BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 01 Januarie 2013

VIR 'N VRUGBARE EN VREUGDEVOLLE 2013


- skud af die greep van die gisters.

Ek het gister weer ‘n bietjie geloer in die welbekende en beminde dagboek, “MY ALLERBESTE VIR SY ALLERHOOGSTE” van Oswald Chambers. Dis so waar wat hy sê in sy stukkie by 31 Desember: “Ons huidige genot van God se genade voel asof dit getemper word deur ons herinnering aan gister se sondes en flaters.”  

So waar! Dis mos so dat die klank van  gisteraand 12 uur  se klokslag  nie die sondes van die verlede kan uitdoof nie.  Die grootste dosis desibels van nuwejaarsjolyt kan ook nie die sagte stem van die gewete tot swye bring nie. Daardie stem wat ons skuldig en  nutteloos laat voel. Die gewete wat maak dat die gisters (van 2012 en nog verder terug) wreed vir ons grynslag en gedurig herinner : “Onthou jy nog? Onthou jy wat jy daardie dag gesê en gedoen het? Onthou jy die hartseer wat jy veroorsaak het? Die kanse wat verspeel is? Die sondes wat onherroeplike skade, skande en leed veroorsaak het?”  As al ons gruwelike gisters ‘n greep op ons gemoed kry, gaan ons die nuwe jaar in met ‘n stuk sielsverlamming. Vol onvrede en vrees!

Vir die kind van God is daar egter ‘n blye oplossing, want daar was ‘n kruis! O, my vriend, moenie vergeet nie, daar was ‘n kruis, ‘n vloekpaal! Jesus het daar gehang, die vlekkelose Lam van God, ja, maar Hy was op daardie oomblik, bedek...besmeer met al die gruwelike sondes van ons gisters. God het Hom toe daar as sondaar “behandel” (2 Korintiërs 5:21) Dit het behels dat God se toorn op Jesus neergekom het, dat ons sonde volledig gestraf is, dat Goddelike geregtigheid geskied het, volgens die eise van die wet. 

Elkeen wat sy hoop op Jesus stel, kan dus weet : “My gisters is uitgewis! In God se boeke bestaan dit nie meer nie!”  Die feit van die kruis bring dus ‘n antwoord aan my  beskuldigende gewete.  Aardse offers deur aardse priesters (van die Ou Verbond) kon nie hierdie volle vrede bring nie, maar Jesus se volmaakte offer (van die Nuwe Verbond) wel, soos Hebreërs 9:13,14 dit stel:

“Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!”

Hierdie bevryding van die gisters vind plaas as ons die waarheidsbelofte van die Nuwe Verbond glo : “Oor hulle ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” (Hebreërs 8:12)

Ons begeer almal ‘n vrugbare vreugdevolle diens aan God en in sy teenwoordigheid  in 2013. Die geheim is om vas te hou aan die volkome genoegsame versoeningswerk van Jesus aan die kruis! Om kinderlik te glo, dat sy offer ook vir my, vir my die ellendigste van alle sondaars genoeg was. So word daar afgereken met ons gruwelike gisters en so vind ons die vryheid om die toekoms tegemoet te gaan!

Ja, ons kan leer uit die foute en sondes van die gisters, maar hulle kan ons, wat ons vertroue op Jesus stel, nie meer vashou en verhinder om God nou met ‘n rein gewete te dien nie.

Chambers sluit af : “Ons gisters hou vir ons gebroke onomkeerbare dinge in. Dit is waar dat ons geleenthede verspeel het, wat nooit weer sal terugkeer nie, maar God kan hierdie destruktiewe angstigheid verander in konstruktiewe bedagsaamheid vir die toekoms. Laat die verlede met rus, maar laat dit rus in die soet omarming van Christus. Laat die gebroke, onomkeerbare verlede in sy hande en betree die onoorwinlike toekoms met Hom.”

Mag 2013 ‘n groter besef van die genoegsame genade in Jesus by ons werk en ons so aanspoor tot groter  gehoorsaamheid en vreugdevolle diens aan God ons Verlosser! Mooi jaar vir jou!


Robbe by Kaapkruis. Of hulle vreugdevol is sal ek nie weet nie, maar vrugbaar is hulle wel!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.