BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 02 Januarie 2015

KYK NA DIE SKAAL

- en kry hoop vir 2015 en nog verder!

Aan die begin van die jaar het ons almal tog maar sekere verwagtinge of planne, al stel ons dit nie formeel in vaste nuwejaarsvoornemens nie... Jy wil dalk hierdie jaar jou huis klaar renoveer, vasbyt en ’n nuwe motor koop, jou boerdery uitbrei, weer studeer, aandag aan jou liggaam gee en begin fiks word... Of moed bymekaar skraap en vir die meisie begin kuier wat jy al lankal in die oog het, dalk trou, ‘n gesin begin... Met al hierdie planne en projekte is daar natuurlik niks verkeerd nie en as kinders van God kan ons ook sy seën vra op hierdie dinge. (mits dit binne sy geopenbaarde riglyne en wette geskied) Tog is daar een demper, een vals noot, een lang skaduwee wat nie ontvlug kan word nie.... VERGANKLIKHEID! Alles en almal is verganklik, als word oud, gaan tot niet, raak stukkend of sterf... ! Als en almal sal vergaan! Eendag word die nuwe huis ‘n murasie, iewers word die gesondste liggaam siek, alle geliefdes word net tydelik aan ons geleen voor die dood hulle kom wegvat... (Dis weer persoonlik vir my die onderstreep, toe ek die afgelope vakansietyd vier begrafnisse moes hanteer...) 

Vir die hartseer werklikheid van nietigheid, tydelikheid en verganklikheid het net die Bybel ‘n troosvolle boodskap. Die Bybel leer daar is ‘n onverganklike erfenis wat eendag vir God se kinders wag! As ek wedergebore is, is ek ‘n kind van God. As kind van God is ek ‘n erfgenaam! “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.” (Romeine 8:17) 

HOE LYK DIE ERFPORSIE?

Die erfenis wat vir God se kinders wag behels twee groot sake volgens Romeine hoofstuk 8 :

~ die hele skepping gaan tot volmaaktheid herstel word.

~ God se kinders gaan tot volmaaktheid herstel word.

1) DIE SKEPPING gaan volmaak herstel word.

God gaan sy hele stukkende skepping weer vernuwe en heelmaak tot iets beter as wat dit ooit was! Die hele skepping gaan weer voldoen aan sy oorspronklike plan. Dit gaan weer “goed” wees in die oortreffende trap! (Daar is twee beduidende uitsonderings : die afvallige engele m.a.w. Satan en sy demone en mense wat die evangelie van Jesus nie aanvaar het nie, sal nie deel wees van hierdie herstel nie, maar onder die ewige toorn van God ly.) Hoekom moet die skepping herstel word? Die eenvoudige rede is - hierdie skepping is tans nie soos God bedoel het dit moet wees nie. Dis vol ellende en verganklikheid. Ons sien die gevolge in alle vorme van verwoesting en dood... van die besoedeling van ons oseane, uitroei van woude tot by die grusame stroping van renosters... Waar kom dit vandaan? Wat is die diepste oorsprong van al hierdie euwels en ellendes? “Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.” (Romeine 8:20) God het dit gedoen - God het hele aarde vervloek as gevolg van die sondeval! Die mens se straf het gelei tot die vervloeking van die hele skepping. Die skepping ly direk en indirek onder die gevolge van die mens se rebelllie! Maar net so, die mens se verlossing deur Jesus lei weer tot die hele herstel van die hele skepping. Anders gesê: Jesus se verlossingswerk het geweldige implikasies, kosmiese implikasies - dit lei tot die herstel van mens sowel as die ganse skepping. Jesus se bevrydingswerk lei daartoe dat ons en die skepping herstel word tot God se oorspronklike bedoeling, nl. om in volmaaktheid eer aan God te bring. Die skepping sien met gespanne verwagting hierna uit, sê Paulus deur die treffende stylfiguur van personifikasie! “Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.” (Romeine 8:19-21) 

Die ellende wat ons nou in die skepping sien en in die alledaagse lewe ervaar is nie God se bedoeling nie. God gaan dit nie daar laat nie. Die skepping weet dit as’t ware en verlang na die herstel wat God gaan bring. Die nuwe hemel en die nuwe aarde. Hoe dit presies gaan lyk weet ons nie. (beslis nie minder mooi as die huidige nie) Wat ons wel weet, die nuwe hemel en nuwe aarde is die plek waar volmaakte harmonie sal heers, waar geregtigheid sal woon, waar God se wil volkome sal geskied! ( 2 Petrus 3:13)

2) GOD SE KINDERS gaan volmaak herstel word.

