BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 01 April 2014

SO SKAARS SOOS WORS IN ‘N HONDESTAL

- gevolge van menslike rebellie sigbaar in die verval van die huwelik.

‘n Maagd voor ‘n kansel (met betrekking tot beide bruid of bruidegom) het in ons dag so skaars geword soos wors in ‘n hondestal. (Die Oscar en Reeva sage het dit maar net weer onderstreep dat seksuele reinheid bykans glad nie meer bestaan onder die helde en rolmodelle van vandag nie.) Byna net so raar is gelukkige huwelike en heel gesinne. Egskeiding (selfs binne die kerk) is so algemeen dat dit skaars nog ‘n wenkbrou laat lig. Wat egter nog meer skokkend is, is dat die situasie ten opsigte van seksuele reinheid, huwelikstrou en gesinsgeluk onder sogenaamde belydende (of weergebore) Christene min verskil van die ongelowige wêreld daarbuite.
As daar nou een saak is wat die kerk se kompromie met sonde duidelik uitbasuin is dit hierdie een. Die huidige toestand van die kerk met betrekking tot morele aangeleenthede staan in skrille kontras met die vroeë kerk wat in hierdie opsig ‘n helder lig laat skyn het in ‘n donker wêreld van seksuele verwording en vergryp.

Die verwarring en ongehoorsaamheid van die kerk in ons dag oor hierdie belangrike sake is des te meer hartseer en onbegryplik in die lig van Jesus se duidelike lering oor die huwelik. Kom ons kyk kortliks na wat Hy sê in Markus 10.*

Op pad na Jerusalem moes Jesus op ‘n stadium oor die Jordaan gaan in die gebied van Perea wat deel was van Herodes Antipas se jurisdiksie – dis hier waar Johannes die Doper sy bediening afgehandel het en die marteldood gesterf het. Uit die voorafgaande verhaal van Markus weet ons dat die kwessie van egskeiding en hertrou direk tot Johannes die Doper se dood aanleiding gegee het! Hy het Herodes en Herodias hieroor vreesloos aangespreek, maar met sy kop op 'n skottel betaal!** (predikante wat dit deesdae waag om hulle teen hierdie tipe dinge uit te spreek, se “koppe word natuurlik ook summier afgekap en op die skinderbekke se skinkborde aangebied.”) Tug oor hierdie sake het vir alle praktiese doeleindes verdwyn van meeste kerke se agendas.

“Toe kom die Fariseërs na Hom; en, om Hom te versoek, stel hulle Hom die vraag of dit 'n man geoorloof is om van sy vrou te skei?” (10:2) Die vraag aan Jesus oor egskeiding was nie so onskuldig soos dit mag klink nie. Wou hulle Jesus probeer uitvang dat Hy verskil met die wet van Moses? Miskien. Heel moontlik was dit ook die Fariseërs se bedoeling om Jesus in die oë van Herodes te kompromitteer en net soos Johannes, Hom in die moeilikheid te laat beland. ***

Wat betref die wettigheid van egskeiding het die meerderheid Jode in Jesus se tyd waarskynlik saamgestem dat dit toelaatbaar was in ooreenstemming met die bepalings van Deuteronomium 24:1 wat lees : "Wanneer ‘n man met ‘n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy ‘n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur.”

Daar was wel ‘n dispuut en verskil van opinie oor wat “iets onbetaamliks” behels. Blykbaar was daar twee kampe.
~ Volgelinge van Rabbi Shammai sien dit as iets moreel, veral owerspel, maar ook nalatigheid om die wet na te kom.
~ Die volgelinge van Rabbi Hillel het dit nog breër gesien om enigiets wat irritasie of verleentheid vir die man veroorsaak in te sluit. ‘n Man sou dus enige verskoning kon gebruik om van sy vrou ontslae te kon raak... En vandag is dit meer as ooit so... belaglike redes word vir egskeiding aangevoer : “Ons het mekaar ontgroei, daar is nie meer liefde in die huwelik nie, ons het uitgevind ons pas nie bymekaar nie, ‘n mens trou jonk en maak maklik foute en niemand kan van jou verwag om jou hele lewe saam met die fout te leef nie...”

Jesus sny weer dwarsdeur die Joodse kasuïstiek (reëls) tot by die direkte bedoeling van die wet (tora). Hy formuleer die vraag in positiewe terme. “Wat het Moses julle beveel?” (3) Hy verwys hier reeds indirek al na die positiewe waardes en bedoeling van ‘n gedeelte soos Genesis 1:27 “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” en Genesis 2:24. “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” Jesus gaan terug na die skeppingsverhaal en lê klem op God se oorspronklike doel met die huwelik. Die skepping van die mens as man en vrou vorm die basis van die instelling van die huwelik. Jesus se afleiding in vers 8 naamlik “hulle sal een vlees word” bevestig die onverbreekbaarheid van die huweliksband. Jesus se finale uitspraak in 1:9 koppel die onverbreekbaarheid van die huwelik aan die gesag van God self. “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (10:9) As ons verstaan van die wet/tora vir ons ‘n klaarblyklike verskoning gee om teen God se duidelik geopenbaarde wil in te gaan, is dit ‘n gevaarlike misbruik! 

