BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag, 26 Julie 2012

FEIT : DIE TYD IS MIN!

- herrangskik jou prioriteite.

1 Korintiërs 7:29 verklaar : “Die tyd is min.”  Dis ’n vaste feit. Dis onomstootlik waar. Dit geld vir elkeen van ons. Dis  waar in ten minste twee opsigte :

Ons lewens is kort en onseker en kan enige oomblik tot ’n einde kom. Die Bybel is realisties as dit ons leer dat die lewe maar ‘n kortstondige dampie is. (Soos daai stoompie by die ketel se tuit wat so vinnig verdwyn) Ons lewe is soos veldgras wat gou na die laaste reëns verdor.

Die Wederkoms van Jesus is voor die deur. Dis waarskynlik veral wat Paulus in hierdie konteks bedoel. Ons lewe in ’n unieke tydsgewrig in die geskiedenis. Die laaste dae.* Die koninkryk van God het naby gekom. Dis die tydperk tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms. Die wêreldgeskiedenis spoed nou voort na ’n beslissende einde... Dis nou die tyd van keuse, wat ons ewigheidsbestemming bepaal. Dis ‘n tyd van geleentheid, maar ook ‘n gevaarlike tyd. Vervolging, versoeking en verleiding... Ons moenie nou kop verloor nie, ons durf nie van koers af gaan  nie...

Die tyd is min. Hierdie aardse bestaan en bestel gaan binnekort vir altyd verby wees.  Dis die groot agtergrondsfeit wat ons hele bestaan hier op aarde kleur.  Hierdie feit behoort  al ons keuses te beïnvloed. Waarmee ons ook al besig is - dis die waarheid wat ek altyd hier in my agterkop moet hou. 

Wat is die regte houding in hierdie tyd?  Paulus sê vir ons baie duidelik wat ons benadering en houding in hierdie tyd moet wees.

Paulus praat hier in 1 Korintiërs 7 oor verskeie vrae rondom  die huwelik. Hier maak hy amper ‘n terloopse opmerking, maar wat diepgaande besinning van elkeen van ons vra. Volgens Paulus se  persoonlike gevoel was dit  beter om nie te trou nie. Hy sê nie dis verkeerd om te trou nie, maar “as jy getroud is”, sê Paulus,  moet jy “leef asof jy nie getroud is nie.”  Sjoe, dis radikaal! Wat sou hy bedoel? Die huwelik is tog die intiemste en belangrikste verhouding waarin mens op aarde staan.  Dis goed en mooi en reg en deur God self ingestel. Paulus self teken die belangrikheid daarvan o.a. in Efesiërs 5.

 So wat wil Paulus eintlik sê? Selfs nie eers iets so belangrik soos die huwelik moet ons aardse bestaan oorheers nie. Ons mag nie opgaan in die huwelik  asof dit nou die essensie van die lewe is nie. Dis baie waardevol maar ons lewe moenie daarom draai nie. Die huwelik,  hoe goed ook al is nie die einddoel of sin van die lewe nie. Ons harte moet los wees van selfs ons kosbaarste verhouding op aarde. Dis wat die dringendheid van die  tyd van ons eis. Die Here Jesus en sy Koninkryk is belangriker selfs as die intiemste en wonderlikste verhouding. Daar is nou iets groter en belangriker, selfs as die  huwelik. Dis om gereed te wees vir die koms van Jesus. Dit gaan hier oor die beginsel van ondergeskikte prioriteit. Daar is baie wonderlike en belangrike dinge, maar een saak is belangriker as alles. Alles is minder belangrik as  hierdie een belangrike saak nl. Die Koninkryk van God. As hierdie beginsel geld vir iets soos die huwelik geld dit onteenseglik ook vir al die fasette en terreine van ons lewe.

Paulus gaan nou  verder en noem voorbeelde van dinge wat belangrik is, maar wat nie ons lewens totaal moet bepaal of in beslag neem nie. Dis dinge waarby ons as mense noodwendig  betrokke sal wees, maar waarvoor ons moet pasop dat dit nie ons lewens sal oorheers nie. Ons harte moet los wees van hierdie dinge al is dit nie opsigself slegte dinge nie.....

Kom ons kyk na die sake wat hy hier aanraak:

Hartseer. (“Dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie.”). Hartseer en droefheid  is deel van ons almal se lewens - ook kinders van God. Ons ondervind pyn, teleurstellings, mislukkings.... Dis nie verkeerd om te huil en bedroef te wees nie. En tog, die tyd is so dringend, Jesus se koms so naby, daar is soveel om vir die koninkryk te doen,  ons moenie gaan stilstaan by ons droefheid nie. Ons moenie gaan lê onder ons hartseer nie. Moenie vashaak by die seer van die verlede nie. Hierdie dinge mag nie al ons aandag in beslag neem nie. Dit mag nie al ons tyd en krag vat nie. Ons moet huil en klaar huil en aangaan om vir Jesus te leef. Hy sal wel eendag al ons trane afvee.

Vreugdes en plesier. (“Dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie.”) As mense is daar baie dinge wat ons bly en opgewonde maak. Dis nie verkeerd nie. God gee vir ons dinge om te geniet (1 Tim 6:17),  maar net soos die hartsere, mag die vreugdes nie ons lewe oorheers nie. Die tydelike vreugdes mag nie ons visie op die ewige Koninkryk verdof nie. Ons moet pasop dat ons smaaklike vreugdes nie ons aptyt bederf vir die feesmaal wat God vir sy kinders voorberei nie. Onthou alle vreugdes is maar vaal in vergelyking met die heerlikheid wat wag vir God se kinders. Ons harte moet dus los wees daarvan. Geniet dit wat God oor jou pad bring, maar die tyd is so kort, die Koninkryk kom eerste.

Normale werksaamhede.  (“Dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie.”) Alle mense moet werk om ’n bestaan te maak. Arbeid is ‘n seën. Om eiendom te mag koop en besit is ‘n Godgewe voorreg. Arbeid en geld en besittings is dinge wat ons tydelik nodig het, maar dis nie die doel van ons bestaan nie. Ons lewe mag nie daarom draai nie. Ons hoofdoel is om God te ken, om sy heerlikheid raak te sien, om sy teenwoordigheid te geniet. Ons moet goed doen wat ons doen, maar die kind van God se hart moet los wees van alles, ook ons kosbaarste besittings. (Is dit regtig nodig om huise te bou met uitspattige luukshede wat nooit eers benut gaan word nie?)

Paulus gee in vers 31 ’n opsomming van wat hy bedoel.

“Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle niks daaraan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken,  is aan die verbygaan.” 

Christene is doodgewone mense. Dis onvermydelik dat ons net soos ander mense sal trou, hartseer beleef, vreugdes ervaar, werk....handel dryf ens. Maar omdat ons God se kinders is en daar ’n Koninkryk vir ons wag, mag hierdie dinge nooit ons hoofdoelwit word nie. Ons sal noodwendig besig wees met hierdie dinge, maar ons mag nie ons harte daarop verloor nie.  Dit sou dwaas en ondankbaar wees. Hoekom? Want hierdie wêreld gaan verby. Alles rondom ons is net tydelik. Die huwelik duur nie vir altyd nie, al die hartsere en vreugdes is net tydelik. Niks wat jy besit gaan  vir altyd joune wees nie. (Dit lyk asof selfs baie Christene dit vergeet en vir hulle paleise bou met die oog op 'n gewaande ewige aardse verblyf) Kinders van God, met 'n Bybelse gerigtheid verwag ’n beter bedeling. ‘n Permanente stad waarvan God self die bouer is. Kinders van God sien uit na ’n beter toekoms en dit bepaal ook hoe ons besit beskou en hanteer.

