BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 23 Junie 2019

GOD SORG VIR SY KERK

OOK DEURDAT ONS BUITE DIE “BOKS” BEGELEI WORD! 


Die Here sal sy kerk nooit in die steek laat nie. Dit het ons nou weer opnuut ondervind. Juis nou in ‘n tyd van afvalligheid, dwaalleer, valse teologie en ‘n tekort aan getroue Woordbedienaars. Op Sondagoggend 23 Junie 2019 is twee ouderling broers van die NGK Tsumeb, Andries Gous en Herman Fuls amptelik as gemeentebedienaars (met die reg tot Woord en sakramentsbediening onder die toesig van die kerkraad) deur dr. De Wet Strauss van die Kuratorium van die NGKN bevestig. Dit was ‘n heuglike en historiese geleentheid! Nuwe grense is oorgesteek. Dis leraars wat in die hart van die gemeente gegroei en hulle roeping ontvang het. Hulle het binne 'n gemeentekonteks as dienende ouderlinge hulle opleiding ontvang deur ander persone wat in die praktyk van die bediening staan. Ons beleef hierin iets van die besondere leiding van die Heilige Gees waarvan Jesus self gepraat het in Johannes 16. De Wet het hierdie hoofstuk gebruik om op ‘n onderhoudende manier die Woord aan die woord te laat kom en ook op sy eie vars wyse van dinge doen die hele kerkraad en gemeente te betrek. Die twee broers het op die kansel self hulle legitimasie eed onderteken. Die hele kerkraad was betrokke by die handoplegging. In werklikheid is ons hele kerkverband, die NGKN betrokke, want dis nie iets wat ons in Tsumeb bloot op eie houtjie aangepak het nie. Aan God alleen die eer! 




Andries deel iets van die pad wat die Here deur middel van sy kerk met hom geloop het: 

“In Julie van 2012 verplaas die maatskappy vir wie ek werk my na hulle Tsumeb operasies. 

Ons skakel in by die Tsumeb gemeente van 2013 af nadat my familie ook by my aangesluit. Ds. Johannes de Koning besoek ons aan huis en kort daarna ontvang ons huisbesoek van die ouderling verantwoordelik vir die wyk. 

Roelf van Wyk het as ouderling sommer kom koffie drink en het begin gesels oor die bediening onder die San mense en die Wildevy gemeente. Hy prikkel my belangstelling soveel so dat ek daaraan begin dink om betrokke te raak by die San bediening. 

Op die 13de Julie 2014 tydens die oggenddiens hoor ek dat ds. Johannes de Koning iets vertel van die Tsumeb gemeente se betrokkenheid by die Wildevy gemeente op Tsintsabis en ek besluit dat dit sommer die geleentheid is om met hom te gaan praat, en om betrokke te raak. 

Daardie aand gaan woon ek die eerste keer in Tsumeb die aand Bybelstudie geleentheid by en ek gesels met ds. Johannes oor die San bediening en dadelik nooi hy my om die daaropvolgende Woensdag saam met hom te gaan wanneer hy ’n Bybelstudie geleentheid by die Tsintsabis gemeente gaan lei. Dit raak daarna ‘n gereelde instelling om elke tweede Woensdag saam met hom uit te gaan Tsintsabis toe. 

My betrokkenheid by Tsintsabis het dus begin nadat twee broers my bewus gemaak het van die werk en die Heilige Gees my aangemoedig het om my hand op te steek om betrokke te raak. Soos met alles in die koninkryk moes hierdie twee broers die hout aandra deur te getuig en uit te nooi totdat daar genoeg hout was vir die Heilige Gees om die vuur aan die brand te steek binne-in my. 

In die tussentyd oortuig een van die ouderlinge van Wildevy gemeente by name Karl Ganseb my om saam met hom die Woord te begin bring onder gemeenskappe binne die Wildevy gemeente se bedienings area wat nie bereik word deur ds. Josef Gevers op Tsintsabis nie. 

