BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 22 November 2019

KRY WEER HOOP!


En dis belangrik, want hoop lei tot lof en lof bring eer aan God!

Kinders van God is mense van hoop! Ja, natuurlik ook geloof (geloof in Jesus) en liefde (liefde vir God en mekaar) maar  nou is dit ontsettend belangrik om  HOOP te hê!

Dis onontbeerlik noodsaaklik om hoop te hê. Sonder hoop kan mens nie aanhou nie. Vat nou maar ’n langafstand atleet. As hy hoop verloor, dan stop hy nou-nou…  ‘n Student wat hoop verloor, skop gou-gou op... As jy hoop met jou huwelik verloor, is egskeiding voor die deur...

Kinders van God het ’n vaste hoop nodig om te volhard. Ons het hoop nodig om die Christelike wedloop te voltooi en by ons ewige bestemming aan te kom. Maar nog belangriker, dis ook net as ons HOOP het dat ons vreugdevolle lofprysende kinders van God sal wees! 

Die probleem -  dis nie aldag  so maklik om hoop te hê nie. Daar is baie dinge wat ons ontmoedig, wat wanhoop wek, wat ons knieë lam maak.

Die Christelike hoop is nie iets vaag, mogge-troffe en onseker nie. (“Ag ek hoop maar vir die beste” nie.) Nee, dis ‘n vaste blye verwagting en sekerheid gegrond op God se beloftes.

Hoe werk hoop nou in die praktyk? Kom kyk: Hoekom het ons hoop nodig? Hoe kry ons hoop? Wat is die heerlike gevolg van hoop?

HOEKOM IS HOOP NODIG? Ons word dikwels moedeloos en radeloos op die pad van geloof. Daar is ’n  hele paar dinge waarmee ons gekonfronteer word, wat ons moedeloos maak en al die wind uit ons seile haal sodat ons maklik koersloos ronddobber:

Sonde en skuld. Dis soos ’n berg. Moedeloos. Hoe kon ek weer hierdie sonde doen? Ek voel so sleg. Ek wil maar die Here se pad los… Ek het al soveel keer geval... Ons word weens ons eie afdwalings gevange gehou deur die reus Wanhoop in die kasteel van Vertwyfeling! Dis 'n donker uitsiglose plek van desperaatheid en selfverwyt!

Teleurstellings. Mense, spesifiek ander Christene stel my teleur.  Daardie rebelse kind van my... Valse beloftes, ydele verwagtings. Doopbeloftes, lidmaatsbeloftes, verlowingsbeloftes, huweliksbeloftes word verbreek.

Omstandighede. Droogte! Siekte. Finansies. Werkloosheid. Korrupte regerings...

Verganklikheid. Niemand kan vir die skaduwee van die verganklikheid en dood vlug nie. Meedoënloos tik die sekondes , minute, ure van ons lewens af... Tyd staan nie vir ’n oomblik stil nie. Die swaard van verganklikheid hang oor ons elkeen. Ons harte rebelleer daarteen, dis so hartseer, dat alles moet vergaan, dat almal uiteindelik oud word en sterwe...  Is alles dan tevergeefs?

HOE KRY EK WEER HOOP? Hier in ROMEINE 15:1-6 sê Paulus vir ons hoe ons vol hoop kan wees.
Let veral op vers 4:
 
 “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.”

Die Skrif gee ons standvastigheid en bemoediging. 

Dit maak ons weer vol hoop!  Die hele Skrif – “alles wat vooraf opgeteken is.” God self is die bron van standvastigheid en bemoediging. Hoe dra Hy dit oor aan ons? Deur Sy Woord! Die Skrif gee ons hoop en net die Skrif gee ons hoop! (Dis die sleutel wat die diep donker kelders in die Kasteel van Vertwyfeling kan oopsluit...*) Alle hoop wat nie op die Woord gebou is nie is wankelbaar, onvas en onseker en dit gaan jou beslis teleurstel. Pasop maar vir jou eie gevoelens en vir ander mense se praatjies. Net God se Woord is absoluut waar, want God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie! “God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” (Numeri 23:19) 

God se beloftes is waar! 

