BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 01 Januarie 2015

WAAR IS DIE GOD VAN LIEFDE?

Kyk : Immanuel is die duidelike antwoord!

Waar is die God van liefde? So baie het al hierdie vraag deur die eeue heen gevra en vra dit nog steeds. So veel aaklige gebeurtenisse het hierdie vraag aangevuur... die Anglo Boere oorlog konsentrasie kampe, die bloedige loopgrawe van die Eerste Wêreld Oorlog, die massa uitwissing van mense in die Tweede Wêreld Oorlog, maar ook die afgelope jaar... die ellendes van Sirië, Irak...maar ook nader aan ons lyf, plaasmoorde, gesinsmoorde, kindermishandeling, onreg, ongelukke*, korrupsie, uiterste armoede, siekte, eensaamheid, hartseer, dood van ‘n geliefde... ook ek en jy het dalk al dikwels (miskien in die stilligheid) gewonder... Ja, ons vier Kersfees, maar nog steeds : WAAR IS HY? HOOR, SIEN, VERSTAAN HY? GEE HY HOEGENAAMD OM? 



Waar is die God van liefde? Hierdie vraag is gelukkig finaal beantwoord deur die menswording van Jesus. Ons kyk hierdie ooglopende antwoord so maklik mis. Met slim redenasies probeer mense die misterie van lyding ontsyfer en God selfs skuldig bevind, terwyl ons die waarheid hier naby ons miskyk. Die antwoord is : “Jesus, Immanuel, God met/by ons!” Matteus vertel ons in verband met Jesus se geboorte : “Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: "Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem." Die naam beteken God by ons.” (23) Deur Jesus se vleeswording het God self na ons afgedaal. Hy is hier... God word mens met ons soos ons by ons. Dis die uiterste vorm van liefde. 

God maak Homself "swak" om soos ons te word en by ons te wees!

God se “met ons wees” het geweldige implikasies en is die uiterste vorm van radikale onselfsugtige liefde! Dis ‘n selfopofferende, self-gee, naby liefde. Paulus, as hy Christene tot liefde wil aanspoor, skets op kragtige wyse vir ons hierdie liefde wat geïmpliseer word deur die menswording van God se Seun in Filippense 2:5-8! “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”

So waar is die God van liefde? Wel, kyk net en sien...

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus as swak suigeling in ‘n krip lê soos miljoene ander babas voor en na Hom, volkome afhanklik van sy moeder...

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus in ‘n ry staan en skouers skuur saam met growwe sondaars om deur Johannes gedoop te word in die Jordaan. Hy vereenselwig Homself met sondaars deur die doop van bekering te ondergaan al het Hy self dit nie nodig nie.

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus bemoeienis maak met die groot skelm in die dorp Jerigo, Saggeus en juis kies om by hom aan huis te gaan. Ja, God is by sondaars, by mense wat dit nie verdien nie... (Kliek op SAGGEUS VIER KERSFEES)

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus vir ‘n verworpe vrou wat by sy voete huil die versekering gee : “Jou sondes is vergewe!” (Kliek op BAIE LIEFDE)

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus oorweldig van emosie, huil by sy vriend Lasarus se graf.

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus tussen hemel en aarde, halfnaak, verwerp, verag en bespot hang aan ‘n kruis om sondaars se straf te dra. Hier het ons die uiterste vorm van vereenselwiging met die gevalle mensdom, as Hy ons skuld op Homself neem en aanspreeklikheid vir ons misdade aanvaar... en gestraf word daarvoor. (Sien Jesaja 53:5,6) Hier is die vaste historiese feitelike antwoord op die vraag, “Waar is die God van liefde?” Geen groter liefde as dit is moontlik nie, dat iemand sy lewe vir ander gee nie... en nie vir goeies nie, maar vir slegtes...

Weet jy, ek dink die vraag : “Waar is die God van liefde?”, is dalk heeltemal ‘n verkeerde vraag. Die vraag moet eerder wees : “Sondaar, waarom verwerp jy tot nou toe die God van liefde, waarom weier jy om voor Jesus te buig?”

Sien die God van liefde as Jesus na sy opstanding uit die dood vir sy bang dissipels gerusstel : “Vrede vir julle!” Weereens , Hy is by hulle...

Sien die God van liefde as Jesus sy dissipels aan die einde van Matteus verseker : “...En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." (LW. God se liefde het nooit beloof dat ons nie verdrukking, nie moeilikheid, nie siekte of dood op aarde sal beleef nie... Inteendeel, sy kinders sal ‘n oorvloed van hierdie dinge ondergaan...) Sy liefde beloof wel dat Hy by ons sal wees, by sy kerk tot aan die einde... 

[In gehoorsaamheid aan ons opdrag om vir die evangelie te getuig ervaar ons die saamwees van Immanuel op ‘n besondere manier... Anders gestel, diegene wat vir hulle self leef, sal dit nie juis beleef nie...]

Sien die God van liefde as Jesus se volgelinge ook hulle lewens opoffer vir ander... deur die eeue, maar ook sommer baie onlangs – Pierre Korkie word vermoor in Jemen, die Groenewalds in Afganistan...

In al hierdie situasies kom God by stukkende sondaars in hulle nood en smart staan. God se liefde is ‘n naby liefde... by wyse van spreke – God is nie bang om Sy hande vuil te maak in die proses om by sondaars te wees nie!

Waar is die God van liefde? Sien (in geloof) die God van liefde as Jesus weer sal kom op die wolke van die hemel en dan als sal nuutmaak. Tot dan moet ons nie ‘n nuwe wêreld verwag nie – tot dan sal daar rampe, tragedies en onreg wees.... Maar dis ons voorreg om binne hierdie situasies sy nabye liefde te beleef! En Hom te eer deur in sy liefde te bly glo, omdat Hy dit vir eens en altyd aan die kruis bewys het!

Waar is die God van liefde? Jesus self is die bewys, meer nog die persoonlike vergestalting van God se liefde! 

En wat so wonderlik is - niks kan ons van hierdie liefde skei nie! Nie die slegste, wreedste, onregverdigste gebeure en omstandighede nie! Paulus die groot sendeling en martelaar kon ondubbelsinnig getuig : “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Romeine 8:38,39)

Vra jy nog : “Waar is die God van liefde?” Weereens jy hoef nie ver te soek na God se liefde of navorsing daaroor te gaan doen nie. God se liefde is Jesus – GOD MET ONS! Hy is nou hier by ons deur Sy Heilige Gees! Is Hy al deel van jou lewe? Het jy Hom al aanvaar? Wel, as Hy jou Verlosser geword het kan jy getuig : “IMMANUEL – GOD BY MY!”



[ By ons in ons klipharde omstandighede...]

*Die tragiese en onnodige gru ongeluk by Hentiesbaai is nog rou in Namibiërs se gemoed...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.