Die belangrikheid en die nabyheid van die koninkryk relativeer alle ander dinge. 

Dit maak alles minder belangrik. Omdat ons ’n beter bedeling en ’n beter Koninkryk verwag moet ons gefokus wees op onverdeelde toewyding aan God. Die kort tydjie wat  ons het moet benut word om :
~ God te ken.  Dis nou die tyd vir bekering.  Gebruik jy die kanse wat God gee om Hom werklik te leer ken?  Het jy al God se allesoortreffende heerlikheid besef? Is dit jou vreugde om Hom te bewonder en lief te hê?
~ God te dien.  “Soon this world will be passed, only what’s done for Christ will last” Die tyd is min, binnekort sal ons moet rekenskap gee. (2 Kor 5:10) Ook God se kinders sal verantwoording moet doen van ons dade. Wat het ek gemaak met tyd, kanse, geld, talente?

Ons leef in ’n unieke tyd in die geskiedenis. Die einde van alle dinge is naby. Die wederkoms van Jesus is voor die deur. Dan sal die groot sifting plaasvind. Die skape sal van die bokke geskei word. Die tyd is kort. Dis nou nog genade tyd. Dis nou die tyd van beslissing. Dis nou die tyd om Jesus te omhels en om jou volkome aan Hom toe te wy. Daarom is alle ander dinge ondergeskik en minder belangrik!


*Sien die reeks, MAAK OOP BY OPENBARING vir ‘n volledige bespreking van die Laaste Dae.

Hierdie preek uit 1 Korintiërs 7 het ek by een van die mees uitstaande Godsmanne, die Skot,  Robert Murray M’Cheyne gekry.

Sondag, 22 Julie 2012

VOORREG VAN VERGIFNIS

- vrae en feite.

Ons glo dat God sondes vergewe. Ons bely dit in die woorde van die Twaalf Artikels saam met die kerk van Jesus dwarsoor die hele wêreld. Die heilige God, die God wat LIG is, is ook ‘n vergewende God!  Reeds in die Ou Testament  leer ken ons die ware God as die Een wat sondes vergewe!  Dink maar aan :
Psalm 130:4  “Maar by U is daar vergifnis : daarom word U steeds gedien.”
Miga 7:18   “Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde...”

Dis hierdie feit van vergifnis wat ons God ‘n besondere God maak! Vergifnis is ‘n heerlike waarheid waarsonder ons nie kan bestaan nie; tog is daar baie praktiese vrae en onsekerhede rondom hierdie belangrike saak. Kom ons kry ‘n paar antwoorde uit 1 Johannes 1:5-2:2 (lees gerus) :

Wie mag vergifnis vra? Dis duidelik Johannes skryf hier  vir kinders van God. Ons moet dit mooi verstaan - vergifnis is die voorreg van God se kinders. ‘n Mens kan net op een manier God se kind word, dis deur jou vertroue in Jesus te stel. Om elke dag sondes te bely maak jou nie noodwendig ‘n kind van God nie. (Dink maar Luther se tevergeefse gebieg en gebid daar in die klooster, voordat hy die evangelie begryp het). ‘n Mens kan jare lank, oggend en aand vir vergifnis vra, maar nog steeds verlore wees. Ek moet eers Jesus as Verlosser aanneem, dan eers het ek vrede met God. Maar as jy reeds ‘n kind van God geword het, is dit jou besondere genade voorreg om jou sondes te kan bely!

Is dit dan  nodig vir God se kinders om vergifnis te vra? As mens ‘n kind van God is, is jy mos totaal vrygespreek, kwytgeskel van al jou sonde. Jy het vrede met God. Hier moet ons mooi verstaan. Die Bybel is baie duidelik dat as ek Jesus Christus as my Verlosser aanvaar, dan word ek vrygespreek. Van alle sonde!  Vrede met God! Dis duidelik uit tekste soos Hebr 8:12; Kol 2:13,14; Rom 5:1 en baie ander.  Dis ‘n volkome vergifnis wat jou in die regte verhouding met God plaas. Ons kan dit ‘n juridiese vergifnis noem. Dit verander jou status van ‘n skuldige rebel na ‘n wettige kind van God. Maar nou weet ons dat kinders van God ook kan sondig. Dis waaroor dit hier in 1 Johannes gaan. Mense wat ontken dat hulle nog sonde doen, is leuenaars sê Johannes. Kinders van God het ook vergifnis nodig. Hoekom? As kind van God staan ek nou in ‘n verhouding met my Vader. As ek nou oortree, sondig ek binne in hierdie verhouding, ek bedroef Hom. Ek bly nog sy kind, my status is onveranderd, maar ek maak my Vader ongelukkig en dis in hierdie konteks dat vergifnis nodig is. Dis die vergifnis waarvan Johannes hier praat. Ons kan dit Vaderlike vergifnis noem. Om ons te help verstaan kan ons hierdie onderskeid maak. Juridiese vergifnis, vryspraak is wat ek eenmalig ontvang as ek Jesus in geloof aanvaar as my Verlosser. Dit gaan oor my status voor God. Vaderlike vergifnis is iets waaraan ons daaglikse behoefte het.   Dit gaan oor my voordurende wandel met God.(Dink maar weer aan die verhaaltjie van die misdadige straatkind oor wie ‘n koning hom ontferm. Die goedhartige koning verleen aan hom ‘n volledige amnestie, wat al sy misdade dek en aan hom volkome vrywaring gee. Dis ‘n juridiese vergifnis. Die koning gaan verder en neem die straatkind aan as sy eie wettige kind en erfgenaam. Hierdie kind is egter ver van volmaak af. Hy doen nog steeds dinge wat verkeerd is en dit bedroef die koning en ontstig hom. Die kind sê dan hy is jammer en ontvang vaderlike vergifnis. )*

Is vergifnis ‘n eenvoudige maklike saak? Kan ek maar net vinnig in die aand voor ek gaan slaap ‘n gebedjie prewel en als is weer reg? Is sonde iets ligtelik as dit dan so maklik vergewe kan word? Johannes gee vir ons pragtig die korrekte Bybelse balans in 1 Joh 2:1. “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig - ons het Jesus Christus, die Regverdige, as ons Voorspraak by die Vader.” Daar is iets soos vergifnis vir die kind van God. Hoekom? Jesus is ons advokaat (Voorspraak). Sy eenmalige genoegsame kruisdood het vir ons die reg tot vergifnis bewerk.

 Ons vergifnis  is nie gebou op ons hoeveelheid  trane of mooi hartseer gebede nie, maar op Jesus se volkome genoegsame middelaarskap. 

Maar dit beteken nie sonde is ‘n ligte ou sakie nie. Met alle erns waarsku Johannes vir God se kinders om nie te sondig nie! Sonde is altyds iets skrikwekkends. Sonde is nooit nuttig nie. Sonde bring altyd net verwydering, verwyte en oneindige hartseer.  Sonde steel ons vreugde. Geen kind van God voel gelukkig oor enige sonde van die verlede nie. Ons bly skaam en hartseer daaroor al weet ons dit vergewe.  Sonde doen net skade en ons moet met alle mag daarvan weg te vlug. En tog kry ons hierdie heerlike troos... AS ... ja, as ons val is dit gelukkig nie die einde nie! Daar is iets soos vergifnis.  Dis ‘n genade wat ons met dankbaarheid moet vervul en juis met alle mag moet laat stry teen sonde!

