BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 03 Mei 2014

WENNERS EN VERLOORDERS

- dis alleenlik die genade van God wat van jou ‘n “wenner” maak, maar moenie sy goedheid misbruik nie! 


“Time Magazine” se rubriek “Winners & Losers” van 2 Mei 845 v.C.* bevat twee interessante verwante brokkies skindernuus :
Naäman, bekende Aramese generaal glimlag weer. In ‘n dramatiese onthulling skryf hy sy wonderbaarlike genesing van melaatsheid toe aan die God van Israel.
Gehasi, bekende in profete kringe is op onverklaarbare wyse deur melaatsheid getref. Daar word onderlangs gefluister dat dit verband hou met gierigheid en bedrog. 
Die aangrypende verhaal van Naäman in 2 Konings 5 is ‘n pakkende drama vol krisisse en kontraste. Maar veral ‘n verhaal wat ons bring by die heerlike waarheid: Daar is geen ander God op die hele aarde nie! En Hy maak genadige bemoeienis met mense tot eer van sy naam!

KRISISSE

Krisisse is nie net ‘n verskynsel van ons tyd nie. In hierdie verhaal ontmoet ‘n hele paar mense wat in ’n krisis verkeer. In groot benoudheid. Kom ons kyk kortliks na ‘n paar van die karakters binne hierdie gebeure. En let bietjie op – daar is sterk kontraste tussen die karakters onderling en hulle uiteenlopende houdings teenoor die God van Israel: 

· ‘n generaal in ’n krisis. Naäman het die hoogste sport bereik en ‘n absolute sukses van sy loopbaan gemaak. Sekerlik dapper en baie belangrik. Alles het vir hom reg en glad verloop, maar... net een groot maar; hy was melaats! Dit moes soos ‘n dreigende doodsvonnis oor sy kop gehang het. 'n Heiden, afgodsdienaar, ‘n vyand van Israel, hy ken nie die God van Israel nie, maar hy is op die punt om kennis te maak met die genade en krag van hierdie God van Israel.

· ‘n dogtertjie in ’n krisis. Mens lees maklik hier oor haar groot ellende. Hierdie ontvoerde dogtertjie was ‘n slaaf van vreemdes, ver weg van haar ouerhuis. Hier kry ons reg van die begin af ‘n wonderlike stuk ironie : Die verdrukte bring hoop aan haar verdrukker! Ten spyte van haar persoonlike nood het sy nog steeds vertroue in die God van Israel en sy gesant! Sy het vir haar eienaar se vrou gesê: "Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak." (3) Boonop ‘n stuk onselfsugtige liefde vir die vyand! Hierdie onbekende kind wie se naam ons nie eens ken nie, speel ‘n sleutelrol in God se planne. 

· ‘n koning** in ’n krisis. Met die lees van die brief vanaf die koning van Aram word hy paniekerig. “Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: "Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my." (7) Hy is wel koning van Israel, God se volk, maar hy ken nie werklik die God van Israel nie. Die radelose koning staan is sterk kontras met die slawe dogtertjie wat wel raad gehad het... 

· ‘n volk in ’n krisis. Tussen die lyne van die verhaal lê ‘n groter verskuilde krisis, die van die volk Israel wat onseker en wankelrig geword het. Dit blyk dat baie van hulle in vrees vir die Arameërs geleef het. Die meeste het nie meer die almagtige God van hulle voorvaders, die God wat hulle met ‘n kragtige hand uit Egipte bevry het, van naby geken nie... 

· ‘n profete handlanger dompel homself in ’n krisis omdat hy hom misreken het met die heiligheid en alwetenheid van die God van Israel. (ons kom weer terug by gierige Gehasi...) 

· Elisa die man van God bly onversteurd kalm te midde van ’n krisis, want hy het God proefondervindelik geken. Toe hy hoor van die koning se penarie, tree hy onmiddelik op en stuur ‘n boodskap wat getuig van standvastige geloofsvertroue - “Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ‘n boodskap aan die koning gestuur: "Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is." (8) Sy aanbod aan die koning gaan nie sommer bloot oor medemenslikheid of ‘n geleentheid om vir homself naam te maak nie, maar oor die eer van God . Die koning en die volk moes weet dat God nog steeds werksaam is deur sy profeet. Elisa se Godgesentreerde fokus kom baie duidelik na vore uit die manier hoe hy Naäman behandel. Geen rituele, geen vertoon, trouens hy het nie eers uitgekom na Naäman toe nie - hy stuur net ‘n boodskap. “Elisa het ‘n boodskap na hom toe gestuur: "Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees." (10) Toe Naäman wel genees is wou hy geen geskenke aanneem nie; hy wou duidelik daarmee sê : “Dis nie ek nie, dis God wat jou genees het, jy skuld my niks en boonop God se guns kan nie gekoop word nie!” Elisa se doelwit is nie sy eie loopbaan en prestige nie. Vir Elisa gaan hierdie hele episode oor die God van Israel. Sy almag, Sy Naam, Sy eer... 