Die bediening saam met Karl groei oor die volgende paar jaar tot 4 bedieningspunte waar die Woord gebring word aan om en by 100 kinders en 120 volwassenes op ’n gereelde basis. 

Die een ding lei tot die ander en ek word saam met Roelf van Wyk afgevaardig om Tsumeb gemeente by DEGNOS se jaarvergadering te gaan verteenwoordig in 2015. Tydens my betrokkenheid by DEGNOS kom ek al meer onder die besef hoe belangrik die rol van toerusting van gemeenteleiers is. Ek kom al meer onder die indruk dat ons die vermenigvuldigings effek ( 1-2-4-8-16-32-64-128-256....ens) benodig as ons regtig effektief diensbaar in die koninkryk wil wees en dit kan slegs behaal word indien daar genoegsame gelowiges toegerus word om verantwoordelik diensbaar te wees in elke gemeente. Dieselfde beginsel geld binne-in gemeentes, waar dit onmoontlik is vir die predikant om alleen die gemeente te versorg as die res van die gemeente nie betrokke is by die versorging van die liggaam nie. 

Ek kom in hierdie tyd agter dat daar min dinge so gevaarlik is soos om mense los te laat om te preek wat nie goeie lering (toerusting) ontvang het nie. Ek sien immers daagliks saam met Karl wat die impak van verkeerde lering is onder die San mense en watse groot verwarring dit veroorsaak. Die situasie lyk ook nie veel beter onder die mense in my direkte omgewing nie. 

Iewers tydens die baie gesprekke van DEGNOS raak ek bewus dat ons as NG Kerk Namibië met ‘n groot probleem sit in die vorm van gemeentes wat nie meer voltydse professionele predikante kan bekostig nie, asook die gebrek aan Namibiese burgers wat opgelei is as predikante. Verder dra die ouer wordende predikantekorps in Namibië ook by tot ‘n krisis wat net wag om te gebeur. Ook sien ek al meer dat daar so ‘n groot braakland bestaan waar mense nie die Woord hoor nie en nie altyd toegang het tot plekke van aanbidding nie. Niemand kan dit beter stel as on Here Jesus self nie, soos opgeteken in Matteus 9:37: “Die oes is groot, maar die arbeiders is min” 

Die besef sink in dat daar ’n groot nood is vir opgeleide bedienaars van die Woord, nie net in kleiner plattelandse gemeentes nie, maar ook in die bedienings areas rondom gemeentes, die gebiede wat braak lê waar daar geploeg en gesaai moet word. 

Iewers in die gange kom ek te hore van die versoek dat ds. Hendrik van Zyl van DEGNOS moet begin met lidmaatbemagtigingsopleiding in Otavi vir die Otavi gemeente juis as gevolg van die bedienings situasie daar waar nie meer ’n voltydse leraar beskikbaar is nie. Hierdie opleiding is dieselfde opleiding as wat die inheemse predikante van die Wildevy, Tsumkwe en Luhebu-Noord gemeentes ondergaan het. 

Na ‘n gesprek met Hendrik waar hy aandui dat dit goed sal wees as Tsumeb ook inskakel, word die uitnodiging gerig aan die gemeentelede van Tsumeb. 

Op die 11de Februarie 2017 meld ons aan saam met lede van Otavi en Grootfontein aan saam met ons lektore, di. Hendrik van Zyl, Dirk de Vos, Lucas van Vuuren en mev. Jeanette Lubbe, wat ons die volgende 30 maande toerus om meer bruikbare instrumente in die hand van die Here te wees. 

Tesame met die amptelike opleiding is daar ook konstante interaksie met ds. Johannes de Koning wat as mentor aktief betrokke is op ’n informele basis met die slyp van my denke en help met die ontwikkeling van my bedienings vaardighede en die groei van my eie teologiese begrip. 

