BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 22 Julie 2012

VOORREG VAN VERGIFNIS

- vrae en feite.

Ons glo dat God sondes vergewe. Ons bely dit in die woorde van die Twaalf Artikels saam met die kerk van Jesus dwarsoor die hele wêreld. Die heilige God, die God wat LIG is, is ook ‘n vergewende God!  Reeds in die Ou Testament  leer ken ons die ware God as die Een wat sondes vergewe!  Dink maar aan :
Psalm 130:4  “Maar by U is daar vergifnis : daarom word U steeds gedien.”
Miga 7:18   “Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde...”

Dis hierdie feit van vergifnis wat ons God ‘n besondere God maak! Vergifnis is ‘n heerlike waarheid waarsonder ons nie kan bestaan nie; tog is daar baie praktiese vrae en onsekerhede rondom hierdie belangrike saak. Kom ons kry ‘n paar antwoorde uit 1 Johannes 1:5-2:2 (lees gerus) :

Wie mag vergifnis vra? Dis duidelik Johannes skryf hier  vir kinders van God. Ons moet dit mooi verstaan - vergifnis is die voorreg van God se kinders. ‘n Mens kan net op een manier God se kind word, dis deur jou vertroue in Jesus te stel. Om elke dag sondes te bely maak jou nie noodwendig ‘n kind van God nie. (Dink maar Luther se tevergeefse gebieg en gebid daar in die klooster, voordat hy die evangelie begryp het). ‘n Mens kan jare lank, oggend en aand vir vergifnis vra, maar nog steeds verlore wees. Ek moet eers Jesus as Verlosser aanneem, dan eers het ek vrede met God. Maar as jy reeds ‘n kind van God geword het, is dit jou besondere genade voorreg om jou sondes te kan bely!

Is dit dan  nodig vir God se kinders om vergifnis te vra? As mens ‘n kind van God is, is jy mos totaal vrygespreek, kwytgeskel van al jou sonde. Jy het vrede met God. Hier moet ons mooi verstaan. Die Bybel is baie duidelik dat as ek Jesus Christus as my Verlosser aanvaar, dan word ek vrygespreek. Van alle sonde!  Vrede met God! Dis duidelik uit tekste soos Hebr 8:12; Kol 2:13,14; Rom 5:1 en baie ander.  Dis ‘n volkome vergifnis wat jou in die regte verhouding met God plaas. Ons kan dit ‘n juridiese vergifnis noem. Dit verander jou status van ‘n skuldige rebel na ‘n wettige kind van God. Maar nou weet ons dat kinders van God ook kan sondig. Dis waaroor dit hier in 1 Johannes gaan. Mense wat ontken dat hulle nog sonde doen, is leuenaars sê Johannes. Kinders van God het ook vergifnis nodig. Hoekom? As kind van God staan ek nou in ‘n verhouding met my Vader. As ek nou oortree, sondig ek binne in hierdie verhouding, ek bedroef Hom. Ek bly nog sy kind, my status is onveranderd, maar ek maak my Vader ongelukkig en dis in hierdie konteks dat vergifnis nodig is. Dis die vergifnis waarvan Johannes hier praat. Ons kan dit Vaderlike vergifnis noem. Om ons te help verstaan kan ons hierdie onderskeid maak. Juridiese vergifnis, vryspraak is wat ek eenmalig ontvang as ek Jesus in geloof aanvaar as my Verlosser. Dit gaan oor my status voor God. Vaderlike vergifnis is iets waaraan ons daaglikse behoefte het.   Dit gaan oor my voordurende wandel met God.(Dink maar weer aan die verhaaltjie van die misdadige straatkind oor wie ‘n koning hom ontferm. Die goedhartige koning verleen aan hom ‘n volledige amnestie, wat al sy misdade dek en aan hom volkome vrywaring gee. Dis ‘n juridiese vergifnis. Die koning gaan verder en neem die straatkind aan as sy eie wettige kind en erfgenaam. Hierdie kind is egter ver van volmaak af. Hy doen nog steeds dinge wat verkeerd is en dit bedroef die koning en ontstig hom. Die kind sê dan hy is jammer en ontvang vaderlike vergifnis. )*

Is vergifnis ‘n eenvoudige maklike saak? Kan ek maar net vinnig in die aand voor ek gaan slaap ‘n gebedjie prewel en als is weer reg? Is sonde iets ligtelik as dit dan so maklik vergewe kan word? Johannes gee vir ons pragtig die korrekte Bybelse balans in 1 Joh 2:1. “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig - ons het Jesus Christus, die Regverdige, as ons Voorspraak by die Vader.” Daar is iets soos vergifnis vir die kind van God. Hoekom? Jesus is ons advokaat (Voorspraak). Sy eenmalige genoegsame kruisdood het vir ons die reg tot vergifnis bewerk.

