BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 18 Januarie 2013

TOERTYD NA ISRAEL

hoe belangrik is ‘n besoek aan Jerusalem?

Ek luister nou die dag in die motor oppad terug van Windhoek na ‘n Kanaal 7 onderhoud met die sanger Hessel van der Walt waarin ‘n komende toer na Israel gepromoveer word. Om na enige land, ook na Israel te toer is sekerlik ‘n groot voorreg, waaruit ‘n mens baie kan leer en verryk kan word.  So as jy in Israel gaan toer, geniet dit! Maar die onderhoud het my tog gehinder.  Die spreker beweer : “Soos elke Moslem een reis na Mekka in sy leeftyd moet onderneem behoort elke Christen ook Jerusalem/Israel te besoek.”* Verder word ‘n toer na Israel ook gekoppel aan die Ou Testamentiese beloftes wat voorspel dat die nasies na Jerusalem sal toestroom.

Kom ons kyk bietjie na ‘n Bybelse perspektief op hierdie twee sake wat aangeroer is:

1.Hoe belangrik is dit vir ‘n Christen om die land Israel te besoek? Dis natuurlik beslis nie verkeerd nie. Die agtergrondskennis wat tydens so besoek opgedoen word, sal waarskynlik help om gedeeltes van die Bybel vir mens op te helder en in perspektief te plaas. ‘n Toer saam met medegelowiges na die land waar Jesus geleef het, sou beslis geestelik verdiepend kon wees. En tog moet ons waak teen die oorbeklemtoning van die rol wat ‘n bepaalde plek, stad of land in ons geloof kan speel. Daar is ‘n goeie rede waarom die Nuwe Testament nêrens Christene oproep om ‘n besoek aan Jerusalem te bring nie.

 In die bedeling van die Nuwe Verbond is die vereiste vir ware aanbidding nie meer ‘n plek  nie, maar ‘n PERSOON, Jesus Christus. 

Hieroor is Johannes 4:23 waar Jesus in gesprek met die Samaritaanse vrou is, baie duidelik. Jesus verklaar plegtig : “Maar daar kom ‘n tyd en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.” Jesus gee hierdie kommentaar na aanleiding van ‘n diskussie of aanbidding in Jerusalem of by die berg Geresim van die Samaritane moet geskied.

2. Is dit nodig vir die vervulling van profesie dat mense van alle nasies ‘n vliegtuig moet vat na Israel en in Jerusalem gaan aanbid? Dis so belangrik om die Ou Testamentiese profesieë se vervulling in Christus reg te verstaan. Die patrone in Israel se geskiedenis word op ‘n dieper manier herhaal.  Die profete voorspel ‘n nuwe eksodus, maar die verlossing is nou nie meer uit ‘n letterlike Egipte of Babel nie, maar dis nou die verlossing uit die slawerny van sonde. (Jeremia 16:15,16, Jesaja 40:3-4; 41:17-20; 43:1-2 ens.) Die ou Sinaï Verbond maak plek vir ‘n Nuwe Verbond, waar die klem nie val op uiterlike handelinge nie, maar op God wat sy wette in ons harte skrywe. (Jeremia 31:31-34) Daar gaan ‘n nuwe “Dawid” wees wat oor die geredde oorblyfsel van God se volk as Herder-Koning sal regeer. (Jesaja 11:1; Esegiël 34:11-13, 23-25) Dis tog Jesus, wat oor ons regeer deur sy Woord en sy Gees!  Nou wat beteken dit dan as ons lees Sion gaan herstel word en baie volke sal na Jerusalem kom om die wil van God te ken? (Sagaria 8:20-23) Hier is die gebeure aan die begin van Handelinge ontsettend belangrik en insiggewend. Jesus se eie disippels het na sy opstanding ook so ‘n letterlike herstel van ‘n aardse Koninkryk verwag. Hulle vra daarom vir Hom : “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Jesus se antwoord is uiters veelseggend : “Dis nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:6-8) Kyk wat gebeur hier. Die Ou Testamentiese beloftes van die nasies wat geseën word en na Jerusalem sal stroom, word juis vervul as Jesus se dissipels die hele wêreld deurgaan (weg van Jerusalem af!) en die evangelie verkondig! Hoe so? Deur die evangelieverkondiging kry gelowiges uit alle nasies deel aan die verlossing en word so deel van God se volk! “Aanbidding in Jerusalem” is nie ‘n erediens of lofprysingsgeleentheid by een of ander toeriste aantreklikheid nie, ware aanbidding vind plaas in Jesus Christus, die ware Tempel van God, in wie die heerlikheid van God woon! (Johannes 1:14) Jesus is gelukkig orals te vinde vir die wat Hom waarlik soek, ook hier in ons eie Namibië en daar waar jy jou nou op hierdie oomblik bevind! Wanneer mense uit alle nasies Jesus as Verlosser aanvaar word die wonderlike profesieë in Sagaria en baie ander Ou Testamentiese gedeeltes vervul – trouens dit gebeur oral oor die wêreld heen, daagliks, ook tussen ons!

Gelukkig hoef ons nie duur vliegtuigkaartjies na Jerusalem te koop om die volle seën te ontvang wat die profete van ouds beloof het nie! (Buitendien dan sou net ryk Westerse Christene in hierdie seën kon deel) Die volle seën van God is te vinde in Jesus Christus en word deur die kragtige vernuwende en oortuigende werk van die Heilige Gees aan ons bevestig en openbaar!

Jesus vereis nie van ons om na Jerusalem te toer nie, Hy roep ons wel om die wêreld te deurkruis met sy evangelie – begin hierdie evangelie sommer vandag nog te verkondig en te leef, daar waar jy is...en waar Hy jou ookal lei!

*Dalk nie presies verbatim nie, maar tog die strekking.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.