BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 27 Februarie 2015

VERTROUE OP DIE WOORD

- SLUIT ‘N NUWE TOEKOMS OOP!

Die hele nag het hulle hard gewerk, maar nie een enkele vis gevang nie! ‘n Algehele mislukking. Onthou net Petrus en sy makkers was nie hengelaars wat vir ontspanning vis gevang het nie, dit was hulle brood en botter, hulle hele bestaan het van die sukses van hulle vangste afgehang. Petrus moes dus baie mismoedig gewees het,... maar toe maak hy ‘n keuse, ‘n keuse om Jesus op sy woord te vat. ‘n Keuse om Jesus se woord te glo al maak dit nie sin nie en al druis dit teen sy logika in... en toe verander als. Dit lei nie net tot ‘n wondervangs nie, maar ook tot ‘n wonderlike toekoms!

GOD PRAAT

God praat met mense. Hy hou Hom nie maar net stil eenkant en onbetrokke nie. Hy maak bemoeienis met mense. Hoe? Hy doen dit deur sy Woord. Sy beloftes. Wanneer ons God se Woord glo, gebeur daar heerlike en kragtige dinge. Die krag van God se Woord word besonderlik bewys in hierdie gebeurtenis. Die belangrikheid van God se woord en beloftes is ‘n deurlopende tema in hierdie verhaal wat ons vind in LUKAS 5:1-11. Reg aan die begin hoor ons dat die skare vorentoe beur om God se Woord te hoor. (1) Ja, Jesus bring die Woord aan almal wat maar wil luister. Maar dan kom God se Woord baie persoonlik na Petrus. (4) Hy kry ‘n duidelike bevel : “Vaar uit na die diep water...” Dit het nie vir Petrus na ‘n logiese opdrag gelyk nie. Hy was ‘n visser van beroep, hy het die water geken, hy het geweet daar’s niks... Jesus was nie ‘n visserman nie, hy het in ‘n timmermans besigheid grootgeword. 

Maar Petrus neem ‘n geloofsbesluit - "Meneer," antwoord Simon, "ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi." (5) – met ander woorde - “Ek sal gehoorsaam en vertrou al maak dit nie vir my sin nie! Net omdat U so gesê het sal ek dit doen! Dit klink nie vir my reg nie, dit lyk nie vir my reg nie, dit voel nie vir my reg nie, maar net omdat U so gesê het sal ek dit doen.”

Dis op hierdie punt (in ‘n sekere sin) waar Christenskap begin. Dis die draaipunt. Wanneer ek ‘n keuse maak om God op sy Woord te vat, maak nie saak wat die feite, vrese en omstandighede is nie. Ek moet doelbewus reageer op God se beloftes. As Petrus Jesus se opdrag gehoor het, maar vol verduidelikings, verskonings en ekskuse gebly het, sou hy ‘n wonderwerk gemis het.

Die wonderwerk wat Petrus beleef het was natuurlik baie meer as net ‘n groot vangs van visse. [God het 'n baie groter plan vir Petrus gehad as bloot materiële welvaart. Kyk, as Petrus hulle elke dag met elke vangs hulle skuite kon volmaak, sou hulle lekker kon leef en dalk luukse villas daar langs die see kon bou... maar nee, Jesus was besig om Homself aan Petrus te openbaar en hom vir 'n nuwe toekoms voor te berei, wat alles behalwe rykdom en gerief sou behels...] Daar gebeur ‘n groter wonder in Petrus hart as in die skuit. “Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: "Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens." (8) Hy besef sy eie sonde. Hy kom onder sonde oortuiging. Die belofte van Esegiël 36:31 word waar in sy lewe.* (Dis inderdaad ‘n groot wonderwerk en teken van God se genade as mens jou ware sonde toestand voor die Here besef, want van nature is ons mos baie oulik en goed in ons eie oë!) Petrus word bang toe hy sy sonde besef... Soos die profeet Jesaja in Jesaja 6...

Maar weer kom die Woord na Petrus (soos destyds ook na Jesaja). “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (10) Dis ‘n kosbare woord van uitnodiging, liefde, vergifnis, hoop en 'n nuwe toekoms van bruikbaarheid in God se diens. En wat maak Petrus? Hy kies weer om Jesus se woorde te glo en maak so ‘n keuse om Jesus te volg. 

Belofte. Geloof. Bekering.

God se Woord, God se Beloftes kom na jou toe. Sy beloftes van vergifnis, van kindskap, van die ewige lewe...

Wanneer ek hierdie beloftes glo en daarop reageer, kry ek vergifnis en sluit dit ‘n nuwe lewe en toekoms vir my oop. Ek moet hierdie beloftes glo ongeag my toestand van mislukking en sonde. Ja, dis waar ek het al hoeveel keer misluk, ja dis waar my sonde is baie se groot. Ja dis waar ek voel moedeloos en bang. Maar onthou, God se beloftes bly waar in alle omstandighede. God se beloftes tel meer as my gevoelens en die sigbare feite (Dink aan Abram se keuse om God se belofte te glo oor ‘n nageslag al was hy en Sara oud en oor die muur!).

Geliefde, hoor weer opnuut die beloftes van God... Wat gaan jy daarmee maak? Jy het vandag dit gehoor en jy het dit al baie keer gehoor, het jy gereageer?

Maak soos Petrus, kies om Jesus se Woorde te glo. Maak nie saak wat my sonde is nie, maak nie saak hoe baie my mislukkings is nie, maak nie saak wat ander mense gaan dink nie, maak nie saak wat die duiwel vir my fluister nie... “op U woord sal ek...” Onthou, as als misluk het, as als verkeerd gegaan het, as als donker lyk, dan is God se Woord, God se beloftes daar vir ons... En God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie...

GOD SE BELOFTES IS GROTER AS ONS MISLUKKINGS! 

* Dis deel van die uitwerking van die beloofde Nuwe Verbond - “Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal ‘n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.”





Sondag 22 Februarie 2015

DROOGTE

- die mees gevreesde woord in die land waar ek woon.

Jy wil dit nie weet nie, maar tog weet jy dit kom, want die westewind (“Bankrotwind”) waai aanhoudend, die satelietfoto’s wys al die wolke is bymekaar in die Mosambiek kanaal en oor Madagaskar... Die kere wat daar wel reën val is dit plek-plek en kol-kol. Enkele gelukkiges praat van ‘n lekker bui terwyl die ander met onrus (en seker ook maar ‘n tikkie jaloesie) luister. Ja, dis droog en selfs die swarthake se blare word hier in Februarie al geel...

Watter invloed het droogtes op mense, wat is die oorsaak van droogtes en hoe moet ons, spesifiek as Christene dit hanteer?

Reg aan die begin moet ons sê dat die belewenis van droogte nie iets is waarteen God se geseëndes vrywaar nie. Gelowiges gaan ook deur die pyn van droogte! Kort nadat God Abram geroep en geseën het, kom hy voor ‘n hongersnood te staan in die einste beloofde land. Droogte in die beloofde land! Dus moes die aartsvader noodgedwonge na Egipte trek... (Genesis 12:10) As God droogte stuur in Kanaän om Agab se booshede te straf, ly Elia en die seweduisend wat nie voor Baal gebuig het nie ook daaronder.

HOE VERWERK ONS DIT?

Hoe verwerk mense (ook Christene) die bitter omstandighede van ‘n verwoestende en uitmergelende droogte? Die hantering van ‘n droogte herinner baie aan die manier hoe mense ander slegte nuus soos byvoorbeeld die nuus oor ‘n terminale siekte verwerk. Daar word deur ‘n reeks fases geworstel. 