Kan ek maar opsetlik sondig, met die gedagte in my agterkop dat ek tog maar net weer later vergifnis sal vra? Hier beweeg ons op baie gevaarlike terrein. Kan ek besluit : “Ag, ek is nou moeg vir my vrou en gaan ‘n ander een kry. Ek weet beslis dis verkeerd, maar ek gaan dit tog doen en ek sal maar net daarna vergifnis vra”?  Sal God so ‘n sonde vergewe? Wel, God vergewe sonde as ons dit bely.  Hiervoor  het ons ‘n duidelike belofte. Maar pasop, God vergewe ons net as ons bely, en voordat mens tot egte belydenis kom moet daar erkenning en berou wees. En weet jy wat? Om my sonde te besef is alreeds ‘n genadewerk van die Heilige Gees.  Berou is alreeds ‘n gawe van God. As jy vandag besluit ek gaan my vrou los en sal maar later vergifnis vra, waarsku ek jou daar is geen waarborg dat jy wel later berou gaan hê en opreg vergifnis gaan vra nie. God kan dalk jou hart verhard en jy sal geen behoefte na vergifnis ervaar en geen berou toon nie. Die punt is: Moenie God uittart nie. Moenie met genade speel nie. ‘n Voortgande lewe in duisternis is ‘n aanduiding dat iemand nie aan God behoort nie. (1 Joh 1:6)  As dit gaan oor genade moet ons nie probeer kanse vat of sommetjies maak nie. Genade moet aangegryp word.

Genadetyd is altyd nou. 

Wat môre gaan gebeur weet niemand nie. Moenie die Heilige Gees weerstaan as Hy  met jou praat en jou van sonde oortuig nie.

Kind van God,  Jesus het vir ons die heerlike voorreg van vergifnis verdien. Maak ruim gebruik daarvan. Moenie sonde vertroetel nie. Moenie met skuld en wanhoop rondloop wat jou uitmergel nie.  Die duiwel wil God se kinders graag weghou van vergifnis af. Want solank ons skuldig voel het ons nie vreugde nie en kan ons ook nie bruikbaar wees nie. Hy gebruik ‘n tweeledige taktiek. Vir sommige maak hy wys : “Ag, jou sonde is nie so erg nie. Jy het nie vergifnis nodig nie. Almal maak maar so.” Met ander mense gebruik hy juis die teenoorgestelde taktiek (Satan werk altyd met uiterstes) Hy mislei hulle deur te suggereer : “Weet jy hierdie sonde van jou is te erg. Jy kan nie daarmee na Jesus gaan nie.”  Satan sal als in sy vermoë doen om jou weg te hou van jou advokaat, jou Voorspraak,  Jesus Christus. Daarom vlug na Hom! Al het jy nou net gesondig, moenie vir jouself sê : “Ek sal maar  ‘n rukkie wag tot ek eers ‘n bietjie beter voel en dan met die Here praat nie.” Nee, gaan dadelik na Jesus. Gaan met hierdie belofte in jou hart... “As ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh 1:9)  Dis ‘n kosbare belofte en ‘n vreugdevolle voorreg wat Jesus vir ons beding het. 

* Lees ook op hierdie Blog, PALEISPRINS IN OPLEIDING

Dinsdag, 17 Julie 2012

ROLTRAPPE EN RUÏNES

- Rip van Winkel op Rundu.

Dit was my heerlike voorreg om verlede maand 'n reeks Pinksterdienste op Rundu in die Kavango waar te neem. Rundu was my eerste gemeente (1991-98) en die dorp en sy mense langs die pragtige Kavango rivier sal altyd ‘n spesiale plekkie in my hart hê. Dit was aangenaam om weer daar te kom, die Woord te deel, ou kennisse te sien en Vic en Milly Basson se gasvryheid te geniet. 

Maar dit was ook weer ‘n tyd van nadink, besin en herkou... Toe ek Rundu binnery in kruipende verkeersdrukte (ja, glo my!), het ek so ‘n amperse Rip van Winkel gevoel beleef. Rundu is nie meer ‘n veraf voorpos van die beskawing langs ‘n rustige rivier nie. Dis nou ‘n polsende stad. Rundu het ingrypend verander! 

Die vooruitgang op Rundu die afgelope dekade of wat is baie opsigtelik : nuwe moderne geboue, roltrappe en robotte.  Dit woel en werskaf, ‘n reuse nuwe mark word opgerig...  Die stofstraat voor die voormalige ENOK woonstelle waar ek gebly het, het onlangs ‘n splinternuwe teerstraat geword. 

Maar daar is ook minder aangename veranderings : die skrikwekkende uitroei van pragtige inheemse bome (selfs teen die skuins walle langs die vloedvlakte word dit ontbos), die verspreiding van uitheemse indringerplante, verwaarloosde tuine (mense wat die dorp nog van “army” dae geken het, sal in hulle wortels geskok wees), die hope vullis  in die strate...


Ek gooi ‘n draai by die ROK  van ouds. (Vir die wat Rundu nie ken nie, dit was die bekende Rundu Ontspanningsklub) Almal in Rundu het dié kuierplek geken, geleë op ‘n pragtige hoogte wat uitkyk oor die rivier. Vir party was dit eintlik iets baie meer as net ‘n kuierplek... amper ‘n bestaanswyse of dalk ‘n ontvlugtingsoord. Nou is dit onooglik en verwaarloos. In die proses om 'n volwaardige ruïne te word. Eintlik pateties, tragies... Ek kyk binne in. Die kroegtoonbank is nog daar, ‘n leë stilte klink in jou ore. Die plafon val inmekaar. Louw Potgieter se pragtige skildery op die muur by die ingang is swart bekrap. Rommel en nogmaals rommel... Die vergane glorie van die ROK is vir my simbolies van die mens se tydelikheid en gebrokenheid. Van verkeerde keuses en geleenthede wat vir altyd verby is. Dis hartseer om te sê, maar sommige van die gereelde ROK besoekers het destyds toe ek hier in die bediening was, hulle eie praatjies bo die Woord gekies. Nou is die ROK stil, uitgedien... en  van sy voormalige besoekers is nie meer met ons nie.

“Here, alles vergaan, maar U Woord bly ewig staan.”

Gelukkig kon ek die vreugde beleef dat daar nou nog op Rundu mense is wat begerig die Woord van God indrink en selfs op weeksaande moeite gedoen het om te kom luister. Dit was vir my heerlik om die kosbare Woord van God aan julle te bedien. Mag ons weet, dat elkeen wat na Jesus en sy Woorde luister en dit doen, sal wees soos die man wie se huis op die rots gebou is. So ‘n huis sal die storms van die tyd, verganklikheid, vervolging en die Laaste Oordeel deurstaan en permanensie kry in God se ewige Koninkryk. Wie bou op die valse sekuriteit van rykdom, losbandigheid en die najaag van selfgesentreerde ambisies se lewenshuis sal verkrummel tot ‘n bouval soos die ROK. Dis ‘n skrikwekkende werklikheid, wat selfs in hierdie lewe al in sommige gevalle  met die blote oog sigbaar is...

Rundu en omgewing het baie blyplek van goeie gehalte: Kavango River Lodge, Omashare River Lodge, Sarasungu River Lodge, Ngandu Safari Lodge, Kaisosi River Lodge...  Maar enige aardse verblyf en menslike akkommodasie is net tydelik. Maak seker van jou ewige blyplek. Dis die huis van die Vader waar Jesus vir ons woonplek gereed gemaak het deur sy genoegsame versoenende sterwe. Weet jy hoe om daar te kom? Wel, dis eenvoudig, Jesus self is die pad daarheen, Hyself is die volledige waarheid, Hy in Homself  is die lewe. (Johannes 14:6) Wie Jesus aangeneem het, deel in die volle pakket van ewige vreugdevolle verblyf.  Die woonplek waarheen Hy ons gaan neem as Hy sy mense kom haal is ‘n  onverganklike woonplek, volmaak in die heerlike teenwoordigheid van God. Anders as die ROK kan dit nooit ‘n ruïne raak nie...

