- Praying Johny
Die Quarterly Meeting van die Primitive Methodist Connexion, gehou in Bridlington, 1823 moes ‘n belangrike besluit neem. Die evangelisasiewerk in die dorpie Filey, in die noorde van Engeland was in die weegskaal. Alle pogings om in hierdie goddelose dorpie ‘n impak met die evangelie te maak het misluk. Die inwoners het verhard en onverskillig gebly. Miskien het die tyd gekom om waardevolle werkers na ander gebiede wat meer ontvanklik was te verskuif.
Praying Johny, oftewel John Oxtoby het na die argumente geluister. Sy
hart vol medelye is diep geraak deur die moontlikheid dat hierdie dorp so aan
ongeloof oorgelaat moes word. Toe sy opinie gevra is, het hy passievol
gereageer : “What do I think? I think the Lord has a great work tot do at
Filey, and if you will send me I will go and live upon potatoes and salt, and
lie on a board if necesarry before it shall be given up.”
Oxtoby se aanbod is aanvaar, en
hy het met sy karige besittinkies in ‘n sak die pad gevat na Filey toe. Toe een
van sy vriende hom vra waarheen hy gaan het hy geantwoord : “To Filey, where
the Lord is gannin to revive his work.”
Toe Johny die dorpie in sig kry, het hy
op sy knieë agter ‘n heining neergeval en by God begin pleit vir die plek. ‘n
Paar uur later het ‘n meulenaar toevallig daar verby gegaan en vreemde geluide
gehoor agter die heining. Dit het vir hom geklink soos twee persone wat in ‘n argument betrokke was. Johny het soos
Jakob van ouds met God geworstel totdat hy seker was dat God hom verhoor het.
Terwyl hy van sy knieë opstaan het hy uitgeroep : “It is done Lord, it is done!
Filey is taken! Filey is taken!” Dit was inderdaad die geval. ‘n Herlewing het in Filey uitgebreek.
Wie was hierdie merkwaardige
gebedstryder, John Oxtoby? Geen geleerde nie, maar ‘n eenvoudige plaasarbeider.
Hy is gebore in 1767 op ‘n plaas by Little Givendale naby York. As ‘n kind van
plaaswerkers het hy slegs basiese skoolopleiding ontvang. Vir baie jare
het Oxtoby ‘n lewe sonder kennis van God
geleef, maar in 1804 het sy koers drasties verander. Deur die woorde van ‘n
rondreisende Metodiste prediker is sy gewete aangespreek. So ontsteld was hy
dat hy nie kon slaap of eet nie. Hy het tot God geroep vir genade. Hy het nie
onmiddellik ‘n antwoord ontvang nie. Eers na ‘n langdurige stryd van etlike
maande het hy die versekering van God se vergifnis deur Jesus Christus gekry.
Nou het sy begeerte om hierdie vreugde
met familie en vriende te deel, geen perke geken nie. Sy pogings is met
vyandskap en onverskilligheid begroet, maar het tog later begin vrugte afwerp
weens sy volharding.
Die dramatiese verandering in
Oxtoby kon ook nie misgekyk word deur die mense van die dorpie, Warter nie.
Johny het elke huisie en gehuggie besoek. Aanvanklik is die deure dikwels in sy
gesig toegeklap, maar gaandeweg het daar verandering gekom. Johny het opregte
belangstelling in die huismense se nood en probleme getoon en altyd saam met
hulle gebid. So het hy die bynaam, “Praying Johny” gekry. Die mense van Warter
het spoedig ook verlang om hulle eie kerkgeboutjie te hê, en dit was Johny self
wat ‘n geskikte stuk grond geskenk het sowel as ‘n bydra vir die oprigting van
‘n gebou. Vir die volgende 15 jaar het Praying Johny persoonlik evangelisasiewerk
gedoen in die dorpies van Oos Yorkshire. Hy het in assosiasie gewerk met die
Weslyaanse Metodiste, maar het steeds sy beroep as plaaswerker beoefen.