ELISA WAS BESLIS GEEN AMERIKAANSE TBN PROFEET NIE... 

Dit bring ons by die hoofkarakter, naamlik God self. Is Hy nie dalk ook in ’n krisis nie? Vir die gewone Israeliet sou dit op hierdie stadium in die geskiedenis kon lyk asof die God van Israel magteloos was... Kon Hy dan nie verhoed dat ‘n onskuldige dogtertjie (en daar was seker baie soos sy) weggevoer word deur die vyand nie? Hoekom wis Hy nie die vyand uit nie? God was egter hoegenaamd nie magteloos nie. Die skrywer maak dit duidelik deur vir ons ‘n kykie agter die skerms te gee. “Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan Aram besorg...” (5:1) Die implikasie is duidelik - Aram (en ook jou probleme) is maar net ‘n instrument in die hand van die almagtige God! 

Te midde van al die krisisse bewerk God ‘n verstommende verlossingsdaad. Hy herstel daardeur sy eer op ‘n manier wat niemand selfs in hulle wildste drome sou verwag nie. Kom ons besef dit : God se saak is nooit ‘n verlore saak nie. Al lyk toestande hoe donker en al wankel sy eie mense se geloof... Hy bewerk hier sy eer in die mond van heiden. Hy “dwing” ‘n afgodsdienaar om sy almag te erken! Dit lyk asof vers 15 ons by die hoogtepunt en kerngedagte van die verhaal bring as Naäman bely : “Kyk nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel” God bring ‘n heidense vyand tot die belydenis van Sy Naam. Wat ‘n onverwagte dramatiese en veelseggende belydenis uit die mond van ‘n heidense vyand wat opgegroei het te midde van ‘n veelgodedom. 

Hoe het dit gebeur? Daar is ‘n paar opvallende aspekte van sy verlossingsalmag wat hier na vore kom. Die manier hoe God verlos : 

· onderstreep die soewereine aard van God se werk. Uit al die duisende melaatses van destyds kies Hy ‘n vyand om te genees! (vgl. Jesus se woorde in Lukas 4:27) God maak van ‘n heidense vyand ‘n aanbidder! God se soewereine genade steek grense oor wat vir mense ondenkbaar blyk! Sy onverstaanbare voorsienigheid in die lotgevalle van ‘n jong dogtertjie word ingeweef in die uitwerking van Sy genade. 

· beklemtoon Goddelike eenvoud en vrye genade. Daar’s geen sprake van rituele soos die heidene (en soos Naäman verwag het nie) gewoond was nie. God werk anders as die gode van hierdie wêreld. Die lewende God werk uit vrye wil en kan in elk geval nie deur rites en rituele, nog minder deur geskenke gemanipuleer word nie. Die eenvoud van die opdrag laat die klem juis val op die feit dat God die verlossing sonder menslike hulp bewerk. Mens kan nie anders om die ooreenkoms met die eenvoud van die evangelie raak te sien nie! Die wysheid van Naäman amptenare bevat nou nog goeie evangeliese raad! “Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: "Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?" (13) Hoe nodig het ons nie om dit te hoor nie.. Vir baie is die evangelie onaanvaarbaar omdat dit so eenvoudig is, dit is te goed om waar te wees, dit kan mos nie so verniet wees nie, iewers moet ek tog ‘n bydra maak, iewers moet ek tog ‘n prestasie kan lewer... (kliek op EVANGELIE) 

· bewys God se krag om volledige bevryding en genesing te bring. “Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ‘n klein seuntjie en hy was weer rein.” (14) Weereens kan mens nie anders as om die ooreenkoms raak te sien met die kragtige uitwerking van God se oplossing vir sondaars nl. die evangelie nie. Dit maak volkome nuut! (Sien 2 Korintiërs 5:17) 