Die eerste fase in droogte verwerking is gewoonlik ontkenning.* As die reën laat kom, dan veg ons (veral die optimiste) teen die gedagte van ‘n moontlike droogte... “Nee, wat dis nog nie so erg nie, ons goeie reën begin in elk geval eers in die helfte van Januarie. Julle moet net positief wees manne!” As Januarie reënloos en snikkend warm verbygaan... “Daar’s nog hoop, Februarie is mos die eintlike reënmaand.” Aan die einde van Februarie** wanneer die hemel steeds wolkloos gebly het en slegs hier en daar ‘n verdwaalde los bui geval het, hoor jy : “Vorige jare het ons al baie goeie reën in Maart gekry...” Later : “ Onthou julle daardie een jaar toe dit so vreeslik in April gereën het?” Dikwels is daar ook humor as ‘n manier van ontkenning en verwerking : “Ja, by my het 60 geval... sestig druppels. Ek het 50mm gekry, die druppels was 50mm van mekaar af. Lyk my as ek hierdie jaar kommandowurms gaan kry sal ek vir hulle veld moet huur.” Daar is ook diegene wat probeer troos, perspektief en hoop skep. “Onthou ons het darem verlede jaar buitengewone goeie reën gehad, dit kan darem nou ook nie elke jaar so goed reën nie. Ek het gister die bloukop teen ‘n paal sien sit, dit wys die reën is naby, die miere raak die afgelope tyd baie bedrywig...” Gaandeweg sak die bitter wete egter dieper in, hierdie jaar gaan die algemene reën nie kom nie...

Soos die dorre werklikheid meer sigbaar en voelbaar word ontwikkel daar woede, wanhoop en depressie. Soos die hitte meer word en die seisoen reënloos aanstap begin daar opstand en verwyt groei in die harte. Ook teen God! “Here wat help my gebede? Gee U dan nie om nie? Sien U nie die lyding van mens en dier nie...” By sommige gaan die woede gou oor in depressie... “Dit help nie om te boer nie. Elke paar jaar verloor mens maar weer alles...”

Onderhandeling en dalk angs. Hieroor word nie baie gepraat nie. “Here, ek sal hierdie jaar twee beeste vir die basaar gee, as ek maar net soveel of soveel reën kan kry. Party ouens het ‘n langtermyn “kontrak” met die Here. “Vir elke 10mm gee ek soveel vir U....” Daar word rondgerol in laaang slapelose warm nagte... “Hoe gaan die kinders se skoolgeld betaal word, die voerrekening raak nou roekeloos hoog, die beespryse is nou so sleg, dit help nie om te verkoop nie...”

Uiteindelik as daar genoeg gespartel is kom daar wel by die meeste ‘n gelate aanvaarding en berusting. As die oes klaar misluk het, die groeityd van die gras verby is, dan weet ons ons moet hier deur kom en ons sal ook, volgende jaar is daar weer ‘n reënseisoen. Dis nie die eerste droogte nie en seker ook nie die laaste nie. Nou moet ons maar plan maak vir oorlewing. Vee verminder, weiding gaan soek, kyk na ‘n ander bron van inkomste... Uiteindelik vind God se kinders rus by Hom en sy beloftes. Na alles getuig sy kinders aan die einde van ‘n droogte dat Hy wel voorsien het en op een of ander manier uitkoms gebring het... 

En tog bly daar ook maar vrae spook, soos wie se skuld is die droogte, waar kom dit vandaan, hoekom moet sulke slegte dinge gebeur?

Soos die meeste ander rampe dink ek kan mens rofweg drie verklarings van oorsprong vir ‘n droogte gee. 

Droogte is ‘n natuurlike verskynsel. Daar is van menseheugenis af, droë en nat jare. Droë siklusse en nat siklusse. Dis ‘n werklikheid waarmee saamgeleef moet word. Dis deel van ‘n vervloekte aarde, deel van die harde geswoeg in die sweet van ons aanskyn... Dis iets waarteen die mens grootliks magteloos staan... 

Ongetwyfeld is daar ook mensgemaakte droogtes. ‘n Lat wat mense deur onoordeelkundige gebruik van grond en hulpbronne vir hulleself gepluk het. Dikwels is die dryfveer gierigheid, maar soms ook blote onkunde en swak bestuur. Oorbeweiding of die omploeg van grond wat nooit geskik was vir akkerbou nie. Of dalk die jare lange oorbenutting van waterbronne... In sommige lande is dit oorlogstoestande en anargie wat agter die ellende sit maar dan word daar gepraat van droogte. Hoe dikwels kry die Here die skuld vir ‘n droogte as die ware oorsaak mense se swak besluitneming is? In sulke gevalle is die baie skerp waarneming van Spreuke 19:3 seker van toepassing : “Sy eie dwaasheid bring ‘n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here.”

Die gelowige hou egter ook rekening met God se rol. Ons besef inderdaad die realiteit van die vorige twee verklarings, maar ons sien ook God se hand agter alles. Die God wat ons aanbid is immers die Skepper en Onderhouer van sy skepping. Hy is ook die God wat ten nouste bemoeienis maak met die mens en als wat met ons as mense gebeur. Reg van die begin af moet ons sê dat God se rol in droogtes (en ander rampe) nooit ons verantwoordelikheid van ons wegneem om rekening te hou met reën siklusse nie. Nog minder vat dit ons verantwoordelikheid weg om al die hulpbronne tot ons beskikking met sorg en kundigheid te bestuur nie.

God gebruik en stuur inderdaad ook droogtes om sy doelwitte te bereik en ook dinge vir ons te sê. (selfs al sou ons ‘n natuurlike oorsaak kon aandui. Hy is immers die Een wat die natuur bestuur) Niemand wil dit seker graag hoor nie, maar dis duidelik dat Hy droogte kan gebruik as middel om sy mense te tugtig weens hulle sonde. Positief gestel, soos in die geval van alle goeie gawes is dit God wat reën gee! Hy is ten volle in beheer van die reën! Oor waar elke bui en elke druppel val! "Ek het die reën drie maande voor oestyd van julle af weggehou; Ek het laat reën oor een stad en oor ‘n ander die reën laat wegbly; die een stuk grond het goed reën gekry en die ander waar dit nie gereën het nie, het uitgedroog."  (Amos 4:7) Dit klink so bekend... Ja, ons moet oppas vir vinnige gevolgtrekkings en veralgemenings, maar droogte is inderdaad ‘n manier hoe God sy eie mense tot besinning bring en tot bekering oproep! Die profeet Elia moes selfs vir droogte bid (kan jy jou indink wat sou gebeur as ‘n predikant dit vandag sou waag...? ) Eers baie later moes hy vir reën bid, ook in direkte opdrag van God! Die mens en sy sondes is dus nie vry te spreek van ten minste sommige droogtes nie... Sal ons dit kan vat as die profeet van die Here vir ons sou moet sê? : “Dit is oor julle dat die hemel sy reën en die aarde sy opbrengs teruggehou het.” (Haggai 1:10) 

Ons moet baie versigtig wees om te bespiegel oor die oorsake al dan nie van droogtes. Ja, al kan ons dit wetenskaplik weerkundig verduidelik (El Nino, kweekhuis effek en baie ander faktore...), is God in die finale sin die bestuurder van sy skepping en het Hy die laaste sê oor waar en wanneer dit sal reën of nie. God gebruik als volgens sy voorsienigheid om sy raadsplanne tot uitvoering te bring!

