die vloek wat die wet meebring. Wat is hierdie vloek? Dit sê maar net dat die wet ons skuldig verklaar en die doodsvonnis oor ons uitspreek! Die regverdige wet van God sê onverbiddelik : Die mens wat die wet oortree is vervloek, die mens wat die heilige God beledig moet gestraf word, die mens wat sondig moet sterwe! Daar is geen wegkomkans nie, daar is geen skuiwergate nie. Al ons mooipraatjies en verskonings help niks. Die wet druk sy vinger op jou (my) hart en sê : “Jy is die skuldige!” soos Natan vir Dawid gesê het!

Die wet sit ons skaakmat! Die wet laat ons in ’n doodloopstraat! Die wet spel onverbiddelike oordeel en hel!

Maar nou die Goeie nuus : Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet! Jesus Christus het ons bevry van die vloek en die straf en die doodsvonnis wat die wet van God oor ons uitgespreek het. Hoe het Hy dit gedoen? Deur in ons plek self ’n vervloekte te word! (13) Het ons reg gehoor? God se Seun ’n VERVLOEKTE? Kan dit wees? Ja! Dis wat duidelik hier geskryf staan! Hoe werk dit dan?

HY DIE VERVLOEKTE

Jesus het ons sondes op Hom geneem. Anders gesê, God het ons sondes op Hom laat afkom! (Jesaja 53:5,6) God het as’t ware gesê dis nou jou sonde! Adam se sonde is joune, Dawid s’n is joune, Petrus se sonde is joune.... (en sit ook jou eie naam in). Jesus was belaai, besmeer en besmet met ons sonde! Met die sondes van al sy uitverkore kinders! Almal s’n - en daarom kan Luther sê dat Jesus die grootste sondaar van alle tye was! Nie weens sy eie sonde nie, nee, ons weet Jesus was sondeloos, maar weens ons sonde. Myne, joune... En toe Jesus ons sonde op Hom neem, toe Hy verantwoordelikheid vat vir ons sonde toe tref die vloek van God Hom. In alle felheid en verskrikking, sodat Jesus uitroep : “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Toe word Jesus self ’n vervloekte. Toe spreek die wet die doodsvonnis uit oor Hom. Toe tref die oordeel en toorn van God sy eie Seun!

Jesus sterf as ’n vervloekte deur God. Hy sterf nie die dood van ’n martelaar of ’n held nie, maar die dood van ’n vervloekte. Dis hoekom God dit bepaal het dat Hy spesifiek aan ’n houtkruis moes sterf. In Deuteronomium staan dit al geskrywe : “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is!” Dit was dus nie toevallig dat Jesus juis aan ’n houtkruis moes sterf nie. Dit was die duidelike bewys dat God se vloek op Hom was. God se vloek wat eintlik na regte vir my en jou moes tref! Aan die kruis behandel God sy Seun as ’n sondaar, sodat Hy ons as regverdiges kan behandel. Hy straf Jesus, sodat ons wat aan Hom behoort vrygespreek kan word! (2 Kor. 5:21)

ONS DIE GESEËNDES!

Jesus vat die straf in ons plek. Jesus vat die vloek van God sodat ons nou deel kan kry aan die seën van God! Die teenoorgestelde van vloek is mos seën! Dis die seën wat alreeds aan Abram beloof is. Hierdie seën beteken nou dat ons God se kinders is, dat ons sy erfgename is - erfgename van die ewige hemelse erfenis! Ons kry nou reeds ’n bewys van God se seën in ons lewens! Die Heilige Gees! (14) Die Heilige Gees wat in ons woon en ons lei in heiligheid is die duidelike bewys dat ons werklik deel gekry het aan God se seëninge! Trouens die Heilige Gees self is die grootste gawe wat die Hemelse Vader aan ons skenk, die toppunt van gebedsverhoring! (Vergelyk Lukas 11:13) Die Heilige Gees maak die verlossingswerk van Jesus ‘n praktiese werklikheid in ons lewens, die voorreg van kindskap en erfgenaam wees! 

Wie kry deel aan die seën? Elkeen wat die evangelie van Jesus glo! (Vgl. Galasiërs 3:2)

Weet jy al of jy ‘n geseënde is?

Die Nagmaal wat ons vier herinner aan Jesus se dood aan die houtkruis, bevestig dat Jesus in ons plek ’n vervloekte was en dat ons wat Jesus as Here aanvaar het, beslis en sonder twyfel geseëndes is! 

Kom ons verheug ons oor die groot uitruiling: Jesus vat die vloek, ons kry die seën! Hiervoor moet ons God ewig dankbaar wees!



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.