Naskrif

Die tydelikheid van ons bestaan is nog verder onderstreep, toe die jarelange en getroue tuinwerker van die kerk, Irenaeus juis in die tyd van Pinkster, oorlede is.


Kroegtoonbank ROK


Muurskildery by die ROK



Die Kavango het die pragtigste inheemse boomsoorte. 
Een van my gunstelinge is die Baster Mopanie.
(Guibourtia coleosperma)


Van kosbare bome word pale gekap en met vragmotors weggery.



Moderne geboue op Rundu



Sondag, 15 Julie 2012

SOEWEREINE STEM WAT TOT LEWE ROEP


- lyke moet luister!

Ons kan nie gered word as God nie eerste in ons lewens ingryp nie en tog is dit ons verantwoordelikheid om te reageer!

Ons God is die lewende God wat wonders doen. Hy word reeds in die Ou Testament genoem : “ ‘n Bewerker van wonderdade” (Eksodus 15:11) In die Nuwe Testament het Jesus God se almagtige wonderwerkende krag op dramatiese wyse gedemonstreer.  Kyk nou net weer wat gebeur hier in Johannes hoofstuk 11! Jesus roep ‘n dooie mens wat al vier dae in ‘n graf is! En dan reageer die dooie! ‘n Mens kan eintlik sê dat hier ‘n dubbele wonder gebeur. Eerstens dat ‘n dooie kan hoor en tweedens dat hy kan herleef. 

In die Johannes  evangelie het wonderwerke ‘n baie duidelike doel. Dit word gebruik om sekere heerlike geestelike waarhede te onderstreep. Hy verkies dan ook  om die woord “tekens” te gebruik as hy van Jesus se wonders praat. Jesus se wonders was nie blote vertonings van krag ter wille van vermaak of aandag trek  nie, maar tekens wat gewys het op dieper geestelike waarhede wat net met die oë van geloof gesien kon word.  Dink maar aan die wonder by die vermeerdering van die brood. Dit wil vir ons sê : Jesus self is die Brood van die lewe, met ander woorde  die allernoodsaaklike geestelike voedsel wat ons as mense nodig het. Ons kan nie leef sonder Jesus nie!

Waaroor gaan die opwekking van Lasarus? Hoekom vertel Johannes hierdie gebeurtenis in sulke detail? Natuurlik het ons hier ‘n voorbeeld van Jesus se egte liefde en omgee vir mense. Telkens oorweldig sy emosies Hom by Lasarus se graf. Dis ook ‘n bewys van Jesus se Goddelike gesag en tydsberekening. Sy “laatkom” is presies betyds! Verder is die opwekking van Lasarus  ‘n duidelike voorspel tot ‘n groter wonderwerk , die opwekking van Jesus self kort hierna uit die graf. (Lasarus is begrawe in 'n rotsgraf met 'n klip voor die opening nes Jesus) Dis dan ook ‘n teken dat ons wat aan Jesus behoort liggaamlik sal opstaan.

Maar Lasarus se opwekking vertel ons ook nog iets meer wat vir ons hier en nou baie belangrik is.  Dis ‘n duidelike teken van die wonderwerkende krag van Jesus om sondaars wat dood is in hulle sondes geestelik lewend te maak. Ons kry reeds ‘n verwysing hierna in Johannes  5:25

“Ek verseker julle : Daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van die God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor sal gee, sal lewe.”  

(Mens kan amper sê dat ons hier ‘n leidraad kry om Johannes 11 te verstaan) Hier gaan dit nie bloot oor die fisieke opstanding nie, maar sondaars wat uit die dood na die lewe oorgaan. Sondaars wat nie meer veroordeel word nie, maar die ewige lewe deelagtig word. Rebelle wat kinders van God word. So verstaan is die opwekking van Lasarus ‘n magtige demonstrasie van hoe Jesus met sondaars werk en die lewe aan ons skenk.  Dis hierdie waarheid wat Jesus reeds vooraf aan Marta wil oordra : 

“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook...” (Vers 25) 

Kom ons kyk naderby na twee aspekte van Jesus se lewendmakende werk:

~ Lasarus se toestand. Een woord : morsdood! Magteloos morsdood!  Reeds 4 dae dood....hy  kan nie meer lewe nie; hy  wil nie meer lewe nie. Dis so ‘n raak beskrywing van elke sondaar se toestand. Ons in ons natuurlike toestand  kan nie God ken en sy opdragte uitvoer nie. Maar ons wil ook nie. Ons is geestelik dood weens ons misdade. (Efesiërs 2:1)  Romeine 3:9ev stel die mens se diepverdorwe magtelose toestand baie eerlik en treffend. (lees) Niemand wil of kan God ken nie!  Dis die harde feite oor elke sondaar. As God nie ingryp en ons roep nie, sal daar by ons geen beweging tot lewe en verandering kom nie!

~ Jesus se krag en werkswyse as Verlosser.  Kyk na Jesus se soewereine genadige  krag (Lasarus is dood en kan niks verdien en geen bydra lewer  nie. Hy kan nie eens vra : “Help my” nie.)   Kyk na Jesus se gesagvolle krag. ‘n Dooie moet luister. Jesus wek ‘n lyk tot  lewe!
Hoe gaan Jesus te werk? Hy doen oënskynlik ‘n dwase ding, Hy volg  ‘n onlogiese werkswyse.  Hy roep ‘n dooie. Hoe nou? Hy gebruik woorde, Hy gee ‘n opdrag! Dit lyk vir ons vreemd. Dit klink amper snaaks.  Lyke kan mos nie luister nie! Dooies kan tog nie hoor en reageer nie!  Tog is dit God se manier. Dis wat die profeet  Esegiël gesien het toe hy die opdrag gekry het om te profeteer oor die doodsbeendere in die vallei. (Esegiël 37) Hierdie wonder gebeur vandag nog, waar God se Woord in waarheid verkondig word. God  roep mense deur die evangelie   en wanneer hulle die boodskap van Jesus hoor gebeur daar in harte ‘n dubbele wonder om te kan hoor en om lewend te word. Ons sien in Jesus se werk die gebalanseerde werskswyse van God. Alles begin by God. Hy doen die wonder. Hy ruk ‘n sondaar soos ‘n brandende hout uit die vuur. Maar ons sien ook die mens se verantwoordelikheid. Ons moet reageer. God se wonders maak ons nooit passief nie. God betrek ons verstand, wil en emosie. Die Dordtse Leerreëls (een van ons belydenisskrifte) stel dit baie duidelik : 
“Daarom werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense asof hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie, en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit terselfdertyd lieflik en kragtig.” (DL3&4.16) 
In eenvoudige Afrikaans beteken dit : jy moet ‘n wilsbesluit neem. Ja, dis God wat hierdie dooie wil van jou lewend maak, maar dis jou verantwoordelikheid om ‘n  keuse te  maak as Jesus jou roep. Dis God wat ‘n wonder doen, maar jy moet gehoorsaam! Hy doen juis ‘n wonder wat jou instaatstel om te gehoorsaam.
Jesus praat met Lasarus.  Dit was nie nodig nie, maar dis hoe Hy werk. Hy gebruik die Woord as middel tot die wonder. God doen wonders deur middele, ons noem dit genademiddele. Die belangrikste genademiddel is God se Woord. Daar waar die Woord in waarheid en in die krag van die Heilige Gees  verkondig word doen God wonders in mense. Die DL beklemtoon ook hierdie feit: 
 “Die almagtige werking van God ... sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom uitoefen ‘n nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word.” (DL3&4.17) 
Dit wil vir ons sê : Kom luister na die Woord. Dis ‘n opdrag.  Dis hoe God ‘n wonder in ons doen. Dis ‘n genademiddel tot verlossing. (Bestudeer Romeine 10:13-17) Deur die Woord en die werk van die Heilige Gees word reddende geloof in ons harte gewek.