Dis belangrik dat Christene verder sal vorder as maar net ‘n gelate aanvaarding van droogte... kom ons dink bietjie dieper...

DEUR ‘N DROOGTE MET GEJUIG!

DROOGTE is positief ‘n geleentheid vir :

Verootmoediging en gebed. God dwing ons as’t ware hiertoe, want ons vergeet Hom mos maar maklik in die goeie tye! Dis ‘n manier hoe God ons van sondes bewus maak en opnuut weer leer om Hom te behaag. Veral lê Hy dalk die vinger op ons sondes van selfgeregtigheid, hoogmoed en materialisme... Soos iemand gesê het : “Een plaas, een bees vir die kerk, twee plase, een bees, drie plase, een bees, vier....” Is ons bereid om ons van hierdie dinge te bekeer? Die uitdaging in Maleagi 3:10 laat ons dalk ongemaklik voel, maar dit staan in die Woord! “Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”

Groei en openbaring. Dis ‘n tyd wanneer ons getoets word, soos Abram. ‘n Tyd wanneer ons eie harte ontdek en weer moet terugkeer na ‘n besef van hoe afhanklik ons werklik van God is. Dis 'n tyd waarin ons gedwing word om ons plek weer te ken en te besef GOD IS GOD en ons is nietige mense! Dalk ook ‘n tyd wat ons ons selfsug aan die lig bring en ons weer gedwing word om mekaar te ondersteun en ‘n buurman in die oë te kyk. 

Lof en aanbidding. Dit klink dalk vreemd. Maar ons kry as Christene die opdrag om ALTYD bly te wees in die Here, ook in ‘n droogtejaar! “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar," (1 Tessalonisense 5:16-18) Die gelowige is in staat tot iets meer as maar net gedweë aanvaarding! Dis die duidelike boodskap en uitdaging van Habakuk. “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie-- nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.” (Habakuk 3:17,18) 

Gaan deur die droogte met gejuig! Dit klink na malligheid vir almal, behalwe God se kinders! Ons dien ‘n bonatuurlike God wat sy kinders in staat stel tot menslik gesproke onmoontlike dinge!

Die kind van God gaan ‘n stappie verder, verder as net verduur en oorleef....

BID VIR REËN? JA, MAAR DIT GAAN OOR BAIE MEER... 

Ons lees in Sagaria 10:1 ‘n wonderlike belofte : “Vra vir die Here reën in die tyd wanneer die laat reëns moet kom. Hy maak die reënwolke en laat die stortreëns val, Hy gee vir die mense die groen plante in die veld.”

Wat wil hierdie teks vir ons sê? Kan ons as Christene die Here bid vir reën? Ja beslis, in die “Onse Vader” moedig Jesus ons aan om ons daaglikse behoeftes aan ons Hemelse Vader bekend te maak en op sy sorg te vertrou. Dit sluit beslis reën as ‘n baie basiese middel in. As God en sy koninkryk ons fokus en verwagting is kan ons alle fisiese en materiële behoeftes na ons Vader bring! Bid vir reën is egter ‘n groter saak as om vir ‘n kort rukkie ‘n spesiale biddag of geleentheid te hou... Dink maar aan Elia se worsteling... Is ons hart en siel in die saak, staan ons in ‘n verhouding met God, is daar egte toewyding of is als net “windowdressing”... is daar nog geloof onder ons? Vir Israel was verootmoediging, gebed, bekering en reën, sake wat saamgegaan het. Salomo se rede by die inwyding van die tempel is tog duidelik. "Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel.” (2 Kronieke 6:26,27)

Na alles kan en moet ons bely :

Ons Vader sorg vir sy kinders, ook binne in ‘n droogte!

As ons egter eerlik na die konteks van die belofte in Sagaria kyk, moet ons besef dat dit oor iets baie dieper gaan as oorvloedige reën, baie weiding en goeie oeste. Dit gaan hier oor die bemoediging van die moedelose bannelinge wat teruggekeer het na hulle land, maar met wie dit alles behalwe voorspoedig gegaan het. Hulle kry nou ‘n profetiese boodskap van die heerlike verlossing wat God vir sy volk sal bewerk. “Die Here hulle God sal daardie dag sy volk, sy kudde, red. Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in ‘n kroon.” (Sagaria 9:16) Ons weet vanuit die Nuwe Testament dat dit gaan oor die verlossing wat Jesus bring, want Sagaria se profesie wys ten diepste op Jesus self. Net ‘n bietjie terug lees ons die bekende profesie wat sê : “Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.” (Sagaria 9:9) Ons weet mos wie Hy is... Dit gaan dus hier in Sagaria oor die omvattende verlossing en nuwe bedeling wat die Messias tot stand sal bring. Hierdie verlossing en heerlike bedeling word beskryf in terme wat vir ‘n landbouvolk in ‘n droë streek soos Israel sin maak, naamlik stortreëns en groen plante! Hierdie gebed in Sagaria gaan dus oor ‘n vertroue op God en ‘n gebed tot Hom dat Hy die nuwe bedeling waar sal maak. Dis ook waarvoor Christene in die eerste plek moet en sal bid. Die koms van die Koninkryk van God! (weer terug by die fokus van die “Onse Vader”, nê?)

Ja, ons mag bid vir reën en enige fisiese behoefte, maar dit moet altyd ‘n onderdeel wees van ons groot versugting vir die koms van die Koninkryk. Verlang ons werklik na die uitbreiding van God se heerskappy soos ons verlang na reën? Is ons net so desperaat en geskok oor die geestelike dorheid in die hart van die kerk as die droogte op ons velde? Is ons gebede, ook in hierdie tyd van droogte en nood nie baie keer uiters kortsigtig en deurspek met selfsug nie?

Die grootste gevaar in die tyd van droogte is dat ons op ons fisiese nood sal fokus en die ramp geestelike droogte as minder belangrik beskou! Droogte en hitte veroorsaak intense ongemak, maar ons geestelike nood is (onbewustelik) baie erger!

Mag God genadiglik vir ons uitkoms gee in ons geestelike en fisiese nood, soos wat Hy goed dink! Mag ons Hom nog loof vir fisiese en geestelike verkwikking en oorvloed!

Psalm 68:10 "U het oorvloedige reëns laat uitsak, o God, U het u verdorde land weer lewe gegee.” 

DROOGTE IS DEEL VAN GOD SE PAD MET ONS, GELUKKIG REËN EN SEËN OOK!



MY HARTSBEGEERTE IS DAT HY VIR ONS SPOEDIG UITKOMS SAL GEE...

*Dis bietjie anders as by die aanhoor van nuus oor ‘n terminale siekte. Dan is die eerste fase gewoonlik skok. Omdat droogte geleidelik ontvou is daar nie so ‘n skielike skok nie, maar die ander fases verloop min of meer dieselfde.

** Die totale reënval wat ek vir Februarie hier by die pastorie op Tsumeb gemeet het was minder as 'n skamele 6mm. Dis skrikwekkend droog! Verlede seisoen het ek 206mm vir Februarie gemeet.

Donderdag 19 Februarie 2015

VERBYSTERENDE LIEFDE

-  meer as net sentimente praatjies.
Sê die begrip “GOD SE GROOT LIEFDE” nog iets vir jou?  Laat dit jou nog verwonderd en opgewonde? Of is dit dalk ‘n holrug geryde frase wat deur woordinflasie waardeloos gemaak is?
Lees biddend saam met my 1 Johannes 3:1-3 en kou bietjie daaraan... 