Ons doen onder die vaandel van DEGNOS die Gemeentebou, Prediking en Pastorale sorg programme wat deur DEGNOS ontwikkel is in samewerking met die Departement van Kontekstuele Teologie van die Universiteit van Pretoria, sowel as die Veritas College se vier fondasie modules wat soos volg opgedeel is: Module 1 Uitleg en Vermaning : Paulus se briewe, Module 2 Narratiewe literatuur – Pentateug en Ou-Testamentiese Geskiedkundige boeke, Module 3 Poësie, Wysheidsliteratuur en profete en Module 4 Die Sinoptiese evangelies, Johannes, Handelinge en Openbaring. 

Die klaskamer opleiding was baie belangrik maar sonder die mentorskap van die vier dosente(Hendrik, Dirk, Lucas en Jeanette) en Johannes sou dit nie moontlik gewees het om ’n goed toegeruste bedienaar van die Woord te word nie. Hulle bydra tot my groei en ontwikkeling was van onskatbare waarde en ek dank die Here vir hulle betrokkenheid in my lewe. 

Hierdie is die begin van ’n opwindende en baie interessante nuwe veld in die bedienings beursie van die NG Kerk en dit is met groot opgewondenheid dat ons uitsien na die pad vorentoe.” 

Ons ander ouderling bedienaar, Herman Fuls beskryf sy pad so: 

“Ek het op 'n stadium in my lewe baie ver van die Here afgedwaal. Dit was grotendeels omdat ek nie betrokke was by 'n groep gelowiges / kerk van die Here nie. Die Here was my baie genadig en het my kom red uit 'n diep verlorenheid. Ek het op 'n harde manier uitgevind wat die waarde van kerkwees is en wat die implikasies is as mens nie deel raak van Christus se 'liggaam' hier op aarde nie. Dis inderdaad net baie gevaarlik om 'n 'randfiguur' te wees en nie voluit betrokke te wees en te leef vir Christus nie. God het my geplaas in 'n klein, wonderlike dorpie - Rosh Pinah. Daar het ek die stryd beleef van 'n gemeente wat geworstel het om 'n voltydse leraar te beroep en te kan bekostig. Vir jare het die NG Kerk Lüderitz (bestaande uit Lüderitz, Rosh Pinah en Aus) deur fases gegaan waar daar een maal 'n maand 'n leraar was wat die Woord kon verkondig en vir lang tye (soms ‘n jaar of twee) waartydens daar glad nie 'n leraar was nie. Die gemeente was aangewese op die kerkraad en gelowiges om eredienste te lei en na gelowiges om te sien. Daar het ek bewus geraak van my eie tekorte (en van gelowiges in die algemeen) om in sulke omstandighede te kan volhard. (Christus was goed en het in daardie moeilike omstandighede die gemeente versorg). Die Here het my en my gesin gelei na Tsumeb. Ons het ons pas in Tsumeb gevestig toe die geleentheid opduik om opleiding te ontvang wat ek met beide hande aangegryp het. Alle lof aan ons Skepper! Ek stap nog 'n pad saam met God om te sien en hoor waar en hoe Hy my wil gebruik vir Sy werk hier. Ek besef vandag dat daar baie gemeentes en gelowiges in Namibië is onder dieselfde omstandighede. Hierdie is 'n geleentheid om ons kerkrade op te lei en toe te rus vir diens aan Christus. Ek nooi ander gelowiges en kerkraadslede uit, wat die roepstem van God gehoor het, om verder toegerus te word vir diens in Sy Koninkryk en na God se kudde om te sien.” 

Die Here Jesus het beloof dat die Gees ons sal lei. Inderdaad het ons hier op Tsumeb sy leiding in hierdie tyd op besondere manier ervaar en ons sien nederig, dankbaar en afhanklik uit na die pad verder wat Hy met ons gaan stap!  Ja, ons weet ons moet nog so baie leer. Daar is soveel dinge waarmee ons sukkel. En tog, wat ‘n voorreg om deel te wees van die liggaam van Jesus! Mag God ons almal maar in besonder hierdie broers bewaar van die Bose sodat daar groot vrug op hulle arbeid mag wees tot eer van God!


