BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 26 Februarie 2020

HEMEL OP AARDE?

  • Is die aansprake van die voorspoedsteologie waar? 
  • Hoe onderskei ek tussen ware en vals evangelie?



Wat is die vertrekpunt? Maak seker van die eienskappe en inhoud van die EGTE EVANGELIE! Dan is dit maklik om die valse raak te sien en te vermy. 


 Dis soos met banknote. Jy leer die eienskappe en kenmerke van die egte note, dan kan jy al die variasies van vervalsings maklik raaksien. 



INHOUD EN KENMERKE VAN DIE WARE EVANGELIE: 

1. Die ware evangelie begin by God en sy prioriteite. Die valse evangelie begin by die mens en sy behoeftes… sy gerief, sy gesondheid, sy welvaart, sy belangrikheid staan voorop.  Die (kliek) SELF is alles!

God, sy eer en doelwitte kom eerste in die evangelie van die apostels. “Paulus, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God—" (Romeine 1:1) DIE EVANGELIE SE OORSPRONG EN FOKUS IS GOD! Die ware evangelie gee die antwoord op Moses se diep versugting : “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eksodus 33:18) Dis die begeerte van elkeen wat deur die Gees wederbaar is. 

Die vals boodskap begin by die natuurlike mens se behoeftes- sy begeerte na gesondheid, geld, sekuriteit , sukses ens. Alles dinge waaroor elke natuurlike onwedergebore mens begaan is. Die Prosperity Gospel tokkel op die sondige mens se materialistiese en selfsugtige snaar. Die beloftes van die welvaartsprofete klink baie soos die jihadi’s se idee van hulle moslemparadys! 



Paul Washer (ware evangelis) som die humanisme van die vals evangelie mooi op: 

Sir, God loves you and has a wonderful plan for your life! 

What?! God loves me? 

That’s great cause I love me too! This is wonderful! 

And He has a wonderful plan for my life? 

Wow! I got a wonderful plan for my life too! 

And if I accept him into my life I can have my best life now? This is wonderful! 

Dis baie verstaanbaar dat die welvaartsboodskap so gewild is! 

2. Die ware evangelie se fokusinhoud is die kruis en opstanding wat vir die mens se sondeprobleem die antwoord bring. (Versoening) Die vals evangelie se klem val op hoe God jou drome waarmaak en aardse voorspoed waarborg. 

Die doel van Jesus se koms word baie duidelik gemaak reeds by sy geboorte : “en sy sal 'n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Matteus 1:21) 

Paulus vat die evangelie inhoud so pragtig saam : “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;” (1 Kor 15:1-4) 

God se liefde fokus op die mens as sondaar en om sy gebroke verhouding met Homself te herstel. 

Die Goeie Nuus (evangelie) gaan oor hoe God van sondaars sy kinders maak, nie hoe Hy sondaars suksesvolle sportmanne en sakemanne maak nie! Die boodskap van ryk maak en gesond word, is maar presies dit wat die Afrika toordokters ook vir hulle kliënte beloof! 

En buitendien is die beloftes van die vals evangelie ‘n leuen en dis gewoonlik net die vals profete self wat voorspoed beleef omdat hulle hulle hoorders manipuleer! 

3. Die ware evangelie wond én genees. Die valse evangelie streel mense se ego’s en maak hulle net nog meer selfversekerd en hoogmoedig. 

Die verkondiging van die ware evangelie laat mense in gebrokenheid uitroep : “Wat moet ons doen om gered te word?” (Dink aan die skare toehoorders op Pinksterdag) 

Die vals profete bring goedvoelboodskappe. Dit versterk menslike arrogansie, selfgesentreerdheid en selfsug! 

Valse goedvoelboodskappe was al in die tyd van die Ou Testament ‘n probleem. “Die visioene van jou profete was vals en misleidend: hulle het nie jou sondes blootgelê sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie; die openbaringe wat hulle vir jou gegee het, was vals en het tot jou verwerping gelei.” (Klaagliedere 2:14) Omdat baie profete nie die moed gehad het om aan Israel die ware aard van hulle sonde te verkondig nie, het hulle hulle nie bekeer nie en het die oordeel van die ballingskap die volk getref!

