- Rip van Winkel op Rundu.
Dit was my heerlike voorreg om verlede maand 'n reeks Pinksterdienste op Rundu in die Kavango waar te neem. Rundu was my eerste gemeente (1991-98) en die dorp en sy mense langs die pragtige Kavango rivier sal altyd ‘n spesiale plekkie in my hart hê. Dit was aangenaam om weer daar te kom, die Woord te deel, ou kennisse te sien en Vic en Milly Basson se gasvryheid te geniet.
Maar dit was ook weer ‘n tyd van nadink, besin en herkou... Toe ek Rundu binnery in kruipende verkeersdrukte (ja, glo my!), het ek so ‘n amperse Rip van Winkel gevoel beleef. Rundu is nie meer ‘n veraf voorpos van die beskawing langs ‘n rustige rivier nie. Dis nou ‘n polsende stad. Rundu het ingrypend verander!
Die vooruitgang op Rundu die afgelope dekade of wat is baie opsigtelik : nuwe moderne geboue, roltrappe en robotte. Dit woel en werskaf, ‘n reuse nuwe mark word opgerig... Die stofstraat voor die voormalige ENOK woonstelle waar ek gebly het, het onlangs ‘n splinternuwe teerstraat geword.
Maar daar is ook minder aangename veranderings : die skrikwekkende uitroei van pragtige inheemse bome (selfs teen die skuins walle langs die vloedvlakte word dit ontbos), die verspreiding van uitheemse indringerplante, verwaarloosde tuine (mense wat die dorp nog van “army” dae geken het, sal in hulle wortels geskok wees), die hope vullis in die strate...
Ek gooi ‘n draai by die ROK van ouds. (Vir die wat Rundu nie ken nie, dit was die bekende Rundu Ontspanningsklub) Almal in Rundu het dié kuierplek geken, geleë op ‘n pragtige hoogte wat uitkyk oor die rivier. Vir party was dit eintlik iets baie meer as net ‘n kuierplek... amper ‘n bestaanswyse of dalk ‘n ontvlugtingsoord. Nou is dit onooglik en verwaarloos. In die proses om 'n volwaardige ruïne te word. Eintlik pateties, tragies... Ek kyk binne in. Die kroegtoonbank is nog daar, ‘n leë stilte klink in jou ore. Die plafon val inmekaar. Louw Potgieter se pragtige skildery op die muur by die ingang is swart bekrap. Rommel en nogmaals rommel... Die vergane glorie van die ROK is vir my simbolies van die mens se tydelikheid en gebrokenheid. Van verkeerde keuses en geleenthede wat vir altyd verby is. Dis hartseer om te sê, maar sommige van die gereelde ROK besoekers het destyds toe ek hier in die bediening was, hulle eie praatjies bo die Woord gekies. Nou is die ROK stil, uitgedien... en van sy voormalige besoekers is nie meer met ons nie.
“Here, alles vergaan, maar U Woord bly ewig staan.”
Gelukkig kon ek die vreugde beleef dat daar nou nog op Rundu mense is wat begerig die Woord van God indrink en selfs op weeksaande moeite gedoen het om te kom luister. Dit was vir my heerlik om die kosbare Woord van God aan julle te bedien. Mag ons weet, dat elkeen wat na Jesus en sy Woorde luister en dit doen, sal wees soos die man wie se huis op die rots gebou is. So ‘n huis sal die storms van die tyd, verganklikheid, vervolging en die Laaste Oordeel deurstaan en permanensie kry in God se ewige Koninkryk. Wie bou op die valse sekuriteit van rykdom, losbandigheid en die najaag van selfgesentreerde ambisies se lewenshuis sal verkrummel tot ‘n bouval soos die ROK. Dis ‘n skrikwekkende werklikheid, wat selfs in hierdie lewe al in sommige gevalle met die blote oog sigbaar is...
Rundu en omgewing het baie blyplek van goeie gehalte: Kavango River Lodge, Omashare River Lodge, Sarasungu River Lodge, Ngandu Safari Lodge, Kaisosi River Lodge... Maar enige aardse verblyf en menslike akkommodasie is net tydelik. Maak seker van jou ewige blyplek. Dis die huis van die Vader waar Jesus vir ons woonplek gereed gemaak het deur sy genoegsame versoenende sterwe. Weet jy hoe om daar te kom? Wel, dis eenvoudig, Jesus self is die pad daarheen, Hyself is die volledige waarheid, Hy in Homself is die lewe. (Johannes 14:6) Wie Jesus aangeneem het, deel in die volle pakket van ewige vreugdevolle verblyf. Die woonplek waarheen Hy ons gaan neem as Hy sy mense kom haal is ‘n onverganklike woonplek, volmaak in die heerlike teenwoordigheid van God. Anders as die ROK kan dit nooit ‘n ruïne raak nie...
Naskrif
Die tydelikheid van ons bestaan is nog verder onderstreep, toe die jarelange en getroue tuinwerker van die kerk, Irenaeus juis in die tyd van Pinkster, oorlede is.
Kroegtoonbank ROK
Muurskildery by die ROK
Die Kavango het die pragtigste inheemse boomsoorte.
Een van my gunstelinge is die Baster Mopanie.
(Guibourtia coleosperma)
Van kosbare bome word pale gekap en met vragmotors weggery.
Moderne geboue op Rundu
Hallo Johannes,
AntwoordVee uitDankie vir jou artikel. Ons was onlangs op Rundu, ook ons eerste gemeente vanaf 1983-1986, en was verras met die verstommende ontwikkeling. Baie plekke wat ontstaan het uit wat destyds veld en stofstrate was. Ander soos jy tereg opmerk, wat was en nie meer is soos dit was nie
Ons was dankbaar om weer daar te kon wees, maar ook aangedaan.
Groete
Frans Fouche
Dankie Frans. Dis lekker om van julle daar in die Kalahari te hoor! Moet asseblief nooit Tsumeb misry as julle dalk weer in hierdie rigting kom draai nie!
AntwoordVee uitNaand Johannes
AntwoordVee uitNie seker hoe ek op die Runtu hartseersaak op jou webtuiste afgekom het nie... Seker maar die Musivi wat ek op die fotos herken het toe ek Vaderlandswilg geGoogle het!! Meestal onder hulle in die jagveld geslaap.
Het op Runtu skoolgegaan sedert 1973. Later Grootfontein op hoërskool (daarom sal ek jou NIE op Tsumeb besoek nie..He he). Darem goeie NISU herhinneringe daar.
Kan nie glo die ROK lyk so sleg nie. Die ROK en die Winkel verder straataf was die sakekern destyds, die dorpie se trots!! Ten minste maak die fotos dat my hunkering om Runtu weer te sien minder word. Maar nou ja, laat ons ons oë van die tydelike hede af oplig en na die horison kyk na die lieflike ewigheid wat wag.
Groetnis
Frank Bartlett
Baie dankie vir die interessante terugvoer! Ek wonder sommer of jy dalk familie van Ray Bartlett hulle is, wat hier in ons gemeente is? Groetnis (en inderdaad is jy welkom vir 'n kuier op Tsumeb...)
Vee uit