“Kyk wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.
Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.”

Sien ons die wonder in hierdie eerste sin? Johannes nooi ons om te kyk!  Sien raak, besef net...GOD SE GROOT LIEFDE! Hy wil graag dat ons die manifestasie van God se onbegryplike groot liefde aanskou.  Wat behels hierdie liefde dan? God maak van mense sy kinders. Die ewige onsterflike God maak van sterflike mense sy kinders. Meer wonderlik,  nie van goeie  mense nie, maar van rebelle. Die heilige God neem sondige mense aan as sy eie kinders.    (Vergelyk 1 Korintiërs 6 :9-11)  Daar is so baie konkrete  voorbeelde : God het van ‘n Petrus, ‘n Saggeus, die Samaritaanse vrou, Maria Magdalena, Paulus... sy kinders gemaak. Hoe kan ons dit verklaar? Net die liefde. Die verstommende oorweldigende liefde van God. ‘n Liefde wat nie kyk na prestasie of goeie eienskappe nie. Net suiwer kosbare onverdiende liefde! Kyk, kyk en waardeer... Probeer dit vir jouself indink... dink aan die arbeider wat jou die meeste probleme op die plaas of by die werk gegee het, wat jou goed gesteel het, wat jou al gevloek het... en dan neem jou hom wettig as jou eie kind aan... Dink aan elke wet van God wat ons oortree het en God vergewe jou en neem jou as sy eie kind aan...
“Kinders van God.” Dis nie maar net ‘n vroom wyse van spreke nie. Dis regtig - “en ons is dit ook”  God se kinders in die volle sin van die woord. Met als wat kindskap behels. Ons is voorwerpe van God se liefde versorging, aanvaarding, beskerming...  “Soos ‘n vader hom ontferm...” (Psalm 103:13) ‘n Kind is iets besonders!   ‘n Kind word heeltemal anders behandel as net ‘n kennis, maar selfs ook as ‘n beste vriend.  Ook Paulus skryf ook oor hierdie wonderlike voorreg om kind van God te wees. (Romeine 8:14-16)  Wat ‘n vreugde en versekering! Wat sou ek vrees as weet ek is persoonlik ‘n kind van die Almagtige Liefdevolle Vader?
Daar is ook  egter ‘n ander kant van kind wees van God. Die wêreld ken ons nie. Die wêreld verstaan niks van hierdie saak nie, die wêreld verwerp ons soos hulle Jesus verwerp.  Soos die wêreld Jesus met veragting behandel gaan hulle jou ook behandel as jy kind van God is... Toets jouself... Beleef ek hierdie teenstand, word ek uitgestoot, beskinder en bevraagteken?

“nou is ons kinders van God.” Nou reeds, ja, inderdaad!  Ons kan nou reeds seker wees hiervan.  “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God."  (1 Johannes  5:12,13)


Ons het nou reeds hierdie heerlike status van “kinders van God”. Ons kan nou reeds in hierdie stukkende wêreld God as Vader beleef... As ‘n Vader vol van liefde...

Ons is nou reeds kinders van God, maar ons sien nog nie die volle uitwerking daarvan nie. Ons ken nie die volle toekoms wat God vir sy kinders in die oog het nie. Ons kan wel weet dat God die wonderlike werk van kindskap sal voltooi. Ons as kinders van God is nou nog onvolmaak weens sonde. Ons stry daarteen en ons bely dit. (1 Johannes 1:9) Dis ‘n voorreg van God se kinders om sonde te mag bely en weer opnuut Vaderlike vergifnis te kan beleef. Ja, as God se kinders moet ons  nie meer sondig nie, maar as dit gebeur (en Johannes weet duidelik dit is iets wat wel kan gebeur) dan hoef ons nie hoop te verloor nie, want Jesus tree vir ons in!   “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.”  (1 Johannes 2:1)
Eers by die wederkoms van Jesus sal ons heeltemal volmaak in gees en liggaam wees. Sonder sonde soos Jesus. Met ‘n verheerlikte liggaam soos Hy! (Filippense 3:21)

 DUIDELIKE TOETS!

Glo jy hierdie dinge? Is jy ‘n kind van God wat uitsien na die dag van volmaakte en volkome verlossing? Hier kry ons ‘n eenvoudige toets:  “Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.” (Vers 3) Dis eintlik net logies. Die hoop in jou hart word gereflekteer in jou alledaagse optrede. As jy weet oor ‘n uur gaan jy ‘n belangrike gas ontmoet, berei jy voor, maak skoon, kam jou hare... As jou geloof in Jesus ‘n werklikheid is en jy verwag sy nabye koms, sal jy sensitief wees vir sonde en geestelike slordigheid. Egte kinders van God, sien uit na die ontmoeting met Jesus en dit beïnvloed ons gedrag.
Verwag jy om Jesus binnekort te sien? Kom wees nou eerlik, as jy verwag en hoop om Hom self te sien, sal jy dan sorgeloos  aangaan met ‘n losbandige seksuele verhouding, met bitterheid en kwaaivriendskap in jou hart, sonder liefde vir God en mense? Daar’s nie ‘n manier nie...

Miskien sê jy : Dis als wonderlik, maar  wat van my, ek is onseker, kan ek ook ‘n kind van God word? En hoe kan ek ‘n kind van God word? Wel, ek wil jou net weer herinner aan die bekende Johannes 1:12,13.  “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is.”  (OAV)

Twee belangrike perspektiewe kom na vore:

Dis ‘n uitnodiging en belofte – dit plaas op elkeen van ons ‘n verpligting om te reageer. Om ons vertroue doelbewus op Jesus te plaas. Dis ‘n keuse wat uitgeoefen moet word!

Dis ten diepste ook ‘n Goddelike ingryping en ‘n wonderwerk – dit gee aan ons die versekering dat dit hoegenaamd nie om ons eie afkoms of prestasie gaan nie.
 Kan jy God dank vir kindskap?


Die boodskap van God  se liefde (evangelie) is ook jare gelede deur my pa aan die ou Himba hoofman, Minimahore in Kaokoland gebring.

Sondag 15 Februarie 2015

Heiligheid, huwelik en seksualiteit



Getuienis van die Kerkraad, NG Kerk Tsumeb:



1.Die Kerkraad bely in die lig van die Skrif dat die huwelik tussen een man en een vrou ‘n instelling van God is en die enigste ruimte is waarin die mens sy Godgegewe gawe van seksualiteit kan uitleef. Die huwelik is ‘n formele verbintenis met duidelike grense. Om saam te woon of selfs verloof te wees is nog nie ‘n huwelik nie!


2.Die Kerkraad wys lidmate daarop dat God se voorskrifte oor die heiligheid van die huwelik deel is van die basiese opdrag tot heiligmaking en dat die verwerping hiervan neerkom op ‘n verwerping van God self en dus sy straf oor ons bring.

3.Die kerkraad wil lidmate ernstig vermaan teen alle oortredings van die sewende gebod soos egskeiding, losbandigheid, alle voor en buitehuwelikse seksuele verbintenisse (byv. ongetroude saamwoon), homoseksuele dade, die kyk na pornografie, maar ook meer subtiele vorme soos ongewenste films, webwerwe en literatuur wat nie in lyn is met God se standaarde vir sy kinders nie. In ons stryd teen hierdie sondes, moet ons nie net die sonde self vermy nie, maar ook gewoontes, kompetisies, vermaak, situasies en praktyke wat ons daartoe kan verlei. Die kerkraad maak hierdie uitspraak nie vanuit ‘n posisie van hoogmoedige selfgeregtigheid nie, maar is inteendeel diep bewus van die feit dat almal van ons aan hierdie tipe versoekings blootgestel word.