Ook in die Nuwe Testament word ons teen hierdie tipe boodskap gewaarsku. “want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,” (2 Timoteus 4:3) 

4. In die ware evangelie speel lyding en nie voorspoed of gemak nie ‘n sentrale rol. Die vals evangelie gaan als oor die mens se gerief terwyl die lydingsboodskap verswyg word. 

In die Nuwe Testament is lyding onlosmaaklik deel van die pakket!  Die lyding van Jesus staan sentraal, maar ook die lyding van almal wat Hom sou volg! “Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword.... Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. "Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom," het hulle gesê.” (Handelinge 14:21,22) 

Die vals evangelie ontken lyding en bied ook geen troos in lyding nie. ( As ek as Christen swaarkry moet ek dan nou wonder : “Was ek dan nou nie positief genoeg in my woorde en gedagtes nie? Het ek gesondig? Het die duiwel gewen?”) 

5. Die ware evangelie is gebou op die geheelsboodskap van God se Woord (binne konteks). Die valse evangelie inkorporeer doelbewus of onbewus menslike filosofieë soos die New Age. 

Een voorbeeld is At Boshoff van die CRC se “law of attraction”. Boshoff : “Whether you know it or not, whether you like it or not, you're attracting things into your life all the time, good or bad, wanted and unwanted. All the time you are sending out a force, a power, an energy, that either attracts good things and good people into your life, or it repels good things and good people.” 

Hiervolgens kan jy deur jou eie positiewe gedagtes en woord vir jouself ‘n positiewe toekoms skep. Dis soortgelyk aan die (kliek) “spreek lewe” teologie van die Word Faith beweging. 

Boshoff gebruik Skrifte soos Spreuke 4:23 en Spreuke 23:7.* Kom ons bekyk dit net vinnig van naderby : 

Spreuke 4:23 “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” 

Hier is geen sprake van ‘n magiese aantrekkingskrag nie– Dit sou vreemd wees aan die Bybel. Die vers beteken bloot dat die “hart” as die intellektuele, morele en emosionele sentrum van die mens, jou daaglikse benadering tot die lewe bepaal. 

Spreuke 23:7 "Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie." 

Kyk na die konteks van die teks. Lees dit saam met vers 7 en 8. Spreuke 23:1-3 gee raad oor tafelmaniere saam met ‘n regeerder. Vers 6 tot 8 gee raad oor saam eet met ‘n suinige persoon. Die boodskap is : Moet jou nie laat meevoer deur hierdie ou se vriendelikheid nie. Die suinige bedoel nie sy woorde nie (sy hart is nie met jou nie), want hy dink net aan wat die ete hom kos! Dis in lyn met die Engelse vertaling wat lees : 'he is always thinking about the costs', (NIV) 

Dis duidelik dat Boshoff se uitleg van hierdie gedeeltes absurd is. Dit sê niks oor die verandering van realiteite deur jou gedagtes nie. 

Hierdie tipe lering probeer stoot God van die troon af en plaas die mens op die troon! 

Die Bybel leer dat God als bepaal. God is soewerein. Ja, die kind van God het rede om in alle omstandighede bly te wees juis omdat God op die troon is. Ja, ek moet verantwoordelik lewe en optree volgens die opdragte van die Woord. Maar, ek kan nie die toekoms bepaal deur my eie denke nie. Om aan die “law of attraction” te glo is om jou vertroue in jouself in plaas van God te stel! 

Boshoff misbruik Josef se geskiedenis as bewys van “the law of attraction” Maar dit gaan presies teen die Bybelse boodskap! Josef aan sy broers: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.” (Genesis 50:20) Dis hier waar die belangrike leerstuk oor die Voorsienigheid van God ter sprake is kom.** 

Die valse lering van “law of attraction/spreek lewe” lei tot ‘n selfgesentreerde en hoogmoedige materialisme en nie meer op ‘n vertroue op die voorsienigheid van God wat ook lyding insluit nie. 