Die hoogtepunt van sy beloftes is Jesus Christus self. In Hom is ons vergewe, aangeneem as kinders en het ons ewige sekuriteit. God is in alle omstandighede by ons en NIKS kan ons van sy liefde skei nie! Ons is meer as oorwinnaars, bemindes van die Vader en deelgenote aan ‘n onbeskryflik heerlik ewige erfenis! Hierdie is als feite van die Woord! Wie dit hoor en glo, kry HOOP!

VALSE HOOP

Mense wat nie hulle hoop op die Woord van God stel nie, stel gewoonlik hulle hoop op twee ander faktore:

~ Hulle stel hulle hoop op die rykdom. My besittings en my belange verskaf vir my sekuriteit. Dis baie dwaas en riskant!  “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.” (1 Timoteus 6:17) Mense verkies die onsekere hoop op rykdom bo die hoop op God en sy beloftes. Ja, dis so - kyk hoeveel tyd bestee hulle aan die najaag van rykdom en hoe min tyd om God se beloftes te bestudeer. Rykdom en alle aardse bates is onseker! 

Gaan vra die voormalige Zimbabwiese grondbaronne en tabakprinse! Kyk hoe verteer die droogte, misdaad en  korrupsie eens welvarende mense se rykdom...


~ Baie stel hulle hoop op mense. Ek moet net sorg dat ek die regte ouens ken en die regte ouens aan my kant het.
Ek sal my beginsels prysgee solank ek net die sterkes, belangrikes en rykes nie aanstoot gee nie. Die Bybel waarsku duidelik hierteen.  “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen.” (Psalm 146:3,4)

WAT IS DIE GEVOLG VAN SKRIFGEFUNDEERDE HOOP? 

Daar is heerlike gevolge en byvoordele as ons hoop weer deur die Skrif aangevuur word. Saam met standvastigheid, bemoediging en hoop wat van God kom, is daar eensgesindheid. (hierdie onselfsugtige eensgesindheid is eintlik die hoofgedagte van Paulus in hierdie paragraaf wat by vers 1 begin) Christene wat saam hierdie hoop deel, verdra ander, dink nie net aan hulleself nie, bou die ander positief op en dit bring ons by eendragtige lof!  (Paulus en Silas sing saam lofliedere in die tronk!) Hier sien ons eintlik ‘n wonderlike ding! Ware hoop wat gebou is op die Skrif, bevry mens nie net van vrees en swartgalligheid nie, maar bevry mens van selfgesentreerdheid en selfsug! Dink maar mooi – ‘n mens sonder hoop is ‘n bang en  selfsugtige mens en kan nie rede insien om God te loof nie! 

‘n Mens met hoop is vry om sy medegelowige te dien en lief te hê , is vry om God te aanbid en te loof!

As ons erns gaan maak met die Woord (en die erediens waar Woord en lof op mekaar volg) is daar heerlike gevolge. Hoop. Volharding. Eensgesindheid. ‘n Lewe van lof aan God en dis die belangrikste van als!


*As jy nog nie het nie moet jy beslis die klassieke Christen allegorie van John Bunyan, “Die Pelgrim se Reis na die Ewigheid” lees!





1 opmerking:

  1. Amen! Hoe kosbaar is God se Woord!

    "Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel;
    die getuienis van die Here is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.
    Die bevele van die Here is reg: hulle verbly die hart;
    die gebod van die Here is suiwer: dit verlig die oë.
    Die vrees van die Here is rein: dit bestaan tot in ewigheid;
    die verordeninge van die Here is waarheid — tesame is hulle regverdig.
    Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud;
    en soeter as heuning en heuningstroop.
    Ook word u kneg daardeur gewaarsku;
    in die onderhouding daarvan is groot loon."
    PSALMS 19:8‭-‬12, OAV

    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.