BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 19 Februarie 2015

VERBYSTERENDE LIEFDE

-  meer as net sentimente praatjies.
Sê die begrip “GOD SE GROOT LIEFDE” nog iets vir jou?  Laat dit jou nog verwonderd en opgewonde? Of is dit dalk ‘n holrug geryde frase wat deur woordinflasie waardeloos gemaak is?
Lees biddend saam met my 1 Johannes 3:1-3 en kou bietjie daaraan... 


“Kyk wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.
Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.”

Sien ons die wonder in hierdie eerste sin? Johannes nooi ons om te kyk!  Sien raak, besef net...GOD SE GROOT LIEFDE! Hy wil graag dat ons die manifestasie van God se onbegryplike groot liefde aanskou.  Wat behels hierdie liefde dan? God maak van mense sy kinders. Die ewige onsterflike God maak van sterflike mense sy kinders. Meer wonderlik,  nie van goeie  mense nie, maar van rebelle. Die heilige God neem sondige mense aan as sy eie kinders.    (Vergelyk 1 Korintiërs 6 :9-11)  Daar is so baie konkrete  voorbeelde : God het van ‘n Petrus, ‘n Saggeus, die Samaritaanse vrou, Maria Magdalena, Paulus... sy kinders gemaak. Hoe kan ons dit verklaar? Net die liefde. Die verstommende oorweldigende liefde van God. ‘n Liefde wat nie kyk na prestasie of goeie eienskappe nie. Net suiwer kosbare onverdiende liefde! Kyk, kyk en waardeer... Probeer dit vir jouself indink... dink aan die arbeider wat jou die meeste probleme op die plaas of by die werk gegee het, wat jou goed gesteel het, wat jou al gevloek het... en dan neem jou hom wettig as jou eie kind aan... Dink aan elke wet van God wat ons oortree het en God vergewe jou en neem jou as sy eie kind aan...
“Kinders van God.” Dis nie maar net ‘n vroom wyse van spreke nie. Dis regtig - “en ons is dit ook”  God se kinders in die volle sin van die woord. Met als wat kindskap behels. Ons is voorwerpe van God se liefde versorging, aanvaarding, beskerming...  “Soos ‘n vader hom ontferm...” (Psalm 103:13) ‘n Kind is iets besonders!   ‘n Kind word heeltemal anders behandel as net ‘n kennis, maar selfs ook as ‘n beste vriend.  Ook Paulus skryf ook oor hierdie wonderlike voorreg om kind van God te wees. (Romeine 8:14-16)  Wat ‘n vreugde en versekering! Wat sou ek vrees as weet ek is persoonlik ‘n kind van die Almagtige Liefdevolle Vader?
Daar is ook  egter ‘n ander kant van kind wees van God. Die wêreld ken ons nie. Die wêreld verstaan niks van hierdie saak nie, die wêreld verwerp ons soos hulle Jesus verwerp.  Soos die wêreld Jesus met veragting behandel gaan hulle jou ook behandel as jy kind van God is... Toets jouself... Beleef ek hierdie teenstand, word ek uitgestoot, beskinder en bevraagteken?

“nou is ons kinders van God.” Nou reeds, ja, inderdaad!  Ons kan nou reeds seker wees hiervan.  “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God."  (1 Johannes  5:12,13)


Ons het nou reeds hierdie heerlike status van “kinders van God”. Ons kan nou reeds in hierdie stukkende wêreld God as Vader beleef... As ‘n Vader vol van liefde...

Ons is nou reeds kinders van God, maar ons sien nog nie die volle uitwerking daarvan nie. Ons ken nie die volle toekoms wat God vir sy kinders in die oog het nie. Ons kan wel weet dat God die wonderlike werk van kindskap sal voltooi. Ons as kinders van God is nou nog onvolmaak weens sonde. Ons stry daarteen en ons bely dit. (1 Johannes 1:9) Dis ‘n voorreg van God se kinders om sonde te mag bely en weer opnuut Vaderlike vergifnis te kan beleef. Ja, as God se kinders moet ons  nie meer sondig nie, maar as dit gebeur (en Johannes weet duidelik dit is iets wat wel kan gebeur) dan hoef ons nie hoop te verloor nie, want Jesus tree vir ons in!   “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.”  (1 Johannes 2:1)
Eers by die wederkoms van Jesus sal ons heeltemal volmaak in gees en liggaam wees. Sonder sonde soos Jesus. Met ‘n verheerlikte liggaam soos Hy! (Filippense 3:21)

 DUIDELIKE TOETS!

Glo jy hierdie dinge? Is jy ‘n kind van God wat uitsien na die dag van volmaakte en volkome verlossing? Hier kry ons ‘n eenvoudige toets:  “Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.” (Vers 3) Dis eintlik net logies. Die hoop in jou hart word gereflekteer in jou alledaagse optrede. As jy weet oor ‘n uur gaan jy ‘n belangrike gas ontmoet, berei jy voor, maak skoon, kam jou hare... As jou geloof in Jesus ‘n werklikheid is en jy verwag sy nabye koms, sal jy sensitief wees vir sonde en geestelike slordigheid. Egte kinders van God, sien uit na die ontmoeting met Jesus en dit beïnvloed ons gedrag.
Verwag jy om Jesus binnekort te sien? Kom wees nou eerlik, as jy verwag en hoop om Hom self te sien, sal jy dan sorgeloos  aangaan met ‘n losbandige seksuele verhouding, met bitterheid en kwaaivriendskap in jou hart, sonder liefde vir God en mense? Daar’s nie ‘n manier nie...

Miskien sê jy : Dis als wonderlik, maar  wat van my, ek is onseker, kan ek ook ‘n kind van God word? En hoe kan ek ‘n kind van God word? Wel, ek wil jou net weer herinner aan die bekende Johannes 1:12,13.  “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is.”  (OAV)

Twee belangrike perspektiewe kom na vore:

Dis ‘n uitnodiging en belofte – dit plaas op elkeen van ons ‘n verpligting om te reageer. Om ons vertroue doelbewus op Jesus te plaas. Dis ‘n keuse wat uitgeoefen moet word!

Dis ten diepste ook ‘n Goddelike ingryping en ‘n wonderwerk – dit gee aan ons die versekering dat dit hoegenaamd nie om ons eie afkoms of prestasie gaan nie.
 Kan jy God dank vir kindskap?


Die boodskap van God  se liefde (evangelie) is ook jare gelede deur my pa aan die ou Himba hoofman, Minimahore in Kaokoland gebring.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.