· toon dat ons sy genade bewustelik moet aanvaar, deur geloof en bekering. Naäman het byna die verlossing misgeloop. Naäman was vererg oor die raad van Elisa. Hy redeneer : “Hoe onsinnig en onlogies! Moes ek nou die hele ent kom om te hoor ek moet my in ‘n rivier bad?” Daar is niks moeilik aan God se oplossing nie, Hy vra wel nederige instemming. Hy vra dat ons die Goeie Nuus van Sy Seun glo! Naäman was skrikwekkend naby om God se guns mis te loop deur hoogmoed. Hoeveel mense verbeur die evangelie genesing mis deur hoogmoed en onwilligheid om dit te aanvaar? Of deur net hulle reaksie uit te stel? In plaas van te sê : “Ja,  Here Jesus , dankie vir U genoegsame offer aan die kruis,” kom hulle met allerhande slim redenasies en teenargumente. 

MOENIE DIE GENADE MISLOOP WEENS HOOGMOED NIE!



Hoorder van die Woord, God kom deur Sy Woord na jou net soos Hy deur Elisa se boodskap na Naäman gekom het - dis die oplossing : “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word” So eenvoudig! Uit al die miljoene op aarde beskik Hy dat jy dit (nou) moet hoor. Gaan jy jou vererg of gaan jy dit aanvaar?

GIERIGE GEHASI MISGIS HOMSELF MET GOD

Naäman se genesing en belydenis is ‘n hoogtepunt en tog wil die skrywer nog iets onder ons aandag bring - Gehasi. Mens kan nie oor Naäman se genesing praat sonder om te verwys na Gehasi se optrede en die verskriklike lot wat hom getref het nie. Dis opvallend dat ‘n groot deel van die Naäman verhaal aan die gebeure rondom Gehasi afgestaan word. Hiereur bring die skrywer ‘n dringende boodskap en waarskuwing aan God se volk. Die hele verhaal is deurtrek met kontraste en hier kry ons weereens ‘n treffende kontras. Die vrygewigheid van ‘n heiden word geskets (hy gee dubbeld die hoeveelheid silwer) teenoor die gierigheid van ‘n volksgenoot. Naäman, die heidense generaal is diep besorg oor geestelike sake (17) maar die geestelike werker word gedryf deur ‘n passie vir die materiële. Die pas bekeerde heiden is eerlik en opreg (in vers 18 gaan dit oor opregtheid voor God en nie kompromie nie), maar die man wat in diens van God staan is deur en deur vals en versin ‘n storie om sy eie sak te vul. Wat ‘n aangrypende en verrassende ommeswaai van lotgevalle : God seën ‘n heidense generaal, die vloek van God tref ‘n profete dienaar! Die melaatsheid van ‘n vyand word genees; ‘n verbondsmens word deur God met melaatsheid getref! ‘n Buitestaander word ingelyf in die gemeenskap van die gelowiges en iemand uit die binnekring word uitgeban uit die geloofsgemeenskap! 

Hierdie kontras sê baie duidelik :

God se genade is groot en onbegrens (dit steek selfs die grens na die heidendom en vyand oor), maar terselfdertyd is God se genade nie vanselfsprekend nie, dis niemand se besit of reg nie, dit kan nie maar sommer misbruik en geminag word nie. 

Gehasi het hom misgis met die God van Israel. Hy wou God se guns gebruik om homself te verryk. ‘n Regte Ou Testamentiese swendelaar! Pasop! Gehasi was ‘n begunstigte met baie voorregte, maar kyk waar eindig hy. Keer op keer is dit die boodskap van die Bybel. In die Nuwe Testament praat Jesus baie hard oor hierdie saak : “Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners." (Matteus 8:11,12) 

Buiteperde gaan die wenstreep van die koninkryk haal terwyl gunstelinge gaan agterbly!

Om saam te vat :

Die Lewende God, die God van Israel wat Hom deur Jesus aan ons openbaar het, werk op maniere wat vir ons onverstaanbaar is. Hy is nie aan ons denkwyses gebonde nie en is vol verrassings. Ja, Hy werk selfs (en dalk juis) te midde van krisisse! Wat ons moet raaksien: Hy is ‘n genadige God. (Naäman is ‘n trofee voorbeeld) Uit vrye guns raak Hy sondaar mense aan , maar Hy duld nie die vertrapping van Sy eer nie! Van niemand nie. (ook nie die profete assistent Gehasi) Die groot saak is dit - die God van Israel is die enigste God, want niemand kan red soos Hy nie. Hy wil ook jou redder wees - wees gehoorsaam aan Sy eenvoudige opdrag : “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word!”

*Natuurlik ’n fiktiewe datum!
**Koning Joram

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.