BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 02 April 2016

BLY OP DIE BRUG!

- Waardeer en respekteer die grootste geskenk van God.

Genade vir helverdiende sondaars! Dis God se grootste geskenk aan ons. Die hele Bybel is ‘n dramatiese verhaal van God se genade. Dit klink alreeds helder in die tuin van Eden as die Here God in liefde na die sondegevalle mens uitreik en roep: “Adam waar is jy?” Ons sien dit in die velklere wat God vir die mens gemaak het om hulle uit te help na hulle powere poging om hulle naaktheid met vyeblare te bedek. Ons sien dit as God vir Noag en sy familie spaar. Ons hoor dit duidelik as God die afgodsdienaar Abram roep en heerlike beloftes maak aan hom maak. Ons sien dit as God Moses stuur om die slawevolk Israel uit Egipte te lei...die bloed van die paaslam aan die deurkosyne...manna, kwartels, water uit die rots... Natuurlik sien ons dit die heel duidelikste as God die finale Verlosser Jesus Christus stuur om ons straf in ons plek volledig aan die kruis te dra sodat elkeen wat in Hom glo kwytgeskel kan wees van sondeskuld en die ewige lewe kan geniet. God se genade vernietig sonde, Satan, dood en hel!


Genade bring vergifnis. Genade bring herstel. Genade bring veral eer aan God want dit wys God se rykdom van genade en dat Hy daarvoor maar net ewig geprys kan word. Dis dus verstaanbaar dat die duiwel nie baie gelukkig is oor genade nie. Genade bevry ons uit sy greep van verslawing en skuldgevoelens en hy hou nie daarvan dat ons gelukkig is en God loof en prys nie. Daarom het die duiwel ‘n dubbele taktiek om te probeer keer dat ons die genadegeskenk waardeer en aanvaar. Anders gesê, die duiwel vertel twee groot leuens oor genade om ons van die volle genadeseën te probeer beroof:

1.Hy probeer ons wysmaak dat God se genade nie genoeg is nie. Hy wil dus hê dat ons genade moet geringskat. Hoe so? Dis die wese van die probleem wat Paulus in die Galasiese gemeente moes aanspreek. Daar was Judaïseerders wat die mense geleer het dat die genade wat ons deur geloof in Jesus ontvang nie genoeg is nie. Hulle het mense probeer wysmaak dat die genade deur sekere wetsvoorskrifte aangevul moes word. Hulle het vir die mense geleer dat hulle besny moet word en sekere Joodse feeste moes vier. Paulus het sy kommer in geen onduidelik taal hieroor uitgespreek nie. “Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs.” (Gal 4:8-11) 

En daarom het Paulus vroeg reeds in die brief bevestig dat die genade wat ons kry deur in Jesus te glo heeltemal genoegsaam is, en dat om die genoegsaamheid daarvan te betwyfel eintlik op die verwerping van genade neerkom. “Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.” (Gal 2:21) Soveel mense leef daagliks in vrees, twyfel of skuldgevoelens omdat hulle nie regtig glo dat Jesus se genade vir ons (my) genoeg is nie! Hulle sal sê, ja ek glo in Jesus, maar ek het seker nie genoeg gehuil oor my sondes nie, ek voel nie reg nie, ek twyfel want ek kry party reëls nie reg nie, ek wonder of ek God se kind is want ek het nog nooit in tale gepraat nie, ek is bang ek is nie gered nie, want sê nou maar die name wat ek vir God en Jesus gebruik is nie reg nie... O, en daardie een verskriklike sonde wat ek nie kan vergeet nie... Sulke mense moet duidelik hoor: 

God se genade deur Jesus is genoeg! Moenie iets (hoe vroom ook al) as aanvulling by God se genade gebruik nie.  Moenie twyfel dat God se genade die grootste sonde uitwis nie!

2.Maar daar is ook ‘n ander leuen wat die Satan ons vertel om ons van genade te probeer beroof. Dis weer die anderste uiterste. Hy wil ons laat glo dat genade beteken dat ons maar lustig en houtgerus kan aangaan met sonde. Dit kom neer op ‘n minagting en misbruik van genade. Hy wil ons laat verstaan dat die vryheid wat genade bring, ‘n vryheid is om ons sondige luste te laat seëvier. Paulus waarsku ook duidelik hierteen. “Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie....Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie." (Gal 5:13-16, 19-21) 

Moenie kanse vat met genade nie. Moenie God se genade misbruik as ‘n verskoning om lustig aan te hou met sondig nie. 

