BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 01 Desember 2019

VRIEND VAN GOD?

God nooi jou na ‘n ware vriendskap met Hom – “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” 


Ons het nie lank terug nie, gekyk na die feit dat die bemoediging en standvastigheid van God se Woord vir ons HOOP gee. (Kliek HOOP) As jy sonder hoop is, is dit tyd om erns te maak met God se Woord! Dis waar van die hele Woord, maar dis in besonder waar van God se direkte beloftes. God is ‘n God wat beloftes maak. Heerlike beloftes. En dis nie sommer lukrake en onsekere beloftes nie. Hy maak sy beloftes duidelik en vas in die vorm van ‘n verbond, ‘n kontrak en Hy bevestig dit met sigbare tekens. (Doop en Nagmaal) 

Daar is sulke wonderlike beloftes! Beloftes oor vergifnis, oor kindskap (om seker te wees van my kindskap van God), oor gebedsverhoring, oor God se Vaderlike versorging, oor die feit dat Hy ons sal laat volhard, sy bewaring tot aan die einde, die ewige erfenis... Nou, mense hou oor die algemeen van hierdie beloftes. Hulle whatsapp dit graag vir mekaar met mooi prentjies daarby. Ons kry ook boksies met belofte kaartjies. Dan trek jy vir jou een vir die dag... Maar daar is een ding wat ons dikwels vergeet. God se beloftes het duidelike voorwaardes. Ons sien dit reeds in die verbond met Abram. “Ek sal vir jou ‘n God wees. Jy moet vir my ‘n volk wees. Ons moet hierdie voorwaardes ernstig opneem.” 

As ons nie God se opdragte ernstig opneem nie, lei dit tot frustrasie en as daar ‘n klomp opgekropte frustrasie binne in ons is dan raak ons jaloers en gewelddadig. In Jakobus 4 lees ons hiervan. Allerhande vegterye ontstaan – binne die huwelik, gesin, gemeente... Ons baklei en pleeg selfs “moord” – al is dit met ons tong of gesindhede. “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?” (1) 

Jakobus 4:1-10 het vir ons heelwat te sê oor God se BELOFTES EN VOORWAARDES gekoppel aan daardie beloftes. 

Hier in Jakobus sien ons weereens hoe voorwaardes, opdragte en beloftes ineengeweef is. Ons kan hulle nie losmaak van mekaar nie. Hier word indirek na ‘n hele paar beloftes verwys, maar ook na die mislukking van hierdie beloftes omdat ons die voorwaardes nie ernstig opneem nie. Ek gaan ‘n paar beloftes afsonderlik noem, maar natuurlik dis ineengestrengel, dit oorvleuel en kan nie losgemaak word van mekaar nie. 

Die beloftes oor gebedsverhoring. “Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” (2,3) Op talle en talle plekke in die Skrif word ons beloof dat God gebede sal beantwoord. En tog is dit juis dié groot area van teleurstelling vir baie gelowiges. In die eerste plek word ons natuurlik teleurgestel, want ons bid nie juis veel nie. (Daardie rympie wat jy half aan die slaap saans prewel voor jy uitgeput in die bed neerval, tel nie juis as bid nie...) Die voorwaarde vir gebedsverhoring is tog gebed! Maar verder word ons wat wel bid ook teleurgestel. Hoekom? Ons bid met die verkeerde motiewe. Jakobus noem dit by die naam. “Julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” (3) Die belofte van gebedsverhoring kom saam met die opdrag en voorwaarde om God se eer, God se Koninkryk en God se wil eerste te stel! 

Gebed gaan saam met oorgawe en onderwerping aan God se wil. 

Gebed is nie ‘n tellermasjien waar ek die knoppies druk en vir God bevele gee nie. Gebed veronderstel onderwerping aan God en dis waarop Jakobus verder nou ingaan. 

