BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 14 Januarie 2013

KUMBH MELAH

- badfees in die vuil rivierwater.

“Ek het my sondes afgewas”, het Mandita Panna, ‘n Nepalees en een van die vroeë baaiers by die Kumbh Melah van 2013 verklaar volgens die BBC. Die Kumbh Melah fees is na bewering die wêreld se grootste byeenkoms van mense en het so pas in Indië begin. Die mensemassas wat by hierdie Hindoe ritueel betrokke raak, is inderdaad duiseligwekkend. By 2001 se Kumb Melah was daar blykbaar 40 miljoen mense, maar hierdie jaar word 80-100 miljoen pelgrims verwag. (o, ja en sowat ‘n miljoen toeriste ook nog!) Vanjaar is dit ‘n besondere geleentheid, want dit is ‘n Maha (groot) Kumb Melah wat net elke 12 jaar gevier word in vergelyking met die Ardh (halwe) Kumb Melah van 2007 wat elke 6 jaar gehou word.

Die Kumbh Melah behels ‘n 55 dae lange fees waartydens pelgrims by Allahabad by die samevloei van die Ganges en Yamuna riviere hulle in die vuil rivierwater begeef. Hierdie mense is so deur die Satan verblind, dat hulle glo dat hulle deur die water van hulle sondes gereinig sal word en so verlossing kan vind. Dis soos ons weet ‘n bose leuen; al wat met jou in hierdie erg besoedelde “badwater” kan gebeur is om een of ander siekte op te tel. Erger, jy word nog net meer deur die magte van die duisternis gebind en verblind! Voorwaar is die duiwel ‘n mensemoordenaar soos Jesus dit self sê in Johannes 8:44. Mens kry amper die indruk dat Satan direk agter ‘n fees soos hierdie sit om mense weg te hou van die enigste ware reinigingsmiddel, die kosbare bloed van Jesus Christus. Die bloed van Jesus, God se Seun reinig ons van alle sonde soos ons in 1 Johannes 1:7 lees. Vertroue op Jesus se plaasvervangende offerdood aan die kruis is die enigste manier hoe ons rein voor God kan staan met ‘n skoon gewete.

Mag elkeen van ons wat Jesus aanvaar het, dankbaar wees oor sy genoegsame kruisdood en ons daarin verheug! Mag ons hierdie boodskap helder oordra aan ‘n wêreld in duisternis, want nie net die Hindoes in Indië nie, maar ook baie mense tussen ons, ja selfs kerkmense glo dat sonde weggeneem kan word deur menslike rituele,  morele verbeterings of godsdienstige prestasies.

Die Kumbh Melah is beslis nie 'n toeriste aantreklikheid soos deur sommige bemark nie, maar eerder 'n demonstrasie van demoniese duisternis... Mag dit elke Christen aanspoor om te bid vir die uitbreiding van God se Koninkryk op aarde!


Volgens skatting het sowat 8 miljoen baaiers op die eerste dag deelgeneem. (foto BBC)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.