Hierdie misbruik van genade is so oud soos die kerk self en 'n ernstige dwaling, wat deur valse leraars gepropageer word. (Kliek op Judas 3-4) Dit gaan hier oor mense wat redeneer : “Ag, wat God is mos genadig, ag Jesus het mos vir sondes gesterf, laat ek maak soos ek wil!” As jy so redeneer is jy in vir ‘n aaklige verrassing. Jy staan onder God se oordeel. Nie omdat God se genade te klein of te beperk is nie, maar omdat jou houding wys dat jy nog nooit sy genade aanvaar het nie. Want die kind van God wat sy genade aanvaar het, besef sy genade het die bloed en lyding van Jesus gekos, dis kosbaar, daarom kan ek dit nie misbruik nie, en wanneer ek dit wel doen sal ek diep berou hê daaroor.

Neem kennis van die duiwel se dubbele aanval op God se genadeboodskap:
Hy gaan jou wysmaak dis nie genoeg nie, sodat jy genade sal geringskat en wanhopig en vol twyfel raak en self die genade probeer aanvul deur wettisisme. 
Of hy gaan jou probeer vertel dat genade beteken dat jy hoegenaamd nie meer oor sonde bekommerd hoef te wees nie (minagting van genade), dat jy rustig met jou ou lewe kan aangaan en dat heiligmaking iets onnodig is. 
Geringskatting van genade lei tot twyfel, hardvogtigheid en wettisisme. 
Misbruik of minagting van genade, skep 'n valse sekerheid en valse gerustheid loop uit op 'n onheilige lewe van losbandigheid. Beide benaderings is dodelik gevaarlik en bring God se oordeel oor ons. 

Genade is soos ‘n stewige brug wat na God lei. 
Dis inderdaad 'n baie sterk brug wat die "gewig" van die grootste sondaar veilig kan dra, al was hy ook skuldig aan lastering, moord, owerspel....



Aan weerskante van die brug (bo-aansig) is twee gevaarlike afgronde. Die een afgrond is die geringskatting van genade (wettisisme) die ander is minagting/misbruik van genade (losbandigheid).

Hoe bly ek op die brug? Aanvaar die genade van God as ‘n volkome genoegsaam, glo dat Jesus die volle boete vir jou sonde betaal het. Ja, ook daardie een sonde wat jou so teister en jou lewe geskend het. En leef dan ‘n dankbare lewe in gehoorsaamheid aan die Heilige Gees! Roei alles uit wat die Gees vir jou deur die Woord wys wat nie reg is nie! (Gal 5:16) Jy sal baie goed weet wat hoort nie meer in jou lewe nie. En as jy inderdaad weggedwaal of geval het, roep God se genade jou weer terug en tel jou weer op...

Kom ons juig oor die genade en dank God met liefde en gehoorsaamheid!


2 opmerkings:

  1. Dankie Johannes vir dié lering. As Afrikaner in murg en been; ek "worship" by 'n Engelse Baptiste gemeente(klein - sowat 30 siele, kan jy asb. vir my die verskil(en daar is 'n verskil; na my mening) tussen "grace" en "mercy" verduidelik. Ek kon ng nooit 'n duidelike onderskeid maak nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie interessante vraag, Deon. 'n Mens sal 'n deeglike woordstudie in beide die Hebreeus en Grieks moet maak voor mens 'n antwoord kan waag. Tov Grieks. Dit lyk my meestal word grace met die woord genade vertaal en mercy met barmhartigheid. Ten minste twee Griekse woorde nl. oiktirmon en eleemon word met mercy vertaal en garin met grace. (ek gebruik nou maar sommer my eie transiletasies) Maar dis beslis nie 'n vaste reël nie, want in Luk 18:13 lees my Engelse vertaling "be merciful" en beide die OAV en NAB "wees genadig", die Griekse ww kom van die grondwoord hilaskomai. Dit lyk my nie in elk geval in Afrikaans is daar so 'n duidelike skeiding nie. Taal werk nou eenvoudig nie soos wiskunde nie en daar is groot uitruilbaarheid en oorvleueling van woorde en begrippe. Al wat mens kan doen is om na die spesifieke konteks te kyk. Elke woord het 'n hele reeks van betekensvelde en sommige sal oorvleuel en ander nie noodwendig nie. Vir my (subjektiewe) gevoel gaan die Afrikaanse Woord genade meer oor sake soos sonde vergifnis en die woord barmhartigheid het die konnotasie van jammerkry, goed wees vir iemand in nood. As ek vir iemand soos 'n bedelaar kos gee, dan bewys ek barmhartigheid (mercy), ek sal nie dit nie sommer beskryf as die gee van genade (grace) nie. Ons term "diens van barmhartigheid " het dan ook te maak met hulpverlening.

      groetnis
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.