4. Die kerkraad is bewus van baie verskonings wat spesifiek aangevoer word ter verdediging van die saambly gewoonte, soos finansiële en praktiese omstandighede. Die feit bly egter dat sonde ‘n verwoestende, ernstige saak is en dat ons opgeroep word om selfs tot die dood daarteen te stry. Die Here se seën sal nooit op ‘n sondige verbintenis rus nie, want God kan nie ontrou wees aan sy eie Woord nie.

5.Die kerkraad is bekommerd en hartseer dat lidmate wat bely dat hulle Jesus ken, deur hulle ongehoorsaamheid aan Bybelse standaarde ten opsigte van huwelik en seksualiteit, hulle getuienis en gevolglik die naam van die Here ernstig skade aandoen. God se kinders is immers geroep om onberispelik te leef en te skyn in ‘n donker wêreld, ook in ons huidige samelewing wat gekenmerk word deur uiterste immoraliteit.

6.Die kerkraad wil almal wat op hierdie terrein oortree het in liefde oproep tot berou en bekering en hulle daarop wys dat alle sondaars by Jesus welkom is. Waar daar berou en bekering is, is daar volle vergifnis vir alle sonde op grond van Jesus, ons Middelaar se soenverdienste.

7.Die kerkraad wil egter ook lidmate wat op ‘n openbare (en dus tugwaardige) manier in hierdie sondes volhard, waarsku dat hulle lidmaatsvoorregte in gedrang kan kom. Die Skrif verbied immers gemeenskap met die sulkes wat hulleself binne die gemeente bevind.

8.Die kerkraad doen ook ‘n beroep op ons kerk se meerdere vergaderings en amptelike organe (soos DIE KERKBODE) om hulleself duideliker en meer gereeld uit te spreek teen hierdie tipe dinge wat die naam van Here en sy kerk oneer aandoen.




Teksverwysings :

1. Genesis 2:18; Markus 10:9; Matteus 1:18

2. 1Tessalonisense 4:7,8; Hebreërs 13:4

3. Matteus 5:27-28; Romeine 1:18-32; Efesiërs 5:3-5

4. Hebreërs 12:14

5. Filippense 2:15

6. 1 Korintiërs 6:9-11, 1 Johannes 1:5-2:1

7. 1 Korintiërs 5:11,12

[Goedgekeur op die kerkraadsvergadering van Sondagmiddag 15 Februarie 2015]

Vrydag 13 Februarie 2015

GESEËND SAAM MET ABRAM!

- nou hoe kry mens dit reg? 

Wil jy graag geseënd wees? God se gunsgenoot wees? Is jy seker dat jy ‘n geseënde van God is? Hoe weet mens dit, hoe gebeur dit? Dit moet wonderlik wees om te weet, ek is ‘n geseënde van God. Die Lewende God bedoel, belowe en gee inderdaad die beste vir my. As ons aan ‘n geseënde dink, gaan ons gedagtes terug na Abram...

“Die Here het vir Abram gesê: "Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.
Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees." (Genesis 12:1-3) 

Hoe raak hierdie seën vir jou en my?  Paulus sê ‘n wonderlike ding in Galasiërs 3:14. Mense wat aan Jesus behoort deur die geloof kry deel aan die seën wat God aan Abram beloof het. Dis so merkwaardig - ons kry dit al is ons nie Jode nie. Ons kry dit sonder om die wet (Tora) te onderhou. Hoe is dit moontlik? Verdien ons dan nie eerder oordeel en straf nie? Is ons nie almal sondaars nie? Hoe kan God ons dan seën? Die antwoord lê by die grootste sondaar van alle tye!

DIE GROOTSTE SONDAAR

Het jy al gewonder wie die grootste sondaar ooit was? Wie het die meeste sondes op sy rekening gehad? Miskien Adam? Deur sy ongehoorsaamheid het hy die hele menslike geslag in die allergrootste ellende gedompel. Of dalk was dit Dawid? Ten spyte daarvan dat hy die bevoorregte koning was, het hy die vreeslike sondes van owerspel en moord begaan. Petrus is ook ‘n moontlike kandidaat. Hy was immers ‘n dissipel van Jesus, een van die binneste kring, wat soveel wonders van Jesus gesien het en soveel preke uit sy mond gehoor het, en tog verloën hy Jesus. Dalk Paulus, ‘n ywerige vervolger van Christene? Of moet ons iemand anders nader aan ons tyd soek....Hitler, Stalin, miskien Mugabe of Zuma?

Martin Luther, die groot Hervormer, gee vir ons ‘n verrassende perspektief op hierdie vraag in sy bespreking van Galasiërs 3:13. Hy sê die grootste sondaar van alle tye is: Jesus Christus! Sjoe, dit klink erg! Skrikwekkend! Kom ons probeer dit mooi verstaan.

“Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: "Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is." Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.” (Galasiërs 3:13,14)

Paulus sê hier in vers 13 dat Christus ons losgekoop het van die vloek wat die wet meebring. Wat is hierdie vloek? Dit sê maar net dat die wet ons skuldig verklaar en die doodsvonnis oor ons uitspreek! Die regverdige wet van God sê onverbiddelik : Die mens wat die wet oortree is vervloek, die mens wat die heilige God beledig moet gestraf word, die mens wat sondig moet sterwe! Daar is geen wegkomkans nie, daar is geen skuiwergate nie. Al ons mooipraatjies en verskonings help niks. Die wet druk sy vinger op jou (my) hart en sê : “Jy is die skuldige!” soos Natan vir Dawid gesê het!

Die wet sit ons skaakmat! Die wet laat ons in ’n doodloopstraat! Die wet spel onverbiddelike oordeel en hel!

Maar nou die Goeie nuus : Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet! Jesus Christus het ons bevry van die vloek en die straf en die doodsvonnis wat die wet van God oor ons uitgespreek het. Hoe het Hy dit gedoen? Deur in ons plek self ’n vervloekte te word! (13) Het ons reg gehoor? God se Seun ’n VERVLOEKTE? Kan dit wees? Ja! Dis wat duidelik hier geskryf staan! Hoe werk dit dan?

HY DIE VERVLOEKTE

Jesus het ons sondes op Hom geneem. Anders gesê, God het ons sondes op Hom laat afkom! (Jesaja 53:5,6) God het as’t ware gesê dis nou jou sonde! Adam se sonde is joune, Dawid s’n is joune, Petrus se sonde is joune.... (en sit ook jou eie naam in). Jesus was belaai, besmeer en besmet met ons sonde! Met die sondes van al sy uitverkore kinders! Almal s’n - en daarom kan Luther sê dat Jesus die grootste sondaar van alle tye was! Nie weens sy eie sonde nie, nee, ons weet Jesus was sondeloos, maar weens ons sonde. Myne, joune... En toe Jesus ons sonde op Hom neem, toe Hy verantwoordelikheid vat vir ons sonde toe tref die vloek van God Hom. In alle felheid en verskrikking, sodat Jesus uitroep : “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Toe word Jesus self ’n vervloekte. Toe spreek die wet die doodsvonnis uit oor Hom. Toe tref die oordeel en toorn van God sy eie Seun!