[Mmmmmm... Die arme Paulus het seker nie At se "law of attraction" geken nie, want kyk net wat het hy als na hom toe aangetrek... slae, skipbreuk, hongerte, naaktheid, slapelose nagte, gevare... Vgl. 2 Korintiërs 11:23-28]

Miskien wonder jy nou : “KAN EN WIL GOD VIR ONS SORG?” Natuurlik! As Vader sorg Hy vir ons op alle terreine van ons lewe! (Psalm 103) As jy daaraan twyfel, gaan lees maar weer ‘n biografie van George Müller! 

Wat is dan nou die verskil met die “versorging” van die voorspoedsevangelie? 

John Piper verduidelik dit mooi : On the one hand we may trust in the Lord to be our helper, because he will provide and protect us - there is thus a measure of prosperity he will give us. But there is a line between trusting God for our needs and using God for our wants. 

The law of attraction lyk eerder soos manupilasie van God vir ons eie selfsugtige begeertes as ‘n kinderlike vertroue in sy voorsienigheid. 

6. Die einddoel met die ware evangelie en wil van God vir sy kinders is HEILIGMAKING sodat ons tot eer van God kan leef. Die valse evangelie se doel is geluk, geld, gesondheid en aardse grootheid! 

“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery;” (1 Tessalonisense 4:3) 

Die kosbare waarheid soos Paulus dit stel staan steeds vas : “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik” (Romeine 8:28-30) Wat ‘n heerlike troos! 

7. Ware evangelie bring ‘n unieke blydskap – die blydskap in die Here. Die vals evangelie verkondig ‘n oppervlakkige blydskap gebaseer op positiewe denke. 

“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” (Filippense 4:4) 

“Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Filippense 4:12,13) 

Juis omdat hierdie lewe vir Christene baie swaarkry inhou, het ons ‘n blydskap en verwagting wat toekomsgerig is. Die beste is nie NOU nie! Dis ‘n leuen van die voorspoedsevangelie. Loop vertel dit bietjie vir die Christene in Iran of Noord Korea! Hierdie swaarkry in ons aardse lewe is juis een van Paulus se argumente waarom geloof in die opstanding so onmisbaar belangrik is! “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste (ellendigste OAV) van alle mense.” (1 Korintiërs 15:9) 

8. Die ware evangelie kan nooit vermaak (entertainment) wees nie. Ja, dis Goeie Nuus, die blye boodskap, maar dit pas nie in die konteks van grappe, kwinkslae en lighartigheid nie. Dis ernstig, want dit gaan oor God wat die wêreld so lief het, en sonde so haat dat die engste uitweg was dat sy Seun die marteldood van die kruis moes sterf! 

REUSE VERSKIL! 

Op die ou end is daar ‘n reuse onoorbrugbare verskil tussen die ware en die vals evangelie. Dis die verskil tussen Jesus se boodskap en die van die wêreld. Iemand het dit so saamgevat: 

Jesus : Follow me! 
World : Follow your heart! 

Jesus : Believe in me! 
World : Believe in yourself! 

Jesus : Deny yourself! 
World : Discover yourself! 

Jesus : Be true to me! 
World : Be true to yourself!

VOETNOTAS

*Met erkenning aan die studiestuk van Daniël J. Maritz en  Henk G. Stoker.
“Does the Christian worldview provide a place for the law of attraction? (Part 2): An apologetic evaluation of the way the Bible is used in promoting this idea.”

** Die HEIDELBERGSE KATEGISMUS    Sondag 10.
27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede  en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.
28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.


1 opmerking:

  1. Dankie Johannes. Predikers is om een of ander rede sku om hierdie ketters in die openbaar uit te sleep en te ontmasker. Daar heers 'n skokkende mate van onkunde oor wat hierdie mense werklik glo en verkondig. Nog meer skokkend is om te sien hoe nuwe groepe met apostels en profete aan die stuur opspring soos die onkruid wat hulle is. Hier in Pretoria kan jy nou by 'n geakkrediteerde instelling gradueer as 'n profeet teen slegs R5000. Kom gou Here Jesus, kom gou.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.