As iemand Jesus as Verlosser aanneem, dan word hy volledig vrygespreek van alle skuld, volledig vergewe deur God, volledig deel van God se volk. Ons verlossing is vas en seker en afgehandel. Maar in ‘n sekere sin is ons verlossing nog nie voltooi nie. Ons liggame is nog steeds aan verganklikheid onderworpe. Ja, wat ons liggame betref leef ons nog steeds onder die vloek van die sondeval. Daarom word kinders van God siek, daarom is ons vol gebreke en skete, gaan ons liggame daagliks agteruit en sterwe ons uiteindelik. Ons leef nog in ’n onvolmaakte wêreld; daarom beleef ons hartseer en lyding. Om hierdie rede is daar by die kinders van God ’n verwagting en versugting dat ons verlossing voltooi sal word. Net soos by die skepping is daar ’n hoopvolle versugting by God se kinders na ’n volmaakte bedeling.’n Versugting en ’n uitsien na die volle heerlikheid wat nog openbaar moet word. God se kinders kan met reg uitsien na die volle verlossing. 

Wat behels hierdie volle verlossing waarna ons kan uitsien? Die verlossing van ons liggaam! (Romeine 8:23 OAV vgl. ook NIV) God se kinders gaan volmaakte verheerlikte liggame ontvang, bevry van alle verganklikheid en sondigheid. Sonder skete en kwale, sonder siekte en ellende, sonder smart en dood. Sonder enige sonde! Ons weet nie nou al presies hoe hierdie liggame sal wees nie, maar ons kry ‘n belangrike leidraad in Filippense 1:20-21, waar ons lees : “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” Ons gaan liggame hê soos Jesus se verheerlikte opstandingsliggaam. ‘n Liggaam, maar ‘n liggaam sonder beperkings en gebreke!

Wat ’n heerlike toekoms wat wag vir elkeen wat aan Jesus Christus behoort. Ons gaan nie spoke wees wat op wolke ronddryf nie, maar mense met volmaakte liggame wat God gaan bewonder in ‘n nuwe skepping!

Wat is die praktiese funksie van hierdie heerlike waarheid wat Paulus hier in Romeine 8 bespreek? Dis bedoel as troos en aanmoediging vir God se kinders wat nou swaarkry weens hulle geloof! “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie." (Romeine 8:18) Daar wag vir God se kinders ‘n heerlike toekoms wat ons huidige hartseer, pyn en ellende na niks sal laat lyk!



Paulus se woorde hier bring ’n skaal in mens se gedagte. (daardie balansseerskale) Dis asof hy wil sê : Kyk ’n bietjie na die skaal. Pak op aan die eenkant al die lyding, hartseer, vervolging... (ja, dit wat ons nou beleef is erg...) Maar pak nou op die anderkant van die skaal die heerlikheid wat vir God se kinders wag.... die volmaakte skepping, volmaakte liggame sonder gebreke, letsels of beperkings. Geen brille, pille of krukke. Geen emosionele pyn of hartseer. Volmaakte paradysgeluk en harmonie. Kyk hoe staan die skaal nou!

Op hierdie heerlikheid hoop ons met volharding, want God wat nie kan lieg nie het dit beloof! As die glans van hierdie heerlikheid vir ons deur die geloof ‘n werklikheid word, dan verdof ons swaarkry amper tot iets byna niksseggend in vergelyking met hierdie heerlikheid wat wag. 

Kyk na die skaal en kry perspektief! Mag die werklikheid van hierdie skaal ook vir jou perspektief gee op die onbekende 2015 wat wag... onthou dit veral in tye van swaarkry, pyn, onreg, vervolging, ellende... Maar maak veral seker dat jy ‘n erfgenaam van God is!




[Die voormalige spogdorp, maar nou spookdorp, Kolmanskop is 'n sigbare simbool van verganklikheid.]

4 opmerkings:

  1. Raak gepraat daar Johannes...!
    Ek ry elke dag daar verby en word gelukkig daagliks daaraan herinner...
    Groete

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie hiervoor dominee. Die idee van kosmiese herstel het ek 'n klompie jare gelede van verneem met die lees van AM Wolters se boekie "Creation Regained", met 'n hoofstuk deur MW Goheen. 'n Paar van ons het debat gevoer oor die onderwerp, hier:

    http://www.glodiebybel.co.za/forum/discussion/comment/4787#Comment_4787

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.