BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 01 Maart 2020

SOWAAR DEUR DIE OOG VAN DIE NAALD!

- DIE HEERLIKE GEVOLG VAN JESUS SE REDDINGSGENADE 

Ons ken almal die verhaal van Saggeus in LUKAS 19:1-10. Die verhaal van Saggeus, gaan in hoofsaak natuurlik nie oor Saggeus nie, maar oor Jesus. Jesus se reddingsgenade is verrassend en kragtig! Dis juis ook ’n doelgerigte soekende genade, gefokus op sondaars! Die ergste sondaars! Ja, daar is hoop vir ons...  Die hoofboodskap van hierdie gebeurtenis kry ons natuurlik in vers 10 as klimaksteks! “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is." 

VERRASSENDE GENADEKRAG! 

Jesus se genade is verrassend. Jesus verras vir Saggeus, maar hy verras ook die omstanders. 

Saggeus kruip weg in die wildevyeboom. Hy dink hy kan vanuit ‘n veilige afstand alles dophou. Hy dink hy kan anoniem bly. Maar dan verras Jesus hom. “Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: "Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan." (5) Hy roep hom by sy naam! (Luister mooi, Hy roep jou ook...) Die Seun van God doen persoonlik bemoeienis met ‘n onverdienstelike sondaar! Dink net hoe verbaas en verras Saggeus moes wees… Ja, Jesus konfronteer Saggeus. Maar dis ‘n liefdevolle konfrontasie. Dis ‘n genadige konfrontasie. Ds ‘n reddende konfrontasie. 

Wat in Saggeus se lewe gebeur is niks minder as ‘n wonderwerk nie! ‘n Gierige ryke wat vrywillig van die helfte van sy besittings afstand doen en belowe om sy verkeerde optrede teenoor ander mense reg te maak is nie sommer net ‘n klein veranderinkie nie. Dis gelykstaande aan ‘n drankverslaafde wat sy vol bottels in die toilet afspoel. Dis soortgelyk aan ‘n jongmens wat ‘n sondige seksuele verhouding verbreek al maak dit jou hart stukkend. Dis net Jesus wat hom so kon bevry van sy verknogtheid aan geld. Dis net Jesus wat hom so kon bevry van die heerskappy van sy beursie. Wie Jesus in sy huis (en hart) toelaat en ontvang sal noodwendig ‘n transformasie ondergaan. Die kettings waarmee die duiwel hom gebind het word verbreek.  Dis mos waarvoor Jesus gekom het - “En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.” (1 Johannes 3:8b) 

SAGGEUS EN DIE RYK JONGMAN 

Hierdie wonderwerk in Saggeus se lewe word nog meer vol betekenis as mens dit vergelyk met die geskiedenis van die Ryk Jongman in die vorige hoofstuk. (18:18ev) Daar is opvallende ooreenkomste en verskille. Beide is ryk. Beide het ‘n soeke in hulle lewens ervaar. Beide het ‘n sterk begeerte na Jesus op een of ander manier. (Die Ryk Jongman kom val voor Jesus neer, Saggeus maak ‘n plan om Jesus te kan sien.) 

Ook tragiese verskille: Die Ryk Jongman het op die ou end teleurgesteld weggegaan. Saggeus word opgeneem in die familie van gelowiges. Die Ryk Jongman se besittings tel vir hom meer as die koninkryk van God. Saggeus se hart raak los van oorheersing deur besittings en so lewer hy bewys dat hy nou ‘n kind van Abraham geword het. In beginsel doen Saggeus dit waarvoor die Ryk Jongman nie kans gesien het nie. Die merkwaardigste is dat hierdie geskiedenis van Saggeus inderdaad bewys dat God die “onmoontlike” kan doen en ‘n ryk man kan red. 

Die Ryk Jongman moes teleurgesteld omdraai omdat hy nie gehoor wou gegee aan Jesus se opdrag van bekering van sy materialisme nie. Die gesprek gaan toe verder tussen Jesus en sy dissipels - “Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: "Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom." Dié wat dit gehoor het, sê toe: "Maar wie kan dan gered word? Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." (18:24-27 ) 

Ontsagwekkend en asemrowend heerlik! Geen sondaar is buite bereik van God se genade nie! Daar is hoop vir daardie goddelose eggenoot, kind, kollega wat deur mense afgeskryf word... 



Inderdaad het die kameel toe deur die oog van die naald geglip! Die heerlike kragtige genade van God vir wie niks onmoontlik is nie, was in aksie...


BESWAAR TEEN GENADE 

In die proses verras Jesus ook al die omstanders. Hoe so? Wel, hulle het Saggeus almal baie goed geken. Hy was die berugte en gehate tollenaar wat hulle afgepers en besteel het. Die ongewilde en korrupte "ontvanger van inkomste!" Daarom maak hulle ten sterkste beswaar teen Jesus se toenadering! “Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: "Hy gaan by ‘n sondige man tuis!" (7) Jesus se radikale genade vir die slegste sondaars laat baie mense deur al die eeue en vandag nog ongemaklik en kwaad voel. Dink aan hoe kwaad en teleurgesteld Jona was toe die mense van Nineve hulle op grond van sy boodskap bekeer het en God hulle genadig was! (Jona wou nie genade sien vir hierdie vyande van sy volk nie - gelukkig is God se genade groter as die genade van sy boodskappers s'n!) Gaan jy opgewonde wees as Jesus vir Zuma of die Fishrot bende vergewe! Sal ons hulle in die kerk verwelkom? Gaan jy ook daardie plaaswerker of besigheidsman wat jou soveel skade aangedoen het as broer verwelkom as hy in Jesus glo? 

GEVOLGE VIR DIE HELE HUIS 

Die verrassende en kragtige genade van Jesus het heerlike gevolge. Saggeus word nou deel van God se volk. ‘n Ware kind van Abram. “Daarop sê Jesus: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.” (9) Etnies was hy dit alreeds, maar nou word hy ook geestelik ‘n kind van Abram, want hy glo nou ook waarlik in Jesus. (Vgl. Gal 3:7 “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.”) 

Maar ons moet ook mooi kyk na wat Jesus hier sê. (9) “redding vir hierdie huis” Die reddende genade wat Saggeus ontvang het raak sy hele gesin, sy huishouding! Dit klink dalk vir ons as westerse individualiste vreemd, maar dis ‘n tema wat ons deurgaan in die Skrif kry. Noag (en sy hele familie word gered), Abram (God se beloftes vir hom en sy nageslag), Josua ("ek en my huis sal die Here dien"), Ragab (saam het haar hele familie opgeneem in die verbondsvolk)… En ons vind dit ook in die Nuwe Testament. Lidia, die tronkbewaarder van Filippi… Natuurlik gaan dit nie hier oor outomatiese redding van ‘n kind as een van die ouers gered word nie. Dit gaan daaroor dat die hele huisgesin ‘n werksveld van God se verbondsgenade word. Christen ouers se kinders word groot in die dampkring en onder die invloed van die Woord en die Woord is die instrument van die Heilige Gees. Vir God is huisgesinne belangrik. Hier sien ons dit duidelik. Saggeus se redding is groter as net ‘n persoonlike saak! 

As jy op Jesus se uitnodiging reageer, as jy jou huis en hart vir Hom oopmaak, as jy jou bekeer van jou afgode gaan dit heerlike gevolge vir jouself en jou nageslag hê! 
Kameel in die Swakoprivier.

*Hierdie en ander gedagtes met erkenning aan Nico van der Walt

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.