Die redding van ‘n sondaar is gelykstaande aan die opwekking van ‘n dooie! 

Dis net so ‘n verbysterend heerlike wonderwerk! Is jy al lewend gemaak?  Ja?  Dank God! Dis alles onverdiende genade. Nee? Wel, jy hoor die Woord nou! Reageer. Kom na Jesus, Hy nooi jou. Waarom wag?

DL = Dordtse Leerreëls

Donderdag, 12 Julie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (12)

- duidelike boodskap van die duisend jaar!  

Die sogenaamde millenium (duisend jaar) is deel van Johannes se hantering van die konflik tema waarna ons reeds gekyk het. Lees dit in Openbaring 20:1-15. Ons het nou al gesien : God vestig onstuitbaar sy koninkryk deur Jesus Christus, maar dit gaan gepaard met konflik : die kruis, die voortgaande konflik in ons stryd om heiligmaking, die konflik teen Satan en sy magte, vervolging ens. 

Baie mense interpreteer die duisend jaar as ‘n letterlike tydperk wat Jesus op aarde gaan regeer, en dan gaan daar blykbaar  weer ’n opstand kom en eers daarna breek die finale einde aan. (Ek wil nie graag met opregte gelowiges swaarde kruis nie, maar hierdie siening kan beslis nie aanvaar word nie.) Alhoewel baie  Christene hierdie siening huldig kan dit om die volgende redes nie Bybels verdedig word nie: 
~ Dis baie onwaarskynlik dat so ’n dramatiese gebeurtenis nêrens anders in die Nuwe Testament vermeld word nie! Wie Openbaring deurlees sal gou agterkom dat hierdie boek nie vir ons juis nuwe dinge sê nie, maar bekende gegewens uit die res van die Nuwe Testament (en hele Bybel) in beeldryke simboliese taal omskryf.
~ Dis ook baie problematies om duidelike simboliese taal so letterlik op te neem. Dit gaan teen die grein in van Openbaring se hantering van getalle en beelde.
~ Die ondersteuners van die letterlike 1000 jaar gebruik ook Ou Testamentiese profesieë oor ‘n herstelde koninkryk om hulle teorie te staaf. Ou Testamenttiese  profesieë kan egter nie altyd letterlik geïnterpreteer word nie.... dink net aan hoe die koms van Johannes beskryf word (Vgl.Jesaja 40:3,4 met Markus 1:2-4 - maak heuwels gelyk) en die uitstorting van die Heilige Gees (Jesaja 32:15,16 - die beeld van ‘n bos). Ou Testamentiese  profesieë moet geinterpreteer word in die  lig van die evangelie gebeure van Jesus se lewe, sterwe en opstanding! Die chiliaste (mense wat glo aan ’n letterlike regering van 1000 jaar)  besef nie dat beelde soos ’n herstelde tempel in Jesus vervul is nie! Buitendien nêrens praat die profete in elk geval van ’n Koninkryk wat duisend jaar of ’n beperkte tydperk sal duur nie, maar van ’n ewige Koninkryk!

Wat kan ons wel sê van die millenium (duisend jaar)?
~Dis deel soos die res van die konflik gedeeltes van die Dag van die Here. Die stryd en oorwinning van Jesus. Dis deel van die oorwinning en heerskappy van Jesus - ’n oorwinning wat reeds afgehandel en behaal is, maar nog finale gestalte moet kry.
~Dit vertel dat die huidige konflik nie fataal is nie en dat Jesus t.s.v. die konflik regeer saam met almal wat reeds ’n Koninkryk van priesters gemaak is deur sy verlossing! (Vgl.Openb 1:6 met 20:6)
~Kwantitatief gaan dit nie oor ’n spesifieke tydperk wat gemeet kan word nie.  Die getal duisend moet verstaan word as 10x10x10 = 'n afgeronde volkome tyd.
~Kwalitatief beteken dit Christus regeer (en die evangelie kan nie gestuit word nie en penetreer die hele wêreld  - redding bereik nou elke nasie, stam en volk en taal - Openbaring 7:9) terwyl die duiwel beperkte en tydelike mag en speel ruimte het! (Soos ‘n kwaai hond aan ’n ketting) Die bind van die Satan beteken nie dat daar geen konflik sal wees nie. Jesus het duidelik deur sy bediening en kruis die Satan gebind en sy rug geknak: Matt 12:29, Kol 2:14,15. Maar ons word nog steeds orals in die Nuwe Testament gewaarsku teen Satan se lis en verleiding!

Die troosboodskap van die duisend jaar lê opgesluit in ‘n eenvoudige vergelyking:

DUISEND JAAR vs kort tydjie
CHRISTUS SE ABSOLUTE MAG vs Satan se beperkte mag

Hier is ‘n opwindende boodskap vir die eerste lesers (en elke Christen) wat lyding en teenstand verduur.  Die mense wat nou ter wille van hulle geloof gesterf het en getrou gebly het is nie verloorders nie. Hulle leef in die teenwoordigheid van Christus en is in ’n gesagsposisie saam met Hom.  (hulle sit op trone) Dis ’n vervulling van die belofte in 3:21 (Lees) Dit gaan hier oor die geestelike opstanding na die dood van die wat Christus ken in die sin van Filippense 1:23. Dit gaan oor gelowiges wat reeds gesterf het en nou saam met Christus is! Hulle deel nou reeds in voorrreg van priesterlike aanbidding. (7:15-17) Dis die eerste opstanding. Die tweede opstanding is die liggaamlike opstanding by die wederkoms waaraan alle mense deel sal hê. Die hele strekking is hier van ’n hemelse visie - dit kan dus nie dui op ’n tydperk van aardse regering deur Jesus nie. Net gelowiges deel in die eerste opstanding - vir al die ander mense wag die tweede dood (hel) Vgl. vers 6 en 14
~Daar kom ’n finale en algehele einde aan Satan se mag en dus aan alle stryd en konflik

Die millenium is net nog ’n hoek waaruit die oorwinning oor Satan beskryf word! Die ooreenkomste met byv. Openb 11 en12  waar die perke van sy mag ook beskryf word is opvallend:
~  draak, slang van ouds, duiwel, Satan (12:9; 20:2)
~ die vrou was veilig in die wildernis 12:14 . Dis weereens ‘n aanduiding van die  beperking van Satan se mag! Hierdie beperkte mag kan ook gesien word in die geval van die twee getuies - eers as hulle hul getuienis klaar gelewer het, kan die Satan hulle doodmaak! (11:7)
Die gesamentlike boodskap is duidelik : In hierdie bedeling van konflik waartydens die gelowiges ly en selfs sterwe is ons geestelik veilig. Ja, die toekoms van die kerk en die vooruitgang van die evangelie is gewaarborg. Dis die waarheid wat Jesus self ook uitgelig het : “Die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie...”

Die groot boodskap van hierdie gedeelte is ’n bron van troos deurdat dit vir ons perspektief gee. Ondanks  Satan se hewige aanslag is sy mag beperk. Hy kan nie net doen wat hy wil nie. Selfs al sterf jy as martelaar beteken dit nie jy het verloor of dat jy vergete en betekenisloos is nie, nee, jy is in en saam met Christus ’n oorwinnaar en regeerder! Al verloor jy selfs jou lewe is jou ewige sekuriteit onaantasbaar gewaarborg! Satan kan nie jou saligheid steel nie! Die Christen se lewe maak sin in alle omstandighede! Ons leef in ‘n dubbele dimensie : Stryd en oorwinning. Die oorwinning is egter oneindig groter en heerliker as die stryd!

