BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 09 April 2013

WAT IS OPWINDENDE CHRISTENSKAP?

- verder oppad saam met die opgestane Jesus. 


Tydens Paasnaweek het ons die heerlike feite van Jesus se kruis en opstanding herdenk. Dit maak elke Christen bly. Maar die vraag is : Wat nou? As ons die boodskap van die kruis en die opstanding glo, ja as ons persoonlik redding en gewetensrus gevind het by die Lewende Verlosser, wat nou verder?  Wat maak mens om nie te stagneer nie? Jesus self gee vir ons rigting en koers... Hy wys hier kort voor sy Hemelvaart in Lukas 24:36-49 die pad verder aan. Glashelder duidelik... 

Nadat Hy homself aan sy dissipels openbaar het, lê die lewende Jesus (wat nie bloot ‘n gees was nie, maar vis en brood voor hulle oë geëet het) klem op drie sake in sy ontmoeting met sy dissipels. ‘n Mens kan aanneem dat dit die sake is wat Hy as eerste prioriteit en onmisbaar belangrik beskou vir al sy volgelinge. Jesus vat hulle terug na die Bybel, gee vir hulle ‘n opdrag en maak ‘n heerlike belofte. (al drie hierdie sake staan in die nouste verband met mekaar.) 

1.Jesus vat hulle terug na die Bybel. Dis duidelik uit sy hele bediening dat die Skrif (destyds die Ou Testament) vir Jesus geweldige gesag gedra het. Al was Hy die Seun van God, het Hy Homself steeds aan die Skrif onderwerp. Dit was sy kompas en bron van krag. (Dink maar aan die versoeking in die woestyn – hoe het Jesus elke slag die Satan vanuit die Skrif weerstaan!) Nou lees ons ‘n merkwaardige ding. Jesus open die dissipels se verstand om die Skrifte te verstaan. (45) Hoekom? Sodat hulle duidelik kan verstaan wie Hy is, wat die betekenis is van sy sterwe en opstanding, maar ook sodat hulle sy verdere plan en doel met hulle kan begryp. Dis opvallend dat Jesus nou na sy opstanding nie juis meer dramatiese wonderwerke gedoen het nie – die opstanding is mos opsigself die grootste wonder ooit! Dis nou nie die tyd vir die klem op verdere sigbare wonders nie, dis nou die tyd dat die dissipels (en ons) die wonders se betekenis sal verstaan en dis net uit die Woord wat hulle betekens duidelik word. God het bepaal dat ons die opgestane Jesus sal leer ken uit die Woord! Dit kan nie anders nie, want Jesus self is die hooffokus en die hoofinhoud van die Woord. (Ja, ook pertinent van die Ou Testament) Jesus stel dit self baie duidelik in vers 44. 

“Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is." 

Ons kan nie die Ou Testament anders lees as vanuit die vervulling in Christus nie! Al die wette, al die offers, al die profesieë vind hulle uiteindelike vervulling in Jesus. Maar meer nog, die hele heilsgeskiedenis loop uit op die hoogtepunt van die openbaring in Jesus! (Hebreërs 1:1) 

Ons ken Jesus deur die Bybel. 

Die klem val vandag dikwels op gesigte, visioene en allerhande profesieë en selfs op opgemaakte storietjies van mense wat in die hemel was en met Jesus sou gepraat het... Jesus maak dit hier onteenseglik duidelik dat Hy Homself aan ons bekend maak deur die Skrifte. Dis die metode wat Hy gekies het! Op baie subtiele maniere is mense besig om hiervanaf te wyk. So algemeen hoor mens : “Ek dink so of vir my voel dit en dat reg...” Mag ons weer eerlik en opgewonde vra : Wat sê die Skrif?* Nie enkele tekste uit verband geruk nie, maar wat is die duidelike geheelboodskap van die Bybel? Jesus self het sy dissipels se oë oopgemaak om die Skrif te verstaan. Hy doen dit vandag nog. Dis een van die duidelikste bewyse van ‘n ware geloof en ‘n egte verhouding met Jesus : liefde en begrip vir God se Woord! 
Die verdere pad saam met Jesus is ‘n pad met die Woord! 