Terwyl Joodse rabbi’s probeer kibbel wat “onbetaamlike gedrag” is, is Jesus se punt dat egskeiding opsigself onbetaamlik is!

Jesus gee ‘n duidelike NEE vir egskeiding!

Jesus se vraagstellers val terug op Deuteronomium 24:1. Hulle verstaan Moses se intensie natuurlik verkeerd. Hy wou nie sê dat egskeiding maar goed is nie, hy wou hierdeur die gevolg van egskeiding vir die vrou versag deurdat sy darem ‘n skeibrief (bewys) sou kry, wat haar in staat sou stel om weer te trou. Dis iets soos ‘n noodmaatreël vanweë die gegewe feit van egskeiding. 

Deuteronomium 24 verdra egskeiding, maar dit sanksioneer of beveel dit nie! Die doel was nie om egskeiding aanvaarbaar te maak nie, maar om die effek daarvan te versag en die gevolge te kontroleer. Niemand mag hierdie toegewing misbruik om maar egskeiding goed te praat nie!

Die hardheid van die harte en die diepe selfsug wat die grondoorsaak van egskeiding is kom neer op rebellie teen God se oorspronklike skeppingsdoel. “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Vanweë die hardheid van julle harte het hy vir julle hierdie gebod geskrywe, maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak.” (5,6)Dis hierna wat Jesus nou verwys. Sy boodskap is duidelik : “Moenie vashaak by ‘n oënskynlike skuiwergat en ‘n verskoning soek vir julle harde en bose harte nie, vra eerder wat is God se wil!” 

Terug by die huis het Jesus toe verdere lering aan sy dissipels gegee. “En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar; en as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk.” (10:11,12) Deur die gebruik die term “owerspel” bring Jesus ‘n nuwe element in. Volgens die rabbynse siening kon ‘n man owerspel pleeg teenoor ‘n ander man deur dié se vrou te verlei en ‘n vrou kon teen haar man owerspel pleeg deur ontrouheid, maar dit kon nie gesê word dat ‘n man teenoor sy vrou owerspel pleeg nie. Jesus beklemtoon nou deur sy intensifisering van die konsep van owerspel dat die status van die vrou gelyk is aan die man en dat die man onder dieselfde verpligting van huwelikstrou staan as die vrou. (Selfs vandag nog in ons samelewing kry ons iets van hierdie ongelykheid. ‘n Meisie wat oor die tou trap word makliker skeef aangekyk as die bandelose jongman) In vers 12 kry ons moontlik ‘n direkte verwysing na Herodias wat haar man verlaat het – al het sy aan haar voormalige man ‘n brief gegee, maak dit haar optrede nie minder sondig nie.

Vir Jesus staan man en vrou as vennote in die huwelik voor die aangesig van God!

Jesus se bespreking van die saak van egskeiding bewys net weer sy gesag wat soveel groter is as die van die Skrifgeleerdes (vergelyk 1:22) en ja, selfs groter as die wet self. In die lig van Jesus se koms as die Messias, die finale openbaring van God moet selfs die insettinge van die tora nie meer slaafs nagevolg word nie, maar alles beoordeel word volgens Jesus se woorde. Sy woorde is natuurlik niks anders as die hoogste standaard en oorspronklike bedoeling van die Skrifte nie. 

Die gesag van Jesus as die Messias in konteks van die Nuwe Verbond oortref die gesag van Moses en die wet as uitdrukking van die Ou Verbond! Soos in alle ander gevalle beteken dit nie ‘n verlaging van standaarde nie, maar juis ‘n hoër etiek! (Kliek op NUWE VERBOND )

WAT NOU?

Opnuut moet ons besef dat die aanslag teen die huwelik in al sy vorme ‘n aanslag teen God is! Wie die Goddelike instelling van die huwelik op enige manier benadeel of in gevaar stel hetsy deur voor en buitehuwelikse seks (saamblyery), enige vorm van losbandigheid, duistere praktyke soos pornografie, maar ook “onskuldige pret” soos die dansbaan (waar die saad van wellus en ontrouheid fluks gesaai word), homoseksuele verbintenisse, ontrouheid teen jou huweliksmaat in enige vorm is ‘n rebel teen God en staan onder sy oordeel. Wat ons vandag beleef op die terrein van sedelike waardes is nie maar net ‘n opstand teen bepaalde tradisies of outydse norme nie, maar ‘n direkte uitdaging van God se gesag!

Hierop volg : Wie God se bedoeling met die huwelik vertrap, speel met vuur, want God is ‘n wreker van hierdie dinge. Om twee duidelike vermanings in die Nuwe Testament aan te haal:

"Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie; dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here 'n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het." (1 Tessalonisense 4:3-6)

“Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Hebreërs 13:4)

Mens wonder hoeveel van die smart en ellende in ons samelewing op die terrein van menseverhoudings kan aan hierdie Goddelike wraak gekoppel word?

