BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 20 November 2015

DAAR'S HOOP

- maar die afgrond blyk onoorkombaar te wees!


Die stormagtige debat wat ontketen is deur die NGK se Algemene Sinode se toelating van praktiserende homoseksuele predikante is meer as net ‘n hewige gesprek tussen medegelowiges wie se opinies van mekaar verskil. Dit het ‘n onoorbrugbare kloof blootgelê wat lankal binne in die NGK bestaan. 

TWEE KANTE VAN DIE KLOOF

Aan die eenkant kry ons die evangeliegesindes binne die NG Kerk wat die Bybel as onfeilbare Woord van God aanvaar en op grond daarvan alle mense en soorte sondaars oproep tot geloof, bekering en ‘n heilige wandel meet God. Hierdie groep (waarby ek myself insluit) word dikwels as fundamentaliste en verkramptes uitgekryt. En die groot verwyt na ons kant is dat ons liefdeloos is!

Aan die anderkant is daar ‘n groter wordende groep van vrysinnige liberales wat diep gedrink het uit die troebel waters van die sogenaamde Progressive Christianity. Hulle verkoop hulleself as liefdevol en inklusief. Hulle evangelie is : "Moenie stress nie als gaan OK wees!" Die feit is egter dat hierdie groep nie meer erns met die Woord en die evangelie maak nie. (begrippe soos vryspraak, kruisoffer, hemel en hel is vir baie van hulle totaal vreemd)  In hierdie kringe word die Bybel dikwels teenoor Jesus gestel. Die Woord word soms beskryf as ‘n “papierpous” wat die liefde van Jesus versmoor.

Die afstand tussen hierdie twee groepe is eenvoudig net te groot. Dit gaan nie hier oor middelmatige sake waarin ons maar van mekaar kan verskil terwyl ons mekaar verdra nie. Die evangelie self is op die spel. Dis ‘n geveg om die siel van die NG Kerk. Die uitslag gaan tot vir die verre nageslag gevolge hê. Ewigheidsgevolge! Geen kompromie of draadsittery is dus moontlik nie!

Daarom is die omvangryke weerstand van binne die NG Kerk baie bemoedigend. Benewens talle gemeentes (byvoorbeeld Moreleta Park) wat die AS besluite verwerp het, het die moderamen van Namibië se sinode en die Sinode van Wes Transvaal hulle nou reeds teen die AS besluit uitgespreek. As gevolg van appèlle is die moderamen van die Algemene Sinode reeds gedwing om die inwerkingstelling van die AS besluite hangende die appèlle vir minstens twee jaar uit te stel. Dit als gee mens hoop.

En tog...

Hierdie saak sal nie sommer net verbygaan nie. Die groot probleem lê by ons teologiese fakulteite en wat daar geleer word. Nie een dosent van enige van ons fakulteite het sover ek weet hom teen hierdie besluit uitgespreek nie. En dis hierdie manne wat die nuwe geslag predikante vorm! As daar nie ‘n nuwe alternatief vir die huidige stelsel van teologiese opleiding gevind word nie, sal dinge al donkerder word. Hier in Namibië het ons vir NETS wat goeie Skrifgefundeerde opleiding aanbied, dis beslis ‘n moontlikheid wat ondersoek moet word. Gooi die juk van die teologiese fakulteite af, sodat ons weer die Here kan dien in die lig van sy Woord!

