WIE SE SAAK MET GOD IS REG?
Wie mag die Nagmaal gebruik en so sy verlossing vier? Met ander woorde, wie se saak is reg met God? Wie word deur God self as ‘n regverdige beskou? Jesus self gee ‘n duidelike en radikale antwoord in LUKAS 18:9-14. Dis ‘n pynlike, skokkende antwoord wat baie kerkmense en vroom godsdienstige siele aan hulle Paasbolletjies en Kersmaaltye sal laat verstik! Aan die anderkant is dit juis ‘n antwoord wat vir hopeloses, moedeloses en gebrokenes hoop gee. Vir hoogmoediges en selfversekerdes is dit ‘n wrede ontnugtering; maar vir geestelike bedelaars is dit inderdaad evangelie!
Jesus het ‘n baie spesiale doel waarom Hy hierdie gelykenis vertel : Sy doel is om mense te ontmasker en te waarsku wat op hulleself vertrou dat hulle saak met God reg is! Dis nou almal wat op hulle eie geestelike en morele bates staatmaak om in die koninkryk in te gaan. Veral mense wat hulleself met ander vergelyk en daarom seker voel van hulle saligheid.
“En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.” (Lukas 18:9 OAV)
TWEE MANNIE IN DIE TEMPEL
Daar is ‘n duidelike ooreenkoms tussen hierdie twee manne. Altwee gaan na die tempel om te bid. Altwee glo in God. Altwee (soos alle mense) is sondaars. Die een weet dit net nie! Maar dis waar die ooreenkoms ophou.
Daar is inderdaad diepgaande verskille tussen die twee. Dit moet noodwendig tot twee uiteenlopende toestande lei. Uiteindelik twee verskillende ewigheidsbestemmings!
HOE VERSKIL HULLE?
Wat betref hulle opinie oor hulleself:
Die fariseër het baie selfvertroue en voel goed oor homself. Hy het 'n valse geloofsekerheid gehad! Hy was seker van die hemel, maar bestem vir die hel! Dit word duidelik dat sy geloof eerder in homself is as God! Sy goeie selfbeeld sou kon doen as ‘n handboekvoorbeeld vir elke plaaslike, Amerikaanse of Nigeriese welvaartsprediker! 'n Ware trofee vir die beste lifecoach!
Die tollenaar het geen goeie selfbeeld of selfvertroue nie. Hy voel bitterlik sleg oor wie hy is! In mooi taal – hy mishaag homself!
Die fariseër vergelyk homself met ander en hoe meer hy dit doen hoe meer neem sy selfvertroue toe. Hy raak so liries oor homself, hy is eintlik besig om homself te aanbid!
Die tollenaar probeer homself nie eers met ander vergelyk nie, Hy sien homself net as sondaar voor God en dit stroop hom van alle selfvertroue! Sy hele houding, lyftaal en woorde vertel net een ding : diep berou en hartgrondige sondebesef. (13) "Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’
Wat betref die basis van hulle vertroue:
Die fariseër vertrou op homself. Dit lyk of hy inderdaad rede het...Hy het ‘n indrukwekkende geestelike batelys. (Baie soos Paulus voor sy bekering waarvan hy later in Filippense 3 vertel) Hy is volgens alle uiterlike standaarde ‘n vroom man wat God se wette ernstig opneem. (11) En dis reg, ons moenie hierdie verkeerde dinge doen nie. Verder....hy kom die regte godsdienstige pligte na... (12) Hy vas, gee tiendes... En dis inderdaad goeie en belangrike dinge! Onthou, Jesus veroordeel nie die fariseër omdat hy vroom is nie, maar omdat hy op sy vroomheid staatgemaak het!
Die tollenaar is geestelik bankrot. Hy het niks goeds om oor homself te sê nie. Niks om op trots te wees nie. En hy probeer nie eens om verskonings vir sy verkeerde gedrag uit te dink nie. Hy noem homself eerlik net “‘n sondaar” sonder enige versagtende beskrywings... (LW – daar staan nie “arme” sondaar nie!) Onthou, Jesus prys die tollenaar nie omdat hy so vol sonde is nie, maar omdat hy op God se genade staat gemaak het.
Altwee is sondaars. Die fariseër besef dit nie. Die tollenaar is diep daarvan bewus. Dis eintlik al wat hy oor homself kan sê!
