- “snydende” sarkasme van ‘n liefdevolle apostel.
Die apostel Paulus het seker die
wêreld se bekendste lofrede op die liefde geskryf. Ons almal ken die aangrypend
wonderskone 1 Korintiërs 13 en het altyd maar weer nodig om daarna terug te
keer en onsself opnuut met hierdie tydlose waarhede te verfris! En nou is dit juis hierdie apostel, ‘n kenner
van die liefde wat met amper ‘n skurwe en
skokkende stuk sarkasme die Galasiese dwaalleraars bykom. Die
Judaïseerder valse leraars wat
gemeentelede wou omhaal om weer die tora voorskrifte oor die besnydenis te
onderhou, kry ‘n bitsige teregwysing van
Paulus se kant af : “Ek wens die mense wat díe verwarring onder julle stig, wou
hulleself dan maar heeltemal ontman!” (Galasiërs 5:12) Dis asof Paulus byna in desperaatheid oor
hierdie vernietigende onkunde smalend raak en sê : “Laat julle misleiers dan
nou maar hulle waansin tot die uiterste volhou en hulle dan nou maar sommer
self kastreer!” * Harde woorde!
Waarom haal ek nou hierdie sterk
woorde van Paulus op? Dit gebeur so dikwels dat iemand wat vir die waarheid opkom van liefdeloosheid
en onverdraagsaamheid beskuldig word. Dis ‘n beskuldiging wat vir elkeen na wie
dit kom tot ernstige nadenke en selfondersoek behoort te stem. Ja, want ons
weet mos dat die liefde die grootste gebod is, maar juis ook die een wat ons as
selfgesentreerde mense die maklikste oortree. (en wie van ons is nooit hieraan
skuldig nie?)
En tog moet ons ook met nugterheid kennis neem van ‘n buite
konteks verabsolutering van ‘n normlose liefde wat kwistig deur die
media gepropageer en selfs deur teoloë nagepraat word. Liefde sonder die konteks en merkers van
die waarheid verval maklik in ‘n
sentimentele onsinnigheid. Kom ek probeer verduidelik : Ons moet God liefhê,
maar hierdie God is nie sommer enige god nie! Hy is byvoorbeeld nie Boeddha nie, en Hy is ook nie die
innerlike self-mensgod of kosmiese energie van die New Age nie! Die punt is :
om God te kan liefhê is waarheidsonderskeiding gegrond op die Bybel nodig! Want daar is sekere gode wat ek juis
nie mag liefhê nie. Dieselfde geld die gebod om ons medemens lief te hê. Slegs
die Woord van God kan vir ons inhoud aan hierdie liefde gee. Van Zuma (wat ons
daarin herinner om nie honde bo mense te stel nie!!!) tot goddelose Hollywood
sterre gebruik die begrippe ubuntu, liefde en
verdraagsaamheid... maar hulle is heel
gemaklik as dit selfgesentreerde losbandigheid en sedeloosheid insluit. Hierteenoor het Bybelse liefde duidelike
norme. Liefde is nie maar net om altyd
te probeer “nice” wees nie, liefde is harde werk en ‘n duidelik uitgestippelde
leefstyl volgens die opdragte en grense van die Skrif.
Bybelse liefde beteken nie om ten
alle koste “nice” te wees nie, veral nie met dwaalleraars wat Bybelse waarhede ondergrawe nie.
Die groot drie van 1 Korintiërs
13 (Geloof, Hoop en Liefde) kan nie van die evangelie waarheid losgemaak word
nie. Alleenlik omdat Jesus Christus
histories ligaamlik gesterf en weer
opgestaan het, kan ek geloof, hoop en liefde beoefen. My geloof het ‘n inhoud : Jesus die enigste
Middelaar met sy saligmakende sterwe en opstanding. My hoop het ‘n vaste grond
en waarborg : sy genoegsame heilswerk wat vir my ‘n ewige toekoms verseker. Die liefde wat my dring om liefde te bewys is
juis die liefde wat histories aan die kruis gestalte gevind het – die enigste
norm vir ware liefde!
