BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 01 Mei 2014

“CHRIST LETTERS”

- stem van die draak; direk van die duiwel.

Ek beskik beswaarlik oor genoegsame woorde om my uiterste skok en benoudheid uit te druk oor die feit dat mense wat blykbaar eens die evangelie verkondig het, nou weggesleep word deur ‘n dwaling wat deur die sogenaamde “Christ Letters” versprei word.

Daar is ‘n sogenaamde “Christus” wie se briewe op die internet beskikbaar is. Christus sou Homself dan nou kwansuis weer opnuut openbaar na 2000 jaar! Hierdie valse New Age Christus verwerp die basiese waarhede van die evangelie naamlik Jesus se plaasvervangende sterwe ter wille van ons sonde aan die kruis. Jesus se betaling van ons sonde word ‘n “outrageous myth” genoem!

Hierdie lastering is bykans te erg om aan te haal, maar luister tog maar daarna: “As you dearly loved followers of mine know very well, Christians even now, are devoted to the idea of the crucifixion and Jesus' supposed payment of their sins . This unpleasant, displeasing dogma is nothing but an outrageous myth, a falsehood - an abominable description of Universal Consciousness, the loving 'Father-Power', the true and radiant Source of our Being of us all.”

Alle basiese Christelike leerstellings van die kerk van alle eeue, soos sonde, verlossing deur die kruisdood van Jesus as enigste unieke Verlosser en ‘n finale oordeel word ontken. Die Nuwe Testament as onfeilbare Woord van God word verwerp en ons moet ons nou verlaat op ‘n geheimsinnige bron wat briewe publiseer op die internet. Dit wil ons wysmaak - die mens is basies goed en kan sy eie toekoms skep. Wie enigsins die Bybel ken sal sommer gou die stem van die slang in die paradys in hierdie briewe raakhoor... Die mens wat aangepor word om God te wil speel. Wie vir hierdie leuen van Satan val, gaan te laat agterkom dat hy hierdie einste Satan se slaaf word.

Die doelwit van hierdie bose briewe word alreeds in die vierde brief baie duidelik as daar gesê word : “Christ gathers up the threads of his teachings in Palestine and says that he and Muhammad, Buddha and all other Masters have continued to develop spiritually until they have all ascended into CHRIST CONSCIOUSNESS.” 

Die enigste doel van hierdie kulkorrespondensie is om die evangelie onder verdenking te bring en dit te vervang met ‘n demoniesbeheerde een wêreldgodsdiens wat in diens van die Antichris kan staan.

Neem kennis, broers en susters, daar is net een evangelie, die kruisevangelie! Paulus kon dit nie duideliker gestel het nie : "Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte." (1 Korintiërs 15:1-4)

Enige geloof wat nie op hierdie boodskap gebou is nie, is vals en tevergeefs! Wie hulle ore aan die “Christ” van “Christ Letters” uitleen en dit opslurp, vertrap die bloed van God se Seun en kan niks anders verwag as die skrikwekkende oordeel van God nie!  “As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Hebreërs 10:28,29)

 Daar is net EEN evangelie! Hoor die Woord van God : “Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref!”  (Galasiërs 1:7,8)

DIE LAKMOESTOETS

Ons moenie ons laat mislei deur mooi en vredeliewende praatjies nie!  Onthou, die draak doen homself voor as ‘n lam. (Openbaring 13:11)  Nou hoe gaan ons dan onderskei tussen die waarheid en die leuen? Wat is die lakmoestoets?



Dr. D. Martyn Lloyd-Jones het so duidelik hieroor gepraat: “People may come to you, they may give every appearance of being very spiritual people, highly moral people who may do excellent works – they may be the greatest philanthropists in the country – but that is not enough. The question we want to know is this – what do they say about Jesus? What is their confession with respect to him? Is he just the great teacher, just the supreme mystic, or is he the Son of God incarnate, who saves by his death upon the cross, by his body being broken and his blood being shed? These are the tests...”*

Enige Christus wat nie die gekruisigde Jesus van Nasaret is nie, is ‘n valse Christus! Jy ken die draak uit aan sy woorde, sy boodskap is kruisloos!

Gelukkig weet ons dat die uitverkorenes van God nie mislei kan word nie! Mag ons daarom te meer ag slaan op die suiwer melk van die Woord, wat juis God se metode is om sy mense te bewaar tot die einde toe!

*D. Martyn Lloyd-Jones in “PROVE ALL THINGS”, p110.

1 opmerking:

  1. Matthéüs 24 : 5, 23 - 25 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.

    2 Petrus 2 : 1 - 3 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.

    1 Timótheüs 4 : 1 Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.