BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 19 November 2015

NIE ‘N “CELEBRITY” NIE

- Jesus het nie ‘n filmster voorkoms of glansgans persoonlikheid gehad nie, maar net Hy kan jou voorberei vir daardie groot afspraak!


Voorbereiding is absoluut noodsaaklik. Wees voorbereid vir jou eksamen, lisensie uitpasering, om jou rekenings te betaal, vir daardie belangrike werksonderhoud...


Maar wees veral voorbereid om voor God te gaan staan. Elke mens wat ooit gelewe het op aarde sal voor die heilige God verskyn om verantwoording te doen. Is ek en jy daarop voorbereid? Mense hou nie van hierdie gedagte nie, maar dis ‘n kern waarheid – ons bely dit Sondag vir Sondag – “vanwaar HY sal kom om die oordeel, die wat lewe en die wat reeds gesterf het” Die God wat ons gemaak het, wat vir ons opdragte gegee het, gaan ons tot verantwoording roep deur die Regter Jesus Christus. Is ons gereed, is ons voorbereid?

Baie mense dink hulle is gereed maar hulle is nie. "Ek probeer my bes, ek het mos darem nie ‘n moord begaan nie, nie gesteel nie, nie egbreuk gepleeg nie..." As ons egter eerlik na die wet van God kyk, en die Heilige Gees maak ons gewetens wakker, dan weet ons... “Ek is ‘n oortreder, ek is ‘n sondaar, ek kan nie voor God verskyn nie!” Hoe nou? Is daar vir my hoop of is ek gedoem tot ‘n ewige hel? Ja, die hoop is te vind in God se Kneg/Dienaar!

KNEG VAN DIE HERE

Die profeet Jesaja gee vir ons ‘n aangrypende beskrywing van die Dienaar/Kneg van die Here. Lees gerus die hele aangrypende hoofstuk 53! Hierdie Dienaar is niemand anders as Jesus Christus nie! Hier word vir ons ‘n aangrypende en realistiese prentjie van Jesus geteken eeue voor sy geboorte en bediening. Hy was nie ‘n aantreklike filmster persoonlikheid met ‘n perfekte baard, golwende hare en ‘n wit kleed nie. “Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.” (2) Hy was beslis nie ‘n gewilde superheld of sentimentele people’s pleaser nie. “Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.” (3) So baie mense het ‘n valse verwagting van en siening oor Jesus (gevoed deur die Kinderbybels en media). 

Nou waarin lê die heerlike uniekheid van Jesus?

PLAASVERVANGENDE LYDING

Jesus se uniekheid, kosbaarheid en belangrikheid lê in sy lyding. Sy lyding aan die kruis. Daar was baie mense wat mooi kon preek, wat liefdevol was, wat wonderwerke gedoen het, maar daar was net EEN wat plaasvervangend vir ons gesterf het. Die kern van die evangelie word in hierdie hoofstuk so saamgevat : “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom."  (5,6) Jesaja wil ons baie duidelik laat verstaan : God het nie vir Jesus gestraf oor iets wat Hy gedoen het nie, maar oor dit wat ons gedoen het! “Oor óns oortredings, oor óns sondes” Jesus se kruisdood was ‘n straf, die straf van God oor ons, maar wat op Hom afgekom het. Hoe is dit moontlik? (Vers 6) God het ons sonde op Hom laat afkom. God het Hom vir ons sonde verantwoordelik gehou. Meer nog, God het Hom tot sondaar gemaak en as sondaar behandel. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (2 Korintiërs 5:21) God behandel Jesus as sondaar. Wat behels dit? God straf Hom met die dood, want die loon van die sonde is die dood! Anders gesê – Jesus sterf as ‘n vervloekte, ‘n verworpene soos Paulus in Galasiërs sê. Deur die straf wat Jesus in my plek gevat het, staan ek nou as regverdige voor God! “My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra.” (Jesaja 53:11)

Wat is nou die heerlike gevolge vir ons? As ek my tot Jesus bekeer het en in Hom glo, word my sonde nie meer teen my gehou nie, want in God se oë het ek nou nie sonde nie, ek is nie meer skuldig nie, ek staan strafloos voor Hom! In kort – Jesus vat my straf en ek gaan vry!

GOEIE NUUS

Dis die goeie nuus wat ons bly maak, maar ook aanspoor om in dankbaarheid heilig te lewe!

Dis die goeie nuus, wat vir ons vrymoedigheid gee vir die oordeelsdag. Dis die wete, MY sonde is reeds gestraf, ek hoef nie meer straf en oordeel te vrees nie.

Dis die goeie nuus van Jesus se liefde wat my inspireer om nou ‘n lewe van liefde en toewyding te leef.

Die boodskap van troos en ewige lewe is dus: Sien jou sonde raak, sien die verlossing deur Jesus se sterwe raak en begin ‘n lewe van oorgawe aan Hom. Sonde, verlossing en dankbaarheid!

Terug by voorbereiding - Om voorbereid te wees vir die oordeelsdag moet ek dus eers my sonde raaksien en daaroor berou hê, moet ek raaksien en glo dat Jesus my volle straf reeds aan die kruis gedra het, moet ek Hom nou reeds begin dank met my hele lewe... Om voorbereid te wees beteken dus om by Jesus te skuil!

1 opmerking:

  1. Fantasties!!! Ons kan elke dag opstaan en onsself herinner om in dankbaarheid te lewe.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.