- ons beleef heerlike verrassings van God se kragtige genade.
‘n Man wat sy stoel vir kilometers dra om ‘n Sondagdiens te kan bywoon... Dis maar een voorbeeld van God se verrassende genadekrag wat ons groepie tydens ons afgelope 4x4 manne uitstappie in Kaokoland beleef het.
Eintlik het die verrassings vir my al Vrydagoggend begin toe ek moes ontdek dat Roelf van Tonder, wat vir ons reëlings verantwoordelik was, se swaer, Mario van Vuuren ‘n ou skoolkennis van my is vir wie ek meer as dertig jaar gelede gesien het. Dit was aangenaam om baie jare te kon invul... Op pad na Kaokoland via Ovamboland het ons ook vlugtig aangedoen by Olukonda, waar mens die bewyse van God se krag weer op ‘n ander manier kon sien in die reusewerk wat die Finse pioniersendeling, Martin Rautanen onder moeilike omstandighede vir God se Koninkryk gedoen het. Wat anders as die krag van God stel iemand in staat om soveel offers te bring? Die vier kinder graffies* langs sy eie een is ‘n stil maar kragtige getuienis, dat niks, ook geen smart en verlies God se werk op aarde sal stuit en sy Koninkryk sal kan kelder nie.
Op die polsende Opuwa (met sy bedrywige mengsel van kulture) het ons vir ds. Erik van Zyl en hoofman Jan Kasupi gekry en daarvan die pad gevat na Etanga. Die son het toe vinnig gesak en net buite Etanga het ons die eerste nag in ‘n rivierbedding ons kamp opgeslaan.
[Ds. Erik van Zyl en Hoofman Jan Kasupi]
Die geskraapte pad hou by Etanga op. Die volgende dag kon die manne hulle viertrekvoertuie behoorlik toets oor die bergpaadjie na Ondije. Dis ‘n pad wat deur die Himbas self gebou is. Almal en alles (ook nog 18 sakke sement) is darem uiteindelik veilig oor die berg. Die sement is by Ondije se besondere klipkerkie gestoor. Dit gaan gebruik word om die binnekant te pleister omdat die slange baie pla. Ons moes juis hoor van ‘n sebraslang en ‘n ander slang (“met twee skerp kante” -?) wat daar doodgemaak is!
In die Omaravarava vlakte het ons weer kamp opgeslaan. (Andre Barnard, baie dankie vir daai puik stort!) Die aand is die Jesus film gewys en sommige Himbas het sommer net daar waar hulle gekyk het oornag. Hulle het ook versoek dat die Woord aan hulle na die tyd gebring moes word, want hulle sou nie die volgende dag se diens op Ondije kon bywoon nie. Die volgende Sondag oggend voor ons vertrek is die Woord weer gebring. Dis duidelik dat God in hierdie gemeenskap werk. Hierdie openheid vir die Woord is ‘n bewys van die werking van God se Gees. Dis beslis nie orals in Kaokoland die geval nie, dis heerlik en uniek!
Die kerkdiens op Ondije was iets besonders vir die manne wat saam was. Die sang en musiek (wat deur ‘n jong kind op ‘n waterkan voortgeslaan is) was besonders. Dit was my voorreg om die boodskap uit Romeine 1:16 te bring, oor die evangelie as die krag van God! Na die tyd het die aanwesiges die geleentheid gehad om iets sê. Twee manne het hulle dank uitgespreek. Daarna het ‘n meisie ‘n getuienis gelewer en ander uitgedaag om hulle ook te bekeer. ‘n Jong seun, Yakutwa Tjavara het opgestaan as teken dat hy ook Jesus wil volg. Na die diens het ds. Erik en Jan met hom ‘n gesprek gevoer. Hy het gebid en die Here gevra dat sy lewe vrug mag dra.
Ds. Erik het deurentyd wonderlike verhale van God se genade vertel en ons aan Himba Christene voorgestel. Stralende gesigte het van verlossing en die blydskap in die Here getuig. Ook Jan het sy getuienis met ons gedeel van die pad wat God al vir jare met hom loop. Ja,op soveel maniere bewys God sy krag en genade. Jan het al baie wel en weë beleef en selfs sy een vingerpunt in ‘n worsteling met ‘n leeu verloor!
Die terugpad via ‘n ander roete het weer vir ‘n goeie 4x4 ervaring gesorg. Die blywende indruk was egter nie bloot die bestyging van klipperige bergpaadjies nie, maar hoe God alles beheer tot sy eer te midde van die lewe se af en opdraendes. Die laaste oggend, kort voor ons vertrek het ‘n Himba man en vrou op donkies by ons kampplek in die rivierbedding opgedaag en selfs hulle het ‘n begeerte gehad om God se Woord te hoor! ‘n Kort boodskap is ook toe met hulle gedeel.
[Selfs hierdie kinders in 'n afgeleë gebied dra nou Westerse klere.]
Mense het baie illusies oor Kaokoland. Pasop maar daarvoor. Diegene wat die Himbas as lewende kuriositeite beskou en so wil behou gaan teleurgesteld wees. Die tradisionele leefwyse en kleredrag is reeds ingrypend deur die Westerse leefstyl (en euwels) verander. Ekologies gaan dit ook nie goed in Kaokoland nie. Daar is skrikwekkende erosie en oorbenutting van natuurlike hulpbronne. Dis hartseer om te sien hoe die skepping vernietig word. As jy egter ‘n hart het vir God en graag eerstehands wil beleef hoe Hy Homself aan eenvoudige mense openbaar is hierdie deel van ons land voorwaar ‘n skatkamer van ondervindings. Dalk lei God jou om self ook hierby betrokke te raak...
In die land van die heilige vuur (die heidense "okoruwo") brand die vuur van God se Gees in mense se harte!
*Hulle het ses van hul nege kinders vroeg aan die dood afgestaan.
Baie dankie Johannes vir die verslag. Dit is wonderlik om te hoor hoe God sy werk voortsit. Ek verlang nou baie ver en baie jare terug!
AntwoordVee uitSas
Ja, die tyd staan nie stil nie! God se Konikryk groei en alles stuur af op daardie heerlike dag van die voleinding..Ek hoop Pierre en Christo sien ook die "post". Wat van Robbie wat saam was geword het weet ek glad niks...
Vee uitKan ek dit asb. per e-pos ontvang? My e-pos adres is edwinmuller7@gmail.com
AntwoordVee uitGroete uit Sasolburg,
Edwin Müller