Die beloftes oor vriendskap met God. “Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.” (4) In ‘n sin gaan al God se beloftes daaroor dat Hy ons Vriend wil wees. Hy wil in ‘n intense verhouding met ons staan. Maar weereens is daar ‘n voorwaarde. Ek kan nie vriende wil probeer wees met die goddelose wêreld en die beginsels van die wêreld en dink God gaan my vriend wees nie. Jakobus stel dit baie kras. Prakties kom dit neer op : “Jy het ‘n keuse, as jy leef volgens die modes en beginsels en denkwyse van Hollywood en die Huisgenoot – as jy dink en lyk en praat soos daai mense, vergeet maar van God se vriendskap, Hy het jou vyand geword!” 

Die beloftes van genade. “Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: "God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade." (6) Hoe nodig het ons elkeen juis dit nie? (God stel immers hoë standaarde wat ons telkens in faal) Genade is vir die wat hulleself verneder. Vir geestelike bedelaars! (Onthou Lukas 18 – die tollenaar se gebed) God help nie hoogmoediges nie, inteendeel Hy stry self teen hulle! Aan die anderkant - vir gebrokenes en ootmoediges het Hy altyd tyd en genade – lees maar Dawid se rou en smeekgebed in Psalm 51 na sy vreeslike sonde! 

Die beloftes van oorwinning oor die Satan. “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.” (7) Christene word aangeval en versoek en geteister deur die duiwel. So hierdie is ‘n wonderlike belofte dat hy sal wegvlug as ons hom teenstaan. Maar hoe doen ons dit? Onderwerping aan God! Raak gehoorsaam aan God. Maak erns met sy opdragte. Begin doen wat die Woord sê. Weet beslis - As jy aanhou haat, aanhou steel, aanhou met jou onsedelike verhouding, aanhou met jou pornografiese gewoontes, onderwerp jy jouself mos nie aan God nie. Dan gaan jy nooit die duiwel oorwin nie. Hy sal vir jou lag! 

Begin erns maak met die uitroei van sonde en beleef hoe vat die duiwel die hasepad!

Die beloftes van Goddelike aanvaarding, nabyheid en teenwoordigheid. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (8-10) Dis die kersie op die koek! As ons na God kom sal Hy na ons kom. As ons tot Hom nader sal Hy ons nooit wegwys nie. Maar wat is die voorwaardes? Radikale selfondersoek en optrede teen sonde. Kies daarteen, laat dit staan, huil daaroor, buig in nederigheid voor die Here! “Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sonde aan te gaan… Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. Dis iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af. Buig baie laag voor die Here. God sal jou optel waar jy in nederigheid en oorgawe voor Hom buig…” (Die BOODSKAP) Ja, almal wil graag dat God hulle - “optel, herstel, seën” – maar is jy bereid om voor Hom te buig, sy gesag te erken, Hom te gehoorsaam – dis die voorwaardes! Dis hierdie voorwaardes waaroor die goedvoel “prosperity” predikers swyg! 

Geloof in God en sy beloftes behels ook gehoorsame aksie! Die gemaksugtige en eiewillige mens is nie juis daarvoor lus nie! 

God bedoel sy beloftes. Maak jy erns daarmee?

Die bewys dat Hy al sy beloftes hou is Jesus self – sy koms as mens, sy lyding, kruis en opstanding! God se beloftes is goed en genadig. God se beloftes is heerlik en spreek elke nood en behoefte aan wat ons kan hê. Maar ons moet God ernstig opvat. Hy bedoel ook die voorwaardes! Berou, bekering, bereid om te buig voor sy gesag!

2 opmerkings:

  1. Dagsê Johannes,
    Dit gaan goed met ons in Uis.
    Ons kon hierdie jaar elke Sondag n erediens in ons kerkie hou en al was ons min,het ons elke keer die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons teenwoordigheid beleef.
    Baie dankie vir jou bydrae dat die Woord suiwer verkondig kon word.
    My wense vir jou en jou gesin is dat die Here julle ook in die nuwe jaar sal spaar en seën met die verkondigging van Sy Woord in die waarheid van Sy Woord.
    Voorspoed vir die nuwe jaar.
    Groete in Christus.
    Klasie en Anna Roux.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie oom Klasie. Dis so lekker om terugvoer daar uit Uis te kry. Mag ons Here ook aan julle 'n wonderlike en vrugbare 2020 skenk! Volhard in die uitdra van Sy Woord!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.