DERDE GROEP

Ek het aan die begin gesê dat daar twee groepe onderskeibaar in die huidige debat is. Dis bietjie van ‘n oorvereenvoudiging. Daar is myns insiens ook ‘n derde groep. Dis predikante (en lidmate) wat waarlik die Here liefhet en Hom wil dien, maar weens ‘n verskeidenheid van redes nie hulle stem tans laat hoor nie. Hulle is dikwels ook nie voldoende ingelig nie en val maklik die propaganda van “julle is liefdeloos teenoor gays” ten prooi. Hulle is ook teologies onseker, want hulle word nou al jare lank beïnvloed deur die teologie van twyfel wat aan ons almal opgedis word op universiteit. (Baie van hierdie broers is tydens hulle opleiding nooit aan goeie Gereformeerde teologie blootgestel nie. Ek het simpatie met hulle, want ek moes ook TUKKIES se opleiding verduur!) Teenoor hierdie groep het Bybelbehoudendes ‘n groot plig. Ons sal hulle met groot geduld en dade van barmhartigheid van ons Christusliefde vir alle sondaars moet oortuig. Ons sal daarom met deernis en begrip na hulle standpunte moet luister en op so ‘n manier daarop antwoord dat hulle sal kan sien dat dit vir ons waarlik oor die heil van die sondaar, gehoorsaamheid aan die Woord en die eer van God gaan.

KEUSE

Uiteindelik sal die NG Kerk tot ‘n keuse gedwing word. Lig en duisternis kan op die ou end nie saam bestaan nie. Mag die lig wen en die duisternis padgee! Die Bybel en ons kerk se belydenisskrifte is immers aan die lig se kant. Die wat na alles nie die pad van die lig wil loop nie, moet liefs dan maar gaan...

7 opmerkings:

  1. Daar IS hoop, inderdaad.

    Little drops of water,
    little grains of sand,
    make the mighty ocean
    and the beauteous land.

    AntwoordVee uit
  2. “Die wat na alles nie die pad van die lig wil loop nie, moet liefs dan maar gaan...”

    Waarnatoe stel jy voor moet die dosente van die “duister” van die “fakulteite” gaan? Hel toe?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek stel voor dat hulle die kerk verlaat as hulle teologie nie inpas by die Skryf en belydenisskrifte (wat hulle onderteken het) nie. Dis die enigste eerbare weg.

      Ek verwys niemand na die hel nie, dis God se besluit alleen. So moenie woorde in my mond lê nie! Veral nie as jy te bang is om ondr jou regte naam kommentaar te lewer nie!

      Vee uit
    2. Ek stem saam net jou, dominee Johannes. Op die ses uurlange SGV-konferensie te Stellenbosch sien 'n mens duidelik die dosente/ kerkleiers se blatante verwerping van Art 2 van die NGB.

      Prof Louis Jonker het (krities, sê hy) gekyk na SGV gesluite vóór 2007, 2007 en 2013 van uit drie gesigspunte : 1.watter soort eksegese is gebruik in daardie tye, 2.watter tipe hermeneutiese sleutels is by vorige besluite gekies en 3. watter van 1 en 2 het 2015 se besluite bepaal.

      *Volgens hom was die vorige besluitnemers (VB in kort) uiters selektief in hul keuse van tekste, so selektief dat hulle 'n baie dun Bybeltjie sou hê, volgens hom. Hulle het by die Levitikus 20 teks byvoorbeeld nie verder gelees dat mense wat dit beoefen, doodgemaak moet word nie – selfs ongehoorsame kinders moes doodgemaak word (hy het grappenderwys gesê dat sy eie kinders dan waarskynlik nie ouer as ses maande sou word nie!). Hy noem dit "eklektiese gebruik van tekste".

      *Hulle was ook onsensitief oor vertalingsvariasies, byvoorbeeld dat Lev 18 praat van "verhouding" en Lev 20 praat van "verkeer".

      *Die VB was onsensitief oor die spesifieke genré waarin die tekste voorkom.

      *Ook oor die "wêreld agter die teks": sosio-kulturele konteks is geïgnoreer.

      *Ook was die VB onsensitief ten opsigte van geslagte in daardie tyd: daar was patriargale stelsels in plek. Die resepsie- tradisie is belangrik.

      *Dan spesifiek by die 2013 besluit het die woord "selibaat" ingekom – hy het gesê dit is ongereformeerd, en die VB het dit nie uit die Skrif gemotiveer nie. Hy het sover gegaan om te sê dat dit dieselfde soort hermeneutiek was wat gebruik is om apartheid te regverdig.