Altwee is sondaars. Die fariseër dink egter dat sy goeie dade homself laat kwalifiseer vir die koninkryk. Volgens sy self opgestelde geestelike balansstaat oortref sy goeie dade sy slegtes! Die sondaar besef hy het geen kwalifikasies nie. Hy is bankrot voor God. Sy enigste hoop is op God se genade!
EWIGHEIDSVERSKIL
Die belangrikste verskil is : Die tollenaar gaan daar weg as ‘n regverdige. Hy word deur God self vrygespreek! Die fariseër nie. Dis die allerbelangrikste verskil, dis ‘n ewigheidsverskil! Daar is eintlik maar net twee soorte mense. Daar is ‘n duidelik skeidslyn. Onwedergebore en wedergebore. Kind van die hel, kind van God.
WEERGEBORE?
In die fariseër se houding en woorde sien mens die duidelike eienskappe van iemand wat nie weergebore is nie. Wat is dit? Hy bid wel tot God maar sy eintlike vertroue is op homself, sy moraliteit en sy godsdienstigheid! Hy vind troos in homself dat hy goed genoeg is om nie hel toe te gaan nie.
Die beroemde Amerikaanse teoloog, Jonathan Edwards* het gesê: “Almost every natural man that hears of hell, flatters himself that he shall escape it!” Dis so waar - onwedergebore godsdienstiges troos hulleself oor die algemeen– “Ek is darem nie so sleg dat ek hel toe sal gaan nie…”
In die tollenaar se houding en woorde sien mens die duidelike tekens van wedergeboorte: Bewustheid van sonde en eie onwaardigheid. Vertroue op God! Hy weet hy verdien die hel. Daarom is sy vertroue alleenlik op die genade van God. Die genade wat God ons deur Jesus skenk. Voortdurende besef van sonde en hartseer erkenning van my onvolmaaktheid is duidelike tekens van die Gees se genadewerking in ‘n mens se lewe. Daarmee saam ‘n afhanklike vertroue op Jesus deur wie ek God se genade kry.
Die tollenaar is ‘n geestelike bedelaar en volgens Jesus is dit die basiese vereiste om deel te kry aan die Koninkryk van God! (Matteus 5:3)
DIE VEILIGSTE PLEK
Die veiligste plek is om jouself plek as sondaar voor God se genadetroon in te neem! Om jouself te verneder. (14) Miskien is jy vol onsekerheid… Ja, jy weet jy het lank gelede jou lewe vir Jesus gegee… Maar jy het dalk baie afgedwaal, dalk lou geword, beleef baie twyfel, baie mislukkings agter die rug... Jy wonder dalk diep binne in jou hart of jy waardig is om die nagmaal te vier… Jy smag na die Here God se teenwoordigheid, maar jy weet nie hoe om by hom uit te kom nie... Wat staan jou te doen?
Charles Spurgeon het ‘n baie kosbare verhaal in die verband vertel. (aangepas) Dis van die edelman wat ‘n baie goeie verhouding met die koning van die land gehad het. Maar iewers het dinge begin skeefloop. Hy wou so graag weer die koning sien, maar hy kon dit net nie regkry nie. Daar was altyd een of ander probleem of struikelblok. Toe kom hy te hore dat die koning ‘n reuse partytjie in die paleistuin vir al die stad se bedelaars en boemelaars gaan aanbied. Die uitnodiging was baie duidelik : “Almal is welkom!” En net daar kry die edelman ‘n plan! As ek dan nie my koning kan sien as edelman nie, gaan ek nou na die byeenkoms as bedelaar! Bedelaars, alle bedelaars is mos uitgenooi! So gaan ontmoet hy weer die koning as bedelaar in sy vodde en so word die verhouding herstel!
Die punt is :
As jy nie meer weet of jy as kind van God voor Hom kan verskyn nie, kom as sondaar! Eerlike gebroke sondaars vol berou is altyd welkom by God.
Kom as sondaar na God op grond van Jesus se verdienste, sy volmaakte kruisdood… Sondaars wat berou het en uitroep om genade sal nie weggewys word nie! Dis die regte houding, maar ook die vertroue waarmee ons die Nagmaal gebruik! Dis ook ‘n drastiese keuse. KOM! KRY BEROU! VERTROU! Kom nou in kinderlike vertroue na Jesus. Hy nooi jou! “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)
Dis met die gesindheid van die tollenaar waarmee ons na die Nagmaalstafel kom. Dis die regte gesindheid!
*Hierdie aanhaling sowel as heelwat ander gedagtes het ek by Nico van der Walt gekry.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.