Hierdie teenstrydige werklikheid word pragtig verwoord in die verhaal van Corrie Ten Boom in “The Hiding Place”. Luister wat sê sy oor die lewe in die konsentrasiekamp van Ravensbruck : “Life In Ravensbruck took place on two separate levels, mutually impossible. One, the observable, external life, grew everyday more horrible. The other, the life we lived with God, grew daily better, truth upon truth, glory upon glory.” (p195)

Dis van hierdie troosvolle werklikheid wat die duisend jaar ons graag wil vertel!

Maandag, 09 Julie 2012

PA WORD TAGTIG

- volhou en volhard.

Ons Pa (en oupa), Johan de Koning het verlede week, 7 Julie 2012  die ryp en geseënde ouderdom van tagtig jaar bereik. Dit was ons as kinders en kleinkinders se heuglike voorreg om dit saam met hom te vier in Walvisbaai.

Dis ‘n vol en avontuurlike lewe in diens van die Here wat hy nou agter die rug het. ‘n Tyd waarin hy op wonderbaarlike wyse kon beleef hoe God sy beloftes waar maak. By hierdie geleentheid het ek baie kortliks uit die geskiedenis van Kaleb, een van die twaalf verspieders, uit Numeri 14 en Josua 14 voorgelees.  Kaleb en Josua het destyds teen die meerderheid in, ‘n minderheidsverslag uitgebring ten gunste van die verowering van die land Kanaän, omdat hulle op God vertrou het en hulle nie laat afskrik het deur die krag van die vyand nie. Weens hierdie getrouheid aan God, het die Here aan Kaleb ‘n besondere belofte gemaak waarvan ons in Numeri 14:24 lees :

“Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om my te volg - hom sal ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.” (OAV)

God is getrou! Vyf en veertig jaar later kon Kaleb, wat toe al vyf en tagtig jaar oud was,  getuig van hierdie getrouheid en kon hy uiteindelik sy erfdeel, Hebron in besit neem. Die klem val in hierdie gedeelte op “volhou”. (sien Josua 14 vers 8,9,14) God maak sy beloftes waar. Hy is heeltemal instaat om dit te doen. Al wat Hy van ons vra is volhou en volharding. Hierdie volharding het ons ook in Pa se lewe gesien tydens sy lang loopbaan in diens van die evangelie in Suidwes-Afrika/Namibië. Volharding dra vrug!

Dit blyk weereens uit die onderstaande staaltjie uit die skatkis van sy ryk lewenservarings:

Aan die beginjare van sy bediening in die destydse Suidwes het hy dikwels die evangelie in Owamboland verkondig. Hy vertel hoe dit gekom het dat hy in Kwanyama begin preek het, en die seën wat daaruit gespruit het. (Effens verwerk)

Tydens een so ‘n veldtog het hy vir  Vilho Shihandja (een van sy medewerkers) gesê: “Hierdie keer gaan ek in Kwanyama preek.”  Vilho het hom  aangemoedig maar seker  nie geglo dit sal gebeur nie.

Pa vertel verder:

Ons het by Engela gemeente aangekom.  Die pastoor in bevel vra toe dat ek die evangeliste die Sondagaand moet toespreek.  Ek het so ‘n tuisgemaakte karavaan gehad; iets genoeg om enige man se rug seer te maak.  Jy kon net gebukkend in hom staan.  Byna verbrand ek my met die gasprimus. In elk geval, ek berei toe voor en sou uit Jesaja 6, waar dit gaan oor sy roeping, die Woord bring.  Dit was eers nadat my preek in Afrikaans klaar neer geskryf was, dat ek besluit om te probeer of ek nie die preek kan vertaal nie.  Met die hulp van die Engels-Kwanyama woordeboek vorder ek so ‘n derde van die preek toe ek Vilho hoor sê : “Meneer, ek dink dit is tyd dat ons gaan vir die diens.”

Dit was my  beurt om aan die woord te kom en soos gewoonlik stap ek en Vilho na vore.  “Lees asseblief vir my in Jesaja 6" vra ek.  Toe hy klaar gelees het begin ek: “Omujapuki, omujapuki, omujapuki Kalunga kethu omujapuki.”  Heilig, heilig,  heilig is ons Here” Vilho staan en ek gaan voort, menende dat ek die derde van die preek wat ek probeer vertaal het sou aflees.  My boek is egter toe, ek onthou wat ek geskryf het ...... en Vilho beweeg stilletjies agteruit en gaan sit.  Toe die vertaalde derde van die preek egter klaar is, besef ek die Here het my tot hier gehelp, ek kan nie nou vir Vilho roep om te help nie.  Toe ek amen sê, nadat ek die hele preek sonder notas, uit my kop vertaal het, was daar ‘n spontane toejuiging - my twee medewerkers was by my.  “Jy het geen fout gemaak nie, waar het jy die taal geleer?”  Ek was seker net so verbaas soos hulle.  Die Here het my mond geopen.

Nou was my twee medewerkers beslis.  “Ons tolk nie weer vir u nie. Jy kan nou goed  praat.”  Dit het harde werk beteken.  Elke oggend  moes ek vroeg begin in die moeilike karavaan, stiltetyd hou, preke voorberei en kos maak vir die dag.  Gelukkig was ons drie wat kon preek en gewoonlik was daar  by elke diens  ander mense teenwoordig.  Jy kon dieselfde boodskap weer bring.  So het ek later vyf preke gehad wat ek goed geoefen het.

By ‘n sekere gemeente is ‘n pastoor egter saam en nadat ek die eerste en tweede diens gepreek het, wou hy by elke diens hê ek moet weer preek.  My preke het opgeraak, maar elke keer vra hy vir Vilho dat ek ook weer moet preek.  Eers kon ek nie verstaan nie.  Ek word mos moeg.

Daardie nag slaap ek in my karavaan.  Ek was moeg.  Tog word ek vroeg wakker, steek die kers aan en hou stiltetyd.  Dit is nog donker, daar is ‘n klop aan my deur.  Ek maak oop en ‘n man kom in.  “My vriend, ek kom hulp soek, jy moet my help.”  Om as jy al opgewarm is in Kwanyana te praat gaan nog, maar so vroeg in die môre is ‘n ander storie.  Gelukkig is daar ‘n boekie in Ndonga, en met dit in my hand maak ek die pad van saligheid duidelik.  My hoorder sê hy verstaan, hy vra dat ek vir hom oor sy probleme bid.

Later die oggend het ons saam met die twee pastore Bybelstudie.  Ek sê toe vir Vilho van “Nikodemus” wat my in die nag besoek het.  “Vilho ek dink dit is die ou Pastoor, maar sy hoed het hy in my karavaan agter gelaat.”  “Meneer, ek dink dit is hy, maar goed ek sal uitvind, ek sal hom vra of dit sy hoed is.”

Vyftien jaar later deel ek te Leonardville in die suide by ‘n garage traktaatjies uit.  ‘n Jong vrou kom neem een.  Ek vra haar in Owambo of sy al vir Jesus ontmoet het.  So in die gesprek  vertel ek van ander - pastore, evangeliste ens, wat besef het, hulle het Jesus nodig.  Ek vertel toe ook van ‘n ou pastoor wat reg gemaak het met die Here, maar ek het gehoor hy het ‘n week later gesterf.  “Ja meneer, daardie ou pastoor was my vader.”  Sy het my geken en onthou; al het ek  haar nie geken nie. Hoe dankbaar was ek teenoor die Here, dat ek maar weer en weer gepreek het.  So het die ou pastoor te wete gekom dat ek genoeg van die taal ken om hom te kon help.