Op 52 jarige leeeftyd het Johny
by die Primitive Methodists aangesluit. Dit was ‘n groep wat ontstaan het
vanuit die werk van Hugh Bourne, William Clowes en Daniel Shubotham. Dit was manne met ‘n passievolle geestelike energie.
Op hierdie tydstip het die oorsponklike Metodiste baie van hulle eertydse vuur
verloor en Bourne en sy vriende is uitgeskop uit die plaaslike Methodist
Society weens hulle aandrang op evangelisasie metodes wat nie vir die Society
aanvaarbaar was nie. In 1812 het hierdie manne en talle van die gelowiges wat
die resultaat van hulle prediking was ‘n nuwe assosiasie gevorm. Hulle het die
naam, Primitive Methodists gekies as ‘n uitdrukking van hulle begeerte om iets
te herwin van die evangeliese ywer wat voorheen by die Wesley broers, George
Whitefield en ander vroeëre Metodiste aanwesig was.
Benewens die gawe van gebed, het
Praying Johny ook die verwante gawe van geloof gehad en baie verhale het die
rondte gedoen van merkwaardige antwoorde wat hy op sy gebede ontvang het. Een
so ‘n verhaal gaan oor ‘n meneer Stephenson van Hull wat in groot angs verkeer
het oor ‘n skip van hom wat nie op die
verwagte tyd teruggekeer het nie. Verlies van die skip sou groot skade
meebring, maar om als te vererger was sy eie seun ook aanboord van die skip. Hy
het sy probleem met Johny gedeel, wat homself gewend het tot vas en gebed oor
die saak. Na ‘n tyd het God aan Johny die innerlike sekerheid gegee dat als
goed sou afloop en dat die vaartuig en almal aan boord veilig sou wees. Johny het met die oog van geloof, die skip
“gesien”. So seker was hy van sy saak dat hy vir Stephenson verseker het dat hy
die skip sou herken as hy terugkeer sonder dat hy dit self ooit met sy fisiese
oë gesien het. Weke het verbygegaan sonder enige nuus. Einde ten laaste het die
skip teruggekeer. Stephenson het Johny laat haal en hom gevra of hy die skip
sou kon uitwys tussen die honderde ander in die hawe. Johny het hulle deurgekyk
en skielik uitgeroep : “That’s the ship which God had showed me while at
prayer! I knew she would come home safely and that I would see her.” Hy was reg!
John Oxtoby was ‘n
gedetermineerde sielewenner. Sy joernaal gee duidelike bewyse van die genade en
krag van God wat gepaard gegaan het met sy prediking en ‘n ryke oes van
bekeerlinge tot eer van God opgelewer het.
Soos Johny geleef het, het hy ook
gesterf. Hy wat naby Jesus geleef het, het
ook sy Verlosser se
teenwoordigheid in sy sterwe ervaar. Aan ‘n vriend het hy gesê Christus was
“present and precious – wonderfully precious to my soul.” Vir ‘n ander vriend :
“Tell them, all the former manifestations I have had are nothing compared with
those I now feel.” Tydens sy lewe het hy
‘n las vir siele gehad wat hom aangevuur het om in gebed in te tree. Met sy laaste kragte het hy nog fluisterend
gebid : “Lord, save souls : do not let them perish” Sy finale woorde was :
“Glory, glory, glory.” Op 19 Januarie
1830 het Praying Johny in die heerlikheid van sy Heer ingegaan! Hy is in Warter
begrawe.
Sal hierdie nederige kneg van God
se lewe ons nie tog ook aanspoor om hierdie jaar volhardend in gebed voor ons
Verlosser te leef nie?
Verwerk uit “SINGING IN THE FIRE”
van Faith Cook. Die boek bevat ook wonderlike verhale van minder bekende
geloofshelde soos Edward Payson, Wang Ming-Dao, Thomas Hogg, William Bramwell, Allen
Gardiner, die Saphir familie en andere.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.