      Ook het hy verwys na Gerda se "uitstekende" stuk oor Rut in die Teologiese tydskrif .

      'n Inklusiewe hermeneutiek was nodig (om by 2015 besluit uit te kom) het prof Louis Jonker gesê. Daar moes ook gekyk word na die wysheidsliteratuur. Hy het geëindig deur te sê daar is sáám met gay-medegelowiges en sáám met die natuurwetenskappe gekyk, en hy het die gay-medegelowiges hartlik bedank dat hulle deel was van die nuwe besluit.

      Die profs / dosente / kerkleiers moet WEER die NGB lees, Art 2: Wêreldbeeld en wetenskap, kultuur, geskiedenis, en so meer is ONDERGESKIK aan die GODDELIKE WOORD! (Art 2, NGB): "God maak Hom nog DUIDELIKER en MEER VOLKOME aan ons deur Sy Heilige en GODDELIKE WOORD"

      Vee uit
  3. Dankie Hennie vir julle baie duidelike en gebalanseerde besluit. Laat ons aanhou om 'n getuienis uit te dra.

    AntwoordVee uit
  4. Daar kom 'n punt waar die kerklike tug (Mat 18) se prosesses uitgeloop sal wees as bekering nie kom nie en dan MOET die kerk ekskommunikeer. Dit is liefde; dis nie 'n kwessie van 'n "eerbare" ding doen en verlaat nie, want die verleiers het nie in die Kerk van Christus ingesluip om eerbaar enigiets te doen nie.

    Die oorgrote meerderheid van gelowiges in die NGK het hulle klaar teen hierdie afgodsleer uitgespreek. Maar dit het hierdie blatante vergryp gekos om haar tot hierdie besef te bring, o.a. dat die dwaalleringe jare gelede al by die teologiese skole begin het. Het sy liefdevol opgetree en onmiddellik die eerste rokie van dwaalinge met die kerklike tug ontspoor? Nee, sy het vir dekades op haar hande gesit en toegelaat dat die brullende leeu verslind en verskeur.

    Dit is waar daar hoop is. Nie om hierdie bedrywers van die bose te verduur en te hoop dat hulle "eerbare" sal optree en loop nie. Lankmoedigheid mag nooit met sonde-verdraagsaamheid verwar word nie en die NGK staan voor daardie kruispad vandag: omarm, nee, gryp naarstigtelik na die kerklike tug wat Christus aan haar toevertrou het. Hoe het Jesus dit in Sy eie woorde uitgedruk? O, ja: "...laat hulle vir jou wees soos die heiden en die tollenaar."

    Die Kerk se opsies het uitgeloop. Daarr is geen keuse meer nie.

    Alle Christene vanoor die hele wêreld bid vir wysheid en liefdevolle optrede vir die NGKerk in hierdie tye want dit raak nie net die NGKerk in S.A. nie, hierdie boosdoeners is globaal aan die werk. Die implikasies van hoe die NGK hiermee handel gaan lewenslange, wêreldwye repurkussies hê.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Broer Nico, ek kan nie met jou verskil nie. Die kerklike oplossing is die tug en uiteindelike afsnyding as finale uitvloeisel daarvan. In die praktyk van die NG Kerk het leertug egter 'n feitlike onmoontlikheid geword. Die bekende du Plessis saak het dit eintlik al aangetoon asook die meer onlangse gebeure rondom die student Ferdie Mulder. Daar is weens 'n verskeidenheid van redes geen kans dat 'n leerstugsaak sal slaag nie. Die verrotting het al te diep deurgedring en te groot afmetings aangeneem, spesifiek in ons teologiese fakulteite.
      Eintlik is 'n herlewing die enigste antwoord... as die evangeliese temperatuur drasties styg, sal die dwaalleraars dalk op 'n ander manier gedwing word om die pad te vat...
      Dit is wel moontlik om binne gemeentelike verband nog werklik toesig te hou oor die leer en dis op hierdie vlak waar elke ware gelowige binne die kerk 'n baie belangrike rol kan speel.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.