Jesus sterf as ’n vervloekte deur God. Hy sterf nie die dood van ’n martelaar of ’n held nie, maar die dood van ’n vervloekte. Dis hoekom God dit bepaal het dat Hy spesifiek aan ’n houtkruis moes sterf. In Deuteronomium staan dit al geskrywe : “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is!” Dit was dus nie toevallig dat Jesus juis aan ’n houtkruis moes sterf nie. Dit was die duidelike bewys dat God se vloek op Hom was. God se vloek wat eintlik na regte vir my en jou moes tref! Aan die kruis behandel God sy Seun as ’n sondaar, sodat Hy ons as regverdiges kan behandel. Hy straf Jesus, sodat ons wat aan Hom behoort vrygespreek kan word! (2 Kor. 5:21)

ONS DIE GESEËNDES!

Jesus vat die straf in ons plek. Jesus vat die vloek van God sodat ons nou deel kan kry aan die seën van God! Die teenoorgestelde van vloek is mos seën! Dis die seën wat alreeds aan Abram beloof is. Hierdie seën beteken nou dat ons God se kinders is, dat ons sy erfgename is - erfgename van die ewige hemelse erfenis! Ons kry nou reeds ’n bewys van God se seën in ons lewens! Die Heilige Gees! (14) Die Heilige Gees wat in ons woon en ons lei in heiligheid is die duidelike bewys dat ons werklik deel gekry het aan God se seëninge! Trouens die Heilige Gees self is die grootste gawe wat die Hemelse Vader aan ons skenk, die toppunt van gebedsverhoring! (Vergelyk Lukas 11:13) Die Heilige Gees maak die verlossingswerk van Jesus ‘n praktiese werklikheid in ons lewens, die voorreg van kindskap en erfgenaam wees! 

Wie kry deel aan die seën? Elkeen wat die evangelie van Jesus glo! (Vgl. Galasiërs 3:2)

Weet jy al of jy ‘n geseënde is?

Die Nagmaal wat ons vier herinner aan Jesus se dood aan die houtkruis, bevestig dat Jesus in ons plek ’n vervloekte was en dat ons wat Jesus as Here aanvaar het, beslis en sonder twyfel geseëndes is! 

Kom ons verheug ons oor die groot uitruiling: Jesus vat die vloek, ons kry die seën! Hiervoor moet ons God ewig dankbaar wees!



Saterdag 07 Februarie 2015

ONDER IN ‘N GAT

“DIE NG KERK LÊ ONDER IN ‘N GAT”

Ek is sommer opnuut kwaad en ontsteld. My dierbare moeder van oor die 80 jaar bel my vanoggend uit Walvisbaai. Ons praat oor ‘n hele paar dinge. Hier op die einde kom dit uit – sy het ook die KERKBODE met die artikel oor die lesbiese vrouens onder oë gekry. (Kliek op NO SAFE SPACE) Sy raak emosioneel ontsteld. “Die NG Kerk lê onder in ‘n gat” Ja, dis die smart van ‘n diep gelowige lidmaat, wat as jong meisie tot bekering gekom het en haar hele lewe aan die Here en sy diens gewy het, onder andere in die Dorothea Sending. Nog altyd was sy egter ‘n getroue lidmaat van die NG Kerk.

En daarom is ek kwaad. Kwaad dat DIE KERKBODE die kinders van God afbreek en verontrus in plaas van opbou met Bybelse waarhede. Ontsteld dat almal wat maar net stilbly ons dierbare NG Kerk in die afgrond sien gly... die mooi verduidelikings in die nuwe JAARBOEK oor die krimpende getalle vertel nie die volle verhaal nie. Die NG Kerk dryf van sy getrouste lidmate self weg deur onbybelse standpunte... Harde woorde, ek weet, maar ek kan dit bewys. Moet ons dan stilbly en wag dat die klippe dit uitroep?



My ouers, Johan en Ria de Koning


Vrydag 06 Februarie 2015

CHRISTEN SONDER KERK?

- volgens die Woord is Christenskap en deel wees van ‘n gemeente onlosmaaklik aanmekaar verbind. 

Wie en wat is ‘n Bybelse Christen? Wat en hoe belangrik is die kerk? Wat is die basiese vereiste vir lidmaatskap? Hierdie is ingrypend belangrike vrae. Handelinge gee vir ons duidelike beginsels hieroor. 


’n Mens kan nie anders as om getref te word deur die positiewe klanke van liefde, aksie, opwinding, krag en eenvoud in die eerste gemeente nie... Lees gerus HANDELINGE 2:37-47. Ek gaan egter nou net fokus op die stelling in vers 47b. Ons lees hier : “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” 

Twee sake is klinkklaar duidelik: 

~ Mense het tot redding gekom. Sondaars is gered, want hulle het die Woord gehoor, hulle het oortuig geword van hulle sonde, hulle het tot persoonlike geloof en vertroue in Jesus Christus gekom! Verlore mense wat onder God se oordeel gestaan het, is dus gered en verlos van hulle sonde en God se ewige toorn. (Onthou daar is net twee soorte mense - gered en ongered!)

~ ‘n Tweede saak is net so belangrik - hierdie geredde mense het nie nou maar op hulle eie voortgekarring nie, hulle het deel geword van ’n gemeente, die kerk van Jesus. Dit was nie maar sommer bloot weeens hulle eie voorkeur nie, die Here het hulle aan die gemeente verbind! Dit was nie maar net ’n geestelike of teoretiese saak nie, hulle het sigbaar deel geword van ’n sigbare gemeente en sigbare gemeenskap van gelowiges! So wat het hierdie geredde mense gedoen? Hulle het hulle openlik geskaar by God se gemeente, hulle was verbind aan die gemeente. Hulle het hulle onderwerp aan die gesag en lering daar en hulle het mekaar gedien in die gemeente! Belangrik : God red nie net ’n klomp losstaande enkelinge nie, Hy maak vir Hom ’n huisgesin/volk bymekaar!* 

Vanuit hierdie twee sake kan mens nou ’n kernwaarheid ten opsigte van egte Bybelse Christenskap formuleer : 

Bybelse Christenskap is Christus gesentreer en Kerk gebaseer!** 

Hiermee word bedoel : ware Christenskap behels ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus (Christusgesentreer) en word beleef en beoefen vanuit die kerk (Kerkgebaseer). Bybelse Christenskap impliseer dus dat ’n mens wat persoonlik deur Jesus gered is, God begin dien vanuit en binne die gemeenskap van die kerk! 

As ons hierdie kernwaarheid aanvaar is dit baie duidelik dat ons in praktyk deur twee teenoorstaande tragedies geteister word: 

Sommige mense is uiterlik deel van die kerk maar hulle is ongered. Sommige mense beweer wel dat hulle gered is, maar hulle is los van en onbetrokke by die kerk. 