De Wet Strauss, Andries Gous, Herman Fuls, Johannes de Koning (Foto's -  Ida Irvine)

5 opmerkings:

  1. 'n Opmerking van De Wet tydens die erediens bly my by: Soms werk die Gees en laat dinge gebeur sodat ons as't ware eers na die tyd tot verhaal kom.

    Johannes soos jy altyd na die nagmaal verwys as die "proebare evangelie" was hierdie bevestiging 'n sienbare bewys dat God deur Jesus nie net sy kerk hier op aarde gevestig het nie, maar dit ook onderhou volgens Sy plan. En net soos met die nagmaal versterk dit ons ook in ons geloof. Soos jy sê : Soli Deo Gloria! Buys

    AntwoordVee uit
  2. Dankie vir die getuienisse van Andries en Herman wat duidelik wys hoe die Here 'n pad met hulle gestap het en nogsteeds stap, en hoe hulle voluit in die liggaam van Christus kan werk en dien terwyl hulle veeleisende beroepe beoefen.
    Dit laat my na myself kyk en sien hoe die liefde van Jesus nog hier by my lê, soos die Sendinglied ons vermaan. Dankie vir julle voorbeeld van volharding.
    Estelle

    AntwoordVee uit
  3. Goeie dag Johannes,
    Ek het noukeurig gelees wat jy hier sê.
    Jy praat van dwaalleer, valse teologie en n tekort aan getroue Woordbedieners, maar jy verduidelik nie wat jy daarmee bedoel nie.
    Dan noem jy dat twee ouderlinge onder toesig van die kerkraad en n dr. van die Kuratorium hulle basies die reg gee om die Woord en die sakramente te bedien.So mense gee hulle die reg daartoe?, maar dit is tog nie wat die Woord ons leer nie.
    Mat 28:19
    “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
    [therefore ...] In view of My authority, I commission you with full power of attorney to carry on the work that I have started (Sien ook Joh. 16:23).
    Jammer vir die Engels.

    Ek verkondig die Evangelie op grond van hierdie outoriteit in die gevangenis, daar waar ek brandstof ingooi en nog baie ander plekke.
    Wanneer iemand Jesus Christus as sy of haar persoonlike verlosser aanneem, sal ek hom of haar doop.
    Ek bedien ook die nagmaal in my huis as konining, priester en profeet. By ons sel byeenkomste gebruik ons nagmaal en ons is ʼn paar mans wat op ʼn Dinsdag oggend vroeg saam bid en ons gebruik ook nagmaal daar.
    Johannes my vraag is dan, moet ek nou eers toestemming kry by die kerkraad of Kuratorium om vir siekes te bid of dan vir enige ander saak.

    Groete in die naam van Jesus.
    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Boeta. Lekker om weer van jou te hoor. Interessante opmerkings van jou kant af waarop emens nie sommer so vinnig voldoende en volledig sal kan reageer nie. Inderdaad het alle gelowiges die opdrag om dissipels te maak en wat daarmee saamgaan. Tog leer die Woord ook baie duidelik dat God deur sy gemeentes ampte kies (aanwys) en uitstuur vir bepaalde take. God is immers 'n God van orde! Dink maar net in Handelinge aan die kies van die sewe diakens, die ouderlinge wat in die nuutgestigte gemeentes van Paulus aangewys is en Paulus en Barnabas self wat deur die gemeente van Antiogië amptelik uitgestuur is op hulle sendingreis, juis onder die leiding van die Heilige Gees! Die kies van ampsdraers was en is 'n gewigtige saak daarom kry ons in die Nuwe Testament duidelike vereistes waaraan ouderlinge en diakens moet voldoen. Beheer en toesig is baie noodsaaklik, juis omdat baie wolwe met skaapsklere rondloop...

      Op hierdie Blog was ek telkens al baie uitgesproke oor dwalinge wat in die kerk aan die gang is en geduld word(kyk maar weer...), daarom is ek opreg bly dat God op hierdie manier voorsien sodat die waarheid verkondig kan word!

      Vriendelike groete en sterkte met jou Koninkrykswerk!
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.