BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 13 November 2015

GEVEG IN DIE VOLKSBLAD

Die Algemene Sinode se skokbesluit om praktiserende homoseksuele predikante tot die bediening toe te laat, het 'n diepe teologiese verskeurdheid binne die NG Kerk blootgelê. Dis 'n keuse tussen gewiligheid aan die tydsgees of gehoorsaamheid aan die Skrif. Daar is wel sekere pogings om die sinodebesluit as gehoorsaamhed aan die Skrif aan die publiek te verkoop. Dit mag dalk vir sommiges geloofwaardig klink (en ek wil ook nie te kenne gee dat almal wat die besluit steun, nie respek het vir die Bybel nie), maar dis duidelik ook nie waar dat slegs die Skrif 'n faktor in die besluit was nie.

Prof. Johan Janse van Rensburg wys in 'n antwoord op Prof Hermie van Zyl se rubriek* in die VOLKSBLAD duidelik uit dat die Algemene Sinode nie kan aanspraak maak dat hulle by die Sola Scriptura beginsel gehou het nie.

Lees hieronder Prof. Janse van Rensburg se brief in die Volksblad :

Die willekeur waarmee korrespondente oor die Skrif en homoseksualiteit skryf, wil ’n mens laat huil. 

Die skrywe van kollega Hermie van Zyl is egter ’n ander saak. Sy vorige bydrae het my genoop om kommentaar ter wille van kollegialiteit te weerhou. Die jongste bydrae in Woord en Perspektief (10/11) laat my geen ander keuse as om te reageer nie. 
Dit is al ’n bietjie uitgedien om die Kopernikaanse omwenteling (korrektief op die Bybelse beeld van ’n aarde wat plat is) as bewys aan te voer dat die kerk ook vroeë wetenskaplike navorsing verwerp het. 
Daar is ’n groot verskil. Copernicus se navorsing was op wetenskaplike feite gegrond. Geen wetenskaplike sal vandag daarvan verskil nie. 
Maar met die Skrifinterpretasie oor homoseksualiteit is dit eenvoudig anders. Die nuwe wetenskaplike ontwikkeling wat na bewering ’n ander betekenis aan die sogenaamde anti-gay­teks­te gee, is op teorieë gegrond wat nie deur alle wetenskaplikes gesteun word nie. 
As die hermeneutiek wat prof. Hermie en die sinode voorstaan, so wetenskaplik is, waarom is daar ander wetenskaplikes soos prof. Jan du Randt (SA) en William Lane Craig (VSA), om net twee van ’n hele rits gesiene eksegete te noem, wat nie hierdie sogenaamde nuwe wetenskaplike insigte onderskryf nie? Wêreldwyd is daar wetenskaplikes wat nie met die Skrifverklaring van die sinode saamstem nie.
Prof. Hermie voer aan dat die sinode net soveel op die sola Scriptura-beginsel (die Skrif alleen) aanspraak kan maak. Gegrond op die ervaring van talle wat daar teenwoordig was, blyk dit dat die Skrif nie die enigste norm was nie, maar dat buite-Bybelse getuienis en emosionele manipulasie ’n groot rol gespeel het. 
Die taakspan se verslag aan die sinode het ’n hele afdeling oor buite-Bybelse motivering vir die aanvaarding van selfde-geslagverhoudings. 
Trouens, Hermie se betoog steun ook op buite-Bybelse argumente. 
Hermie verwys na “onomkeerbare kern-homoseksualiteit”, bedoelende dié wat só gebore is. Dit word dan ’n soort natuurlike teologie wat Bybelse beginsels kan korrigeer.
Die waarheid is egter dat ’n gay-geen nog nie gevind is nie en nie deur navorsing bevestig kon word nie. Ook hier ly die beweerde wetenskaplike insigte aan gebrekkige integriteit. 
Die poging om die nuwe interpretasie van die Skrif wetenskaplik te regverdig, slaag eenvoudig nie.
Prof. Johan Janse van Rensburg

*Prof Hermie se skrywe: 


Die gay-besluit en sola Scriptura

DIE besluit van die NG Kerk om praktiserende homoseksuele toe te laat tot die kansel en die kerklike bevestiging van verbintenisse van liefde en trou, het ’n hewige polemiek ontketen. In hierdie debat word die slagspreuk sola Scriptura telkens gebruik, veral deur hulle wat die besluit teenstaan.
Sola Scriptura beteken “(deur) die Skrif alleen” en dateer uit die tyd van die kerklike reformasie in die 16de eeu. Die hervormers het dit gebruik in hul stryd teen die Roomse Kerk om te sê dat die pous en die tradisies van die kerk ondergeskik is aan die Woord van God. Die Skrif alleen – nie die pous of tradisie nie – bepaal wat gesagvol is vir leer en lewe.