~ Eerste Tragedie : Nominaal deel van die kerk, maar ongered. Vir ’n ongeredde persoon om aan die kerk te behoort is soos iemand wat aan ’n jagtersklub behoort maar nog nooit self iets geskiet het nie. Stel jouself voor jy het ‘n kluis vol vuurwapens, jy het verskeie veld kursusse bygewoon, jy koop alle jagtydskrifte, jy ken al die teorie en terminologie, jy gesels opgewonde saam oor jag, selfs bekend as ‘n kenner op die gebied van jag, maar daar is net een probleem, jy het nog nooit iets geskiet nie, nie eers ‘n mossie met ‘n windbuks gejag nie... Is jy ‘n jagter? Sekerlik nie! Daar is baie sulke “nie-Christen lidmate” van Christelike kerke! En skrikwekkend om te besef, ongeredde mense wat aan die kerk behoort is nog steeds verlore. (Dink aan die gelykenis van die Tien Maagde) Net terloops - hier kry ons die groot oorsaak vir die baie stryery en twiste in die kerk - ongeredde kerklidmate. Hier lê ook die worteloorsaak vir al die gesukkel om dinge gedoen te kry. Onbekeerdes vir wie alles dorre pligpleging is, daar’s geen ware liefde en entoesiasme nie. Hulle dink die kerk is ‘n organisasie wat een of ander diens aan die lede moet lewer. Of ‘n kultuurvereniging wat een of ander groep se belange moet bevorder, of maar net iets wat daar moet wees! “Ek is maar in die NG Kerk want my oupa was ‘n prominente leier of stigter van die gemeente, dis my reg om lidmaat te wees, moenie my uitvra oor my verhouding met Jesus Christus nie!” 

~ Tweede Tragedie : Mense wat beweer om wedergebore te wees, maar hulle is nie toegewyd aan die kerk nie. Party minag en beswadder selfs die kerk. Ander is bloot onaktief en onbetrokke... Hierdie mense redeneer : “My saak met die Here is reg, ek het mos Jesus aangeneem, so ek hoef my nie aan die kerk te steur nie. Ek kan mos die Bybel op my eie lees, ek kan mos na dienste oor die TV kyk. Ek sal daar eenkant die Here dien soos ek wil en soos ek voel. Die Here sal my op my eie lei.” Hierdie verontskuldigings klink dalk vroom, maar is ’n geweldige stuk misleiding van Satan. Hierdie soort Christenskap mag dalk baie gewild wees in ons individualistiese selfsugtige gemeenskap, maar hierdie soort Christenskap vind mens nie in die Nuwe Testament nie! Nou sal iemand sê : “Ja, ek sou graag deel wou wees van ’n kerk soos in Handelinge, maar in ons kerk is daar soveel foute. Ek hou nie van die predikant nie, ek hou nie van die ouderlinge of ander lidmate nie. Daar is te veel skynheiliges....” Geliefde, as jy so redeneer, openbaar jy skokkende onkunde oor die kerk. Kom ons kyk net vinnig na die wese en aard van die kerk... 

Wie of wat is die kerk? Die kerk is die groep geredde mense wat bymekaar is in Jesus se naam. Hierdie groep mense is amptelik Jesus se liggaam. Nou wat van al die skynheiliges? Weet jy dis waar, daar is waarskynlik skynheiliges in elke gemeente wat bestaan. Maar weet jy solank ons op aarde is sal dit altyd so wees. Selfs in hierdie wonderlike eerste gemeente in Handelinge was daar ‘n Annanias en Saffira. Dink aan Paulus se gemeentes, deur die apostel self gestig, gewoond aan die beste prediking – en tog lees ons van soveel probleme. (Lees maar die Korintiër briewe) Die onvolmaaktheid van gemeentes en gemeentelede  verander niks aan saak dat as groep ons nog steeds saam die liggaam van Christus vorm nie. Weet jy watter geweldige implikasies dit het as ons sê: “Hierdie gemeente, hierdie mense is Jesus se liggaam?” Toe Paulus op pad was na Damaskus om die Christene te vervolg, vra Jesus hom : “Waarom vervolg jy my?” Nou weet ons dat Paulus nooit direk vir Jesus kwaad aangedoen het tydens sy aardse lewe nie. Paulus het wel die kerk vervolg en skade aangedoen. Maar Jesus sê : “Waarom vervolg jy MY?” Die implikasie is onmiskenbaar duidelik. Die Christene is Jesus se liggaam! Wat jy van hierdie groep mense dink is dus wat jy van Jesus dink. Wat jy van hierdie groep mense sê is wat jy van Jesus sê. Wat jy aan hierdie mense doen is wat jy aan Jesus doen. Jesus sê : “Wat julle aan die geringstes (van sy dissipels) doen - het julle aan my gedoen.” Diens aan hierdie liggaam is diens aan Jesus. Liefde vir hierdie mense is liefde vir Jesus. 

Dus : ’n Keuse vir Christus behels ook ’n keuse vir sy liggaam, naamlik die kerk! Dit kom eintlik daarop neer : Jy kan nie Jesus aanneem sonder om sy kerk aan te neem nie! Matthew Henry het gesê : “When we take God as our God, we take his people as our people” Positief gestel - ek moet deel wees van hierdie liggaam en my kant bring in hierdie liggaam, NIE omdat ons ’n oulike leraar het nie, nie omdat daar vriendelike ouderlinge is nie, nie omdat daar gawe lidmate is nie, MAAR omdat ons ’n onoortreflike wonderlike Heer en Verlosser het, Jesus Christus en hierdie gemeente, hierdie mense wat ek rondom my sien is SY LIGGAAM! 

Glo ons wat die Bybel sê oor die kerk? Glo ons dat kerkwees ’n basiese ononderhandelbare bestanddeel van Christenskap is? Glo ons dat hierdie gemeente deel vorm van Jesus se liggaam? Dink sommer vinnig aan drie praktiese implikasies: 

~ Kerkbywoning is ’n Godbepaalde prioriteit (dis nie ‘n saak van persoonlike voorkeur soos die bywoon van ’n fliek of konsert nie) Dis ‘n amptelike afspraak met Jesus en sy liggaam! 

~ Ons verwagting oor die erediens moet verander - ons is nie hier om vermaak te word nie, maar om Christus te aanbid en sy liggaam te dien. 

~ Ek mag my nie sommer ligtelik afskei van die kerk nie. Ons moet die pad saamloop al kos dit wat.... My persoonlike voorkeure of teologiese fynproewery mag nie mag nie die maatstaf word nie... Die kerk is ook groter as 'n enkele bekwame of onbekwame leier... As ‘n bepaalde gemeente so ver van die waarheid afgedwaal het dat die evangelie totaal verduister word, sal ek myself seker by ‘n ander kerk moet voeg waar die waarheid wel verkondig word, maar ek moet baie seker wees van my feite en motiewe.... Dit bly ‘n moeilike saak... Kliek op WATTER KERK?

Is jy besig met ware Bybelse Christenskap? Is jy gered deur Jesus en is jy toegewyd aan sy liggaam, hierdie gemeente (waar God jou geplaas het)?

*In 1 Timoteus 3:15 word die gemeente die “huisgesin” van God genoem. “Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.”
**Vir hierdie formulering is ek erkenning verskuldig aan Albert Martin.


NG Kerk, Mariental.

Sondag 01 Februarie 2015

DIE BESTE NOU OF EENDAG?

- ‘n belangrike vraag met reuse implikasies!

Gaan Christenskap oor hierdie lewe of eintlik oor die lewe hierna? Wanneer en hoe kry Christene hulle beloning? Nou of eers eendag na die dood? Waarop moet ons fokus wees? Is die beste nou reeds hier, of kom dit nog? Wat is die verband tussen die nou en die eendag?


Evangeliese Christene, dis nou mense wat God se Woord as waar beskou, wat erns maak met begrippe soos sonde, bekering, geloof, verlossing, hemel en hel word deesdae taamlik algemeen uitgekryt dat ons net in siele belangstel, dat ons met ons koppe in die hemel lewe, dat ons so uitsien na ‘n eendag dat ons vandag se probleme en ellende miskyk. Daar word geïnsinueer dat ons nie juis vir mense en ook nie vir die natuur omgee nie. Dis natuurlik nie waar nie. Dis ‘n karikatuur en moedswillige verdraaiing. Dis ‘n growwe veralgemening wat nie water hou nie.