2.Jesus gee vir hulle ‘n opdrag tot getuienis. Jesus gee ‘n duidelike boodskap wat hulle (en ons) moet oordra. Die boodskap gaan oor bekering en vergewing van sondes. Dis die hoofboodskap van die kerk- dis die inhoud van ons getuienis. Natuurlik doen ons dit op verskillende maniere, want die Here gee verskillende gawes, maar dit bly die boodskap wat alle mense met wie ons in aanraking kom moet hoor: bekeer julle en julle sonde sal vergewe word! Alle dissipels moet hiermee erns maak. Die vinnige groei van die Christelike kerk in die eerste eeue was nie weens beroepssendelinge nie, maar as gevolg van gelowiges wat hierdie boodskap met ‘n passie verkondig en geleef het. Vandag het die kerk hierdie visie grootliks verloor. Ons hoofaktiwiteit is nie meer sending nie, maar selfgesentreerdheid en stagnasie of sosiale opheffingswerk... (dikwels is die kerk net maar nog ‘n NGO) Weet/besef jy dat jy ‘n sendeling is, kind van God? Môre oggend klok jy in vir sendingwerk, op jou plaas, in die klaskamer, in die besigheid, in die spreekkamer... Elke mens is of sendeling of sendingveld! Die verdere pad saam met Jesus is ‘n pad van getuienis! 

3.Jesus maak ‘n heerlike belofte oor toerusting. Jesus weet baie goed dat die taak wat Hy vir sy leerlinge gee, byna bo-menslik moeilik en onmoontlik is. Daarom gee Hy hier die belofte van die Heilige Gees. (vergelyk Handelinge 1:8) Ons weet hierdie belofte is op Pinkster vervul. Die Gees van Jesus is vir eens en vir altyd aan die Kerk geskenk. (In Handelinge 16:7 word die Heilige Gees pertinent, die Gees van Jesus genoem) Dis hoe Jesus by ons is... Ons weet uit die geskiedenis hoe die Heilige Gees die bang wegkruipende dissipels in dapper krygsmanne vir die evangelie verander het... Deur die eeue is die krag van hierdie belofte bewys. Hoekom getuig ons so min, hoekom is ons getuienis as ons dit wel doen so kragteloos? Ons doen dit (probeer) sonder die krag van die Heilige Gees! Dit kan wees dat jyself nie die Heilige Gees ontvang het nie, want jy het nog nooit werklik ‘n kind van God geword nie. Dit kan wees dat jy ‘n kind van God is, maar jy bedroef die Heilige Gees of jy blus Hom uit. Dit gebeur wanneer ons sonde in ons lewens toelaat, veral sondes van onvergewensgesindheid, bitterheid. Ons word verswak deur kompromieë met sonde. Onderwerp jou aan die Gees, en onthou Hy werk via die Woord! Die verdere pad saam met die opgestane Jesus is onmoontlik sonder onderwerping aan die Heilige Gees! 

Jesus het waarlik opgestaan. Ons is bly! Regtig? Hoe ernstig voel ons werklik oor die opgestane Jesus? Dis maklik om te toets. Maak ons erns met die Woord en die opdragte daarin? Is ons besig met ons getuienistaak as prioriteit en daaglikse werklikheid? Is ons sensitief vir die Heilige Gees? 

Die opgestane Jesus se wil en plan vir sy volgelinge en leerlinge is baie duidelik : 

Woord gefundeerde en Geesvervulde getuies!

Dis opwindende Christenskap!

*Omdat hierdie vraag nie deeglik gevra en die antwoord gesoek word nie, val so baie vir vals profete soos Marietta Theunissen en Abel Pienaar se verdigsels. Kliek op ABEL PIENAAR.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.