Wie Jesus se lering oor die huwelik ernstig opneem sal natuurlik nie net vra, wat ons moet vermy nie, maar ook positief, wat ons moet doen sodat ons huwelike aan die Goddelike doel kan beantwoord? Wat doen ons om hierdie Godgegewe band te versterk in ons eie huwelike en die besef van die gewigtigheid van die huwelik onder ons kinders van kleins af te bevorder? Hiervoor is die wonderskone en oneindig ryk metafoor van die verhouding tussen Christus en sy kerk (as bruid) die norm en groot aansporing!

Naskrif : Ook vir diegene wat reeds in hierdie opsigte diep in die sonde geval het, bring die evangelie juis die hoop van vergifnis en herstel. (1 Korintiërs 6:10, 11. Let op die WAS in vers 11) Oor volledige vergifnis kliek op TWEEDE KANS en ook DAARDIE EEN SONDE!

*Ek is deeglik bewus van die kompleksiteit rakende die kwessie van egskeiding en hertrou. (soos byvoorbeeld die vraag oor wat vir ‘n Christen vandag ‘n geoorloofde grond vir egskeiding sou kon wees ens.) Hier probeer ek nie die volle Bybelse lering oor hierdie saak weergee nie, maar net die kernaspek van Jesus se lering soos dit spesifiek in Markus aangeteken word, weer onder ons aandag bring.

**"Want Herodes self het gestuur en Johannes gevange geneem en hom in die gevangenis geboei, vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, omdat hy met haar getrou het. Want Johannes het aan Herodes gesê: Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie. En Heródias het 'n oog op hom gehad en wou hom om die lewe bring en sy kon nie. Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister. En op die geskikte dag, toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy groot manne en die owerstes oor duisend en die vernaamstes van Galiléa 'n maaltyd gegee het; en toe die dogter van dieselfde Heródias inkom en dans, en Herodes en die wat saam aan tafel was, behaag, sê die koning vir die meisie: Vra my net wat jy wil, en ek sal dit aan jou gee. En hy het vir haar gesweer: Net wat jy my vra, sal ek jou gee, al was dit ook die helfte van my koninkryk. Daarop gaan sy uit en sê vir haar moeder: Wat sal ek vra? Toe antwoord sy: Die hoof van Johannes die Doper. En dadelik gaan sy haastig in na die koning en vra en sê: Ek wil hê dat u my op die daad die hoof van Johannes die Doper op 'n skottel gee. Toe word die koning baie bedroef, maar ter wille van die eed en die wat saam aan tafel was, wou hy haar nie afwys nie. En die koning stuur dadelik een van sy lyfwag met die bevel om sy hoof te bring; en hy het gegaan en hom in die gevangenis onthoof en sy hoof op 'n skottel gebring en dit aan die meisie gegee, en die meisie het dit aan haar moeder gegee." (Markus 6:18-28)

*** Veral gesien in die lig van die samewerking tussen die Fariseërs en die Herodiane waarna Markus reeds verwys het in 3:6 en  wat hy herhaal  in 12:13.

3 opmerkings:

  1. Johannes, hiermee ‘n skakel na ‘n baie mooi storie hie dit wel nog gedoen word. Mens kan net dink watter toewyding aan die Here so iets moontlik maak – en watter ware seen so ‘n paartjie sal hê. Dis juis omdat hy haar so liefhet en respekteer dat hy sy meisie sodanig beskerm en eer.
    http://www.godvine.com/read/wedding-prayer-243.html
    Groetnis.
    Wolf.

    AntwoordVee uit
  2. WYSHEID BEGIN BY DIE DIEN VAN DIE HERE (Spr) Die basis van enige huweliksverbintenis begin by die punt..dat ek heel eerste my Lewe weggegee het by die kruis aan die ware Verlosser...want dis nie meer EK nie MAAR HY IN MY!! Eers dan kan ek in 'n verbondsverhouding van die huwelik Jesus vir mekaar wees...Dan is daar nie so iets soos "vitamin I "( ME,MYSELF an I ) nie....maar dan is Die nuwe KONINKRYK reels tersprake.Die invloed van die Media op die kerk in die verband is skryend en skokkend (TV sepies, wat nie gemis word nie,Die oer oue Afrikaanse tydskrifte wat meer gelees word as DIE WOORD ens)!Wees waaksaam, want die vyand loop rond soos 'n BRULLENDE Leeu om te verslind!! Dankie Johannes vir die LIG wat skyn in die Noorde van Namibie.ALBIE

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie, Albie. Ja, g'n wonder die gemiddelde Afrikaner se lewe reflekteer deesdae eerder daai oeroue Afrikanertydskrif, HUISGENOOT se verdorwe waardes as die norme van God se Woord - en die gevolg is groot ellende!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.