Inderdaad, volharding dra vrug! God is getrou!


Oupa (80 jaar) en die jongste kleinkind, Natanie (18 maande)

Die hele klomp bymekaar!

Woensdag, 04 Julie 2012

VAS IS NIE IETS VREEMDS NIE


- dis ‘n intense uitdrukking van verlange na God.

Is vas nie ‘n Roomse uitvindsel nie? Nee! (Calvyn praat ook positief oor vas) Nou waarom vas ons dan selde of nooit?

ONS GEMAKSUG

Vas is ongetwyfeld een van die geestelike dissiplines wat die meeste deur ons verwaarloos word. Dit ten spyte van die feit dat dit met groot vrug en seën deur gelowiges in beide die Ou  en Nuwe Testament beoefen is. Jesus self het ook gevas. (Matt 4:2) Waarom het dit dan vir die meeste van ons so iets vreemds en ongewoon geword? Een moontlike rede is dat daar geen direkte opdrag in die verband aan die kerk gegee is nie. Die grootste rede vir ons laksheid hiermee is waarskynlik eerder te vind in ons gemakstoel Christenskap, wat maar taamlik kopsku is vir die begrippe opoffering en selfverloëning. Vir hierdie gemaksug betaal ons ‘n hoë prys in terme van gebrekkige toewyding met karige vrug as die gevolg. As ons werklik kerk wil wees volgens die Nuwe Testamentiese  model het dit dalk tyd geword om weer na te dink oor en erns te maak met vas.   

WAT IS VAS?

Vas sou breedweg gestel, beskryf kan word as ‘n vrywillige afstand doen van normale regte (voorregte) ter wille daarvan om myself toe te wy aan intense geestelike aktiwiteit soos byvoorbeeld gebed en verootmoediging. Dit gaan dus nie net altyd eksklusief oor  kos nie.* (Dink byvoorbeeld aan 1Kor. 7:5 - waar dit oor tydelike seksuele onthouding binne die huwelik gaan) Prakties gestel : om myself doelbewus die kyk van ‘n rugbywedstryd op ‘n Saterdagmiddag te ontsê, sodat ek daardie tyd aan gebed kan wy, sou beslis as ‘n beperkte vorm van vas beskou kon word. (Dis miskien ‘n vas wat Suid-Afrikaners en Namibiërs dalk dringend nodig het!) Nietemin, gaan dit in die Bybel hoofsaaklik (wat die uiterlike betref) oor die onthouding van kos. In die Skrif vind ons verskeie variasies ten opsigte van die praktiese inkleding van vas. Dit kan die onthouding behels van kos alleen of kos en water (Esra 10:6; Hand 9:9) of net sekere soorte kos. (Dan 10:3). Vas is ‘n persoonlike saak wat in privaatheid beoefen moet word (Matt 6:16-18), maar daar is ook so iets soos gesamentlike vas.  (Joël 2:15-16; Nehemia 9)

Vas is ongetwyfeld in lyn met suiwer diens aan ons Verlosser, maar dit val binne in die raamwerk van ons Christelike vryheid. Dis 'n saak wat ons voor God  uitmaak. Ons vas het dus niks in gemeen met die Moslems se voorskriftelike verpligte vas tydens Ramadan nie!

VAS VIR DIE REGTE REDES

Vas wat nie in opregtheid volgens Bybelse gronde en beginsels beoefen word nie, kan maklik ontaard in ‘n ernstige frustrasie (al waarvan ek bewus is, is my skreeuende maag) of nog erger ‘n stuk selfgesentreerde bygeloof.  Vas mag nie ‘n manier wees waarmee ek  God se arm probeer draai om aan my selfsugtige wense te voldoen nie. Vas is dus nie soos ‘n eetstaking waardeur gevangenes sekere versoeke wil afdwing nie!  Nog minder kan vas opsigself my gebroke verhouding met God herstel.  (Sonder saligmakende geloof in Jesus  is vas maar net nòg ‘n poging van die sondige mens om sy eie geregtigheid voor God te probeer oprig)  Om hierdie slaggate en skeeftrekkings te vermy is dit belangrik dat ons die Bybelse motiverings en voorskrifte vir vas sal begryp.        

BYBELSE REDES WAAROM ONS BEHOORT TE VAS

Dit blyk Jesus verwag dat ons sou vas. Net soos gebed en liefdadigheid is vas ook ‘n godsdienstige aktiwiteit. In Matteus 6:1ev spreek Jesus die wanpraktyke en misbruik ten opsigte van hierdie aktiwiteite aan, maar dit beteken nie dat Hy die regte gebruik daarvan verbied of geringskat nie. Trouens Hy gee verder duidelike riglyne vir die regte beoefening van gebed, maar ook vir vas. (Matt 6:16-18) Uit Matteus 9:14-15 sou mens ook kon aflei dat Jesus verwag dat die kerk na Sy hemelvaart sou vas.  Hierdie is ‘n kernbelangrike gedeelte om vas binne die konteks van die kerk van Jesus te verstaan. Toe Hy op aarde was het sy dissipels nie gevas soos Johannes se dissipels en die Fariseërs nie. Dit sou mos geen sin maak nie, want Jesus was dan tasbaar by hulle! Jesus verduidelik dan op ‘n vraag hieroor dat daar wel ‘n tyd sal kom wanneer ons Bruidegom nie by ons sal wees nie. Dan sal sy volgelinge wel vas. 
Hieruit kan ons ten minste twee belangrike waarhede aflei: 

Eerstens - Jesus het voorsien dat die kerk sou vas. Tweedens - Die essensie van vas gaan oor ‘n vurige verlange na  Jesus se teenwoordigheid en werksaamheid in ons lewens. Die behoefte aan vas sal dus eers by Sy wederkoms verdwyn

VAS GAAN OOR ‘N BEHOEFTE AAN BESONDERE GEMEENSKAP MET DIE BRUIDEGOM JESUS,  TYDENS SY AFWESIGHEID!!

Dis ‘n hulpmiddel in ons kommunikasie met God.** Dis vir ons as sterflike mense nie so maklik om ons diepste gedagtes aan die onsigbare God oor te dra nie. Dis ‘n frustrasie waarvan ook Paulus bewus was - “ons weet nie hoe om te bid nie” (Rom 8:26) Natuurlik, weet God wat ons bedoelings is, maar vir ons bly dit ‘n probleem om daaraan uitdrukking te gee. In hierdie opsig kan die gebruik om te vas nuttig te pas kom. Deur te vas gee ons uitdrukking aan ons diepste hartsingesteldheid teenoor God. So kommunikeer en demonstreer  ons iets van ons innerlike versugtinge aan God. Daar is ten minste vier aspekte van ons hartsgesindheid teenoor God wat uitdrukking in vas vind :
~ dis ‘n praktiese uitdrukking van selfverloëning, wat ‘n onmisbare deel van dissipelwees uitmaak.
~ aansluitend by bogenoemde is opregte vas ‘n uitdrukking van nederige verootmoediging. (Esra 8:21)
~ dis ‘n manier om ons algehele afhanklikheid van God te bely. (Esra 8:21-22) 
~ opregte vas is ‘n bewys van ons erns wanneer ons God in die gebed nader. (Daniël 9:3 saam met die gebed wat daarop volg is ‘n goeie voorbeeld van sulke erns. Lees asseblief hierdie intense smeekgebed van Daniël aandagtig deur. Wil jy nie ook vir die verwoeste kerk van ons dag intree met vas, gebed en smeking nie?) Vas is ‘n intensifisering van gebed! Dis ‘n liggaamlike uitroepteken wat die erns van my innerlike versugtinge voor God sigbaar wil stel. (Piper)***

