BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 06 November 2017

HARVEY WEINSTEIN

en die Nuwe Jerusalem! 

Paulus praat met die kinders van God (hulle is geseënd en uitverkore in Christus, begenadig en gered deur die geloof alleen)* op ‘n baie kragtige manier in Efesiërs 4:17-24**  en moedig hulle aan om heeltemal te breek met hulle ou heidense leefstyl. 

HEIDENSE LEEFSTYL

Wat is hierdie heidense leefstyl? Dis belangrik om raak te sien, dis nie net die leefstyl van die Moslems, Hindoes of geverfde kannibale daar doer nie, dis die hele wêreldsisteem waarin ons leef en wat ons elke dag rondom ons sien. As mens na hierdie beskrywing kyk, kon jy net sowel dink Paulus was ‘n middag op die Internet en hy het so bietjie op Instagram en YouTube rondgekuier. 

Hoe lyk en klink die heidense leefstyl volgens Paulus?

“hulle gedagtes lei tot niks” Een van die hoofkenmerke van die heidense leefstyl is verdorwe sinnelose dwase denke. In die geroesemoes en lawaai van die goddelose wêreld met sy filosofie, idees en ideologie, sy hedonisme, materialisme, feminisme, liberalisme, ateïsme (noem maar op...) is daar geen blywende oplossings nie, geen ware rus en geen ewige heerlike bestemming nie. Dis ‘n ydele soeke na ‘n altyd ontwykende utopie, ‘n hersenskim van geluk wat nêrens te vinde is nie. Dis ‘n gejaag na ‘n haas wat nie eers bestaan nie. Soos ‘n hamster wat hom verbeel hy gaan iewers kom maar al die tyd op sy eie wieletjie in die rondte hardloop. Dis ‘n vretende verlange na die pot goud aan die punt van die reënboog, wat maar altyd net buite bereik bly. ‘n Tevergeefse vertroue op helde met wankelrige voete en ‘n swerm onkundige kiesers wat agter hulle aanstrompel... Die Obamas, Trumps, Macrons…maar nie een van hulle weet in watter rigting die Lewe te vind is nie! 

“verduisterde verstand...onkunde” Die heidendom verstaan niks van ‘n heilige lewe in gemeenskap met God nie, weet nie wat in die Woord staan nie. Die heiden verstaan nie waarvandaan hy kom, wat sy doel op die oomblik is en waarheen hy op pad is nie. Onkundig, maar ook verhard. Die heiden het immuun geraak teen God se waarskuwings. Veragters van sy liefde, verbitter teen sy gebooie en vertrappers van sy verlossingsgenade.

Die heidene het “afgestomp” geraak – vir my een van die duidelikste kenmerke van die samelewing. Ongevoelig, skaamteloos, onsensitief. Sonde is nie eers meer ‘n skande nie – dis die hoof sappige nuus op die voorblaaie : “ons bly saam, hoereer saam, lieg saam, steel saam en voel nie eers skaam of skuldig daaroor nie. Selfs as ons uitgevang word is daar geen hartgrondige berou nie, in plaas van belydenis en bekering gaan ons net vir ‘n bietjie terapie!” Dis die losbandige leefstyl van Hollywood en Harvey Weinstein** en sy kan wurms, waaroor almal nou “Oe!” en “A!”, maar dis waarvan mense eintlik regtig hou, want hulle betaal om hierdie vuil water dag vir dag uit hulle morsige TV skerms op te slurp. Inderdaad ‘n “onversadigbare drang” na “losbandigheid!”

Die boosheid gaan al verder, daar word steeds nuwe vorme van losbandigheid wellus en haat uitgedink. Daar kom telkens nuwe skandale van bedrog na vore… en dis nie net Zuma wat skuldig is nie!

Hierdie heidense leefstyl staan in skrille kontras met die waardes en voorbeeld van Jesus. (20) Die opdrag wat Paulus gee is kort en kragtig (en baie ongewild!). Hou op, breek met…

NUWE DENKE WORD BENODIG

Waar begin dit? Innerlik by ons gees en gedagtes. “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Romeine 12:1,2) Moenie meer dat Instagram, Hollywood en die Huisgenoot jou gedagtes en waardes bepaal nie! Moenie nabootsers word van die sepiehelde nie! Moenie gelykvormig word aan die grillerige glansganse van aan ons tyd nie. Gaan eerlik terug na God en sy Woord. Leef nuut volgens die lewe waartoe God julle geroep het. God se bedoeling is dat ons beelddraers van Hom moet wees. Ons weet God se beeld is in ons geskend. Dis verwronge en vuil. Ons weet nie eers hoe ons meer veronderstel was om te wees nie. Gelukkig kan ons weer weet hoe God se beeld in ons moet lyk. Jesus. Hy is die Beeld van die onsienlike God. Positief – om weer God se beeld te vertoon moet ons volgens die opdragte en voorbeeld van Jesus leef! En Hy maak dit moontlik deur die Heilige Gees wat in ons woon! 

GEEN PLEK VIR DIE HEIDENSE LEEFSTYL IN DIE NUWE JERUSALEM NIE

Hoe ernstig is Paulus met hierdie waarskuwing? Ons het mos ‘n manier om die Bybelse waarskuwings af te skud en te versag. “Ag, ou Paulus is ‘n asyngesig rabbynse Jood.” As ons egter in Openbaring 21 na die beskrywing van die Nuwe Jerusalem kyk besef ons hoe reg is Paulus. Die Nuwe Jerusalem is in Openbaring beide ‘n plek, maar dis ook mense. Dit staan in kontras met Babilon. Babilon word uitgebeeld as ‘n onrein prostituut en die Nuwe Jerusalem as die rein bruid. ‘n Groter kontras kan jy nie kry nie. Babilon is die plek van die onreines, maar die Nuwe Jerusalem (kliek) by uitstek die plek van die reines. Hulle word verlig deur die heerlikheid van God en die Lam is hulle lamp. (23) Die onreines se eindbestemming is die poel van vuur. “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood." (8) Hulle mag nie in die Nuwe Jerusalem kom nie. “Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.” (27) Daar is geen plek vir die heidense leefstyl in die Nuwe Jerusalem nie! Dis verdoemend duidelik!

GENADE VIR DIE DORSTIGES!

Vreeslike woorde, maar wag, ook hier in Openbaring word die deur oopgehou vir die wat wil bekeer. Genade onbeskryflik groot! “Verder sê Hy vir my: "Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6,7) “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Vir die wat die uitnodiging aanvaar is daar eendag plek in die Nuwe Jerusalem, maar nou ook reeds plek aan die Nagmaalstafel. Die Nagmaalstafel is nie die plek vir goeie mense nie, maar vir dorstiges m.a.w. diegene wat hulle nood en behoefte aan Jesus besef! En Jesus stel niemand teleur nie, want die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde!***

*Sien Efesiërs 1:3-14, 2:8-10

**In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks,

hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.

Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie.

Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

Julle gees en gedagtes moet nuut word;

lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Efesiers 4:17-24)

***Natuurlik is Weinstein en dergelikes se optrede laakbaar, barbaars en afkeurenswaardig, maar al hierdie aktrises wat nou so kla is uiters naïef. Hulle onkunde is tiperend van die heidendom. Wat verwag hulle van ‘n bedryf wat losbandigheid, wellus en geweld as vermaak aanbied? ‘n Mens kan nie vuur in jou klere dra en dink jy gaan nooit brand nie!

**** 1 Johannes 1:7


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.