BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 02 November 2015

WAS RUT REGTIG LESBIES?

- kyk eerlik na die Bybelse teks.

Wanneer die sondige mens graag die Bybel iets wil laat sê wat dit nie sê nie, ontsien jy geen moeite of vernuftige grepe om die Bybelse boodskap om te buig sodat dit jou sienings ondersteun nie. ‘n Klassieke voorbeeld hiervan is gay aktiviste se gebruik van die boek Rut. Rut is ‘n juweel van ‘n boek wat wys hoe God ingryp in gebroke mense se lewens en hulle deel maak van sy groot planne en dis jammer dat juis hierdie mooi verhaal misbruik word vir ‘n sondige agenda. Hoe so? Wel, pro lesbiese liberale teoloë beskou die vriendskap van Rut en haar skoonmoeder Naomi as ‘n voorbeeld van ‘n lesbiese verhouding of vriendskap.

In Rut 1:14 lees ons : “Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly.” (NAV) “Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang.” (OAV)

Die werkwoord in Hebreeus wat in Afrikaans met “by haar gebly” of “haar aangehang" vertaal word is דבק. Die persone wat Rut lesbies interpreteer wys graag daarop dat דבק dieselfde woord is wat in Genesis 2:24 gebruik word as daar gepraat word van die man wat sy vrou sal “aankleef” (OAV) Dis inderdaad dieselfde Hebreeuse word en vir ‘n oningeligte kan dit maklik na ‘n deurslaggewende argument klink. ‘n Dieper kyk na die woord en sy gebruik laat mens egter gou weer besef watse valse grond dit is om lesbiese verhoudings te probeer goedpraat:

1. Die woord dat דבק het verskeie betekenismoontlikhede wat geen erotiese konnotasie het nie, soos in Deuteronomium 11:22; 28:21; 30:20, Psalm 22:15, Jeremia 13:11, Esegiël 3:26, 2 Konings 5:27 (in die laasgenoemde teks gaan dit oor melaatsheid van Naäman wat Gehasi en sy nageslag sal aankleef – dit het voorwaar bitter min met erotiek te doen!) 

2. Belangriker nog is om raak te sien dat die skrywer van Rut presies dieselfde woord דבק ook nog twee keer in die boek gebruik naamlik in 2:8 en 2:21. In eersgenoemde geval gaan dit oor Boas se opdrag aan Rut om by die diensmeisies te bly en in laasgenoemde geval om by die werksters te bly totdat die oes klaar ingesamel is. Weereens geen lesbiese of romantiese konnotasies hoegenaamd nie.

Trouens in die hele boek word geensins na homoseksuele verbintenisse verwys nie. Naomi, sowel as haar skoondogters was met mans getroud en is juis deur hulle dood in ellende gedompel. God het egter vir Naomi en Rut uitkoms gebied en ‘n toekoms gebou deurdat Boas bereid was om met Rut te trou. ‘n Groter toekoms as wat hulle ooit sou kon droom, want so word hulle ingeskakel in die geslagslyn van Dawid en Jesus!

Die gebruik van דבק in Rut 1:14 wys bloot op Rut se “commitment” aan haar skoonmoeder in ‘n tyd van nood. Hulle verhouding was die van ‘n skoonmoeder en skoondogter, eintlik meer die van moeder en dogter! Dieper gesien was dit ook ‘n bekering van ‘n Moabitiese vrou tot die lewende God van Israel soos vers 1:16,17 duidelik wys!

(Sien ook ALGEMENE SINODE EN RUT)

(Erkenning aan Peter Ould)

5 opmerkings:

  1. Wie is die persone wat Rut lesbies interpreteer?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Kyk by http://www.wouldjesusdiscriminate.org/biblical_evidence/ruth_naomi.html

      Vee uit
  2. By nabaat sien mens baie meer dinge raak, soos die gebruik van Dr He Qi se skildery "Ruth and Naomi" by AS2015.

    Lees hier hoe dit aan afgevaardigdes verduidelik word: http://sinodebode.bybelmedia.org.za/2015/10/09/sinode-ontmoet-rut-in-chinese-kuns/

    Lees dan ook hier wat die Chinese Dr ten doel gehad het met sy skildery:

    http://diglib.library.vanderbilt.edu/act-imagelink.pl?RC=46090

    AntwoordVee uit
  3. Dominee het u hierdie gelees?

    http://teo.co.za/die-gay-kwessie-die-wet-rut-en-jesaja-gerda-de-villiers/

    Dit is verlede week geskryf, asof "hulle" reaksie oor die gebruik van die boek Rut verwag het? DIT is die leesstof wat aan voornemende predikante voorgehou word....

    AntwoordVee uit
  4. Wat my bekommer is dat hierdie mense so besig is met hul agenda om hul opinies te laat geld, dat hulle besig is om God deel te maak van hulle speletjies, wat baie lasterlik raak. Niks gaan die regverdigheid van God op die oordeelsdag (wat more kan wees) verander nie, maak nie saak hoe slim hul redenasies raak nie, inteendeel hulle is voortdurend besig om God stil te maak (deur die Bybel te vewerp), en sodoende hulself te verhef en die Here te verkleineer. Jesaja 5:20 waarsku! Ek sidder.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.