Ons weet mos en die Bybel getuig daarvan : As iemand waarlik gered is en van sonde bevry is, kry hy mos nou ‘n nuwe uitkyk op die lewe. As jy gered is dan leef jy uit dankbaarheid deur die dubbele liefdesgebod na te jaag: Lief vir God en my naaste! (Toe die tronkbewaarder van Filippi verlossing deur die geloof in Jesus gevind het, het hy dit onmiddellik opgevolg deur naasteliefde en Paulus en Silas se wonde versorg en vir hulle ‘n maaltyd te gee.)

As bekeerde mense kyk ons anders na God en vind nou ons vreugde in Hom. Ons kyk ook anders na mense en sien hulle geestelike sowel as fisiese nood raak. (Deur al die eeue het Christen sendelinge die evangelie gebring as eerste prioriteit sodat mense gered kan word, maar daar is ook aandag gegee aan mediese sorg, onderwys, landbou ens.)

GESPOT 

Vandag kry ons die tendens dat die klem eksklusief op die lewe hier en nou gestel word. Daar word gespot met Christene wat glo in ‘n ewige beloning van heerlikheid.

Hierdie aanslag kom van twee kante af:

  • Vanaf die Prosperity Gospel se kant word ons gebombardeer met die siening dat God nou reeds alle seëninge van geluk, gesondheid en geld vir ons wil gee. Jy moet net die regte reseppie ken en op die regte manier glo dan sal jy nooit siek of arm wees nie, word beweer. Een van die groot geeste in hierdie rigting, Benny Hinn laat homself so uit oor finansiële voorspoed: “I am sick and tired of hearing about streets of gold. I don’t need gold in heaven, I gotta have it now!” en oor siekte : “The day is comming, I tell you this, I know it like I know my name, the day is coming there will not be one sick saint in the body of Christ... no one will be raptured out of a hospital bed.”* Dit klink baie aanloklik, want wie wil nou arm of siek wees? Maar daar is net een probleem, Hinn het geen Bybelse gronde vir sy uitsprake nie. Dis wensdenkery en pertinent vals! Eeue van praktiese geloof en Christenskap het ook bewys dat dit onwaar is!

Dis dan ook verstaanbaar dat mense in hierdie rigting nie juis hou van prediking wat Skrifuitleg behels nie, en eerder motiveringspraatjies oor hoe om sukses te bereik, verkies. (Kliek op SPREEK LEWE)

  • Vanaf die liberale teologie en die Progressive Christianity word die klem ook eensydig op die lewe van hier en nou geplaas. Vir baie van hierdie ouens was Jesus maar net ‘n eerste eeuse Palestynse rewolusionêr of sosiale hervormer. Hulle sê ook dat Jesus nie plaasvervangend (Kliek op BORG) vir ons sondes gesterf het nie, maar bloot ‘n voorbeeld vir ons gestel het om goeie mense te wees. Volgens hierdie dwaling is daar nie ‘n hemel nie en ook nie ‘n hel nie, ons moet maar net die beste maak van hierdie lewe. Hulle glo ook nie meer dat Jesus regtig liggaamlik uit die dood opgestaan het nie. Jesus het maar net in hulle gedagtes en harte bly voortleef.

Wat sê God se Woord? 

Paulus maak dit baie duidelik in 1 Korintiërs 15 : Die beste deel lê nog voor vir God se kinders! Hy stel dit eintlik andersom en sommer baie sterk! Die beste kom nog, trouens as ons net vir hierdie lewe hoop op Jesus is ons lot die slegste/ ellendigste/ bejammerenswaardigste van alle mense! “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.” (19) As Christenskap net oor hierdie lewe sou gaan, sou ons absolute verloorders gewees het. Dis juis so want met Christene gaan dit nie altyd so goed in hierdie lewe nie. (Paulus het dit mos aan sy eie lyf gevoel) Om die waarheid te sê, dikwels uiters sleg! Juis ook omdat Christene weens hulle liefde vir en gehoorsaamheid aan Jesus uitgestoot, beledig en verdruk word.

Die hedendaagse boodskap van die Prosperity Gospel dat Christenskap die deur na sukses, gesondheid en rykdom is, is hoegenaamd nie ‘n Bybelse boodskap nie.

Die boodskap van die Progressive  Christianity dat Jesus maar net vir ons ‘n goeie aardse morele voorbeeld was is ook nie die boodskap van die Bybel nie. 

Nee, die Bybel leer duidelik dat Jesus uit die dood opgewek is en so vir ons ‘n ewige toekoms oopgemaak het. Die opstanding Jesus vorm deel van die kern van die evangelie. Dis ‘n feit wat deur baie getuies gestaaf kon word. 

“Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.” (3-8)

Waarom is dit so uiters belangrik om in die liggaamlike opstanding van Jesus te glo? Om te glo dat sy graf leeg was? Hoe raak dit ons lewe nou, maar ook ons hoop op ‘n beter toekoms?

Jesus se opstanding waarborg ons eie opstanding – liggaamlik met nuwe liggame.

Hierdie wete dat ons ook gaan opstaan en hierdie lewe nie die einde van als is nie, laat ons nou heilig leef, want ons sal Hom sien soos Hy is. (1 Johannes 3:3)

Jesus se opstanding motiveer ons juis nou tot aksie, want daar is ‘n beloning wat vas en seker is, wat die lewende Here vir ons sal gee. Die “beker koue water” wat jy gee sal nie ongesiens verbygaan nie en gaan ewigheidsgevolge hê!

Jesus se opstanding gee die enigste sinvolle antwoord en troos op die tirannie van die dood en verganklikheid. Dis ons enigste hoop in ‘n stukkende wêreld vol smart, siekte en sterwensgeskreeu. Dis ons anker by die oop graf van ‘n geliefde! Daar is ‘n opstanding... (‘n Begrafnisrede of boodskap sonder hierdie element, is blote sentimentele lawaai en sinneloos.)

Jesus se opstanding bevestig dat Sy verlossingwerk tot ‘n heerlike voleinding gebring sal word. Sy verlossing gaan nie net oor vergifnis nie, maar oor die herstel van die totale skepping (wat ons liggame insluit)! Die nuwe hemel en die nuwe aarde. (2 Petrus 3:13,14, Romeine 8:17ev)

FOKUS OP DIE TOEKOMS EN LEEF DAAROM VOLUIT NOU!

Die Christen se fokus is op die toekoms, die finale verlossing,  die ewige beloning, maar juis daarom leef en werk ons nou voluit met vreugde in hierdie wêreld tussen die mense waar God ons geplaas het. Juis omdat Jesus se opstanding so seker is en ons so ook seker kan wees van ons eie opstanding en beloning, juis omdat die dood oorwin is, moedig Paulus aan die einde van die wonderlike 1 Korintiërs 15 sy lesers aan tot oorvloedige aksie : "Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie."

Inderdaad skenk God nou reeds heerlike dinge aan ons (ons lewens is nou vol blydskap én swaarkry/vervolging), maar eendag sal daar net blydskap wees!**

JESUS HET OPGESTAAN, DAAROM WAG DIE BESTE NOG VIR ONS!


* Aangehaal deur Hank Hanegraaff in “Counterfeit Revival” p106 

**Vergelyk Jesus se duidelike uitspraak hieroor in Markus 10:29,30. “Jesus antwoord: "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”