BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 01 Desember 2015

BLYDSKAP OOR MY NAAM IN DIE BOEK...

-die grootste vreugdesfeit wat die vyand nie kan roof nie en selfs die westewind* nie kan wegwaai nie! 

Daar is baie dinge wat ons bly maak – goeie eksamenuitslae, finansiële voorspoed, gesondheid, reën (ja, veral reën as jy in Namibië woon), allerhande suksesse... Dis nie verkeerd nie, dis normaal om bly te wees oor hierdie dinge...Die probleem met hierdie blydskap is dat dit net so maklik as wat dit kom ook kan verdwyn... dit gaan nie altyd goed met die eksamenuitslae nie, daar is baie dinge wat finansiële voorspoed kan opvreet, gesondheid is iets wat oornag kan verdwyn, reën weet ons baie goed kom nie altyd wanneer ons dit wil hê nie, ons is nie altyd suksesvol nie... wat word dan van ons blydskap?

GOEIE TYDING VAN GROOT BLYDSKAP

En ons sou ook kon vra, wat het geword van die belofte wat saamgegaan het met Jesus se geboorte? Die belofte van blydskap wat die herders van Betlehem op daardie besondere nag gehoor het? “Toe sê die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.” (Lukas 2:10)

Groot blydskap! Is dit hoegenaamd waar? Hoe is dit waar en vir wie is dit waar? Wat dan van al die slegte dinge wat gebeur?

WEES REALISTIES EN KYK NA BLYDSKAP UIT 'N EWIGHEIDSOOGPUNT!

In Lukas 10:17-20 gee Jesus vir ons ‘n kosbare en belangrike perspektief op blydskap.

Die agtergrond is die uitsending van die sewentig dissipels. Hulle is op ‘n uitreiking gestuur met die opdrag om vir siekes te bid en die boodskap van die koninkryk te verkondig. (9) Dit was nie ‘n maklike opdrag nie. Jesus het vir hulle gesê, Hy stuur hulle soos skape onder wolwe. Hulle moes teenkanting en moeilikheid te wagte wees!

Dit blyk egter dat dit baie goed gegaan het met hierdie sendinguitreik. Die dissipels was vol blydskap met hulle terugkoms. “Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: "Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam." (17) Jesus beaam en erken hulle “sukses”. “Ja, dis goed so, julle is bevoorreg...”

Maar dan gee Hy ‘n belangrike perspektief, dis eintlik of Hy ‘n korreksie wil aanbring op hulle blydskap. “En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is." (20) “En tog...” Dis asof Hy sê: “Ja, dis goed om bly te wees oor julle sukses en gesag, maar blydskap gaan oor iets baie belangriker. Wees veral bly dat julle name in die hemel opgeskrywe is...”

BOEK VAN DIE LEWE

Uit die res van die Skrif weet ons dat daar ‘n boek van die Lewe is. Reeds in die Ou Testament kry ons hierdie begrip.

Moses verwys daarna as hy by God pleit vir die volk na die petalje van die goue kalf toe God die volk wou vernietig. “Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” (Eks 32:32) Ons kry ook ‘n verwysing daarna in Daniël 12 :1 “In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ‘n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.”

Om opgeskrywe te wees in God se boek is dus ‘n aanduiding van God se guns, van redding, van ewige sekuriteit. In Openbaring kry ons die duidelikste verwysing na hierdie boek. (lees Openbaring 20:11-15) Wat ‘n geweldige, verbysterende toneel! Menigtes en menigtes van mense so ver soos die oog kan sien... Almal verskyn voor die groot wit troon! Dan word God se boeke oopgemaak en elkeen se lot finaal en ewige beslis. Ewige lewe of ewige dood. Ewige blydskap of ewige smart!

As jy weet dat jy opgeskryf is vir die ewige lewe, begin jou blydskap nou al. En dis die grootste blydskap van almal. Dis die punt wat Jesus wil maak.

Daar is net een blydskap wat blywend is en alles oortref. Dis die blydskap oor ons verlossing. Die westewind kan dit nie eers wegwaai nie... Op die ou end is ons ewige verlossing, ons name in die boek van die lewe, al wat saakmaak. Dis iets waarvoor die mens vandag blind is. Om jou naam geskryf te hê in die hemelse burgerskaplys oortref alle ander suksesse en genadegawes! Om te weet die verlossing van sonde is ook my deel is die grootste rede tot vreugde. Ons kan dit toets aan die engelboodskap by die geboorte van Jesus. “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (2:11) 

Die blydskap gaan oor die Verlosser en die verlossing wat Hy bring! Die verlossing van sonde, satan, dood en hel!

Hoe kan ek seker wees van my naam in die boek van die lewe? Hoe kan ek seker wees dat ek in hierdie vaste verlossing deel? Deur my volle vertroue op Jesus, die Saligmaker te stel! Deur weg te kyk van myself en op HOM en SY WERK te fokus! (Vir meer hieroor kliek op SEKERHEID)

GROOT VERRASSING

Kom na Hom toe in berou en geloof! En weet jy wat dan wag daar ‘n verrassing. Dan leer jy dat jou naam al van voor die ontstaan van die aarde al in sy boek geskryf is. Want God se genade is al van ewigheid vir sy kinders bedoel en staan onwankelbaar vas in God se onveranderlike raadsbesluite! (Sien Openbaring 13:8, 17:8 en vgl. met Efesiërs 1:4**)

Dis nie verkeerd om oor alledaagse seëninge, voorregte en suksesse bly te wees nie! Maar as jy nie deel aan blydskap oor jou ewige verlossing nie, het jy eintlik geen rede om bly te wees nie! Anders gestel : “Waar gaan jy die ewigheid deurbring?” ‘n Positiewe antwoord hierop is die essensie van ons blydskap, in die Kerstyd, maar ook enige ander tyd. AMEN

*Die westewind spel vir ons hier in Namibië net een ding : droogte!

** Efesiërs 1:4 (OAV) “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,” (lees eintlik die hele gedeelte van vers 3 tot 14)




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.