Is dit dan liefdeloos om hierdie
evangelie waarhede kompromisloos te verkondig en kragtig te stry vir die geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges
oorgelwer is? (Judas vers 3) Die term liefde word so maklik rondgegooi, maar is
dit nie juis ‘n bewys van gebrekkige liefde as ons toelaat dat teologiese professore kosbare geroepenes aan
ons fakulteite vergiftig met twyfel oor die opstanding en dat hulle daardie gif
oordra aan getroue lidmate wat Sondag na Sondag opkom om te hoor wat sê God
se Woord nie? Is dit nie juis ‘n gebrek
aan liefde wat maak dat ons hande gevou sit en toekyk hoe opregte gelowiges wat
aan God se Woord getrou wil wees verwar word, deur leringe wat ons vertel dat ons
God al die jare met ‘n verkeerde Naam en op ‘n verkeerde dag aanbid het nie? Moet ons stilbly as daar verkondig word dat God alle mense ryk en gesond wil maak, hier en nou?
Om terug te kom na Paulus se kras
uitspraak. Ek dink ons kan vanuit die konteks van die Galasiër brief, baie
hieruit leer. Paulus maak ‘n duidelike
onderskeid in hoe hy die dwalende (reeds of in die proses) gemeentelede aan die eenkant
en die dwaallerende ketters aan die
anderkant hanteer en aanspreek. Paulus se hart gaan uit na die misleide
gemeentelede. Hy smeek hulle met ‘n moederlike besorgdheid om terug te keer na
die vryheid van die evangelie en die volheid in Christus alleen. “My kinders,
ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry.”
(Galasiërs 4:19) Ja, hy vertel die waarheid aan hulle onbeskroomd en vra hulle
mooi om dit tog nie as vyandskap te sien nie. (Galasiërs 4:16) Maar vir die
gewetenlose leraars wat die gemeente van
die waarheid probeer weglok, het Paulus geen sagte woordjies nie,
inteendeel... Die rede is duidelik :
dwaalleer (en hier praat ons nie van bloot verskillende interpretasies rondom
byvoorbeeld die doop en die manier van Jesus se wederkoms nie, maar kernsake
soos die ontkenning van die Godheid van Jesus Christus, sy genoegsame offer aan
die kruis, sy ligaamlike opstanding...)
ondergrawe mense se geloof! Dit het Paulus goed besef en daarom verklaar
hy : “daarmee vernietig hulle die geloof van sommige” (sien 2 Timoteus 2:16-18)
Wat wil ek met bogenoemde probeer
sê? Met kinders van God wat onder die invloed van dwaalleer gekom het, moet ons
reguit volgens die waarheid, maar in groot liefde, nederigheid, geduld en
wysheid werk. Maar valse profete moet
nie verwag om met mooi woordjies gepamperlang te word nie! ( 2 Petrus 2 handel hieroor en is ‘n hoofstuk wat ons
almal moet laat sidder) Nog minder moet hulle dink dat ons hulle gaan vlei met : "ons kan so baie by julle leer!"
Ten slotte net twee praktiese
opmerkings waaraan elkeen wat vir die waarheid teen valse leringe opstaan
gedurig herinner moet word:
1. Verkondig die waarheid op ‘n
positiewe manier en met blydskap. (Ouers, dit geld natuurlik ook vir die manier waarop ons huisgodsdiens hanteer!) Die waarheid van die evangelie is immers ‘n
blye boodskap wat bevryding bring! Ja, spesifieke dwalinge moet soms by die
naam aangespreek word, maar laat die
klem val op die waarheid self. Dit voed en bou die gelowiges en stel hulle
instaat om self te kan onderskei.
2. Pasop vir ‘n siniese bitterbek
ingesteldheid. Daar is so ‘n magdom van valse leringe rondom ons dat mens
maklik perspektief (en jou vreugde in Jesus) kan verloor. Daar
bestaan die gevaar van ‘n oorpessimisme, wat vergeet dat Christus self
sy Kerk instand sal hou. Daar is ‘n
slaggat van kleinsielige foutvindery en
haarklowery. Dit dreig om elkeen wat daarin val, nutteloos te maak vir die saak
van die Koninkryk!
Mag God ons ‘n gesonde balans gee om ons te
bewaar van passiwiteit in die aangesig van dwaling, maar ook van ‘n mensgedrewe
en eiesinnige aktivisme! Mag die norm van God se liefde ons hierin rig!
*Die Franse, La Sainte Bible gebruik inderdaad hierdie term.
“qu’ils se châtrent!”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.