BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 10 April 2015

REDDENDE GELOOF

- laat jou in jou spore omdraai!

Gedurende die Paastyd het ons die heerlike feite herdenk van die kruis en die opstanding. Die waarheidsevangelie van Jesus se volkome afgehandelde versoeningswerk. Jesus het ons sondestraf gedra en as bewys van die genoegsaamheid daarvan is Hy uit die dood opgewek. Die vraag is net, raak dit jou persoonlik? Is jy al hierdeur diep in die hart getref? Het dit al tot persoonlike geloof en bekering gelei? 

Nou wonder jy dalk, wat is geloof? Wat is reddende geloof? Daar is mos ‘n algemene idee dat geloof ’n positiewe ingesteldheid is - ek glo dit sal ’n goeie jaar wees, ek glo ek sal my eksamens deurkom... Dis nie die Bybelse siening van geloof nie! Mense dra hierdie siening oor na hulle geestelike lewe - ek glo maar alles sal regkom (en dink dis geloof) Ek glo ek sal hemel toe gaan - dan dink hulle hulle sal hemel toe gaan. Dis ’n absurde redenasie. (As ek op ‘n verkeerde trein geklim het, kan ek glo soos ek wil, ek gaan nie by die regte bestemming aanland nie...) Dis moontlik om vas te glo aan iets wat nie waar is nie, sulke geloof help mens niks...

So wat is Bybelse geloof dan? Ons kry ‘n besonder prakties en insiggewende voorbeeld daarvan in Johannes 4:43-54. Dis die merkwaardige verhaal van die regeringsamptenaar wat na Jesus gekom het om Hom te vra om na sy kindjie te kom wat sterwend was en hom te genees. Jesus het nie saam met hom gegaan nie, maar wel die volgende gesê : “Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe!” En wat was die amptenaar se reaksie? GELOOF! "En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan.” (vers 50 OAV) Om te glo is om persoonlik God se woord/belofte te vertrou. Dié verhaal illustreer dit prakties. Die man weet sy kind is siek en op sterwe. Jesus sê vir hom : Jou seun lewe! Hy glo dit en draai om en gaan huis toe! Hy vertrou op Jesus se woord, Hy aanvaar dit as die waarheid en vra nie verder vra daaroor nie. Geloof is vertroue op God se belofte, nie op my eie idees of wense nie. (Abram) Geloof is vertroue op God se belofte ten spyte van die huidige werklikheid en feite. Die man weet, dis ’n feit dat sy kind sterwend is, maar Jesus sê hy lewe en hy aanvaar dit as die waarheid. Geloof is om teen al die sigbare feite God se belofte te aanvaar. Soos Abram volgens Romeine 4:18,19 teen die sigbare, mediese werklikheid God se beloftes geglo het.

Watse beloftes maak God aan ons? Baie, maar die belangrikste is oor Jesus self en dit wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. God se Woord sê : Jesus is die lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. (Johannes 1:29) Deur sy kruisdood het Jesus jou straf gedra en dit bring vrede. (Jesaja 53:5,6!) Glo jy dit? Om te glo moet ek die feite oor Jesus ken, oor sy sterwe en opstanding, maar ook persoonlik vertrou dat dit ook vir my genoeg was!

BEWEEG SONDER OM TE SIEN

Maar daar kom iets by! Wat doen die man toe hy glo dat sy seun lewe? Hy draai om en gaan huis toe. Dit wys dat hy regtig glo, sy geloof bring hom in beweging. As hy nog daar rond gestaan het, vrae en bewyse gevra het..... dan het ons geweet hy het nie regtig geglo nie. Hy sou miskien kon sê : “Ek glo,” maar solank hy daar hartseer rondgestaan het sou dit duidelik wees dat hy nie geglo het nie. Hy sien nog niks, maar hy vat Jesus op sy woord. Hy glo sy seun lewe en hy gaan huis toe! Geloof bring reaksie. Dink weer aan Abram. God sê vir hom basies : “Ek gaan vir jou ’n nageslag en ’n land gee. Trek”. Hy glo dit. En hy begin trek.... hy het nog nie die land nie, het nog nie die seun nie, maar omdat hy God se belofte glo kom hy in beweging!
God sê vir jou: “My seun het jou straf gedra, deur Hom ontvang jy volle vergifnis!” As jy dit glo, sal jy Jesus begin volg, jy sal van gedagte verander (metanoia), omdraai van die ou lewe en Jesus begin gehoorsaam. Dit noem ons bekering. Bekering volg op geloof. Dit gaan saam soos twee kante van ’n muntstuk. 

Ds. Chris Saayman gebruik die volgende treffende beeld. Sien in u geestesoog die volgende prentjie: Twee mense is besig om afdraende te hardloop: reguit hel toe. Weg van God af. Hulle hardloop soontoe, want hulle het ’n onbetaalbare reusagtige sondeskuld by God. Dit maak ’n MUUR tussen hulle en God. Maar toe stuur God een van Sy amptenare agter hulle aan met ’n boodskap. Uiteindelik hardloop die boodskapper hulle in en uitasem sê hy: “Julle ouens kan maar omdraai, terug na God toe. Verander van gedagte, want Hy het my gestuur om vir julle te sê dat Hý deur Jesus al julle skuld betaal het. Hý het alles tussen julle en Hom reggemaak op Golgota. Draai maar om.” Een van die mans se oë begin blink en hy glo onmiddelik dit wat die boodskapper sê. En omdat hy glo, steek hy in spore vas en draai hy om – terug na God toe. Maar, die ander man lag die boodskapper af – “ Ag, dit is tog absurd – dat God my hemelhoë skuld kon afskryf en my die hel kon kwytskeld – NOOIT – dis verregaande – so-iets kán nooit gebeur nie ” – en hy hardloop doelbewus verder – hel toe... Die vraag is: Waar gaan die tweede man eindig? Antwoord: Dáár waar hy gekies het om heen te gaan: die ewige verderf. Hoekom? Omdat Hy God tot leuenaar gemaak het en nie die boodskapper wou glo nie en dáárom nie omgedraai het nie. Vra dan ook : Waar gaan die eerste man eindig? Antwoord: Vir ewig by die Here. Waarom? Omdat hy geglo het en omgedraai het?? Nee – omdat God Sy skuld op die kruis uitgevee het! – en dáárom kon hy omdraai terug na God toe! Hy draai om OP GROND VAN die INHOUD van die verbysterend heerlike boodskap van God: “Ek het jou sondes in my Seun Jesus se vloekdood gestraf en afgeskryf ”. Dit is dus nie sy OMDRAAI wat hom red nie, maar die inhoud van die boodskap wat hy begin glo – DIT red hom. Hy red nie homself met sy eie omdraai nie. Maar hy draai om omdat hy die boodskap hoor (en glo) dat hy gered is deur God se ontferming! 

Gaan jy glo, of gaan jy God tot ‘n leuenaar maak? 1 Johannes 5:9,10 “As ons die getuienis van die mense aanneem--die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.”

Hoekom nie God glo nie? Hoekom sou Hy vir ons lieg?

Glo jy die evangelie of het jy dit maar nog net gehoor? Het dit jou al laat omdraai, weg van die ou lewe of is jy dalk (binne die kerk) volspoed op pad na die ewige verderf? 

GLO, DRAAI OM en BEGIN GOD DANK!


[koppie naby Otjiwarongo]

1 opmerking:

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.