 Ons vergifnis  is nie gebou op ons hoeveelheid  trane of mooi hartseer gebede nie, maar op Jesus se volkome genoegsame middelaarskap. 

Maar dit beteken nie sonde is ‘n ligte ou sakie nie. Met alle erns waarsku Johannes vir God se kinders om nie te sondig nie! Sonde is altyds iets skrikwekkends. Sonde is nooit nuttig nie. Sonde bring altyd net verwydering, verwyte en oneindige hartseer.  Sonde steel ons vreugde. Geen kind van God voel gelukkig oor enige sonde van die verlede nie. Ons bly skaam en hartseer daaroor al weet ons dit vergewe.  Sonde doen net skade en ons moet met alle mag daarvan weg te vlug. En tog kry ons hierdie heerlike troos... AS ... ja, as ons val is dit gelukkig nie die einde nie! Daar is iets soos vergifnis.  Dis ‘n genade wat ons met dankbaarheid moet vervul en juis met alle mag moet laat stry teen sonde!

Kan ek maar opsetlik sondig, met die gedagte in my agterkop dat ek tog maar net weer later vergifnis sal vra? Hier beweeg ons op baie gevaarlike terrein. Kan ek besluit : “Ag, ek is nou moeg vir my vrou en gaan ‘n ander een kry. Ek weet beslis dis verkeerd, maar ek gaan dit tog doen en ek sal maar net daarna vergifnis vra”?  Sal God so ‘n sonde vergewe? Wel, God vergewe sonde as ons dit bely.  Hiervoor  het ons ‘n duidelike belofte. Maar pasop, God vergewe ons net as ons bely, en voordat mens tot egte belydenis kom moet daar erkenning en berou wees. En weet jy wat? Om my sonde te besef is alreeds ‘n genadewerk van die Heilige Gees.  Berou is alreeds ‘n gawe van God. As jy vandag besluit ek gaan my vrou los en sal maar later vergifnis vra, waarsku ek jou daar is geen waarborg dat jy wel later berou gaan hê en opreg vergifnis gaan vra nie. God kan dalk jou hart verhard en jy sal geen behoefte na vergifnis ervaar en geen berou toon nie. Die punt is: Moenie God uittart nie. Moenie met genade speel nie. ‘n Voortgande lewe in duisternis is ‘n aanduiding dat iemand nie aan God behoort nie. (1 Joh 1:6)  As dit gaan oor genade moet ons nie probeer kanse vat of sommetjies maak nie. Genade moet aangegryp word.

Genadetyd is altyd nou. 

Wat môre gaan gebeur weet niemand nie. Moenie die Heilige Gees weerstaan as Hy  met jou praat en jou van sonde oortuig nie.

Kind van God,  Jesus het vir ons die heerlike voorreg van vergifnis verdien. Maak ruim gebruik daarvan. Moenie sonde vertroetel nie. Moenie met skuld en wanhoop rondloop wat jou uitmergel nie.  Die duiwel wil God se kinders graag weghou van vergifnis af. Want solank ons skuldig voel het ons nie vreugde nie en kan ons ook nie bruikbaar wees nie. Hy gebruik ‘n tweeledige taktiek. Vir sommige maak hy wys : “Ag, jou sonde is nie so erg nie. Jy het nie vergifnis nodig nie. Almal maak maar so.” Met ander mense gebruik hy juis die teenoorgestelde taktiek (Satan werk altyd met uiterstes) Hy mislei hulle deur te suggereer : “Weet jy hierdie sonde van jou is te erg. Jy kan nie daarmee na Jesus gaan nie.”  Satan sal als in sy vermoë doen om jou weg te hou van jou advokaat, jou Voorspraak,  Jesus Christus. Daarom vlug na Hom! Al het jy nou net gesondig, moenie vir jouself sê : “Ek sal maar  ‘n rukkie wag tot ek eers ‘n bietjie beter voel en dan met die Here praat nie.” Nee, gaan dadelik na Jesus. Gaan met hierdie belofte in jou hart... “As ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh 1:9)  Dis ‘n kosbare belofte en ‘n vreugdevolle voorreg wat Jesus vir ons beding het. 

* Lees ook op hierdie Blog, PALEISPRINS IN OPLEIDING

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.