Hieruit vloei ook verdere oortuigings voort, soos dat die Bybel onfeilbaar is in sy uitsprake oor sake van geloof en lewe, dat dit duidelik en genoegsaam is in sy heilsbedoeling, dat dit homself interpreteer wanneer Skrif met Skrif vergelyk word, en dat elke gelowige, gelei deur die innerlike verligting van die Heilige Gees, direkte toegang tot die Woord van God het.
Hulle benodig nie geleerdes of die kerk se verduideliking om dit te verstaan nie.
Toegepas op die gay-debat beteken dit dat die Skrif se uitsprake teen homoseksualiteit helder en duidelik is. Ons het geen verduidelikings nodig nie. Enige poging om iets anders te sê as wat daar staan, ondergrawe die gesag van die Skrif.
Gesonde uitlegbeginsels van die Bybel, soos oor tyd heen ontwikkel, het egter nog altyd gesê dat die sola Scriptura-beginsel nie op ’n klakkelose manier aangewend kan word nie, veral nie wanneer daar ’n klaarblyklike spanning tussen die Bybelse en hedendaagse wêreldbeeld ontstaan nie. Anders bevind die kerk hom later op ’n eiland van ongeloofwaardigheid. 
’n Voorbeeld: Om vandag daarop te staan dat die aarde plat, stewig op sy pilare gegrondves en onwankelbaar is, net omdat die Bybel dit duidelik sê (1 Sam. 2:8; Ps. 93:1), maak jouself nie net belaglik nie, maar ondergrawe juis so die Bybel se gesag. 
Dié voorbeeld is nie so onskuldig nie. Vandag aanvaar ons ’n ronde aarde en ’n heliosentriese sonnestelsel as vanselfsprekend, maar toe die moderne wetenskap nog in sy kinderskoene gestaan het, het die kerk dié nuwe insigte hewig teengestaan – op grond van die Bybel!
Gelowiges moet dus naas die Skrif as bron van gesag, ook die getoetste insigte van die natuurwetenskap as gesagsbron vir leer en lewe erken. Skrif en natuur staan nie prinsipieel teenoor mekaar nie, want die God van die Bybel is ook die God van die natuur. Hy is immers die Skepper van alles. Die vraag is net hoe ons die gegewens van albei met mekaar in verband moet bring. Dis nie altyd ’n maklike taak nie, soos nou blyk in die gay-debat.
Van tyd tot tyd kom daar nuwe insigte op die tafel wat die kerk dwing om weer met nuwe oë na die werklikheid te kyk. 
En dis al lank dat die kerk gekonfronteer word met die verskynsel van onomkeerbare kern-homoseksualiteit, en dat daar gelowiges met so ’n oriëntasie is wat ’n tuiste in die kerk soek. Hulle wil nie losbandig en buite die kerk lewe nie, maar as belydende Christene en volle mense hul plek in kerk en samelewing inneem.
Wat verder vir die kerk duidelik geword het, is dat die tekste wat oënskynlik anti-gay is, eintlik nie veel hiermee te doen het nie, maar wel degraderende en afbrekende homoseksuele praktyke afwys. Hierbenewens dring die Skrif ons daartoe om insluitend te werk te gaan, ook ten opsigte van hulle wat na ons mening “teen-natuurlik” is.
Die sola Scriptura-beginsel stel dus nie erkende uitlegbeginsels buite werking nie, maar sluit dit in. Die punt is: Sola Scriptura is nie net die prerogatief van téénstanders van die NG Kerk se besluit nie, maar ook van die vóórstanders daarvan.

1 opmerking:

  1. Baie dankie vir die plasing - ook op Twitter. Hierdie boodskap MOET gehoor word: die gesag van die Skrif, die Woord van God, is in gedrang!

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.