Daar is spesifieke tye en omstandighede waartydens vas ‘n belangrike en effektiewe rol kan speel as ‘n genademiddel wat God vir ons gee.  Voorbeelde in die Skrif is o.a. die volgende:
~ tye van verootmoediging en berou. (1 Samuel 7:6)
~ wanneer ons in belangrike sake die Here se leiding, hulp en seën soek. ( 2 Kron 20:3; Hand 14:23)
~ as ‘n uitdrukking van diens en aanbidding van God.  (Lukas 2:37; Hand 13:2)

DIE NOODSAAK VAN VAS IN ONS DAG 

Net soos prediking en die sing van lofliedere, wanneer dit nie volgens die voorskrifte van die Skrif en vanuit suiwere motiewe beoefen word nie, kan ontaard in nuttelose mensgemaakte rituele,  is dit natuurlik ook die geval met vas. Vas opsigself is vir seker geen kortpad manier of resep om ons geestelik reg te ruk of die Here se seën te ontvang nie. Daar is geen outomatiese of meganiese seën aan vas as sodanig verbonde nie. Soos mense tevergeefs bid, omdat hulle met die verkeerde gesindheid  en motiewe bid, is dit ook moontlik dat mense se vas onaanvaarbaar vir die Here kan wees en dus op ‘n tevergeefse oefening kan uitloop. Hieroor is die volk Israel baie duidelik gewaarsku: “As hulle vas, luister Ek nie na hulle gesmeek nie...” (Jeremia 14:12) Vas is vir die Here slegs aanneemlik wanneer dit met hartgrondige bekering tot geregtigheid, erns en opregtheid gepaard gaan.  “Is die vas wat Ek wil hê nie dit nie: om die wat onregverdig gevange gehou word te bevry, om die juk wat op mense druk af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie” (Jesaja 58:6,7 NAB) Woorde wat voorwaar diep sny!

Die verkeerde gebruik van iets hef egter nie die verpligting tot die regte gebruik daarvan op nie. Ons kan tog nie ophou bid of sing omdat daar baie valse gebed en aanbidding is nie. Ons behoort dus ook erns te maak met vas in ooreenstemming met die Bybelse riglyne in die verband.

Vas is nie ‘n meganiese alledaagse ritueel nie, maar word as’t ware deur die bepaalde uitdagings en behoeftes van ‘n sekere tyd en omstandighede genoodsaak. Dit kom duidelik na vore uit die Skrif voorbeelde waarna ons gekyk het. Die toestand van die kerk en die wêreld, die uitdagings waarvoor ons as Christene in hierdie dae te staan kom (beide persoonlik en as gemeente van Jesus) vra duidelik dat ons ons tot God sal moet wend in vas en gebed. Vir ‘n vas wat ‘n egte uitdrukking is van selfverloëning, nederigheid, afhanklikheid van God en heilige erns is daar beslis ‘n plek. Onthou weer : ONS VAS OMDAT ONS ‘N DIEP BEHOEFTE HET AAN ONS VERLOSSER!

Is daar ‘n grondige rede om nie te vas nie? Kom ons dink mooi...


*Martin Lloyd-Jones oor vas in sy “Sermon on the Mount”:

“Fasting, if we conceive of it truly, must not . . . be confined to the question of food and drink; fasting should really be made to include abstinence from anything which is legitimate in and of itself for the sake of some special spiritual purpose. There are many bodily functions which are right and normal and perfectly legitimate, but which for special peculiar reasons in certain circumstances should be controlled. That is fasting.”

** Calvyn oor vas in sy Institusie IV.12.14,15 :

“Laat ons dus ‘n ietsie oor die vas sê omdat die meeste mense van oordeel is dat dit nie noodsaaklik is nie omdat hulle nie begryp watter voordeel dit inhou nie. Sommige mense verwerp dit heeltemal as iets wat oorbodig is en omdat die gebruik nie so goed bekend is nie, verval dit maklik in bygeloof.

“Die heilige en wettige vas het drie doelstellings. Ons pas dit trouens toe om maer te word en ons vlees te onderwerp sodat dit nie uitspattig word nie, óf om beter voorberei te wees vir gebede en heilige oordenking, óf om as getuienis te dien van ons ootmoed (berou) voor God wanneer ons ons skuld voor Hom wil bely.”

***John Piper oor vas :

“I pointed out... from Acts 13:1–3 that the course of history was changed when the leaders of the church in Antioch were worshiping, praying, and fasting. I suggested that in our day there has been reawakening in worship around the world and reawakening in prayer around the world. But not yet does there seem to be a reawakening in fasting, except in some places like Korea. I asked, Might God not ordain that his fullest blessings will come to the church when we prevail in prayer with the intensity of fasting? That's what I think fasting is at heart. It's an intensification of prayer. It's a physical explanation point at the end of the sentence, "We hunger for you to come in power." It's a cry with your body, "I really mean it, Lord! This much, I hunger for you." 

Maandag, 02 Julie 2012

"HUIL" BY DIE HUISGENOOT


- uitbuiting van boosheid vir eie gewin.

Sonde bly altyd tragies. Dit verwoes, maak seer en die ergste van alles, dit beroof ons van gemeenskap met God. Om te sondig  is altyd iets afskuweliks, of dit 'n verlorene is wat heel gelukkig aanhou onreg doen en of dit 'n kind van God is wat vir versoeking geval het. Sonde is altyd iets om oor te rou. Ook die kind van God wat weet dat sy sonde vergewe en uitgewis is, sal as hy daaraan herinner word met pyn en selfveragting aan die sonde van die verlede terugdink. (En natuurlik dan met dankbaarheid oor die feit van vergifnis die pad van heiligmaking met groter vasberadenheid loop.)

In die lig van die erns en veragtelike aard van sonde is dit 'n bedenklike tendens dat veral bekendes wat die pad byster geraak het, blykbaar so graag aan die pers (en by name die Huisgenoot) hulle sondestories verkwansel. Hierdie sonde ontboesemings, wat gewoonlik eers plaasvind nadat hulle uitgevang is of die melk suur geword het, bevat weinig egte berou en belydenis. Nee, dis eerder klanke van blaamverskuiwing en verskonende beredenerings wat gehoor word. "Ag, as die ander party tog maar net sy of haar aanddeel sou wou erken, sal ek klaar beter voel." Verskonings, verwyte, verfraaiings en verduidelikings, in plaas van verootmoediging...

Kan 'n mens so laag daal om glimlaggend geld te maak uit jou sonde besonderhede (met foto's en al)? En wat vertel dit ons van onsself as ons geld uitgee om hierdie besonderhede te bestudeer?

Sonde is iets om te bely en nie vir finansiële gewin en gratis aandag te benut nie!

Ons kan almal val. Andere se val moet juis vir ons 'n ernstige waarskuwing wees, om nooit met sonde te speel nie. Dit moet die kind van God laat sidder en met groter erns laat  waak en  bid. Mag ons nooit ligtelik oor sonde dink nie. Nie oor ons eie nie en ook nie oor ander s'n nie. Veral mag ander se sonde nooit vir ons 'n bron van vermaak, leesgenot of onderwerp van bespreking wees nie. Efesiërs 5:12 waarsku :

"Dit is 'n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen."

Die brief van Jakobus bevat sinvolle raad.  Sondaar, moenie Rapport  toe hardloop nie, maar rapporteer berouvol aan God. Die belofte is : "Nader tot God en Hy sal tot jou nader."  Moenie siek  stories  versin nie, "maar bekla julle ellende, treur en huil!" Moenie publisiteit op  die Huisgenoot se voorblad soek nie, "maar onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog." (Sien Jakobus 4:8-10)